Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)

  • 0

Danie Marais

My eerste ontmoeting met Alfred was ’n uitstekende verrassing iewers in die laat ’90’s wat deur my neef Jean Jordaan bemiddel is.

Alfred en Jean het in 1995 bevriend geraak toe Jean aan die Universiteit van Leiden uitruilstudent was. Alfred het daar Nederlandse taal- en letterkunde en film- en teaterwetenskappe studeer. Terug in Stellenbosch het Jean ’n klein poësietydskrif, Vlugskrif, begin uitgee. Van my eerste skryfpogings het daarin verskyn en dis ook in Vlugskrif waar ek die eerste keer in 1997 met Alfred se werk kennis gemaak het. ’n Gedig wat my steeds bybly, is “Siesta’s in de schaduw” –  ’n vers oor ’n ridder uit die Noorde wat in ’n koeltekol op ’n snikhete dag oor ’n stil, leë landskap uitkyk. Niks hoorbaar behalwe die gepiep van sy harnas nie. Ek dink daar was reeds iets van Alfred se eiesoortige sjarme in daardie gedig, maar Alfred is intussen oortuig dis “hondsleg”.

Danie Marais en Alfred Schaffer ná die huldiging

Hoe dit ook al sy, ek het begin om met Alfred te korrespondeer omdat sommige van my gedigte in die Nederlandse poësiekoerant Meander geplaas is en hy die Afrikaanse woordverklarings behartig het. Ons het afgespreek om mekaar uiteindelik op Kleinmond se strand te ontmoet. Ek het ’n lang, lenige en natuurlik blonde Hollander verwag, maar toe stap ’n kompakte, jong rastaman met ’n innemend glimmende glimlag ons oor die warm sand tegemoet.

Ek het weer aan daardie eerste ontmoeting met Alfred gedink by sy huwelik met Karmen van Rensburg in Paternoster in 2005. Karmen se pa het in sy heildronk vertel hoe ook haar familie ’n vooropgestelde idee van Alfred die jong Nederlandse literator gehad het. Wat hulle van hul dogter se kêrel geweet het, was dat hy aan die Universiteit van Kaapstad onder Henning Snyman besig was met sy doktorale proefskrif oor “mite, primordialiteit en die representasie van die argetipiese adolessent en jong man in werke uit die moderne Afrikaanse en die wêreldletterkunde”, en toe kom hy kuier, sê Karmen se pa, “en daar staan Harry Belafonte met dreadlocks voor die deur.”

Schaffer, sy vrou en sy skoonpa; die egpaar se dogter het ook die geleentheid bygewoon

Die heildronk het gespreek van warm waardering vir die groot, sagmoedige aanwins wat Alfred vir hulle familie was, maar ek is weer daaraan, en aan my eie aanvanklik valse aannames, herinner toe ek in 2019 vir Alfred radio toe genooi het as gas in die RSG-reeks Skrywers en musiek. Sy digbundel Mens dier ding, wat in Nederland met drie groot literêre pryse bekroon is, het die vorige jaar in Afrikaans verskyn, vertaal deur Zandra Bezuidenhout, wat toevallig in dieselfde jaar as my neef Jean in Leiden studeer het.

Alfred kon vir die radioprogram vyf liedjies kies wat vir sy skryfwerk en lewe relevant is, en een daarvan was deur Michael Kiwanuka, wat in Noord-Londen groot geword het as die seun van Ugandese vlugtelinge wat hul land verlaat het om aan Idi Amin se skrikbewind te ontkom. Alfred se keuse was “Black man in a white world” en terwyl ek saam met hom na Kiwanuka in die RSG-ateljee in Seepunt geluister het, was ek diep onder die indruk van die spanningsveld en al die dubbelbindings waarbinne Alfred beweeg en skep.
Kiwanuka sing in ’n opruiende, gospelgegeurde soul-nommer:

I feel like I’ve been here before
I feel that knocking on my door
And I’ve lost everything I had
And I’m not angry and I’m not mad

I'm a black man in a white world.

Wat my daardie dag opnuut getref het, is hoe Alfred in sy persoonlike hoedanigheid en deur sy werk soveel stereotipes en clichés heel terloops bevraagteken en daarmee saam die uiters vindingryke manier waarop hy in sy poësie omgaan met identiteit as ’n kwessie van noodwendige absurditeit, worsteling en fragmentasie. In ’n era van fel en brandende identiteitspolitiek weier Alfred enige oorvereenvoudiging rondom ’n “ek” en ’n “jy”; waag hy om ’n Monty Pythoneske ridder te wees ten volle bewus van die nodeloosheid van ’n soeke na self en waarheid, gepantser alleen deur die piepende harnas van tweesnydend ironie maar met ’n weerlose oor en ’n oop oog vir geheimsinnige, alledaagse skoonheid.

