Ierse bier en humor in Cork

  • 0

As deel van die Norwegian Cruise Line se nuutste skip, die Prima, se eerste vaart van Ysland na Nederland, doen ons vir 12 uur aan by die hawestad Cork in Ierland. Ná twee dae op die oop see is dit met gemengde gevoelens wat ’n mens die eerste groen, dobberende baken in Cobh, die klein dorpie reg langs die water, by jou venster sien verbygly. Die stille, oop, kalm see en loom dae op jou balkon of langs die swembad het jou half onwillig gemaak om besige stede en verkeer te trotseer.

Die mooie Cobh van ons reuseskip, die Norwegian Cruise Line Prima.

Maar toe ons in een van die vele luukse busse sit op pad na ’n begeleide staptoer deur Cork sowat 20 minute se busrit verder, en die stad en die ou geboutjies en stadsmure by ons verbyflits, is ek heel opgewonde oor dié vooruitsig. Selfs die verkeer pla nie.

Oud en nuut smelt mooi saam in die stadskern van Cork.

Ons het twee gidse: Lynne Glassoe en Kate McCarthy, wat om die beurt hul kennis met ons deel.

Lynne groet ons met die woorde: “Céad míle fáilte” – ’n “100 000 welkoms” in Iers, maar toe ons vra hoe jy dit spel, voeg sy met ’n groot glimlag by, “niks wat in Iers gespel word, word dieselfde uitgespreek nie,” en sy wys ook sommer na die borde langs die pad wat in Iers en Engels aangedui word. Genadiglik, anders weet ek nie hoe jy jou bestemming vind nie!

“Céad míle fáilte” – ’n “100 000 welkoms” in Iers.

Engels is die voertaal maar Iers is verpligtend op skool en kinders leer dit van vier jaar oud.

Dankie tog vir Engels, want as alles in Iers was, het ons hopeloos verdwaal!

Sy vertel dat Ierland net minder as 5.1 miljoen inwoners het, waarvan ’n derde in en om Dublin woon. “Maar Ierland is meer as Dublin; die geboorteplek van Oscar Wilde en Guinness-bier; die eerste Ford-fabriek,” laat sy hoor. Duidelik ’n baie trotse Cork-inwoner.

Cork is Ierland se tweede grootste stad en op die Leerivier geleë.

Lynne vertel dat “Cork” die Ierse woord is vir vleiland en dat die stad aanvanklik 7 eilande was wat met waterweë aanmekaar verbind is. “Dis destyds die Venesië van die Weste genoem.” 

Die Holy Trinity Kerk in Cork wat op een van die waterweë gebou is.

Sy wys waar groot dele van die stad drooggelê is en ’n mens kan amper nie glo dat die geboue wat nou tussen ander ingedruk staan, 300 jaar gelede op die rivierwal gestaan het nie.

Van hierdie geboue het 300 jaar gelede op die rivieroewer gestaan, maar groot dele van Cork is intussen drooggelê.

Sy wys ons ’n mooi systraatjie naby St Patrickstraat en sê jy het tot die 17de eeu met jou boot hier geseil waar ons nou op teerstrate stap. Die mense was baie ryk van botter, bier en ander landbouprodukte.

Dit was ’n baie belangrike handelshawe, weens sy goeie ligging. Sy voeg by dat Cobh die tweede grootste natuurlike hawe in die wêreld is. “Dis deur die eeue ’n baie diep en belangrike hawe, en julle sal dit nou verstaan met jul reuseskip wat met gemak daar kon vasmeer.”

Sy beduie oor die bote se maste dat dit die oudste seiljagklub in die wêreld is en voeg dan by dat daar meer as 300 gholfklubs in Ierland is, so dis duidelik hoe die inwoners hul vrye tyd deurbring!

Soos die klein stukkies onbeboude land verbygly, hoor jy die kommer in haar stem as sy erken dat hulle gewoonlik “forty shades of green” is, maar nou eerder “forty shades of brown” met die ongewone droogtes wat die land die afgelope paar jaar teister. Klimaatsverandering is duidelik te bespeur, brei sy uit.

