Stef Bos se vertoning My land is jou land het Sondag 20 Junie 2021 virtueel in die Atterbury-teater geopen. Die konsert is aanlyn en enigeen kan vir slegs R120 op ’n reis deur Suid-Afrika en ’n deel van Namibië gaan.
Bos is ’n Nederlander wat lank in België gebly het. Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel, het hom na Suid-Afrika genooi en Bos het verlief geraak op ons land, op ons mense en op ons taal.
Die vertoning open met Bos wat, tas in die hand, na die Atterbury-teater stap. Hy gesels met die kamera, begelei ons die leë ruimte in en gaan sit agter die groot Steinway.
Die beligting is verhoogstandaard. Die kamerawerk is goed, die redigering uitstekend. Die klank is gewoon puik. Ons het die vertoning deur ons hoëtroustel gespeel en dit het gevoel of Bos by ons in die huis sit en speel.
Stef Bos open toe die vertoning met ’n lied wat hy in die vliegtuig op pad na sy eerste besoek aan Suid-Afrika geskryf het, “De taal van mijn hart”:
Ik heb mijn spiegelbeeld zien vallen
Ik lag in stukken op de grond
Ik heb mezelf leren kennen
Als een held en als een hond
[…]
Ik zing de taal van mijn hart
Hoor de taal van mijn hart
Ook al klink ik soms gebroken
Gebroken en verward
Het is de taal van mijn hart.
Vir diegene wat Bos reeds van daardie eerste jare af volg, ons het hom dit al baie hoor sing, soms kwaad, soms minder so. Dikwels met ’n volle orkes agter hom. Daar in die Atterbury, jare later, versag die Nederlands en die klanke is veel nader aan Afrikaans. Die lied is strelend, ’n liefdeslied wil jy dink:
Je mag van me houden
Je mag me ook haten
Ik ben wie ik ben
Dit is mijn wereld
Dit is mijn stem.
Sy tweede lied – hoe dan anders – is Kerkorrel se “Hillbrow”.
Bos sing dit met oorgawe. Hy sing die Afrikaans met net hier en daar die Nederlands wat deurglip ... sy “junkies” het ’n u soos ’n Afrikaanse mens dit in “bus” sou sê.
En gee, gee, gee. Gee, gee, gee
Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate,
Gee jou hart vir Hillbrow ...
Hy draai na die kamera en sê die lied gaan nie oor Hillbrow nie. Mense mis dikwels die essensie van die lied. Dit gaan oor “Gee, gee, gee.”
Gee, gee, gee is woorde wat ’n mens se lewe verander.
Ons land, Suid-Afrika, is nou sy land. Die armoede en die rykdom, alles gemeng, alles naas mekaar; dit maak hierdie land besonders.
Suid-Afrika het aan hom ’n meisie gegee wat sy vrou geword het, toe kry hy drie kinders by haar. Hulle woon nou in Kaapstad.
Suid-Afrika se ryke kompleksiteit is juis wat hom fassineer, wat gemaak het dat hy verlief kon raak op die land.
Daarom het hy “Tydbom” geskryf, die derde lied van die vertoning. Dit gaan oor ’n swart man wat sonbrille verkoop langs die pad: “... daar was so baie beloftes, maar wat het hy gekry?”
Weer eens is die gestroopte weergawe – net Bos en sy klavier in ’n leë teater – skielik so treffend. Jy hoor dit anders. ’n Mens kan die R120 wat die kaartjie kos, spandeer net om die tydbom op ’n Steinway te beleef.
Tik, tik, tik ...
Tog, sê Bos self, dit gaan oor meer as die musiek. Luister na die storie:
Die kleure van die reënboog, weggespoel deur geweld
Die diktatuur van toe is nou die diktatuur van geld.
Bos priem deur na die rou werklikheid:
Jy kan ’n veer* voel vir die toekoms in hierdie land,
Maar jy kan ook ’n brug bou na die ander kant.
Jip, in die oorspronklike is ’n ander f-woord gebruik, maar daar in die Atterbury skaal hy af; hy tik-tik-tik op die klavier; hy bou ’n brug na die mense by die huis.
Bos het hierdie vertoning vir Suid-Afrikaners gehou, deur sy oë kon ons met ’n nuwe kyk deur ons land reis. Tog, juis omdat hy die toergids is, sal mense uit Nederland, België en Suriname ook moontlik verlief kan raak op sy visie.
Bos vertel hoe Ralph Rabie hom gesê het jy sien nie Suid-Afrika as jy dadelik na die Krugerwildtuin gaan nie. Dit is in die klein dorpies, in die kroeë waar jy die mense werklik leer ken.
Soos die keer toe Bos en ’n Nederlandse klankingenieur in Naboomspruit verdwaal het.
Daar, in Naboomspruit se kroegie, staan ’n groot man met groot bene en ’n baie klein broekie. Hy drink mampoer.
Skielik herken die man vir Bos. “Jy is die Nederlander!”
Bos was ’n paar dae tevore saam met Casper de Vries op die TV. “Julle!” dawer die man voort. “Julle Nederlanders het ons in die steek gelaat in die sewentigs! Ek gaan jou neuk!”
Nou, soos goeie vriende van Nederlanders weet, neuk is ’n valse vriend ... Bos sê toe dadelik vir hom: “Ek speel nie vir die ander span nie! En boonop. My pa het my geleer ons praat nie van ‘hulle’ en ‘julle’ nie. Praat met mekaar, mens tot mens.”
Die groot man het hom ’n ruk aangegluur en gegrom: “Is jy die Hollander wat die ander dag ‘Pappa’ gesing het op RSG? Op die Inniebos-fees?”
“Ja,” sê Bos.
“Jy het my laat huil,” sê die man.
En toe sing Bos nie “Pappa” nie.
Om die waarheid te sê, enigeen wat ’n “Greatest hits show” verwag het, sou teleurgesteld gewees het. Maar as jy bereid is om ’n musikale reis deur Suid-Afrika te onderneem met ’n Nederlander van België wat sy hart hier in die suidpunt van Afrika verloor het, dan kan jy maar daardie kaartjie koop. Geen paspoort is nodig nie, geen visum nie en geen vervlakste Covid-toets nie.
Bos sing en vertel oor die moontlike en die onmoontlike van die land. Hier vertel mense nog stories vir mekaar, sê hy. En Bos vertel self stories.
Hy vertel van die bordjie langs die pad waarop staan “Geluk”. Hy draai af. Die pad na geluk is ’n grondpad, sê hy. Uiteindelik loop die pad dood en hulle sien net ’n boer. ’n Groot man. “Waar is Geluk?” vra Bos hom.
“Jy het lankal verbygery,” sê die boer.
Dan vertel Bos die storie uit ’n kinderboekie deur Murray Janson wat hy in die Protea Boekwinkel in Hatfield gekoop het. Dit moet julle self beleef. Al wat ek kan sê, is ’n spermresies was nog nooit so onderhoudend aangebied nie. Die verteller se eie toekoms het immers van daardie oomblik in die verlede afgehang.
So is dit. In Suid-Afrika veg die toekoms nog met die verlede, vertel Bos.
Vir R120 (dit is minder as 10 euro) gaan jy ’n sonderlinge reis deur Suid-Afrika geniet saam met ’n uitmuntende kunstenaar wat sy blik op ons mooi land, nou ook sy land, gee, gee, gee.