Intieme kunservaring toe baie meer persoonlik as beplan

  • 0

By die openingsfunksie is van links: Nicky Terblanche wat ’n praatjie oor kunsmatige intelligensie en die kunste gelewer het, Pieter Swart, een van die gidse op die kunsroete en kunstenaar Tamlin Blake wat saam met die Keiskamma-projek uitgestal het.

Die twee klein dorpies, Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel, was die afgelope naweek gasheer vir die sesde Solo Studios – Intimate Art Encounters. ’n Totaal van 17 plaaslike kunstenaars is vir vanjaar se baie intieme kunservaring gekies en verskeie van hulle het met kunstenaars van buite die Riebeekvallei saamgespan vir gemengde uitstallings.

Brian Porter, Astrid McLeod, eienaar en kurator van RK Contemporary, kunstenaar Arno Morland en Maya Pellissier.

Solo Studios is aanvanklik gestig om kunsliefhebbers van oraloor vir drie dae byeen te bring, om kuns in die intieme ruimtes van kunstenaars se galerye – waarvan heelwat in hul woonkamers gehuisves word – te ervaar. Kunswerke kan ook direk van kunstenaars gekoop word, en die storie agter elke werk so saam-saam ontgin. Die ervaring word elke jaar meer gewild.

Die kunstenaars Gordon Williams (by een van sy werke) en Katja Abbott, wat een van die kunsroetes begelei het.

Die 17 kunstenaars se ateljees, asook groepuitstallings by verskeie galerye en twee privaat-kunsversamelings in eksklusiewe gastehuise is vir die naweek aan die publiek oopgestel.

Martin, eienaar van Marras Wyne, kunstenaar Riaan van Zyl en sy vrou, Kara, by Elmari en Daniël Potgieter.

Die feestelikheid sal egter nooit ’n groot kommersiële een word nie, vertel Klaus Piprek, medestigter en direkteur van Solo Studios oor ’n glas Marras-wyn. “Nie alleen kan die vallei nie meer as 1 400 kaartjiekopers gelyk huisves nie, maar die kunsroetes waarop besoekers deur gidse begelei word, poog ook om klein groepies op ’n slag by kunstenaars te akkommodeer.”

Die installasie van Dieter Wust “Off Balance Sheet” het ’n groot indruk op my gemaak.

Dis nie my eerste Solo Studios-ervaring nie: Ek ken die heerlike gevoel om straataf te stap, ander besoekers van voor af te sien aanstap op pad na hul volgende ervaring, terwyl jou gids jou ’n bietjie agtergrond oor die kunstenaars op dié spesifieke roete gee. Aan die einde van die dag kuier jy by ’n langtafel met Swartlandse wyn, gasvryheid en kos of kyk hoe die laaste sonlig die dorpie se strate verkleur, terwyl jy aan ’n plaaslike gin teug. Of ontmoet vriende vir ete en deel die sielskos wat ’n kunswerk of vertoning jou gebied het.

Ons gaan klink ’n glasie saam met Joseph Dhafana, een van die vier Zimbabwiër-vlugtelinge wat in die dokumentêre film Blind Ambition te sien is.

Oral is mense opgewonde aan te vertelle oor wat hulle daardie dag ervaar – en gekoop – het. Een vrou koop elke jaar met haar dogter se verjaardag vir haar ’n kunswerk, om sodoende haar eie kunsversameling op te bou, maar ook eendag die herinneringe aan haar ma te kan hê. Ander soek werke in wit en swart vir haar simplistiese huis en ’n ander koop net landskappe.

Die Solo Studios 2023 is amptelik met ’n klassieke konsert in die NG Kerk afgesluit.

Vier kunsroetes onder begeleiding van Gretha McMahon, Jacky Lloyd, Katja Abbott en Pieter Swart het kunstenaars se ateljees volgens hul ligging op die dorpe saam gegroepeer en besoekers kon te voet die dorpies en hul kunstenaars ontgin.

Van die plaaslike komiese oomblikke voor The Wine Kollective, wat Swartland-wyne op Riebeek-Kasteel verkoop.

Nadat die verwelkomings en heildronke die Solo Studios 2023 amptelik oop verklaar het, kry elkeen koers na ’n volgende bestemming: Vyf langtafel-etes word saans oor die vallei gehou en hier skuur jy skouer met ander kunsliefhebbers, wat sommer dadelik soos vriende voel.