In “Praktyk en teorie” dig hy:

Die waarheid lê in die middel, dit lyk bereikbaar, soos
’n pap sokkerbal in ’n visdam, ook met ’n stok kan jy dit

net-net nie bykom nie, ’n verbroude afskop sal alles bedonder,
die risiko is joune. Wat kan ons oorkom, wat kan ons

nie sien nie?

Uit: Kom in dit vries daar buite (2013), vertaal deur Daniel Hugo

Sentrale, deurlopende vrae in sy werk is: Wie is hier hoegenaamd aan die woord? En wie is dit wat lees en luister?
Die motto van sy 2008-digbundel Kooi is woorde van die Amerikaanse digter John Ashberry: “Why do I tell you these things? You are not even here.”

“’n Mens kan hier sterf in drie tale, / rede waarom jy liewer anoniem wil bly,” skryf hy in die gedig “Herinneringe aan ’n beskermengel” (Kom in dit vries daar buite). By hom gaan dit dikwels oor die  bedwelmende verraderlikheid van taal. In sy werk is woorde niemand se speelmaat nie; verskyn die taalbemiddelde werklikheid as ’n glashelder hallusinasie.

Wat kanonieke skrywers volgens Harold Bloom in sy The Western canon gemeen het, is die vermoë om jou vreemd in jou eie huis te laat voel, en dít doen Alfred altyd skynbaar met die grootste gemak.

Hy is dan ook vanjaar vir sy poësie-oeuvre tot op datum met die PC Hooft-prys bekroon. Dit maak hom een van die jongste ontvangers van hierdie groot eerbewys en plaas hom in die geselskap van die room van die Nederlandse lettere. Onder ander ontvangers van dié toekenning tel Gerrit Achterberg, Lucebert, Remco Campert, Harry Mulisch, Elisabeth Eybers, Gerrit Komrij en ook Nachoem Wijnberg – ’n digter wat Alfred al dikwels saam met John Ashberry en Anne Carson as invloed en inspirasie bestempel het.

In sy mooi dankwoord vir die PC Hooft-prys beskryf Alfred vir Ashberry en Wijnberg as “soekende digters met ’n sware ligheid, of ’n ligte swaarte”.*

Hy haal in die toespraak hierdie treffende reëls uit Wijnberg se gedig “Bernard Benson skryf aan sy suster” aan: “Ek vryf my gesig stukkend teen skoonheid. Ek verspil my tyd nie.”*

Alfred sê hy kon nie verklaar waarom hy hierdie woorde “bloedmooi” vind nie, maar hy het met die lees daarvan wel deeglik die bekoring van die onuitlegbare begryp.
En net so sou ek sukkel om Alfred se werk netjies uit te lê aan ’n klas vol skeptiese studente. Trouens, ek het aanvanklik gesweet by die idee om vandag oor sy dikwels hermetiese poësie te praat, maar dit was uiteindelik net ’n vreugde en voorreg om self weer onder die indruk van die poëties verstaanbare dog letterlik onverklaarbare te kom.

Sy werk het my dikwels met ’n skewe glimlag aan Billy Collins se gedig “Introduction to poetry” herinner waarin Collins spot oor die uitleg-angs waarmee poësieonderrig op skool ons almal belas het:

Introduction to poetry

[...]

I say drop a mouse into a poem
and watch him probe his way out,

or walk inside the poem’s room
and feel the walls for a light switch.

I want them to waterski
across the surface of a poem
waving at the author’s name on the shore.

But all they want to do
is tie the poem to a chair with rope
and torture a confession out of it.

They begin beating it with a hose
to find out what it really means.

Uit Alfred se gedigte gaan jy beslis nooit enige bekentenisse kan folter nie en in uitbundige oomblikke gooi hy muise soos petrolbomme in sy verse in. Daar is vlieënde pierings wat by koning Shaka besoek aflê en soms is daar ’n hele Flying Circus wat met ’n getrompetter verrigtinge onderbreek. Wanneer die waterskiërs wuif na die naam van die bekroonde digter aan land, waai die woorddronkleser vir homself terug en maan ’n reklameflits ernstig om die digter se Wikipedia-bladsy met ’n knippie sout te neem. Die Nederlandse digter Ellen Deckwitz beskryf in haar PC Hooft-laudatio Alfred se poësie raak as “een constante worstelpartij, tussen rede en roes”.