Sy wys ons die stad se “robotbome”, sulke groot houtstellasies met mos binne-in om die lug te suiwer. Ons almal trek instinktief ons longe vol suiwer lug, maar een lid van ons groep wys na die rokers op die bankies nie te ver daarvandaan nie, en almal bars uit van die lag.

Die stad se “robotbome”, sulke groot houtstellasies met mos binne-in om die lug te suiwer.

Die hoogtepunt van die dag is die begeleide toer van die Saint Fin Barre Katedraal, die mooie Anglikaanse katedraal in die middel van Cork. Dis deur William Burges ontwerp en in 1870 ingewy en sy eie Victoriaanse weergawe van Gotiese argitektuur, vertel Stewart Dorney, ons gids wat ons by die hek inwag. “Burges was ’n Londense argitek en wou sy persoonlike stempel afdruk toe hy hierdie kerk ontwerp het.”

Die Saint Fin Barre Katedraal, die mooie Anglikaanse katedraal in die middel van Cork. Dis deur William Burges ontwerp en in 1870 ingewy en sy eie Victoriaanse weergawe van Gotiese argitektuur, vertel Stewart Dorney, ons gids wat ons by die hek inwag.

Hoewel die gebou maar net meer as 150 jaar oud is, is daar meer as 1 400 jaar van aanbidding op hierdie plek, vertel hy. Fin Barre het in die jaar 606 in Ierland aangekom en was ’n groot geestelike leier van sy tyd. Die huidige kerk wat tussen 1865–1879 gebou is, is die vierde een op hierdie plek en binne is ’n model van die vorige kerk. Die vorige drie kerke was almal van hout.

Stewart neem ons na die voorkant en wys by die ingang die klein kerfwerk van die verskillende ambagte wat daardie jare beoefen is – van orrelis tot astroloog, ridder en skilder. Links is wyse maagde met bedekte koppe en lampies vol olie met ’n oop kerkdeur uit die klip gekerf. Regs is die dwase maagde met leë lampies wat onderstebo hang en ’n toe kerkdeur. Die detail is verbysterend duidelik en ingewikkeld.

Links is wyse maagde met bedekte koppe en lampies vol olie met ’n oop kerkdeur uit die klip gekerf. Regs is die dwase maagde met leë lampies wat onderstebo hang en ’n toe kerkdeur. Die detail is verbysterend duidelik en ingewikkeld.

Stewart verduidelik dis een van Burges se kenmerke: Die buitekant van die kerk laat jou glo dis baie groot, maar binne is dit nou en intiem. Voor ons deur die reuseingang stap, wys hy bo ons koppe na die goue mosaïekteëltjies en vertel: “As die son reg val op die deure, verlig dit die teëltjies en dit laat dit lyk of die mense se siele opstyg met die Wederkoms.”

Ons stap saam met hom binne rond en verpoos toe hy die kleurvolle loodglasvensters uitwys en half vir homself mymer: “Die glas bring die lig amper tot in jou siel.”

Ek het iewers raakgelees dat die kanonkoeël wat van die Elizabeth Fort wat jy op die heuwel neffens die katedraal kan sien, wat niks beskadig het toe dit in 1690 afgevuur is nie en vir jare in die ou katedraal se toring gesit het, nou aan ’n ketting agter die preekstoel hang. Stewart se gesig verhelder en hy lyk bly dat dit lyk asof iemand belangstel.

Die kanonkoeël wat van die Elizabeth Fort wat jy op die heuwel neffens die katedraal kan sien, wat niks beskadig het toe dit in 1690 afgevuur is nie en vir jare in die ou katedraal se toring gesit het, hang nou aan ’n ketting agter die preekstoel in die Saint Fin Barre Katedraal.

Ek steek kersies vir geliefdes aan en drentel ingedagte by al die interessanthede in die kerk verby.