Saterdagaand is daar ’n heerlike breek in al die ervaar en tob en wroeg met ’n paar kort, ou films deur Alfred Hitchcock wat deur die kunstenaar Riaan van Zyl gereël is. Buite pryk die bordjie “Riaan Film Studio”, maar dis die liefdevolle passie van Marco Pellis van Kaapstad wat dit moontlik maak.

My intieme kunservaring word toe sommer in ’n japtrap baie meer persoonlik as wat ek kon droom. Met ons instap by ’n gesellige langtafelkuier, sit my oudgrootbaas op die punt.

Een van die langtafelkuiers is by Kokos Huis gehou. Die ribbetjie is pure plaas.

Ons het bykans 14 jaar gelede ook saam om ’n tafel gesit, maar sonder die wyn, goeie geselskap en gedeelde kunsliefde. Ek en my geliefde het op een dag die korporatiewe wêreld vaarwel toegeroep en hy het ons na die korporatiewe hoofkantoor laat ontbied, om te hoor waarom ons gaan en of ons nie wil heroorweeg nie. Ons staan “aan die begin van vrugbare loopbane”.

Die wyne van Jurgen Gouws van Intellego Wines is by Kokos Huis saam met die aandete gepasmaat.

Helaas was ons albei toe al só voos van regstellende aksie, werksdruk omdat die werkslas oneweredig versprei is en ou waardes van etiese besluite, integriteit en harde werk minder belangrik was as die kleur van jou vel. Ons wou uit; voor ons albei ’n senuwee-ineenstorting moes deurleef.

Van die indrukwekkende kuns wat by Die Kunshuis RK vir die publiek oopgestel is.

Die besluit om daardie loopbaan af te lê en op ons eie te gaan werk, was natuurlik nie ’n ligtelike een nie. Dit was erg traumaties, het ons albei van ons selfvertroue beroof en ons het aanvanklik gedink dat ons binne etlike weke op straat sou sit.

Die plaaslike kunstenaar Wiehan de Jager het met Clayton Sutherland saamgespan.

Stadig maar seker het ons begin om ’n nuwe paadjie uit te kap. Die trauma beslis nie vergete nie en ook nie agter ons nie. Covid het natuurlik ook nie gehelp nie en met baie van ons kliënte wat hul deure moes sluit, is daar baie trane gestort.

Die pragtige kunswerk van Madiba deur Boyce Magandela is deel van die Spier Arts Trust se uitstalling agter die Royal Hotel.

Toe ek instap en my oudbaas sien, word ek yskoud. Ek voel weer soos ’n laerskoolkind wat voor die skoolhoof staan. Ek groet en sê dat hy ons seker nie onthou nie. Ek weet ons is nie die eerste mense wat geloop het nie. “Inteendeel, ek lees alles wat julle skryf en sien julle is omtrent aan’t reis en ervaar,” kom sy antwoord.

Een van Solly Smook se kunswerke oor die bome van die Namib.

Deur die loop van die aand gesels ek met die ander helfte van die tafel, my baas net te ver buite hoor- of praatafstand. My geliefde gesels na sy kant toe. Die uiteinde van die langtafelkuier is dat ons oudbaas heeltemal komplimenterend is met die loopbane wat ons uitgekap het buite die korporatiewe wêreld.

Kevan Moses en Shui-Lyn White het saam uitgestal.

Maar tog besef ek hoe vlak daardie seer nog steeds lê; hoe dun die rofie as jy voel jou maatskappy het jou nie waardeer nie en as’t ware drooggekou en uitgespoeg.

Vier van Shui-Lyn White se “Little Gems”.

Met daardie gedagtes malende in my agterkop, begin ons vroeg die volgende oggend die kunsroetes saam met gidse ontgin. Die eerste hiervan is Solo Studios se heel eerste filmfees, Monomania – 7 Kamers van Obsessie. “Monomania” is die obsessiewe entoesiasme vir een onderwerp. Sewe kunstenaars, kunsfoendies en digters neem deel. Elke film is sewe minute lank en op die program is Plot’s Possession deur Cristina Kirstein, Pixels and Poetry – A Journey into Art Technology deur Tamzin Lovell, Eulogy to Motion deur Riaan van Zyl, My Beautiful Brein deur die digter Donker Jonker, TONG: Die Gekleurde Vrou, ’n samewerkingsproduksie deur The House of the Second Shadow, Sensation deur Lean Bakker en Subaqueous deur die onderwater-fotograaf John Vowles.

