Noudat pres Cyril Ramaphosa hier kort voor die viering van Die Groot Geboorte sy gewenste Kersgeskenk gekry het – ’n tweede termyn as ANC-leier – behoort die fokus na die res van die party se nuwe top-7-leierskap te verskuif. Ook na die breër leierskorps, sou ek reken, naamlik die samestelling van die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van tagtig lede, wat ook die afgelope week bekendgemaak is.
Let daarop: top-7 en nie meer top-6 soos nog al die jare die geval was nie. Dit is omdat ’n addisionele pos, dié van ’n tweede adjunksekretaris-generaal, nou geskep is. Die resultaat daarvan, nie dat dit noodwendig vooraf so beplan is nie, is dat drie vroue – Gwen Ramokgopa (tesourier-generaal), Nomvula Mokonyane (eerste adjunksekretaris-generaal), en Maropene Ramokgopa (tweede adjunksekretaris-generaal) nou deel van die nuwe Ramaphosa-partybestuur uitmaak.
Dit is die meeste tot nog toe; en dit is ook die eerste keer in die organisasie se 110-jarige bestaan dat ’n vrou die TG-rol aanneem. Saam met hulle is vier mans aan die stuur van die organisasie se sake: naas Ramaphosa, sy nuwe adjunkleier, Paul Mashatile; die nasionale voorsitter, Gwede Mantashe; en die nuwe sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
Die langste week in die Suid-Afrikaanse politiek, soos ek in my vorige skrywe daarna verwys het, het dus nou die einde bereik, maar die konferensie self sal vroeg in Januarie voortgesit word. Wat die oorsaak hiervan is, is dat daar soveel van ’n gesukkel met die registrasieproses vooraf en ander logistieke uitdagings deurentyd, soveel ontwrigting gedurende die konferensie, en soveel vertragings was.
Hoe sou daar dan nog behoorlik aandag gegee kon word aan die besprekings en besluite oor resolusies en beleidstandpunte, wat onderskeidelik uit die 2017-konferensie en die beleidskonferensie vroeër vanjaar voortspruit? Die groot klem op die verkiesing van leiers is egter nie ongewoon vir die ANC se ná-1994-konferensies nie – behalwe dat geen konferensie, as ek my geheue kan vertrou, vorige kere vir die afhandeling van die sakelys uitgestel hoef te geword het nie.
Ramaphosa het vandeesweek ’n aansienlik-groter oorwinning oor sy teenstander vir die presidentskap behaal as by die vorige Nasrec-konferensie vyf jaar gelede: toe was sy wenmarge 179 stemme teen Nkosazana Dlamini-Zuma; hierdie keer was dit 579 teen Zweli Mkhize, die voormalige minister van gesondheid wat aangemoedig is om uit die kabinet te bedank weens beweerde bedrog met departementele Covid-geld.
Dié skandaal was ongetwyfeld die grootste wat Ramaphosa se eerste termyn getref het in die nadraai van die beëindiging van Jacob Zuma se staatskapingsera. Mkhize is immers as een van die “skoon” kabinetslede beskou, wat boonop beïndruk het met sy hantering van die pandemie, gepas vir die teenkorrupsie-ingesteldheid waarop Ramaphosa hoop om sy presidensiële nalatenskap te bou.
Natuurlik was dit voordat die president self in die Phala Phala-buffelmis getrap het met die bondels Amerikaanse dollars wat, in die Kersseisoen van 2019, in ’n rusbank op sy nou-berugte wildsplaas “gebêre” is. Die vrese dat hy weens die onafgehandelde ondersoeke na die geld (op die minste) steun sou inboet, of (op die ergste) die leierstryd sou verloor, het toe nie só uitgedraai nie.
Maar die swaard hang steeds oor sy kop. Indien hy aangekla word, vereis die ANC se opsystaanreël dat hy, wel, opsy moet staan deur sy pos prys te gee. Ook die Grondwet vereis van ’n president om nie in die soort moeilikheid te beland soos dit waaroor Ramaphosa die afgelope klompie maande verduidelikings moes uitdink nie. Wat die vraag dan laat ontstaan: wie van sy huidige adjunk as staatshoof, David Mabuza, of sy partyadjunk, Mashatile, sal dan met die staatshoofrol toevertrou word?
