Historiese roman oor Dorslandtrekkers raak aan ’n dieper dors

  • 0

Dors van Marinda van Zyl is “nie ’n opgewekte boek nie”, skryf Alta Cloete. “Maar dis ’n noodsaaklike boek wat ’n brokkie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis helder verlig.”

Dors

Marinda van Zyl
Tafelberg, Kaapstad, 2018
ISBN: 9780624084365
304 p, R280

Beginselvaste, dapper manne en edele, hardwerkende vroue – só is die pioniers van Europese oorsprong tradisioneel in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing geskilder. Sedert die koms van volle demokrasie in 1994 het baie Suid-Afrikaners egter gaandeweg agtergekom dat die volle waarheid nie altyd aan hulle opgedis is nie. En van die Dorslandtrek weet min mense veel meer as dat dit ’n tragiese episode in die geskiedenis was, feitlik onbenullig in die groter prentjie.

In hierdie konteks is die ervare historikus Marinda van Zyl se derde historiese roman Dors besonder relevant. Van Zyl neem onder andere die historiese figuur Jan Greyling as uitgangspunt om die verhaal van die Dorslandtrek te vertel. Tussen die historiese karakters deur weef sy die wel en wee van fiktiewe karakters, waarvan die Ackermans die belangrikste is.

Jan Greyling is die leier van een van die groepe Transvalers wat in die loop van 1876 by die samevloei van die Marico- en Krokodilriviere bymekaar kom. In Transvaal, waarheen hul voorsate juis getrek het om Engelse oorheersing te ontkom, voel hulle onveilig en ontuis, onder andere as gevolg van die dreigende anneksasie deur die Britse koloniale magte. Die landstreek waarheen die trekkers mik, lê aan die anderkant van ’n waterlose deel van die Kalahari, bekend as die Dors. Jan Greyling is die enigste leier wat as gevolg van sy uitgebreide jagtogte presies weet waarvoor die trekkers hulle inlaat, die enigste wat hulle moontlik veilig deur die gebied kan lei.

Uiters menslike karakters

Greyling is egter maar een van die sterk leiersfigure wat na vore kom. Die tragiese verhaal van die Dorslandtrek ontvou grotendeels uit die magstryd tussen die leiers en elkeen se onwilligheid om aan ’n ander onderhorig te wees. Telkens vlam onenigheid op en niemand kan konsensus bereik oor wat die beste manier is om die geweldige onderneming aan te pak nie.

Die trekkers wat Van Zyl aan haar lesers voorstel, is nie mitiese heldefigure nie, maar uiters  menslike karakters vol foute en onvolmaakthede, waarvan die onvermoë om voor ’n ander se gesag te buig, die prominentste is. Die mans is die besluitnemers en aanvaar dit as vanselfsprekend dat hulle besluite uitgevoer sal word. Individuele vroue probeer wel hul mans beïnvloed, wat tot wrywing tussen man en vrou lei, maar weinig invloed het op die vroue en kinders se lot. Betta Greyling verwyt dikwels haar man wat haar dwarsdeur hul huwelikslewe gereeld alleen gelaat het terwyl hy op sy jagtogte gaan. Hy beloof haar ’n beter, standvastiger lewe, maar telkens gee hy weer toe aan die drang om verder te trek, steeds op soek na die beloofde land.

Die beloofde land bied egter nie die spreekwoordelike melk en heuning nie, maar vele gevare en uitdagings waarop die trekkers nie voorbereid was nie. In ons moderne tyd is dit moeilik om mens voor te stel dat die mense so onkundig kon wees, maar die werklikheid was dat hulle inligting dikwels maar op hoorsê gebaseer was.

Elke trekkersgesin reageer verskillend op die ellende wat hulle oorval. Trotse mans word geknak deur die lyding van hulle vroue en kinders. Vroue veg met hulle karige toerusting teen die verwording wat die afsondering en lyding meebring. Daar is sprake van kantkragies, fyn verversings en ’n smagting na die mooi dinge van die lewe. Celia Ackerman se orrelspel is haar tevergeefse poging om haar lyding te verwerk. Sommige knak, ander word gelouter. Almal begrawe geliefdes, dikwels kinders. Iets soos depressie is nog nie bekend nie en selfmoord word as ’n verskriklike skande gesien en ten alle koste weggesteek.

’n Bitter stryd om oorlewing

Mettertyd begin die leser besef dat die mans wat die besluite neem, waarskynlik nie die mense was wat die meeste gely het nie. Die vroue en kinders, fisiek swakker as die mans, is gewoonlik die eerstes wat die onderspit delf. Vir Betta Greyling is die swartkraaie wat telkens hulle verskyning maak, die simbool van die onheil wat hulle agtervolg. Haar man kan die kraaie verjaag, maar hy is onmagtig om sy gesin teen alle gevare te beskerm.