Q Studio – Impendulo met werke van Carl Collison en Hentie van der Merwe is in die ou kerk uitgestal, wat vandag die dorp se museum is.

Daar is toe agt kortfilms waarin verlies; ons elkeen se unieke storie; hoe almal maar sukkel om ’n plekkie vir homself af te steek en hoeveel jy werklik kan voel onder die loep kom. Cristina Kirstein se woorde dat in die tapisserie van ons lewens, ons beide die gare én die weef is, bly my by.

Emma Willemse gesels met besoekers oor die draaiende uitgebrande boomstomp en wat die simboliek vir hulle is.

Die rede vir die agtste film, vertel Klaus na afloop van die vertoning, is dat Tamryn Shuggah Jacobs aanvanklik sou deel vorm van die filmfees, maar toe tussen neus en ore verdwyn het. Dit het later duidelik geword dat sy in ’n inrigting opgeneem is, nadat sy met bipolêre versteuring gediagnoseer is. Sy is egter betyds ontslaan en kon toe haar kortfilm Impassion voltooi. Haar film vang die wanorde in my brein kort ná ons bedanking en nou weer bykans 14 jaar later baie goed vas.

Herinneringe aan vorige werke word in hierdie kunstenaarspalet vasgevang.

Soos ons die roetes stap, is daar verskeie argitekte wat as middeljariges van loopbaan verander het en begin skilder of met hout begin werk het. Daar is mense se reise as transgender persone en hoe vereensaam hulle is; die kapitalistiese wêreld se onsimpatiekheid teenoor dié wat diep voel; die soeke na betekenis as jou kinders die nes verlaat. Verandering is blykbaar die enigste konstante ding in ons lewens.

Veronica Betani van die Keiskamma-projek, besig om een van die naaldwerkkuns-projekte te voltooi.

Ons gaan klink ’n glasie saam met Joseph Dhafana, een van die vier Zimbabwiër-vlugtelinge wat in die dokumentêre film Blind Ambition te sien is. Die film is by Solo Studios vertoon en gaste kon ’n blinde wynproe saam met hom doen. Hy en drie ander Zimbabwiërs het die afgelope dekade of wat hul ou lewens agtergelaat en met net die klere op hul lywe nuwe lewens in Suid-Afrika begin en bekroonde sommeliers en wynmakers geword. Hulle het in 2017 as Team Zim teen 23 internasionale spanne by die sogenaamde Olimpiese Spele van die wynwêreld meegeding en word in die film Blind Ambition vereer.

André Francois van Vuuren se werkstafel is kuns in eie reg.

Joseph, nou eienaar van MOSI Wines & Spirits, was die spankaptein van Team Zim. Hy en sy eggenoot, Amelia, het in 2009 na Suid-Afrika gevlug en moes hul vyfjarige seuntjie agterlaat. Joseph het by ’n sementfabriek gewerk toe die land in krisis verval en die egpaar is in ’n goederetreinwa toegesluit om oor die grens gesmokkel te word.

Ook iemand wat totaal van loopbaan moes verander, alles agterlaat en oor begin.

Georick fon Velt, ook bekend as The Mirrorsister, het in die eenpersoonvertoning, Sosiaal, opgetree. Hier is Georick in André Francois van Vuuren se ateljee.

Saterdagaand is daar ’n heerlike breek in al die ervaar en tob en wroeg met ’n paar kort, ou films deur Alfred Hitchcock wat deur die kunstenaar Riaan van Zyl gereël is. Buite pryk die bordjie “Riaan Film Studio”, maar dis die liefdevolle passie van Marco Pellis van Kaapstad wat dit moontlik maak. Ek teug aan ’n glas van Christa von La Chevallerie se Huis van Chevallerie-vonkelwyn en kou springmielies, terwyl die truprojektor agter my rug wip en kraak en al die sorgeloosheid van my kinderdae op die platteland terugbring.

Daardie tyd toe ek onvoorwaardelik veilig en gelukkig gevoel het; onbewus van die wye wêreld en wat die lewe nog gaan inhou.

