Daar is verskeie redes waarom Antjie Krog se outobiografiese roman Binnerym van bloed haar laaste boek is, sê die bekroonde digter en skrywer.
Sy het in Julie tydens ’n bespreking van haar jongste boek uitgewy oor die redes waarom sy haar pen wil neerlê toe sy deur die digter Joan Hambidge daaroor gepols is.
Hambidge het by die Orde van den Prince-byeenkoms, wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, Kaapstad aangebied is, met Krog in gesprek getree oor haar outobiografiese roman Binnerym van bloed, wat in Mei 2025 gepubliseer is.
Haar boek word uit verskeie oorde geprys as ’n kragtige, roerende en literêr betekenisvolle werk wat beide kritici en lesers diep raak.
Aan die einde van die gesprek wou Hambidge by Krog weet waarom sy by herhaling in vele onderhoude in die pers gesê het dit is haar laaste boek. “Die muses kan daaroor besluit; nie jy nie,” het Hambidge geskerts.

Antjie Krog en Joan Hambidge by SASNEV (foto’s: Jean Oosthuizen)
Volgens Krog is daar verskeie redes. “Ek het ’n diep, diep begeerte om te lewe sonder die wil om te skryf. Ek wil net leef, ek wil net kyk, ek wil net hoor, ek wil net ervaar. Ek lewe al vandat ek 12 jaar oud is saam met die drang om te skryf en wil nou daarvan ontslae raak.”
Nog ’n rede is dat die wêreld so verander het, sê Krog. “Ek weet nie eers meer waar om te lees sodat ek kan voel die meeste mense het dit saam met my gelees en sal hierdie spesifieke raamwerk vorm nie. Daar is so ’n versplintering van opinies en kennis, ek weet nie waar om te luister nie.”
“My kinders is horrified omdat ek nie koekies op my computer toelaat nie. Wat laat dink ma, ma het nie koekies op ma se computer nie? Ek weet nie, maar dit voel vir my as ek koekies gaan toelaat, gaan dit my uitwipe,” het Krog onder gelag gesê. “Ek behoort nie meer ’n stem te hê nie. Die beskrywing van hierdie land behoort aan die nuwe stemme en ek sê dit elke keer sodat ek my sal dood skaam as ek my hand [weer] op papier sit.”
Krog is een van Suid-Afrika se mees gevierde digters en skrywers, met ’n loopbaan wat dekades strek en talle toekennings insluit, soos die Hertzogprys en die UJ-prys.
Hambidge, as ’n gerespekteerde literêre kritikus en skrywer, was goed geposisioneer om Krog se Binnerym van bloed met haar te bespreek. Sy het die boek drie keer deurgelees. Uit die gesprek in ’n stampvol saal was dit duidelik sy het dit noukeurig bestudeer.
Beide is digters en skrywers met ’n lang geskiedenis in die Afrikaanse literatuur. Hambidge, ’n digter, romanskrywer en akademikus, is bekend vir haar skerp literêre kritiek en resensies, terwyl Krog ’n bekroonde digter en skrywer is.
Dit het ’n unieke geleentheid gebied om Krog se nalatenskap te vier en haar jongste werk in die kollig te plaas, veral aangesien dit volgens haar as haar laaste werk beskou word.
Die algemene reaksie op Binnerym van bloed (Mei 2025) is oorweldigend positief, met lof vir die boek se emosionele diepte, stilistiese vernuwing en eerlike verkenning van komplekse temas. Kritici en lesers beskryf dit as ’n meesterlike, genre-verbrekende, outobiografiese roman wat die verhouding tussen Krog en haar ma, Dot Serfontein, op ’n intieme en universele manier uitbeeld.
Die boek word geprys vir sy verkenning van universele temas soos veroudering, verlies en die soeke na identiteit, terwyl dit ook spesifiek Suid-Afrikaanse kwessies aanspreek, soos die nalatenskap van die Boereoorlog [Anglo-Boereoorlog / Suid-Afrikaanse Oorlog] en rassekwessies.
Hierdie temas uit haar boek is tydens hulle gesprek deeglik deur Hambidge uitgelig en verken.
Die boek word deur baie bestempel as Krog se mees persoonlike en universele werk met lof vir haar vermoë om genres te meng en ’n “meesterlike collage” te skep. Dit word ook beskou as ’n belangrike bydrae tot Afrikaanse letterkunde wat ’n soort van afsluiting verteenwoordig, indien dit inderdaad haar laaste boek is.
Die verhaal speel af teen die agtergrond van die Vrystaatse vlaktes, waar Krog en haar ma albei grootgeword het.
Die uitgewer Penguin beskryf die roman as die afbreek van grense tussen genres deur van briewe, dagboekinskrywings en versorgingsverslae gebruik te maak om temas soos kreatiwiteit, ideologie en die waarheid van oudword te ondersoek.
“Die boek delf in die liefde en wedersydse bewondering tussen die twee skrywers [ma en dogter], maar ook in die spanning en verskille tussen geslagte. Dit raak aan kulturele erfgoed, die Anglo-Boereoorlog se nalatenskap, kwessies van grondbesit, ras en selfs romantiese verhoudings oor rasgrense heen. Dit is ’n diep persoonlike, maar ook universele refleksie oor familie, veroudering en Afrikaner-identiteit.”
In haar gesprek met Krog het Hambidge verwys na die verskille tussen haar en haar ma, maar ook na die ooreenkomste tussen die twee.