Ook die bediendes kry swaar, onder andere omdat hulle behoeftes nie voorop gestel word nie. Dikwels is dit juis hulle wat die stem van lewe en hoop moet wees wanneer hulle base nie meer kan vorentoe nie. Wat hierdie leser ook opgeval het, is die lyding van die trekosse, waarsonder die trekkers hulpeloos gestrand gelaat is. Osse is so goed versorg as wat moontlik was onder die moeilike omstandighede, maar ook onmenslik aangedryf. Die tonele waar die troppe diere van die trekkers water ruik en buite beheer op die putte afstorm, is van die aangrypendste en ontstellendste in die verhaal.

Die manier waarop die wildlewe soms sonder respek uitgeroei is, gryp mens ook aan. ’n Hele trop olifante word geskiet terwille van die ivoor; die hele leeutrop word uitgeroei wanneer van die lede ’n os kom vang het. Natuurlik is dit alles gedoen in die stryd om oorlewing, maar by nabetragting kan die moderne leser sien hoe kortsigtig dit was.

Liefde soek vir ’n groter leefwêreld

Deur die ellende van die trek loop die liefdesverhaal van Adriana en Tiaan soos ’n fyn, silwer draad. Beide Adriana en Tiaan is anders; hulle pas nie by die geykte konserwatiewe denke van die meerderheid in nie. Adriana is die rabbedoe wat so goed soos enige man kan perdry en skiet. Haar pa laat haar die vryheid toe om haarself te wees, maar word telkens deur die afkeuring van die ander trekkers gedwing om haar aan te spreek. Tiaan is ’n dromer wat die trek as ’n kneg van die Ackerman-gesin meemaak om van die onbegrip en woede van sy stiefpa te ontkom en om die skaars knopsterttroupant te skets wat hy nog net op ’n prent gesien het. Die twee jong mense se verhaal bring ’n ligpunt van hoop in die andersins donker prentjie.

Die trekkers word as godsdienstig en konserwatief uitgebeeld en dis van die grootste belang om nie in die skande gesteek te word by mede-trekkers nie. Die grootste vrees van elke ma is dat haar ongetroude dogter kan swanger word en jong paartjies word vinnig afgetrou wanneer die geringste mate van intimiteit tussen hulle ontdek word. Oor bedsake word daar glad nie gepraat nie en vir emosies is daar merendeels nie plek in die harde lewe op die trekpad nie. Selfs Tiaan en Adriana se liefdesverhaal word meer in terme van aksie as in terme van emosies vertel. Sy volgehoue soektog na haar toe sy verdwyn, toon sy liefde vir haar, maar mooi woorde is daar nie veel nie.

Die handelaar William Jordan word uitgebeeld as iemand met ’n groter leefwêreld as die bekrompe trekkers, iemand wat buite die kring staan en daarom soms helderder kan sien. Dis dan ook by hom wat Tiaan aansluiting vind wanneer hy nie meer gemaklik voel onder die outokratiese beheer van Jan Greyling nie.

Die plaaslike inboorlinge en veral die Boesmans speel ’n belangrike rol in die verhaal. Die verknegting van die Boesmans word geteken, asook hulle ryk kultuur en unieke (soms wrede) gewoontes wat veral na vore kom wanneer hulle vir Adriana red en versorg.

’n Dors wat ons almal ervaar

Eindelik word Dors veel meer as ’n boek oor die ervarings van ’n groepie pioniers. Dit word ’n verkenning van die ander dors, die dieper dors wat elke mens tot ’n mate in hom of haar saamdra. Vir die trekkermans was dit die dors na vryheid, na avontuur, na mag. Vir die vroue die dors na bestendigheid en sekuriteit, die geleentheid om ’n tuiste te skep en hulle kinders in veiligheid groot te maak. Die moderne mens wat in gemak en gerief lewe het ander dinge waarna hy smag, maar ons almal ervaar hierdie dors, elk op sy eie manier.

Die pragtige voorblad bevat verskeie elemente wat ’n belangrike rol in die roman speel en nooi die leser uit om dié elemente te verken.

Ja, Dors is nie ’n opgewekte boek nie. Maar dis ’n noodsaaklike boek wat ’n brokkie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis helder verlig. Dit word sterk aanbeveel vir almal wat in die geskiedenis belangstel, maar ook vir lesers wat hulle wil verdiep in ’n werk wat die aard van die mens in al sy feilbaarheid skets.

Lees ook

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Dors deur Marinda van Zyl

Boekresensie: Die Dorslandtrek deur Nicol Stassen

Lees meer oor Die Dorslandtrek op Protea Boekhuis se webwerf.

Luister na Ilse Salzwedel se gesprek met Nicol Stassen oor Die Dorslandtrek op RSG Skrywers en Boeke:

 

Buro: IG
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top