Irma voel asof dit ’n hele paar temas en debatte ontleed wat Suid-Afrikaanse teatermakers en gehore al lank mee worstel, soos: Moet kunstenaars gesensor word in terme van watter stories hulle “mag” vertel? Moet geskiedkundige verhale en figure wat “witheid” vier, verdere erkenning op die verhoog en ander kreatiewe platforms geniet? Mag individue vergewe word vir die onreg wat hulle binne sekere sosiopolitieke omstandighede gepleeg het, ter wille van hul werk of bydrae wat steeds belang dra?
Irma is ’n akademies-kreatiewe oefening tussen die teatermakers Eva Bartels en Iman Isaacs. Bartels is ’n Nederlandse teatermaker en Isaacs Suid-Afrikaans van Kaap-Maleise herkoms. Irma (wat in Mei by Artscape opgevoer was), maak deel uit van Bartels se globale ondersoekreis waartydens sy beplan om tien teaterwerke oor tien vrouekunstenaars te maak.
Die produksie ondersoek die lewe en werke van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Irma Stern. Stern was van Duits-Joodse herkoms en het tussen die 1894 en 1966 tussen Suid-Afrika en Duitsland tuisgegaan. Sy het gedurende haar leeftyd groot lof ontvang vir haar werk, maar die waarde daarvan het na haar dood eksponensieel toegeneem, soveel dat haar werke tot op datum as die duurste Suid-Afrikaanse kunswerke waardeer word. As inleiding tot ’n teaterresensie voel dit vreemd om die erfenis van al die onderwerpe ter sprake so op die voorgrond te plaas. Dit is egter ’n prominente deel van die werk en word later van belang.
In die teaterproduksie Irma, op die oog af ’n eenvrouvertoning, vertel Bartels van die reis was sy tydens haar ondersoek in die werke van Stern meegemaak het. Gedurende haar navorsing het sy ook kennis gemaak met die hoogs gepolitiseerde era waarin Stern gewerk het, waarvan dit later sou duidelik word dat dit nog baie prominent deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse landskap.
.....
Mens sou dit kon waag om te sê dat Bartels se skynbare inwydingsvaart tot hierdie vraagstukke spreek van ’n Europese vryheid. Dit hoef dan nie noodwendig as naïwiteit beskou te word as Bartels vra of kuns nie moontlik vry moet staan (van sosiopolitieke bewustheid en kontekstualisering) om slegs deur die landskap te kan beweeg nie, maar liewer gesien moet word as die vryheid wat haar konteks en erfenis haar bied. Irma word dan onder andere getuienis van Bartels se verlies van hierdie vryheid en die onvermybare waarheid dat “the weight of the past [is] our biggest obstacle stopping us from moving forward”, maar terselfdertyd ook dat kuns die verantwoordelikheid dra om aktief met die verlede te werk te gaan.
.....
Bo en behalwe haar regisseursvernuf word Isaacs as ’n tipe plaaslike anker of stem van bewustheid betrek. Bartels het op ’n stadium in haar navorsing besef dat sy nie sonder ’n stem soos dié van Isaacs haar ondersoek kan rig en aanbied nie. Isaacs se bevraagtekenende teenwoordigheid oor hoekom daar op “nog ’n wit kunstenaar” gefokus moet word (en hoe hierdie vraag van Isaacs uiteindelik Bartels se navorsing gerig het), word sonder enige eufemismes op die voorgrond geplaas. As ’n gevolg fokus die produksie grootliks op Stern se blik op die randfiguur (Bahora girl, Arab priest, African figure with blue headress, Maid in uniform, om net ’n paar te noem) en word Stern se posisionering as ’n buitestander tot hierdie lewens wat sy skilder, beklemtoon. Hierdeur word Bartels se soortgelyke posisionering teenoor Stern se landskap en die Suid-Afrikaanse verpolitisering daarvan ook metafories uitgebeeld. Isaacs bied aan Bartels ’n bril om dié werke van Stern binne die huidige Suid-Afrikaanse politieke landskap mee te ondersoek en te beskou.
Alhoewel Irma interessant aangebied word, met grootliks suksesvolle integrasie van multimedia as deel van die aanbieding (daar word tot op ’n tyd ’n baie indrukwekkende lewendige virtuele gesprek tussen Isaacs en Bartels geprojekteer), is dit opvallend hoe Bartels se kulturele konteks die gesprek binne ’n sekere verwysingsraamwerk beperk. Irma voel asof dit ’n hele paar temas en debatte ontleed wat Suid-Afrikaanse teatermakers en gehore al lank mee worstel, soos:
- Moet kunstenaars gesensor word in terme van watter stories hulle “mag” vertel?
- Moet geskiedkundige verhale en figure wat “witheid” vier, verdere erkenning op die verhoog en ander kreatiewe platforms geniet?
- Mag individue vergewe word vir die onreg wat hulle binne sekere sosiopolitieke omstandighede gepleeg het, ter wille van hul werk of bydrae wat steeds belang dra?
Alhoewel hierdie vraagstukke steeds merendeels en moontlik altyd onvolledig beantwoord sal bly, sou mens dit kon waag om te sê dat Suid-Afrikaanse teatermakers aktief daardéúr werk in die skep van hul werk. Dié pertinente debatspunte maak al tot so ’n mate deel uit van die Suid-Afrikaanse teaterlandskap dat dit tot ’n grotere mate as deel van die werk en narratief geïntegreer word. Dit word nie noodwendig op so ’n voor die hand liggende wyse aangebied nie.
Mens sou dit kon waag om te sê dat Bartels se skynbare inwydingsvaart tot hierdie vraagstukke spreek van ’n Europese vryheid. Dit hoef dan nie noodwendig as naïwiteit beskou te word as Bartels vra of kuns nie moontlik vry moet staan (van sosiopolitieke bewustheid en kontekstualisering) om slegs deur die landskap te kan beweeg nie, maar liewer gesien moet word as die vryheid wat haar konteks en erfenis haar bied. Irma word dan onder andere getuienis van Bartels se verlies van hierdie vryheid en die onvermybare waarheid dat “the weight of the past [is] our biggest obstacle stopping us from moving forward”, maar terselfdertyd ook dat kuns die verantwoordelikheid dra om aktief met die verlede te werk te gaan.