Hambidge en Krog is albei prominente figure in die Afrikaanse literêre wêreld. Hul verhouding met ’n gedeelde betrokkenheid by Afrikaanse poësie, letterkunde en akademiese kringe het van die gesprek iets besonders gemaak. Dit is met luide applous vanuit die gehoor afgesluit. Die gedeelde belangstelling in Afrikaanse letterkunde en kulturele erfenis het ’n natuurlike basis geskep vir interaksie.
Hambidge het Krog se boek as “verbluffend aangrypend” bestempel met emosies wat nie in woorde gesê kan word by die lees daarvan nie. “Ek het dit drie keer gelees omdat ek agter die kap van die byl wou kom. Daar is iets in die boek wat my gemesmeraais het. Ek dink wat dit was, is toe ek besef het hoe die boek verbind is met jou digbundels en vir my veral met Otters in bronslaai.”
Volgens Krog is dit ’n outobiografiese roman, omdat die woord outobiografie mens beperk tot dit wat oor die algemeen honderd persent korrek is. Sy sê haar boek gaan oor haar ma, maar dit gaan ook oor ’n spesifieke soort Afrikaner. Sy het dus breër geskryf as net oor haar ma en bied dit nie aan as net haar verhaal nie, maar ook as ’n tipe narratief van die Afrikaner daardie tyd.
Die resultaat is dat dit nie werklik in alle opsigte outobiografies is nie. “Dit is vanuit mý oogpunt hoe ek my ma geken het wat in sekere opsigte anders is as hoe my sibbe haar geken het.”
Op die vraag of die boek ’n spieëlbeeld van haar en haar ma is, het Krog gesê ja maar ook dit is eensydig. “As jy my ma sou vra, sou jy dalk ’n vreeslike ander storie hoor, soos dat dit nie ’n spieëlbeeld is nie, maar ’n skeefgetrekte, bekrompe, naywerige, oudste kind se verontregte spieëlbeeld.”
Sy het daarop gewys hoe sy en haar ma ondanks hulle verskille in baie opsigte dieselfde was.
By geleentheid toe ’n joernalis van die Sunday Times vir Krog deur haar ma probeer bykom, het haar ma haar verdedig en vir haar opgekom, wat dui op die ambivalensie wat daar tussen ma en dogter was.
Die verskil tussen die skryfproses van ’n roman soos dié en poësie is volgens Krog dat ’n romanskrywer ’n breër landskap sien wanneer hy of sy skryf terwyl ’n digter iets anders sien, wat dit twee verskillende prosesse maak. Elkeen word op ’n ander manier benader.
Die titel van die boek Binnerym van bloed sinspeel op die bloedverbintenis tussen haar en haar ma, maar terselfdertyd ook om afstand te doen daarvan. Krog sê sy vind die anti-ma-boeke van dogters wat hulle probeer uitworstel uit die greep van die ma, interessant. Sulke boeke is gewoonlik die gevolg wanneer die ma eintlik ’n verwoestende figuur was waar die ma die kinders verwerp het. In haar geval was dit anders.
“Baie kinders voel ’n groot deel van hulle lewe as hulle maar net kan wegkom. My een broer sê ook in ’n stadium as ek tog net ’n keuse kan doen wat nie vir ma of teen ma is nie. Dis asof ’n ma jou nooit neutraliteit toelaat nie. Jy is altyd besig om te reageer op haar.”
Krog sê sy beskou dit eintlik as iets wat kan goed wees. Dit kan van jou ’n sterker, beter mens maak om heeltyd met daardie worsteling besig te wees. Op ’n stadium laat jy dit agter. Die laaste deel van my lewe het ek net simpatie met my ma gehad, want dis nie meer iets wat ek voel ek moes beveg nie.
Al het Dot en Antjie nie altyd om dieselfde vuur gesit nie, het hulle ’n besondere verhouding gehad.
Krog, wie se ma ’n Duitse onderwyseres was, het ook gesels oor die invloed van Duits in haar werk. Sy sê sy is dankbaar dat sy Duits op skool gehad het, want dit het vir haar nuwe wêrelde oopgemaak. “Dis ’n taal wat op ’n grootse manier onbeskaamd worstel oor groot onderwerpe. Ek het eenkeer vir my ma ’n Lutherse Bybel gestuur, toe laat weet my ma dis waar, God praat Duits.”
Wat haar vreesbevange maak wanneer sy na bejaardes kyk wat versorg word of mekaar help versorg, is die eensaamheid, sê Krog. “Hoe navigeer jy daardie alleenheid.”
Met verwysing na die hedendaagse stand van die letterkunde, sê Krog dit bekommer haar as die hele letterkunde net in die hande van vroue oorbeweeg. “Ek vind dit ’n ontstellende gedagte as die letterkunde net in leeskringe van vrouens en slegs deur vrouens gelees en bedryf word.”
“Gelukkig is daar nog baie mans tussen die skrywers. Dit is waarom die letterkunde nog krag het, nie oor die vroue wat daar is nie, maar oor die manlike stemme wat ook geloofwaardigheid aan die vrouens gee.”
Krog sê in Suid-Afrika is die lesers al hoe meer vroue, terwyl Nederlandse mans nie skaam is om te lees nie. In Suid-Afrika moet jy tog net nie met ’n boek in jou hand gesien word as jy ouer as 50 is nie.