Lynne wag buite en ons verken die stad verder. So in die stap vertel sy dat Ierland vanjaar 100 jaar onafhanklikheid vier en dat daar vier provinsies en 26 graafskappe in die land is. “Toe ons in 1973 by die EU aangesluit het, was ons die armste land in die EU. Danksy ’n paar slim besluite van die regering het ons nou een van die ryker lande geword. Hier is onder meer groot farmaseutiese en IT-maatskappye gesetel wat baie werk verskaf.”

Sy verwys weer na die Ford-fabriek en vertel dis in die tagtigerjare gesluit, maar met ’n nuwe ontwikkeling van Cork-hawe sal dit in ’n museum omskep word. “Daar sal na verwagting 25 000 mense in die volgende paar jaar hier kom vestig,” vertel sy.

Lynne gee ons die res van die dag om self die stad te verken.

Ons drentel deur die strate, kyk winkeltjies en mense en staan verstom by die hoeveelheid muurkuns teen ou geboue. Lynne het genoem dat muurkuns ’n ongewone oplewing in die stad het.

Ons staan verstom by die hoeveelheid muurkuns teen ou geboue. Muurkuns het blykbaar ’n ongewone oplewing in die stad.

Ons gaan proe en koop kaas, koue vleis en ’n louwarm brood vir ’n ligte versnapering op ’n bankie in die historiese English Market in Princesstraat. Die mark dateer uit 1788 en het tydens ons besoek in Augustus sy 234ste verjaardag gedenk. Dis argitektonies net so belangrik as ekonomies en ek lees dat dit in 1862 opgeknap en verfraai is.

Ons kuier lekker by die historiese English Market en koop peuselgoed om op ’n bankie op die balkon te gaan eet, terwyl ons mense kyk.

’n Nuwe ingang vir die mark en dak vir die groente-afdeling is gebou. Die bekende argitek Sir John Benson het die ontwerp behartig en ook twee huise of winkels weerskante van die ingang ingesluit. Die nuwe mark het dieselfde oppervlak beslaan, maar met ’n nuwe balkon in die binnehof, kon die stalletjies verdubbel. Dis amptelik in Desember 1862 ingewy.

Ek voel heel trots dat ek ook by die visstalletjie waar oorlede Koningin Elizabeth in Mei 2011 aangedoen het, geselsies maak.

Die mark is baie gewild onder toeriste wat bakkies olywe en fyngebak koop, maar vir baie Iere is dit steeds die beste plek vir tuisgemaakte afval en ander Ierse lekkernye.

Toe ons later middagete gaan eet by Clancy’s wat uit 1824 dateer, om ’n regte Ierse bier Murphy’s Irish Stout en vis en skyfies te geniet, vertel die jong kelnerin ons dat daar lekker skertsery tussen die inwoners van Cork en Dublin, Ierland se hoofstad, is. “Dis seker maar soos die gekskeerdery tussen Manchester en Londen of Melbourne en Sydney oor wie nou eintlik die waardige hoofstad is.” Baie inwoners verwys na hulself as die rebelle en noem die stad Ierland se rebelstad.

“So as julle iets wil koop in Cork benewens Tayto Crisps en die bekende Barry’s tee, koop ’n T-hemp met ‘The People’s Republic of Cork’ of een met ‘Cork – the real capital’ op die bors, maar moet dit dan nie in Dublin waag nie,” vertel sy met ’n knipoog.

Clancy’s is die mooiste ou gebou met rankplante en sierkrulle en intieme hoekies waar jy heeldag kan kuier.

Clancy’s dateer uit 1824 en is die mooiste ou gebou met rankplante en sierkrulle en intieme hoekies waar jy heeldag kan kuier.

Ons stap later by die rooibaksteengebou verby van die Crawford School of Art wat voorheen ’n bierbrouery was. Soos ons verby restaurante stap en selfs ’n advertensie vir ’n volle Ierse pizza met black pudding, spek, wors, sampioene en uie sien, hoor ek weer Lynne se woorde: “As iemand jou black pudding aanbied, eet dit, maar jy vra nooit wat daarin is nie.” Nee, dankie, sê die gansie.

Ons het gelees dat die Metropole- en Imperial-hotelle die oudste in die stad is en dat die Imperial Hotel se Franse-tema-koffiewinkel se cappuccino se geheime bestanddeel sjokoladestukkies is wat in die kokende koffie oplos. Ons sit daar in die venster en kyk die mense.

Laatmiddag vang ons die bus terug na Cobh wat eintlik as “Cove” uitgespreek word. Naby die kerk wat hoog op ’n heuweltjie oor die hawe uitkyk, is daar ’n teken vir Kidney Steps en ek wonder of dit so genoem is omdat jy ná al die opdraande stap – of die prys van ’n bier – voel of jy al een nier geskenk het.

Die teken in Cobh vir Kidney Steps laat my wonder oor die oorsprong van die naam.

Daar is tekens in die dorp wat spog dat Cobh die prys vir die netjiesste en mooiste dorpie gewen het en ek kan verstaan hoekom. Die tuintjies is keurig en kleurvol, mense is vriendelik en van rommel is daar geen teken nie; nie eers in die parkie oorkant die dorpie se bekende kleurvolle (skewe) huisies, bekend as “Deck of Cards”, nie.

Van die parkie oorkant Cobh se bekende kleurvolle (skewe) huisies, bekend as “Deck of Cards”, loer die toring van die Saint Colman’s Katedraal.

Agter die huisies loer die toring van die Saint Colman’s Katedraal en ons stap soontoe. Dis in 1919 voltooi en het meer as ’n halfeeu geneem om te bou, weens stygende boukostes en planne wat voortdurend oorgeteken is.

Die binnekant van die Saint Colman’s Katedraal in Cobh. Dis in 1919 voltooi en het meer as ’n halfeeu geneem om te bou, weens stygende boukostes en planne wat voortdurend oorgeteken is.

Ons moet ’n bier op Ierse grond drink en die Rob Roy Ierse pub is net die plek. Die kroeg was dié kuierplek waar immigrante hul laaste aand deurgebring het, voor hulle Amerika toe vertrek het. Groot is ons verbasing toe daar ’n mooi bord buite is wat die NCL Prima verwelkom! Ons maak toe maar soos duisende voor ons en kuier saam met die locals!

Dis al sterk skemer toe ons terugstap na die skip toe. Die laaste mense kom by die Erfenissentrum uit en ek vertoef by die Annie Moore-standbeeld met haar twee broers. Annie was op 1 Januarie 1892 die eerste Ierse emigrant wat op Ellis-eiland in New York gearriveer het en toegelaat is. ’n Soortgelyke standbeeld staan daar. Die standbeeld is ’n simbool van die duisende Iere wat daardie selfde reis onderneem het.

Annie Moore se standbeeld met haar twee broers. Annie was op 1 Januarie 1892 die eerste Ierse emigrant wat op Ellis-eiland in New York gearriveer het en toegelaat is. ’n Soortgelyke standbeeld staan daar.

Toe die skip stadig uit die hawe vertrek, dink ek weer aan die Titanic wat op 11 April 1912, presies 110 jaar gelede, hier by Cobh as laaste hawe aangedoen het, voor dit gesink het. The Titanic Experience is een van die gewildste toeristebesienswaardighede in Cobh, maar iets waarvoor ek nie kans gesien het nie.

The Titanic Experience is een van die gewildste toeristebesienswaardighede in Cobh, want dit was die laaste hawe waar die skip aangedoen het, voor dit gesink het.

Gelukkig het ons skeepvaart uit dié hawe net soveel goeie herinneringe as Annie s’n wat ’n nuwe lewe in New York gaan begin het.

  • Woorde: Maryke Roberts
  • Foto’s: Clifford Roberts
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top