Ons stap vroegoggend van Norwegian Cruise Line se nuutste skip Prima in die hawe van Le Havre, Frankryk af. ’n Begeleide toer deur Honfleur ’n driekwartier weg is een van die vele daguitstappies wat vooraf vir skeepsgangers gereël word. Heelwat mense neem ook die gratis bussies na Le Havre om die dag te voet daar te verwyl.
Ek het besluit om geen vooraf opleeswerk te doen oor dié uitstappie na Honfleur nie, want ons gids Margot Bocquillion is hoogs aangeskrewe en ek wil ook ’n slag soos ’n ware toeris voel. Gewapen met ’n hoed, bottel water en ’n kouding in my rugsak, is ons gereed vir die dag.
Le Havre is in die 16de eeu gestig as hawe vir handel en slawerny, koffie en sjokolade was die hoof ruilmiddels. Margot sê dit voel vir haar ’n mens kan tot vandag toe nog die koffie in die stad se strate ruik.
Die eerste indrukke van die hawestad is beslis nie iets om oor huis toe te skryf nie, veral nie toe Margot vertel die middestad is op 7 en 8 September 1944 deur 10 000 bomme getref en was die beskadigste stad ná die Tweede Wêreldoorlog nie. Om presies 78 jaar later daar deur te ry en alles lyk normaal, is amper onwerklik.
Margot vertel die hoofargitek wat belas is met die ontwerp van die stad, was mal oor sement en het verskeie kleure gemeng om ook tekstuurverskille te kry. “Ander argitekte wou stede herbou met marmer, maar sement was Auguste Perret se fassinasie. Natuurlik het die inwoners gemor. Die sement was vir hulle lelik en verbeeldingloos.”
Margot vertel toe die stad in 2005 as UNESCO Wêrelderfenisgebied verklaar is, het baie inwoners hul opinie verander. “Hulle het ook besef die sement was goedkoper as marmer en baie meer higiënies as baie van die houtstrukture voor die oorlog.”
Die herbouingsprojek van 1945–1964 word deur UNESCO se paneel beskryf as “uitsonderlik onder baie gerekonstrueerde stede vir sy eenheid en integriteit,” maar ek is bly toe die stad finaal langs ons ruit verbyflits en ’n hele hawe vol windmeule, wat elkeen vyf miljoen ton weeg, in sig kom.
Margot lag en sê die inwoners het toe weer gekla en hul vertoë het die windmeulprojek met vier jaar vertraag, maar hier word hulle nou opgerig. Dis sulke horingagtige strukture wat vol klippe gepak word om dit nog swaarder te maak, sodat dit die wind se krag kan weerstaan, terwyl dit elektrisiteit opwek.
Dis nie net die windmeule wat moet vasstaan nie. Die Normandiëbrug, die laaste brug oor die Seinerivier voor dit in die oseaan uitmond, is in 1988 voltooi en Margot vertel dit was die wêreld se langste kabelbrug toe dit in 1995 geopen het. Die brug is soos ’n vliegtuig ontwerp om winde van tot 300 km/u te kan weerstaan. “Ja, dis nogal winderig hier,” vertel sy en ek verstaan dat sy nie na die passasiers voor my in die reusebus verwys wat die vorige aand te veel rou kool geniet het nie!
Die brug loop met ’n boog na bo en staan 215 m hoog; dit is 2143 m lank en uit sement en metaal gebou.
Gou is die brug ook in die truspieëltjie en Margot vertel van Honfleur se kleurryke geskiedenis van Vikings en oorwinnings en strooptogte. Dis vandag steeds ’n baie belangrike maritieme- en rivierhawe. Ons ry in ’n haarnaaldvorm tot bykans regoor Le Havre aan die oorkant van die breë Seine.
Honfleur lê in die Calvados-streek van Noord-Normandië en die historiese kern is poskaartmooi, oftewel soos die jong meisie voor my vir haar vriend sê: “Dis vir Instagram gebou...” Ek weet nie of die bouers van 1000 jaar gelede Instagram in gedagte gehad het toe hulle die mooie geboue opgerig het nie, maar ek is dankbaar dat die stad heeltemal ongeskonde uit die oorlog getree het. Veral as jy in ag neem dat dit ’n hanetreetjie van die slagveld van die oorlog se bekende “D Day” is.