By Hannelie Strydom se uitstalling die volgende oggend “The Craft of [Un]-Nesting” is ek weer terug in my tienerjare, toe ek die nes verlaat het en my ma agtergelaat het. Hierdie werk hou verband met die huidige seisoen in haar lewe waar haar kinders die huis verlaat het om te gaan studeer en haar gedwing het om haar identiteit te bevraagteken en te verken. Temas van dekonstruksie, mortaliteit en verwelking is duidelik in haar werk en die simboliese gebruik van ’n leë nes impliseer die beëindiging van een siklus en die geboorte van ’n ander.

Die kunsfees is laat Sondagmiddag in die NG Kerk met ’n Simfoniekonsert met die Winelands Filharmoniese Orkes en die Riebeek Valley Steelband afgesluit. Dis donker toe die laaste gaste met verrykte siele uitstap.

Maar my kunservaring het ’n uur of wat voor dit afgesluit, toe ek by Dieter Wust se installasie “Off Balance Sheet” instap. Om ’n lang kantoortafel is verskeie pare deftige mans- en vroueskoene neergesit, met dokumente op die tafel, asof daar ’n vergadering sou plaasvind. Waar mense sou sit, hang daar kolostomiesakke uit die dak, gevul met kapsules. Daar is 60 000 kapsules oor die tafel en op die vloer en die kapsules kraak onder mense se skoensole. Besoekers word aangemoedig om die kolostomiesakke leeg te maak, sodat die kapsules alles uitloop, voor dit weer volgemaak word.

Ek vra uit oor die 60 000 en hy sê dis hoeveel die gemiddelde mens in ’n 70-jarige leeftyd sal drink.

Dieter verduidelik: “As kunstenaar stel ek daarin belang om die verborge uitwerking van korporatiewe kultuur op individue en die samelewing te ondersoek. My artistieke reis word beïnvloed deur my ervaring om die ingewikkelde landskappe van hierdie omgewings te navigeer – beide as ’n geoktrooieerde rekenmeester en as iemand wat worstel met die uitdagings van die chroniese Crohn se siekte, met sy gepaardgaande komplikasies.”

Hy sê voorts: “In ‘Off Balance Sheet’ wou ek die impak van groepdinamika en die mens se neiging om eenders te wil wees binne die korporatiewe wêreld ondersoek. Dié installasiekuns verwys na ’n rekeningkundige konsep, waar die bates en laste nie op ’n maatskappy se balansstaat getoon word nie, wat dit ’n uitdaging maak om te lees, aangesien hulle vir die publieke oog weggesteek word.”

Dieter se installasie ondersoek die impak van verborge dinamika en die magswanbalanse in die korporatiewe omgewing. Hy ondersoek die idee dat dit ’n disfunksionele omgewing kan skep, wat kan lei tot besigheidsmislukking of dit kan manifesteer in fisiese of geestelike siektes.

Sy hoop is dat hierdie installasie bewustheid sal skep en gesprekke sal begin oor die verreikende gevolge van eenders wil óf moet wees in die korporatiewe wêreld.

Hy som dit só vir ons groepie op: “Hierdie uitstalling is basies die bewustheid van swaarkry; die hartseer van werk in die 21ste eeu en hoe die samelewing nie ‘swakheid’ duld nie.”

Sjoe, die hartseer van werk in die 21ste eeu in die korporatiewe wêreld is beslis iets waarmee ek kan vereenselwig. Daar is net soveel emosies wat saamgaan huis toe – veral toe ek uit die motor klim en twee platgetrapte kapsules op die matjie agterbly...

Dis die woorde van Shui-Lyn White wat ek met my saamdra: “Dit is net natuurlik om te vra waaroor ’n kunstenaar se werk gaan. Dit neem jare om die persoonlike te verstaan, hoe die privaat tot uitdrukking kom in die artistieke proses en om tot by die hart van die ‘wat en hoekom’ te reis. Alhoewel baie toegeskryf kan word aan baie kompleksiteit wat in die weefsel van elke werk se betekenis ingeweef is, blyk dit merkwaardig eenvoudig te wees. Afwesigheid en teenwoordigheid. Die universele vloei tussen verskyn en verdwyn: geboorte en dood; verlies en wins; eb en vloei.

“Teenwoordigheid wat afwesig word, afwesigheid wat teenwoordig word. Om geheue teenwoordig te maak. Te sê: Hier is jy. Weer.

“Dit is miskien ’n manier om vrede te maak met alles wat dit vir die menslike hart beteken om deel te wees van die lewe se eb en vloei.”

  • Foto’s: Clifford Roberts
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top