Die voormalige visekanselier van die Universiteit Vrystaat (UV), Jonathan Jansen, het hom die gramskap van talle Suid-Afrikaners op die hals gehaal omdat hy ’n vrou afgejak het wat hom in Afrikaans aangespreek het in ’n boekwinkel in Stellenbosch.
Jansen het self op Twitter gespog hoe hy die vrou afgejak het. Hy het ’n boekwinkel in die dorp besoek toe hy hom vervies het omdat die vrou wat daar werk Afrikaans met hom praat toe hy haar in Engels gegroet het.
Jonathan Jansen (Foto: Menán van Heerden)
In ’n inskrywing op Twitter vertel Jansen hoe die gesprek verloop het. Hy het glo die boekwinkel binnegestap en die vrou in Engels gegroet waarop sy hom in Afrikaans gevra het waarmee kan sy help. “I need stationery” het hy in Engels gesê waarop sy weer in Afrikaans vir hom gevra het of hy die prof van die Vrystaat is.
Klaarblyklik het hy hom daarna vir die vrou vervies en sarkasties geantwoord: “No, I’m DJ Black Coffee”.
Jansen sê nou weet mense hoekom swart mense soms “flip” as gevolg van taal-onverdraagsaamheid.
This morning in a bookshop in Stellenbosch:
Me: Good morning
She: Waarmee kan ek help?
Me: I need stationery
She: Is jy die Prof van die Vrystaat?
Me: No, I'm DJ Black Coffee
(now you know why black people sometimes flip because of language intolerance)— Jonathan Jansen (@JJ_Stellies) November 26, 2019
Jansen (61), ’n A-gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingstigting, se kortgebakte reaksie op Twitter het ’n stortvloed kommentaar uitgelok. Hy is ten volle tweetalig en werk deesdae in Stellenbosch nadat hy in 2017 die pos van uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US aanvaar het. Jansen doen navorsing oor skoolbeheer, bestuur, leierskap en beleid en tree ook op as mentor vir nagraadse studente.
Sy omstrede twiet is verskeie kere deur sy volgelinge op Twitter hertwiet. Die reaksie op sy optrede was uiteenlopend maar die meeste mense was verbaas oor sy optrede teenoor die vrou. Sommige kon nie glo dat hy dit self op sosiale media gedeel het nie. Die meeste mense wat op Twitter reageer het, is van mening dat sy optrede hom in ’n swak lig stel.
Sommige het hom van onbeskoftheid beskuldig terwyl iemand anders gesê het die vrou moes liewer gevra het of hy die arrogante rasbehepte prof van die Vrystaat is. “Dis meer in die kol,” het die persoon getwiet.
Sy moes gevra het jy die arrogante rasbehepte prof van die Vrystaat is.Dis meer in die kol.🎃
— Witkop von Flake (@FlakeWitkop) November 26, 2019
Selfs die DA se Helen Zille het op Jansen se twiet reageer. Zille het tong-in-die-kies kommentaar gelewer op die vrou se vraag wat wou weet of hy die prof van die Vrystaat is. Zille sê sy is al dikwels gevra of sy die tannie is wat in Schuster se movie was.
I've often been asked: is jy die Tannie wat in Schuster se movie was?
— Helen Zille (@helenzille) November 27, 2019
Die ekonoom Hein Kruger wou by Jansen weet wat as die skoen aan die ander voet was? “Of tel dit nie in u boeke nie? Waarom word u nie ook een van die meerderheid Suid-Afrikaners wat verdraagsaamheid en liefde beoefen eerder as verdeeldheid en haat nie? Bou, moenie afbreek nie!” was Kruger se raad aan Jansen.
And what if the shoe is on the other foot, prof? Or doesn’t that count in your book? Why don’t you become one of the majority of South Africans that practice tolerance and love rather than division and hate...? Build, don’t break!
— Heinrich Kruger (@heinkruger) November 27, 2019
Andrea Mammes het geskryf sy het jare gelede nogal graag sy rubrieke gelees. “Jammer dat u optrede ontaard het in ’n onbeskofte, buffelagtige, ongevraagde reaksie op, wat vir my klink na ’n amperse heldeverering, Shem!! (sic)”
Jansen het hom in 2016 in ’n meningsartikel in Rapport sterk uitgespreek ten gunste van die verengelsing van universiteite. Dit is die eerste keer dat hy op dié manier in die openbaar so reageer op Afrikaans as spreektaal.
In ’n artikel met die opskrif “Afrikaans sal nie op kampus oorleef” het Jansen destyds gesê Afrikaans as onderrigtaal by universiteite soos Tukkies, Kovsies en Stellenbosch het dieselfde simbool geword van rasse-uitsluiting, wit bevoorregting en marginalisering as wat die standbeeld van Cecil John Rhodes by die Engelse universiteite was.
Hy het toe gesê Afrikaans word steeds “ten diepste verbind met die terloopse geweld, die rassisme, en die haat vir swart mense in ’n deel van die land – die nogal geïsoleerde Stellenbosch area – waar swart studente nie Afrikaans-magtig is nie”.
Dit is volgens hom die hoofrede waarom Afrikaans nie sal oorleef as ’n onderrigtaal by enige openbare Suid-Afrikaanse universiteit nie, het Jansen destyds geskryf.
“Die taal se kragtige politieke simbole, weens sy verbintenis met die apartheidsverlede, weeg te swaar in die oorgeërfde herinnerings van swart studente.”
Volgens Jansen se meningsartikel gooi Afrikaans se prominente plek by sommige universiteite steeds ’n lang skaduwee oor die daaglikse lewens van nie-Afrikaanssprekende studente net soos die standbeeld van Cecil John Rhodes.
Of sy Facebookprofiel waar Jansen ook die voorval gedeel het, was sy volgelinge meer ondersteunend teenoor hom as op Twitter waar hy skerp oor die kole gehaal is.
Jansen het op Facebook geskryf die konteks van die gesprek is Stellenbosch. “Die twee tale vir handelsdoeleindes is Engels en Afrikaans. Daar bestaan onder sommige handelaars ’n definitiewe verset teen die verengelsing van die kampus en die gemeenskap.”
Hy sê dit spreek van ’n houding wat sê “as jy hierheen kom moet jy jouself onderworpe maak aan ‘ons’ taal”. Jansen sê hy kan daardie tipe taal-chauvinisme ’n myl ver ruik. “My huistaal is Engels. As ek jou as ’n klant in my moedertaal aanspreek, verwag ek van jou om dit as die kliënt se voorkeurtaal van kommunikasie te erken. Punt,” het hy op Facebook geskryf.
Lees ook
Buro: MvHJonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer