Jeugdag 2020: Gelyke geleenthede, vryheid en ’n helder toekoms vir elke Suid-Afrikaanse jongmens

  • 0
Op gelyke geleenthede, vryheid en ’n helder toekoms
vir elke Suid-Afrikaanse jongmens.

Mag niemand ooit weer hiervoor hoef te sterf nie.

“Freedom is not supposed to be earned or fought for, but should rather be the first gift to be  received at birth. Freedom should be free ...” (K-Specialist)

Foto: verskaf

Die reg op gelyke onderwys, onderrig in jou eie taal en om jou eie voorgeslagte se geskiedenis te leer en te vier, is die soort vryheid waaroor Hector Pieterson dalk gedroom het. Die vryheid wat sy dood veroorsaak het, is dalk ’n soort vryheid van rassisme. 

Slegs ’n paar dae voor Jeugdag 2020 kom die Rhodes Must Fall-beweging weer in die nuus met opstande teen standbeelde wat Apartheid Suid-Afrika verteenwoordig. Cecil John Rhodes se standbeeld in Kimberley moet verwyder word, vra betogers. ’n 85-jarige dame vertel hoe dit haar herinner dat sy verneder is en hoe sy rassistiese skeldwoorde toegevoeg is.

44 jaar na die Soweto-opstande teen Bantoe-onderwys, baklei die Rhodes Must Fall-beweging teen wat hulle noem die dekolonisering van onderwys in Suid-Afrika.

Maar is dit net in onderwys waar die negatiewe effek van kolonisering steeds deurskemer? Is hierdie opstande nie maar net ’n herhaling van wat sedert die sewentigerjare elke keer in ’n ander naam te voorskyn kom nie?

............

“Ek wil glo dat Hector Pieterson en Hasting Ndlovu nie verniet gesterf het nie. Ek wil glo dat die jongmense van Soweto minstens een doel bereik het en dis gelyke geleenthede in onderwys.”

............

In Amit Chaudhuri se artikel, “The real meaning of Rhodes Must Fall” (The Guardian, 16 Maart 2016), vertel hy dat in sy gesprek met studente oor die ware betekenis van die Rhodes Must Fall-opstande wat in 2015 uitgebreek het, rassisme die grootste skaafplek blyk te wees. Dit is studente wat in hierdie eeu, in Kaapstad, nog intens bewus is van bedekte rassisme en soms selfs blatante rassisme, soos om met ’n hoenderbeentjie deur ’n wit student gegooi te word.

Foto: Canva.com

Dit laat die vraag by hedensdaagse jongmense soos ek ontstaan of demokrasie ons as ’n land al nader aan gelykheid gebring het of nie. As vyftienjarige het ek self nie soveel ervaring van hoe dit voel as iemand van ’n ander ras teen jou diskrimineer, soos wat my ouers byvoorbeeld ervaar het nie. Ek word in ’n veilige omgewing groot, gaan skool tussen kinders van alle rasse en ons mag onsself vrylik uitspreek. In die taal van ons keuse. Soveel anders as die kinders in Soweto, 44 jaar gelede. Maar dit beteken nie ek en ander jongmense van vandag is nie bewus van rassisme nie. En ek wonder wanneer dit gaan eindig? Gaan mense ooit gelyk wees?

Tydens die inperking van hierdie byna misrabele jaar, as gevolg van ons nuwe vyand, COVID-19, word ons as jeug se normale roetine kwaai versteur. Dis moeilik om aan te gaan met skoolwerk en studies, maar ek is bevoorreg en kon aanlyn bybly met my lesse. My skool het die nodige toerusting en tegnologie om ons deur die jaar te kry en met behulp van ons tablette, kan ons steeds elke dag soos normaal aangaan.

Ek het van die begin van inperking af saam met my gesin na elke toespraak van president Cyril Ramaphosa en die minister van basiese onderwys geluister en gesien hoe mense in armer dele van ons land krepeer. Nou dink ek, na die optog van 16 Junie 1976 is daar steeds nie gelyke geleenthede vir mense van verskillende rasse nie. Daar is selfs nou groter werkloosheid en armoede, so dit maak dit moeilik vir kinders om in hierdie tyd met skool te vorder. Nie almal het die nodige toerusting, internet of elektrisiteit nie en party skole het nie eens handboeke nie.

............

“Ek word in ’n veilige omgewing groot, gaan skool tussen kinders van alle rasse en ons mag onsself vrylik uitspreek. In die taal van ons keuse. Soveel anders as die kinders in Soweto, 44 jaar gelede. Maar dit beteken nie ek en ander jongmense van vandag is nie bewus van rassisme nie. En ek wonder wanneer dit gaan eindig? Gaan mense ooit gelyk wees?”

............

Ek wonder hoe dit gaan met die kinders vir wie die regering duisende tablette sou verskaf, sodat leerders van skole in arm, landelike gebiede tydens die inperking steeds op datum kon bly en die armoede op so ’n manier hok geslaan kan word? Kinders wat dalk nie eens kos het om te eet nie ... kan hulle leer in hierdie tyd? Sal nog ’n opstand help om die lewe vir hulle beter te maak?

Vandag is Jeugdag. Dis vir jongmense soos ek wat in bevoorregte huise grootword ’n geskiedkundige dag wat ons almal herdenk, sonder om werklik te dink wat daardie tyd gebeur het. Ons wonder glad nie, behalwe vir skooltake, hoekom ander jongmense in opstand gekom het nie. Dis net nog ’n betoging, mense wat afbrand en vernietig. Maar ons probeer nie dieper kyk na die betekenis agter hul optrede nie.

Op 16 Junie 1976 het die jeug ’n optog gehou in die Soweto-townships, omdat vakke soos Wetenskap en Wiskunde net in Afrikaans aangebied is. Die proteste het in middel Mei begin toeneem en op 16 Junie het die polisie op die betogers begin skiet. Hector Pieterson en Hasting Ndlovu was die eerste kinders om te sterf op daardie dag. Dis nie net oor die taal nie, dink ek. Dis oor iets veel dieper. Om uit jou huis gesit te word, om nie in sekere plekke te mag uithang nie (want dis net vir mense van ’n sekere ras), om nie jou toekomsdrome te kan uitleef nie, want sekere studierigtings is vir swart mense verbied. Dit was ’n opstand teen rassisme en nes Rhodes Must Fall, teen die seer herinnering aan die verlede en die gebrek aan vryheid.

Jeugdag is ’n goeie herdenking, dit is ’n historiese gebeurtenis in ons land en ons moet dit vier. Maar is die huidige jeug deeglik bewus van hul voorregte? En is die bevoorregte jeug bewus van derduisende ander daar buite wat steeds soos die Soweto-jeug van 1976 vir hul vryheid baklei?

Ek wil glo dat Hector Pieterson en Hasting Ndlovu nie verniet gesterf het nie. Ek wil glo dat die jongmense van Soweto minstens een doel bereik het en dis gelyke geleenthede in onderwys.

Of is dit? Dalk is die enigste doel van hierdie dag bewusmaking. Ek kan in my eie taal skoolgaan. Ek kan enige studierigting volg. Ek het nie nodig om Wiskunde en Wetenskap in ’n vreemde taal te leer nie.

Ek voel dankbaar op Jeugdag 2020.

Lees ook 

Jeugdag – wat sou gebeur het as iemand geluister het?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top