In stiller momente, en veral in sy eerste vyf bundels, wat tussen 2000 en 2008 verskyn, skep hy ’n soort verhalende ambiënte poësie – ryk aan die leser se eie ervaring. Met die herlees van die keur uit hierdie bundels wat in die bloemlesing Kom in dit vries daar buite (2013) versamel en deur Daniel Hugo vertaal is, is ek veral aan Brian Eno se ambiënt-siklus Music for airports (1978) herinner. Alfred vertel eenvoudige, ontwykende stories wat, op soortgelyke wyse as Music for airports, die leser se eie gemoedstoestand terugkaats en versterk met die stil, vinnige stroom van assosiasies wat dit ontketen. Dis of hy veral in hierdie bundels daardie tergende herinneringe vaslê wat jy nie kan vergeet nie, maar waarvan jy ook nie kan begryp hoekom jy juis dít onthou nie – tonele so bekend dog intiem bevreemdend soos jou eie drome. Eno gebruik “sound loops”; Alfred span “beeldlusse” in, maar soos met Music for airports is jy nooit heeltemal seker of jy by Aankoms of Vertrek is nie en besef jy hoe naby eensaamheid aan die vrede van die nadood kan wees; hoe steriel ons idees van beskawing en vooruitgang geword het.

Met die herlees van Alfred se werk is ek ’n paar keer aan John Ashberry se groot voorganger, Wallace Stevens, herinner, want as daar ’n diktum is wat Schaffer se poësie by uitstek geld, is dit Stevens se “The poem must resist the intelligence. Almost successfully” (uit “Man carrying thing”.)

In “De materiële wêreld for president”, ’n uitstaande onlangse vers uit Wie was ik. Strafregels, is daar ’n satiriese eggo van die idee wat in die titel van een van Stevens se gedigte vervat is: “Reality is an activity of the most august imagination.”

Dis ook dubbeld gepas om hierdie huldigingsrede by die Breytenbach Sentrum te hou. Nie net verjaar Alfred en Breyten beide op 16 September nie, in Alfred se aanslag op die onwerklikheid van taal en bewussyn hoor jy die invloed van Breyten wat die alles in die niks so deeglik en genuanseerd oor die afgelope vyf dekades afgetas het.

In sy PC Hooft-dankwoord lê Alfred ’n verband tussen Breyten se “nekra” en sy eie poëtika:

die gedig is ’n vorm van isolasie
ook die gedig is vol woorde
anders gesê: dis die aanvulling
laag op laag gesekreer (soos ’n skulp)
om die niet te sekwestreer.

In twee van sy mees onlangse en sekerlik kragtigste bundels, Mens dier ding (2014) en Wie was ik. Strafregels (2020), betree Alfred egter weer nuwe terrein. Hier dryf hy die verwarspel tussen biografie en outobiografie herhaaldelik, dikwels bitter snaaks, tot surrealistise uiterstes en verken hy tegelyk die inherente tekortkominge van sulke projekte as die noodwendigheid van hierdie vertelpogings en die gepaardgaande projeksies wat ons gevange hou.

Mens dier ding gaan dus enersyds oor Shaka, die legendariese Zoeloe-koning, en andersyds oor die onmoontlikheid om ’n biografie van Shaka in versvorm aan te bied wat nie deur die digter se eie projeksies verwring word nie.

In “Harde feite rondom Shaka dit wil sê harde feite rondom my”, ’n sleutelgedig aan die begin van Mens dier ding, skryf Schaffer:

         Ek is ’n projeksieskerm, ’n swart krygsman
         met ’n donkerbruin vel en deursigtige siel.

Die gedig eindig met:

Wat sien ek as ek in die spieël kyk? ’n Golwende weerkaatsing
van ’n weerkaatsing van ’n weerkaatsing.
Ek noem dit die Droste-effek
u noem dit Simboliek.

In “dag(droom) #12.292” in dieselfde bundel dig hy:

Rustig aan die wandel, soos op ’n dag by die strand
net die see was weg, ek het by ’n afgryslike diepte ingestaar
’n verrottende, onmeetlike bodem –
dus het ek om hulp geskreeu
asof ek agtervolg is deur ’n horde ekke stil soos klip.
Dit was ook so.
Ek ek ek ek het dit in my ore getoet.

In sy jongste, mees persoonlike bundel, Wie was ik. Strafregels, wat vanjaar met die Herman de Coninck-prys bekroon is, loop Alfred sy Arubaanse moeder na wat hom ontval het toe hy 18 was. Dié werk neem dus ’n gesinsgeskiedenis as vertrekpunt wat Alfred in sy PC Hooft-dankwoord as volg beskryf:

Ek het gegroei deur groot te word in ’n geamputeerde gesin. Met ’n middeljarige vader wat as jong man die hel van ’n oorlogswerklikheid beleef het, wat al hoe abstrakter geword het, hoe meer hy daarvan vertel het. My moeder was lewensgetrou met die eerste oogopslag, maar ook ’n vrou wat ’n jeug en ’n daaglikse lewe weerspieël het wat vir my, in Nederland, dikwels onsigbaar was. Die groot afwesige in die gesin was ’n mens wat altyd kind sou bly, waaroor stories vertel is, wat teen die muur gehang het met haar onverbeterlike glimlag.*

Rondom die swart gat wat sy verpleegstermoeder gelaat het en die alomteenwoordigheid van sy suster, wat verdrink het toe hy nog in doeke was, het Alfred sy mees ontroerende bundel geskryf sonder om ooit in sentimentaliteit te verval.

