Jan Tuisbly se karretjie is alle Suid-Afrikaners se voorland

  • 0

Suid-Afrikaners is bekend daarvoor hulle hou van braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolet, soos wat die stokou radioadvertensie lui.

Rugby en rondrits is egter twee items wat voorlopig saam met verskeie ander tydverdrywe van almal se uitstappielysie geskrap kan word. Braaivleis en sonneskyn in die agtertuin is byna al tydverdryf wat oorbly vandat die koronavirus sy opwagting gemaak het. Solank as wat die virus met ons is, is Jan Tuisbly se karretjie vir die volgende paar weke feitlik almal se voorland.

Kunstefeeste, sportbyeenkomste, godsdienssaamtrekke asook alle ander sosiale geleenthede waar meer as 100 mense teenwoordig is, is taboe.

Die jongste toevoeging tot die lang lys openbare plekke wat hulle deure moes sluit, is minstens 23 wynplase in die Boland, en die lys word net langer.

Die volgende 23 wynplase het reeds aangekondig dat hulle toemaak as gevolg van Covid-19:

Almenkerk

Anthonij Rupert Wyne

Bosman Family Vineyards Hermanus

Darling Cellars

De Grendel Wine & Restaurant

Delheim Wines

De Wetshof Estate

Gabriëlskloof

Grangehurst

Kanonkop

Koelenhof

La Motte Wines

Leopard's Leap

Leeu Collection

L'Ormarins

Nederburg Wines

Oak Valley

Seven Springs

Silverthorn Wines

Steenberg

Tokara

Vergelegen

Vondeling.

Die Toyota US Woordfees het dit met ʼn haarbreedte gehaal en was die laaste kunstefees wat beperkings weens die virus vrygespring het. Skaars ʼn dag nadat die Woordfees tot ʼn einde gekom het, moes die meeste ander feeste die een na die ander die moeilike besluit neem om te kanselleer.

Die eerste fees wat kansellasie aangekondig het, was die KKNK. Die res het daarna vinnig gevolg. Agri Expo, die organiseerder van die SA Kaasfees, het vroeër die week aangekondig dat hierdie jaarlikse kaasfees afgestel is. Dit sou van 25 tot 27 April op Sandringham buite Stellenbosch plaasvind.

Nog ʼn fees wat in die hek geduik het, is die Suidoosterfees wat van 27 April tot 3 Mei in Kaapstad sou plaasvind. Na aanleiding van die ernstige kommer oor COVID-19 het die bestuur en direksie ’n besluit geneem om dié fees na later in die jaar uit te stel. Die nuwe feesdatum sal aangekondig word sodra uitsluitsel oor die impak van die pandemie verkry word.

Diegene wat reeds kaartjies gekoop het, se geld sal deur Computicket terugbetaal word.

Die organiseerders sê hierdie besluit is na deeglike oorweging geneem nadat daar met die verskeie rolspelers gekonsulteer is. “Dit spyt ons dat die fees uitgeskuif moet word. Ons probeer om hierdie uitdaging so kreatief, innoverend en verantwoordelik moontlik te hanteer om seker te maak ons bied ’n fees van die hoogste gehalte, toeganklik vir almal, aan,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees.

Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, sê dat daar met omsigtigheid gekyk word na maniere waarop kunstenaars bygestaan kan word om die onvoorsiene vertraging te oorbrug.

Al die betrokkenes by die fees, insluitend kunstenaars, feesgangers wat reeds kaartjies gekoop het, verskaffers en ander vennote, sal so spoedig moontlik oor verdere verwikkelinge ingelig word. Tans word verskeie moontlikhede oorweeg, maar finale uitsluitsel sal verkry word namate die situasie rondom die pandemie ontwikkel. Die finansiële impak van hierdie besluit was ’n groot oorweging vir die organiseerders en direksie, en daar word dringend aandag aan ’n oorbruggingsfase gegee.

RSG, Lefra Produksies en MSC Cruises het ook aangekondig dat die Oppiwater-kunstefees wat van 5 tot 10 April 2020 op die MSC Orchestra aangebied sou word, nou uitgestel is tot 25–30 Januarie 2021. Dieselfde vaart sal aangebied word wat van Kaapstad vertrek en Namibië se Lüderitz en Walvisbaai besoek.

Feesgangers wat vir die Oppiwater-fees bespreek het, se besprekings sal outomaties oorgedra word na die nuwe vaart aan boord die nuwe MSC Musica. Volgens RSG sal MSC se aankondiging oor bewyse vir ander gekanselleerde vaarte nie vir die Oppiwater-fees geld nie, aangesien hierdie fees ʼn spesifieke temavaart is.

MSC het wel aangekondig dat alle passasiers ʼn $50-koopbewys per kajuit sal ontvang om op die MSC Musica te spandeer. Frans Swart, direkteur van die fees, sê hulle is in onderhandelings met al die kunstenaars en teaterproduksies en sal poog om dieselfde produksies en kunstenaars aan te bied as wat vir vanjaar se fees beplan was.

“Ons as organiseerders en kunstenaars is natuurlik almal baie teleurgesteld dat ons nie die April Oppiwater kan aanbied nie, maar niks kry die kunste onder nie – selfs nie Covid-19 nie,” sê Swart. Die nuwe program sal eersdaags bekend gemaak word en daar sal met alle feesgangers gekommunikeer word. Kaartjies vir produksies wat by Computicket bespreek is, sal so ver as moontlik oorgedra word. Vir die jongste inligting oor Oppiwater, gaan na www.oppiwater.co.za. Vir enige navrae oor die kajuitbesprekings, skakel 087 630 0333.

Hou gerus die feeste en ander geleenthede se webwerwe en sosiale media dop vir verdere aankondigings. Almal poog om alle betrokkenes en rolspelers deurentyd so effektief moontlik op hoogte van sake te hou.

Lees ook

Covid-19 ruk Suid-Afrika ook tot stilstand

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top