Mabuza is reeds voor die konferensie as ’n afwesige adjunk beskou. (Bygesê, dit is wanneer hy in die land is en nie op mediese of persoonlike besoeke aan Rusland nie.) Niemand skyn daarom te verwag dat hy nie so ’n rol met die nodige aanvoeling, gesag en waardigheid sal kan uitoefen nie. Mashatile het op sy beurt egter ’n bedenklike prestasierekord as hy aan sy mees onlangse politieke rol – ANC-tesourier-generaal – gemeet word. Die party het met hom in beheer van die geldsake bankrot geword, en wie onthou ooit dat hy ook eens ’n kabinetslid was? Dit is dalk waarom ’n mens ook nie die res van die top-7 uit die oog moet verloor nie: as die nuwe, mees invloedryke leier, te wete Mbalula as sekretaris-generaal, jou nie geval nie weens sy eie omstredenheid en uitgesprokenheid in die verlede, sal jy dalk jou aandag op Ramokgopa as tesourier-generaal wil toespits.
Spekulasie oor hoe sake vorentoe vir Ramaphosa – en met die ANC se opvolgstryd – sal verloop, is dalk nie al te sinvol nie. Dit kom in elk geval steeds voor asof die meeste ontleders, en ongetwyfeld sy ondersteuners, die Phala Phala-gemors as (met apologie aan die pryswenskrywer Francois Smith) “die kleinste ramp denkbaar” beskou.
Wat Ramaphosa en sy 2022-“bestuurspan” egter gaan doen om die ANC se tanende steun in die aanloop tot die 2024-verkiesing om te keer, is vir seker vir hulle nou die grootste kopseer. Die mate waartoe hulle hiermee sukses sal behaal, staan beslis nie verwyderd van die land se uitdagings nie: elektrisiteitsvoorsiening bly ’n donker gat vir Suid-Afrikaners; werkloosheid weet nie wat ’n afwaartse neiging is nie; en ekonomiese groei sukkel gly-gly teen die heuwel op, maar toon geen vordering nie.
Die hoop vir wat Ramaphosa met sy bewindsoorname in 2018/19 as ’n nuwe daeraad belowe het (verder weg van staatskaping, nader aan sosiale kohesie), het ongetwyfeld weer opgevlam met sy herverkiesing. Onwillekeurig noop dit ’n mens om dan – in hierdie land van ons met haar vernederende verlede van rasgebaseerde afsondering – te wonder wat die implikasie daarvan is dat die ANC-topleierskap geen verteenwoordiging van nie-swart lede het nie? Terselfdertyd skitter minderheidsgroepe in hul afwesigheid op die nuwe NUK. Jy kan die bruin en wit NUK-lede letterlik op jou een hand tel: een wit (Barbara Creecy), twee bruin (Tina Joemat-Pettersson en Febe Potgieter), geen Indiër.
Sou dit beteken die regerende party glo nie dat minderheidsgroepe ’n bydra kan maak tot die versterking van die party of die oplossing van ons land se probleme nie? Tog as jy hoor hoe Ramaphosa in sy slotrede by die Nasrec-konferensie belowe dat skole, hospitale, paaie en waterinfrastruktuur herstel sal word – deur dieselfde mense in dieselfde party wat vir die agteruitgang verantwoordelik is – wil ’n mens sinies hierop reageer. Ook Mbalula belowe in sy eerste verskyning as nuwe sekretaris-generaal dat die weg vorentoe vir die ANC een is van “hernuwing of tot niet gaan”.
Maar beskik Ramaphosa se ANC in die samestelling van sy 2022-leierskap oor genoeg wyse mense om hierdie verbintenis tot uitvoering te bring? Om ’n nuwe geboorte te skep? Om ’n herstel- en heropbou-ster oor die land te laat skyn?
Of kom Ramaphosa, Mbalula, en die res van die ANC-leiers se gebruik van begrippe soos “hernuwing” net maar neer op Arundhati Roy se verwysing na “die diefstal van woorde” in die inleiding tot haar bundel essays Listening to grasshoppers? Haar verduideliking daarvan is dat dit ’n tegniek is waardeur woorde toegeëien word en ontplooi word soos wapens, gebruik word om die ware bedoeling te verberg en presies die teenoorgestelde te beteken van wat dit tradisioneel beteken het. Dié verskynsel, waarsku sy haar lesers, is dat dit “een van die briljantste strategiese oorwinnings is van die tsaars van die nuwe bedeling”.
Die titel van die inleiding “Democracy’s failing light” is ’n raak beskrywing, sou ek sê, van hoe daar deesdae na die ANC gekyk word, is dit nie?
Lees ook:
Die ANC se 55ste nasionale konferensie: Kan die agteruitgang van die bevrydingsparty gestuit word?