Op die agterblad stel hy sy oorlede ma aan die woord wat haar bedenkinge oor die projek as volg uitspreek:

laat dit tog gaan, dag ek. ek is nie een of ander historiese figuur wat jy sommer van binne na buite kan dop nie, ek is jou bloed-eie asem. daarvan kan jy nie sjokolade maak nie. waarom sou jy ook. die ryk van die lewendes is ’n doderyk, dit verstaan ek wel, dis ’n soort spieëleffek. daarom raak jy niks ooit regtig kwyt nie.*

Alfred herinner die leser herhaaldelik in die bundel daaraan dat dit onmoontlik is om ’n getroue biografie van ’n spook te skryf, maar Wie was ik breek jou hart met oortuigend verbeelde fragmente van ’n lewe geslyt in verlange, verlies, ontheemding en ’n verskriklike alledaagse rassisme.

Daar is reëls wat die leser tref soos skrapnel van ’n planeet wat jare gelede ontplof het; reëls soos hierdie:

laat ek vriendelik bly: die jagseisoen is oop.
die gat in my siel is met krale en watte gevul.*

Uit: “Mijn lichaam dat door de kamer zweeft omhoog omhoog omhoog tot
het tegen het plafond dit geplakt er langsaam tegenaan word geperst want
wie kan er nu door steen en beton ik dank my snelle oogbewegingen dat
niets my ontgaat.”

nederland was ’n voetjie-vir-voetjie-land
’n slordig skoon gespuite slaghuis met die bruuske aroma
van geronne bloed ou vleis en skoonmaakmiddels
nederland was ’n voorprogram, daar was baie sitplek.
nederland het 12 miljoen siele getel en ek was ’n voorbode
van wat sou kom, die moddervette duisternis, daar waar god was.*

Uit: “Wat kan ek mij herinneren”

wit was my spierwit uniform halleluja maar daaronder was ek puin was ek gruis. my naamkaartjie in my vel getatoeëer. baie pasiënte vergeet wie ek is want ek is naamloos git en ink en roet ’n donker spook wat aan die hospitaalbedrand staan. die gordyntjie toetrek. die hartslag ondersoek en glimlag altyd glimlag regtig daaraan is ek behoorlik gewoond*

Uit: “Bo mester wak pa bo kere”   

ek was die klein stilte van my paspoortfoto
die doodse stilte van my brute graf
ek was regtig byna ingeburger regtig.
[...]
ek was die swarte op die fiets
[...]
ek was getroud met die tweede wêreldoorlog
[...]
ek was mal oor hoender en rys daarvoor kon jy my wakker maak
ek was altyd amper aan die beurt
ek was nie so goed daaraan toe nie niks was teen my opgewasse nie
ek was ’n vrou wat
klets ek nou laat my met rus ek
smeek u

Uit: “Wie was ik”

Met hierdie huldigingsrede, Alfred, bedank ek jou innig vir die rol wat jy in ons groter, geamputeerde, wanfunksionele taalfamilie speel; vir die oop gemoed en deernis wat jy nog altyd teenoor soveel mense en ’n wye verskeidenheid van poësie openbaar het; vir jou groot hart wat jy nooit op die mou dra nie en die vrygewigheid wat jy nooit aan die groot klok hang nie.

Ek weet jy voel die Tuin van Digters-fees behoort eerder inheemse digters te vereer, maar die rol wat jy as tussenganger vir sowel die Nederlandse as die plaaslike letterkunde speel, kan nie oorskat word. Baie dankie vir die stemme soos Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips en Koleka Putuma wat jy met jou vertalings in die Lae Lande laat opklink.

Ellen Deckwitz praat in haar PC Hooft-laudatio van jou as ’n digter wat haar “die digterlike moed in die skoene gesit het”.* En dit het jy vir my en soveel ander Afrikaanse digters ook gedoen.

Twee dekades gelede, toe jy nog vars in die land was, het jy heel ernstig ’n heildronk aan die Universiteit van Kaapstad ingestel met “Up yours!” Wel, “up yours” en op jou en joune, Alfred. Van ons raak jy nie sommer gou weer ontslae nie. Ons is baie bly avontuurlus en liefde het jou hier laat vashaak. Gesondheid!

Schaffer spreek dankwoorde. Sy "Up yours!" was glo te danke aan sy toe nog baie swak Engels, vertel hy.

* Hierdie passasies is deur die skrywer self vertaal.

  • Fotografie: Izak de Vries
  • 0
Top