Als het moet, gaan we naar de rechter!
Draadje. (1/6)https://t.co/3fb4YdGt6G
— ABP Fossielvrij (@ABPFossielvrij) June 29, 2021
Pensioenfonds geteiken oor klimaat
Voertaal het onlangs berig dat die omgewingsdrukgroep Milieudefensie sy saak teen die oliereus Shell gewen het om die maatskappy te dwing om onmiddellik te begin om sy koolstofuitlaatgasse te verminder. Die dagblad Trouw berig dat klimaataktiviste nou een van Nederland se grootste pensioenfondse in hul visier het om hulle te dwing om geen beleggings in fossielenergie meer te doen nie. Dit is nog onseker of die saak wel voor die hof sal dien, maar die woordvoerder, Hiske Arts van ABP Fossielvrij, sê die organisasie oorweeg dit ernstig om die saak voor die hof te bring ná Milieudefensie se oorwinning oor Shell. Die pensioenfonds ABP het wel afgelope Vrydag laat blyk dat hy van plan is om sy belang in fossielenergie van ongeveer €17,4 miljard (sowat R300 miljard) stapsgewys te verminder. ABP Fossielvrij is egter nie hiermee tevrede nie. Die aksiegroep sê om in lyn met die Parys-klimaatooreenkoms te handel, moet ABP geen nuwe beleggings in fossielbrandstof maak nie. Dit is die eerste keer dat ’n finansiële instelling geteiken word om klimaatdoelwitte te bereik. Arts hoop dat die saak internasionale gevolge vir die finansiële sektor sal hê.
Kyk, wie’s aan die stuur!
@Arriva_NL https://t.co/bYVoUXyHtH
Een 15-jarige een trein laten besturen... Dat zal bij @NS_online niet zo snel gebeuren.#onverantwoord #trein #Arriva— Daan! (@Daantje_Bakker) June 27, 2021
Die treindiens Arriva het die naweek onder skoot gekom toe ’n video op sosiale media opgeduik het van ’n tiener wat deur die masjinis gevra is om die trein te bestuur. Daar was minstens een passasier aan boord van die trein. Op die video kan gesien word hoe die 15-jarige in die stoel van die masjinis gaan sit, die deure sluit en wegry. Hy waai ook nog beleefd na ’n masjinis van ’n ander trein wat verby ry. Arriva het laat weet dat die masjinis, wat deur ’n personeelagentskap aangestel is, intussen ontslaan is. “Op het moment dat wij hiervan hoorden, is hij op staande voet ontslagen,” sê direkteur Alex de Coninck van die personeelagentskap. “Want dit zijn natuurlijk dingen die niet door de beugel kunnen.” Die treindiens het intussen ’n ondersoek na die voorval van stapel gestuur om te bepaal hoe so iets kon gebeur het.
Polisie bevry kinders uit ’n motor wat in die son staan
Marechaussee redt drie kinderen uit oververhitte auto bij Schiphol https://t.co/BebWE71dUI
— NOS (@NOS) June 28, 2021
Die marechaussee, of militêre polisie, het Sondag drie kinders uit ’n motor op die lughawe Schiphol gered. Die motor was naby die Covid-toetssentrum naby die lughawe in die son geparkeer. Die temperatuur buite was ongeveer 29 grade Celsius. Die kinders kon nie daarin slaag om self uit die motor te kom nie en een van hulle het reeds sy bewussyn verloor. Die polisie het daarop besluit om ’n venster stukkend te slaan en die kinders te bevry. Op die oomblik gaan dit goed met die kinders. Maatskaplike werkers is betrek om die saak te ondersoek.
Taxibestuurder loop sy rieme styf
VRT berig dat die polisie in Gent Saterdag op 12 g kokaïne met ’n straatwaarde van sowat €600 (sowat R10 000) beslag gelê wat in ’n taxi se lamp versteek was. Die voorval het tydens ’n polisieoperasie by die kry-en-ry-sone van die Sint-Pietersstasie in Gent plaasgevind. Die bestuurder is ondervra, maar intussen weer vrygelaat.
Jou selfoon teen COVID-19
Saam met die nuwe versoepelinge wat die afgelope week in Nederland in werking getree het, is die CoronaCheck-selfoontoepassing ook bekendgestel. Die owerhede hoop dat die toepassing dit makliker sal maak vir mense om toegang tot groot byeenkomste te kry en sodat restaurante, teaters en bioskope meer mense kan toelaat wat kan bewys dat hulle óf negatief getoets is óf volledig ingeënt is. Die selfoontoepassing is ook bedoel vir reisigers om van een land in die Europese Unie na die volgende te reis met ’n bewys wat deur alle lidlande erken word. Wanneer ’n mens die selfoontoepassing aflaai, word jy gevra om ’n kode in te voer van die plek waar jy jou laat toets of ingeënt het. So word jou besonderhede dan opgehaal en kan gesien word wanneer en waar jy getoets of ingeënt is. Die toepassing genereer dan ’n QR-kode waarmee ’n derde party soos ’n restauranteienaar of grenswag jou status kan sien.
Oranje stel teleur
Nederland het Sondag ’n teleurstellende nederlaag teen Tsjeggië in die wedstryd in Boedapest gely toe hulle 2–0 geklop is. Dit beteken ook dat Nederland nou in die agste finale in die Europese kampioenskap uitgeskakel is, ondanks die goeie begin. Die lang messe is ook uit vir die afrigter, Frank de Boer, maar dit is nog geen uitgemaakte saak dat hy die trekpas kry nie, aangesien die eerste Wêreldbekerwedstryd al in September plaasvind en daar nie nou ’n voor die hand liggende plaasvervanger is nie.
Terwyl Oranje met ’n vreeslike kopseer sit ná hul uitskakeling uit die Europese kampioenskap, het België meer rede om fees te vier. Die Rooi Duiwels het Portugal Sondag in Sevilla 1–0 verslaan. Dit is die tweede keer in ’n ry dat België die kwartfinale van die kampioenskap haal, maar vir Portugal is dit die eerste keer in die geskiedenis dat hulle nie die laaste agt haal nie.
Lees ook:
Rechter beveelt: oliegigant Shell moet CO2-uitstoot flink verminderen