Hugo Claus betower en bekoor steeds ná vier dekades

  • 0

Hugo Claus in 1984 (Foto: Michiel Hendryckx, WikiMedia CC4)

...
Daarom moes ek verklarend vertaal: ‘Reg oorkant die kattedrolle, die katedraal’. Ek kon eenvoudig nie Claus se grappie laat verlore gaan nie.”
...

Daar is verskeie boeke en skrywers daar buite wie se werke deur die dekades van vergeet word. Komplekse, aweregse en uitdagende werke wat deesdae iewers op boekrakke vergaan. Maar dan is daar skrywers wie se werke die toets van die tyd weerstaan het en tot vandag toe ’n leser uitdaag en bekoor.

Die ontslape Vlaamse skrywer Hugo Claus se boeke is ’n voorbeeld van laasgenoemde – sy komplekse en ryk roman Het verdriet van België vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar.

“Die boek bevat ’n diepgaande uitbeelding van die negatiewe gevolge van ’n eng godsdienstige opvoeding en ewe eng nasionalisme.

“Dit wys egter ook op die ononderdrukbare strewe na ’n eie identiteit, taal en kultuur wat onder ekstreme omstandighede tot onsuiwer denke en optrede kan lei,” sê die skrywer Daniel Hugo.

Hugo was verantwoordelik vir die Afrikaanse vertaling, Die verdriet van België.

Hugo meen dat die relevansie van Het verdriet van België, sowel as van sy Afrikaanse vertaling, voor die hand liggend is vir sowel die “verenigde” Europa as Suid-Afrika waar minderheidsgroepe ontuis voel.

“’n Goeie literêre werk is as estetiese objek uiteraard altyd relevant, selfs al is dit nie ooglopend aktueel of toepasbaar op die leser se onmiddellike situasie nie. Claus se boek is ewe relevant as byvoorbeeld Cervantes se Don Quichot, James Joyce se Ulysses of Karel Schoeman se Hierdie lewe,” sê Hugo.

Het verdriet van België is ’n semi-outobiografiese bildungsroman wat die verhaal vertel van ’n jong seun in ’n kloosterskool waar hy onder die streng regime van die nonne leer om slinks, genadeloos en kreatief te wees.

Volgens die skrywer en akademikus Francois Smith bly die temas wat Claus in Het verdriet van België aanspreek, tydloos en relevant.

“Al is die boek so in hart en niere Vlaams, bly die komplekse vermenging van godsdiens en politiek en familieverhoudings in die wording van ’n jong man en die ontwikkeling van ’n skrywer uiters relevant.

“Boonop, is dit ’n briljante stuk skryfwerk, so verbeeldingryk, en die taalgimnastiek so verbluffend, snaaks, grillerig en terselfdertyd so herkenbaar aards,” sê Smith, wat sy M-verhandeling aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Rolf Wolfswinkel oor die prosa van Hugo Claus gedoen het.

Smith is van mening dat lesers steeds waarde uit Claus se werk kan put.

“Bloot die nagaan van die duisternis van verwysings in sy werke, na die mitologie, die letterkunde, die musiek, die skilderkuns is vir enige ontluikende bewussyn ’n ontsaglike verruiming.

“En die wyse waarop hy taal kan laat bokspring en strek en tuimel is iets wat enige ontluikende skrywer maar kan probeer naboots.”

Hugo, wat die tamaai 770 bladsye van die boek vertaal het, is in akkoord met Smith en is van mening dat veral dié roman lag laag op laag gelaai is met outobiografiese besonderhede, historiese gebeure, tydgenootlike sosio-ekonomiese toestande, ideologiese standpunte en literêre verwysings.

“Dit is ook ’n veeltalige vertelling in ‘schoon Vlaams’ (Claus se weergawe van Standaardnederlands), dialek, Duits, Engels, Frans en selfs Afrikaans. Claus se roman bestryk stilisties al die registers: van verhewe tot platvloers en alles tussenin,” sê Hugo.

Toe Hugo in 2018 dié lywige boek van Claus begin vertaal het, het hy eers werklik besef watter ryk en gekompliseerde roman dit is.

“Die boek bevat talle, dikwels kriptiese woordspelings.

“Ek gee graag een voorbeeld. Op bladsy 715 gaan die hoofkarakter Louis Seynaeve na die kantoor van ’n notaris in Gent. ’n Posbode verduidelik vir hom in dialek waar dit is: ‘Zuust teegnoover de Kattedrolle’. Normaalweg vertaal ek dialek in gewone spreektaal, maar hier moes ek ‘Kattedrolle’ behou, want as Louis die notaris ontmoet, kom dié pas uit die toilet: ‘want je hoorde het ruisen van de spoeling’ – juis om die drolle weg te spoel. Daarom moes ek verklarend vertaal: ‘Reg oorkant die kattedrolle, die katedraal’. Ek kon eenvoudig nie Claus se grappie laat verlore gaan nie.”

Beide Hugo en Smith het op een of ander wyse kontak met die ontslape skrywer gehad.

In die verskyningsjaar van Het verdriet van België het Hugo aan die Katholieke Universiteit Leuven in Vlaandere studeer.

“Ek het die boek nog stomend van die pers gelees en was mateloos beïndruk daarmee. Ek het selfs vir Claus ’n briefie van waardering gestuur nadat hy ’n uiters negatiewe en onregverdige resensie in die dagblad De Standaard gekry het.”

Soos te verwagte het Claus nie aan Hugo teruggeskryf nie, maar jare later het sy biograaf, Marc Schaevers, die briefie in Claus se argief opgespoor en ’n skandering daarvan aan Hugo gestuur.

“Ek voel natuurlik gevlei dat Claus dit bewaar het – saam met sy munisipale rekeninge en inkopielyste.”

Smith het Claus in 1996 in Gent vir die eerste keer op ’n afstand gewaar, maar sou hom eers ’n jaar of twee later in persoon ontmoet toe hy in Kaapstad vir die opvoering van een van sy toneelstukke was.

“In ’n gesprek wat oor alles en nog wat gegaan het, ook oor godsdiens, het hy met ’n vinger in die lug opgemerk: ‘Ik ben geen gelowige, maar de Bijbel, dat is een belangrijk boek.’”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top