Ons toer te voet skop af reg langs die reusewiel wat my nogal aan ’n kleiner weergawe van die London Eye herinner.
Margot vertel die dorpie is veral bekend vir sy ou hawe, wat gekenmerk word deur sy huise met leiklipbedekte voorkante, wat gereeld deur kunstenaars geverf is. Van die noemenswaardigste kunstenaars was Gustave Courbet, Eugène Boudin, Claude Monet en Johan Jongkind, wat die école de Honfleur (Honfleur-skool) gevorm het wat bygedra het tot die totstandkoming van die Impressionisme-beweging.
Margot lei ons tot voor reuse-stooragtige geboue en verduidelik dis soutstore van ouds. Die groot klipgeboue dateer uit die 17de eeu en is naby die stadsaal gevestig. “Hulle is deur die Ferme de Gabelle gebou om die sout wat nodig is vir kabeljouhengelekspedisies op die oewer van Newfoundland te stoor. Die plafonne binne lyk soos ’n omgekeerde skip, want skrynwerkers het dit makliker gemaak omdat hulle so baie skepe gebou het en dis ook vinniger opgerig as meer tradisionele plat plafonne.”
So ’n straatjie of wat dieper in die doolhof in, vertoef sy by ’n klein dun straatjie – die ou slagterstraat met ’n voortjie in die middel. Margot verduidelik daar was altyd ’n fontein aan die einde van die straatjies om al die bloed weg te was, omdat diere daagliks in die straat geslag is. “Siektes was algemeen,” verklaar sy voor ons verder stap.
Met dié gedagtes dop ons langs ’n ou kerk, nou die Marienemuseum, uit. Hier kan jy die dorp se marienegeskiedenis tot so ver terug as 1899 in klere, bootjies en kaarte ervaar.
Die weerkaatsing van die geboutjies op die water het menige kunstenaars eeue gelede na hul verfkwas en absint laat gryp en vandag staan almal grootmond met kameras, tablette en slimfone en probeer die mooiste foto vasvang.
Die dorpie is beslis een van die mooiste wat ek nog gesien het en ’n perfekte voorbeeld van eeue se boustyle wat knus langs mekaar ingedruk is. Margot vertel ons op die oop plein voor die stadsaal, Place de la Mairie, dat die eerste geskrewe rekord van Honfleur ’n verwysing deur Richard III, Hertog van Normandië, in 1027 is. “Teen die middel van die 12de eeu het die stad ’n belangrike deurgangspunt vir goedere van Rouen na Engeland verteenwoordig.”
Die dorpie, en die Franse, het ’n interessante liefde-haat-verhouding met die Engelse gehad: Honfleur het voordeel getrek uit sy strategiese posisie vanaf die begin van die Honderdjarige Oorlog van 1337–1453 tussen Frankryk en Engeland. Die dorp se verdediging is deur Karel V versterk om die riviermonding van die Seine teen aanvalle van die Engelse te beskerm, maar is egter deur die Engelse in 1357 en van 1419–1450 beset. Toe hulle onder Franse beheer was, het strooptogte dikwels uit die hawe vertrek om die Engelse kus te plunder, insluitend die gedeeltelike vernietiging van die dorp Sandwich, in Kent, Engeland in die 1450’s.
Die twee Britte langs my mompel iets onderlangs. Daai liefde-haat-verhouding is vandag steeds met ons.
Margot vertel aan die einde van die Honderdjarige Oorlog het Honfleur tot die einde van die 18de eeu baat gevind by die oplewing in maritiemehandel. Handel is tydens die godsdiensoorloë in die 16de eeu versteur.
“Uit hierdie hawe het ’n hele paar ontdekkingsreisigers vertrek, veral in 1503 toe Binot Paulmier de Gonneville na die kus van Brasilië gereis het en ook in 1506 het die plaaslike inwoner, Jean-Denis, na Newfoundland-eiland en die mond van die Saint Lawrence vertrek. ’n Ekspedisie in 1608, georganiseer deur Samuel de Champlain, het die stad Quebec in die hedendaagse Kanada gestig. Hy het hier met drie skepe vertrek.”
Ons vertoef by die pragtige antieke karousel wat gedurende die somermaande vir oud en jonk oop is. By die opgetrekte brugstop wag die oulike toeristetreintjie vir ’n klein bootjie om deur te vaar, voor sy rit met ywerige toeriste kan voortgaan.
Ons stap verby die Lieutenancy, die oudste monument op die dorp en die plek waar die goewerneur gewoon het. Ook hier is die tekens van die eeu duidelik in die verskillende boulyne, boustyle en klippe sigbaar. Aan die agterkant van die gebou stop Margot en wys hoe die straat in twee vurk.
“Die nou straatjie aan ons regterkant is waar die ryk handelsmanne gewoon het. Klein deurtjies het direk op die see oopgemaak en hulle toegelaat om goedere maklik van en op bote te laai. Kliphuise was ’n teken van welvaart. Links was armer huisies wat voorheen van hout was, wat daarop gedui het dat die mense arbeiders was met min besittings en geen geld vir klipgeboue nie.”
Ons groet vir Margot om die res van die dag die dorpie alleen te verken.
Die eerste stopplek is die kloktoring van die Sainte-Catherine-kerk, wat apart van die kerk staan. Dit staan ewe parmantig oorkant die kerkgebou – die grootste en oudste houtkerk in Europa. Vandag is dit die publieke toilette en daarom ons eerste stop!
Ek lees later in die kerk op een van die inligtingsborde dat die toring apart opgerig is, omdat bouers bang was die klok se gewig rig skade aan die kerk aan en ook dat dit deur weerlig getref sal word en die kerk kan laat afbrand.
Ek steek kersies in die kerk aan en dra elke vriend en geliefde op vir goeie wense en laat die inligting, klanke en reuke van die stad nesskop om my lyf.
Toe die vrede en stilte my omgewe, gaan soek ons iets te drinke. Die tradisie hier is ’n sterk espresso met ’n dubbelskeut Calvados in ’n klein konjakglasie. Maar eers moet ons Calvados proe. Dié appelbrandewyn is eie aan hierdie streek en word op dieselfde manier as brandewyn gestook en verouder, maar word van appels, nie druiwe nie, gemaak.
Ons val vas by Gribouille met honderde horingoue eierklitsers wat uit die dak hang, waar ons 10, 20 en jaar oue Calvados proe.
Hier kan jy ook ingelegde afval, patee en lekkergoed koop, maar daar is ’n winkel ver af in die straat, Maison Maxime, waar ek wil inloer vir sjokolade en nougat.
Met kieste vol nougat met amandels in soek ons ’n plekkie om te kuier. Die vele restaurantjies en kroegies is almal ingerig vir mense kyk en dis waar ons die ure met ons leesboeke verwyl.
Voor ons terugkeer na die bus om ons terug te neem skip toe, gaan proe ons eers amandellekkers en toffies by Maison La Goulue Honfleur.
Die eienaar vertel ons die area naby haar winkel is bekend vir keramiekdiertjies wat by vensters en skoorstene uithang en sowaar, ons gaan loer en sien ’n halwe katlyf by ’n skoorsteen uit.
Ons gaan drink koffie en Calvados en kyk hoe kinders op die antieke mallemeule voor die stadsaal baljaar. Met die terugstap bus toe, loop ons ompad deur die straatjies en kan net dink hoe lekker dit vir die net meer as 7000 inwoners moet wees om hier te woon in huise wat soms tot 600 jaar oud is.
Vandag is die hawe nie onder enige bedreiging nie, behalwe nou die hordes toeriste wat die pragdorpie kom geniet. Ek kom beslis volgende keer vir langer kuier.
Kitsfeite
- Honfleur is een van die ongewone dorpies wat die bekwame span by Norwegian Cruise Line op hul daguitstappies insluit. Met 18 skepe in hul vloot, deurkruis die skeepvaartmaatskappy die aardbol en bring broodnodige toerismegeld in andersins vergete plekkies. Loer by https://www.ncl.com/no/en/ vir spesiale skeepvaartaanbiedinge en watter klein juwele jy te voet kan ontdek.
Buro: MvH> Woorde: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts en Pixabay (Normandiëbrug)