Jonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer

  • 0

Jonathan Jansen en Frederik van Dyk

Lees hierdie artikel deur Jean Oosthuizen ter agtergrond. Frederik van Dyk reageer.

Dit is met diep afgryse dat ek die berig op Voertaal (LitNet) vandag raak lees wat vertel hoe Jonathan Jansen vir Louise Swanepoel, ’n werknemer in die Protea Boekwinkel op Stellenbosch, sarkasties afgejak het nadat sy hom in Afrikaans aangespreek het.

Jansen het heel smalend, soos ’n wafferse skoolboelie, op sosiale media vertel hoe hy die vrou afgejak het nadat sy hom bloot gevra het oor of hy die professor van die Vrystaat is. Hy antwoord toe sarkasties: “Nee, ek is DJ Black Coffee” en volg die sosiale-media-plasing op met die volgende: “Now you know why black people sometimes flip because of language intolerance.”

Nou goed. Die eerste stap is om te vra of mev Swanepoel werklik taalonverdraagsaamheid gepleeg het. Ek besluit toe om Stellenbosch se Protea-tak te bel, en sy antwoord.

Sy klink geskok en oorbluf oor haar interaksie met Jansen. Sy het hom nog altyd bewonder. Dit was die eerste keer dat sy, ’n dame wat agter die Protea-tak se kasregister werk, met die hooggeagte professor kontak gemaak het toe hy skryfplakkertjies kom koop. Sy beskryf aan my hoe sy opgewonde was om ’n geselsie met die A-graad-navorser aan te knoop.

In watter taal het sy hom aangespreek? Sy kan nie onthou nie. Al wat sy onthou, is hoe groot die oomblik was toe Jansen by haar langs kom om vir sy plakkers te betaal. Volgens Jansen se sosiale-media-plasing het hy in Engels gegroet en gesê dat hy skryfbehoeftes benodig. Die presiese verloop van die gesprek blyk dus ietwat te verskil. Maar die ooreenkoms is dat beide partye vertel hoe Jansen sarkasties gereageer het op Louise Swanepoel se vraag of Jansen die “professor van die Vrystaat” is.

Hy interpreteer die hele interaksie as ’n geval van taalonverdraagsaamheid. Hy reken dat haar gebruik van Afrikaans moedswillig en aspris was; dat sy in Afrikaans met hom gepraat het vanuit ’n gevoel van meerderwaardigheid.

Daar is absoluut niks in die gesprek wat hom die reg gegee het om die betrokke afleiding te maak nie. Hy het te doen gehad met ’n bewonderaar sonder kwade gevoelens. En gegewe sy tweetalige Afrikaans en Engelse vermoë is dit laakbaar hoe hy gekies het om teenoor haar op te tree. Kon sy enigste werklike beweegrede dan veralgemening of stereotipering wees? Dat alle wit Afrikaanssprekendes hul moedertaal uit meerderwaardigheid of moedswil gebruik?

Jansen het wel ’n geskiedenis van Engelstalige chauvinisme. Hy is spreek hom uitdruklik daaroor uit dat ons openbare universiteite in Suid-Afrika nie Afrikaans, ’n mede-inheemse en amptelike taal, kan bekostig nie weens die verbintenis van Afrikaans met die ideologiese uitgangspunte van die apartheidregime.

Ek kan nie met Jansen hieroor stry nie. Afrikaans as medium is misbruik deur die uitsluitende en rassistiese beleid van die apartheidsregime. Dit het voorkeur bo ander inheemse tale ontvang. Hierdie deuntjie is al ’n welbekende en histories korrekte een.

Waar Jansen met oogklappe dwaal, is die vraag oor wat die stand van inheemse tale soos Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika met sy grondwetlike bedeling moet wees. Kan ons bekostig, vanuit ’n gedekoloniseerde perspektief, om geen akademiese en ander betekenisvolle openbare blootstelling en insluiting aan ons inheemse tale te gee nie? 

Indien Jansen se voorstaan van akademiese Engelstaligheid aanvaar word, beteken die taalklousule (artikel 6) van die Grondwet niks.

Ons moet ’n toekomsgerigte en niekoloniale rigting jeens inheemse tale inslaan, en dit beteken dat ons inheemse tale in die openbare sfeer moet betrek: in onderrig, in navorsing, in maatskaplike en politieke debat en in gemeenskapsontwikkeling.

Daar is niks inherent uitsluitend en onderdrukkend aan Afrikaans as taal nie. Inteendeel, sedert die apartheidsera is protes teen ongeregtigheid in daardie taal aangeteken. Vandag floreer Afrikaans oor ras- en klasgrense heen, danksy die burgerlike samelewing se letterkundige en politieke moeite. Die verantwoordelikheid van Afrikaanstaliges is om hul taal as een van insluiting te beoefen. ’n Taal wat gemeenskappe bou, wat nuwe kennis skep en wat voortgesette ongeregtigheid in al sy aangesigte beveg.

Maar daar rus ook ’n plig op diegene wat om verstaanbare redes Afrikaans tradisioneel as onderdrukkerstaal ag, om die taal se sprekers die kans te gee om binne ’n oop en demokratiese samelewing te woeker met hul talente en te wys hoe so ’n taal ook vir die goeie aangewend kan word. Jansen ignoreer skynbaar alle Afrikaanse welwillendheid en nierassige vordering. Sy standpunt van destyds dat Afrikaans nie op ons kampusse kan oorleef nie weens die verlede van die taal, is nie genoeg nie. As voormalige rektor en as invloedryke intellektuele stem het hy die plig om Afrikaans as inheemse taal ten minste die kans te gee om ook deel van ons openbare akademiese ruimtes te wees. Dit is ’n plig wat hy en die US nie oor omgee nie. Hulle was hul hande in bloederige onskuld.

Sy houding is nie verbasend nie; Jansen kan nie eens die gebruik van Afrikaans deur ’n welwillende bewonderaar-kassier in ’n oorwegend Afrikaanse boekwinkel aanvaar nie. Hy het Louise Swanepoel, ’n gewone vrou uit die werkersklas, met sy sarkasme en skynbaar akademiese-grootkop-snobisme vir ewig vervreem en beledig. Met watter ander houding antwoord jy: “Nee, ek is DJ Black Coffee” wanneer iemand jou vra of jy daardie welbekende professor uit die Vrystaat is? En dit nogal binne ons tydperk van 16 dae se aktivisme teen gendergebaseerde geweld! Sies man.

Hopelik sien baie meer mense as Louise Swanepoel nou vir Jansen raak vir wie hy regtig is. Dieselfde man wat aanvaarding, diversiteit en respek preek, kan dit nie teenoor sy mede-Suid-Afrikaners beoefen nie. Jansen se houding illustreer die diepgewortelde Engelse taalkolonialisme en onsamehangende afkeuring van Afrikaans en proaktiewe inheemstaligheid aan die Universiteit Stellenbosch. Maar ons het dit sien kom: Wim de Villiers het mos gesê dat dit nie “die US se werk is om Afrikaans te beskerm” nie. Die luitenante van verengelsing voeg bloot daad by woord.

En ek sê weer: Trek jou streep in die sand teen hierdie onkreatiewe enkeltalige en neokoloniale houding jeens ons inheemse tale.

Lees ook

Is Cameron regter in sy eie saak?

Buro: NM
  • 0
Top