Jy kan die sterre hoor flonker by Mount Camdeboo

  • 0

Daar is twee redes vir hulle besoek aan Mount Camdeboo, ’n privaat wildreservaat sowat 60 km suidoos van Graaff-Reinet: nuwe luukse akkommodasie (’n houtkokon wat op ’n afgesonderde heuwel oor die valleie uitkyk) en ’n jagluiperdhervestigingsprojek wat deel van ’n pragtige bewaringstorie is, skryf Maryke Roberts.

Ons ry vir agt ure van die Kaap tot by die privaat reservaat se eerste hek. Die stof draai nog ’n klein rukkie om ons bande. ’n Klein blouapie sit hoog op ’n draad. Sy agterbeen lank uitgestrek en sy voorbeen rustend op sy knie. O die vrede van daardie sit!

Tish Kleinschmidt, hoofgids daar, wag ons by vierde hek in. Sy verduidelik dat ons haar moet volg, dat sy ons na ontvangs gaan vergesel voor ons namiddagtee en verversings gaan geniet en dan net na 15:00 op ’n wildrit gaan. Ek voel sommer hoe die spanning uit my stywe skouers wyk, my lanksitspiere loswikkel en die opwinding klim.

Vier nuwe jagluiperdwelpies is ses maande gelede op Mount Camdeboo gebore en verteenwoordig kritieke nuwe genepoele vir die SA Jagluiperd-metabevolkingsprojek wat deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) bestuur word. In die natuur sterf die meeste jagluiperdwelpies in hul eerste drie maande. Die helfte van hierdie sterftes spruit uit verswakte immuunstelsels deur inteling omdat die genepoel al só gekrimp het.

Mount Camdeboo is die tuiste van verskeie katte wat almal met halsbande gemonitor word om noodsaaklike inligting oor hul gene en gewoontes in te samel en natuurlik om aan die gaste wat van regoor die wêreld kom kuier, nie net wildkykvermaak te bied nie, maar terselfdertyd van dié nuutgevonde kennis met hulle te deel. Nege leeus leef in die reservaat.

Ons bly in die ou tronksel, wat vandag ’n luukse wittebroodsuite is, met sy eie klein kombuisie, reusekaggel, sitkamerdeel en groot badkamer. Daar is kerse vir romantiese aande onder die peperboom voor ons deur, stoele onder die boom buite as jy wil wild kyk en ’n hemelbed waaruit jy nie sal wil opstaan nie, en baie kussings vir koffie in die bed, of boeklees tot laataand met die kaggel wat gesellig knetter.

Eers ons tee en broodjies, lekker botterbroodjies en allerhande soet bederwe, voor ons koers kies in die reservaat in.

Die reservaat strek oor 14 000 ha wildernisgebied wat meestal uit bergagtige terrein bestaan, terwyl dit ’n paar historiese geboue en twee nuwe houtkokonne bevat.

Die Groot Karoo se klimaat is droog en Mount Camdeboo lê binne die Sneeuberge, met die hoogste piek in die reservaat wat tot 2 600 m bo seespieël styg en wat altyd op die horison vir jou wink, waar jy ook al ry.

Danksy die reservaat se huidige eienaars is vele diere weer hier kom vestig en gaste geniet wildritte om die leeus, jagluiperds, olifante, kameelperde en vele meer te ervaar.

“In ’n poging om die al kleiner wordende natuurlike habitat van onder meer jagluiperds teen te werk, is jagluiperds in 2007 by Mount Camdeboo hervestig. Iain Buchanan se ouers, wyle Logie en Cathy, het die projek begin en vandag sit hy sy ouers se werk voort.”

Soortgelyke projekte is ’n paar jaar voor Mount Camdeboo al by hul bure, Samara Privaat Wildreservaat, onderneem, wat weer met die hervestiging van jagluiperds na meer as ’n eeu se afwesigheid begin het.

Die eerste jagluiperd wat by Mount Camdeboo vrygelaat is, Thandeka, is uit ’n Oos-Kaapse reservaat hervestig as deel van die EWT se jagluiperdmetabevolkingsprojek. Sy is in 2018 dood, maar het nageslag geproduseer wat vars genetika in nuwe gebiede bekendgestel het.

Daar is minder as 7 000 jagluiperds in die wêreld oor en net 1 000 hiervan is vrylopend. 

Op ons namiddagrit fokus Tish op die leeus. Sy wys af en toe na ’n interessante voël in die lug of op ’n tak en beantwoord geduldig al ons vrae. Kort-kort gesels sy met ander gidse op die radio en nie lank nie of sy tel ’n sterk sein op vir die leeus. Sy vertel daar is ’n elandkarkas baie naby en ons moet fyn kyk, want hulle lê luilekker iewers ná ’n lekker groot maaltyd. Ons kry al nege leeus in digte bosse.

Dis laatmiddag en die son maak goue patrone op hul lywe. Die een mannetjie lê op sy rug met sy pote in die lug. ’n “Skadelose” katjie wat glad nie gepla is met ons nuuskierige agies nie. Die welpies is egter ’n ander storie: Hulle speel amper wegkruipertjie om die bosse met ons; kan nie ophou kyk wie hierdie nuwe maatjies is nie.

Ons sit lank in die veld terwyl die lig al sagter word en die aandluggie kouer om ons skouers vou.

Op pad terug na die opstal sien ons toevallig in die sterk skemer ’n renosterma met ’n twee weke oue kalfie. Hulle is binne sekondes terug in die bosse en mens besef net hoe bevoorreg daardie heilige paar sekondes vir ons as toeskouers was.

Met ons terugkeer is daar lanterns na die ou huis se trappies en warmlappies by ons ontvangs voor ons drankies in die sitkamer geniet en soos rawe smul.

Vroegoggend ná ontbyt is ons terug by Tish in die veld.

Die vyfjarige jagluiperdbroers Saba en Nairo is in ’n wêreld-eerste deur ’n skenking van The Aspinall Foundation, ’n liefdadigheidsorganisasie vir dierebewaring, van Engeland na Suid-Afrika hervestig. Die broers het meer as 13 000 km van Port Lympne Hotel & Reserve in Kent, Engeland na Suid-Afrika gereis.

Hulle het die eerste 36 maande van hul lewe binne die grense van die 36 ha-Howletts Wild Animal Park deurgebring. Beide Port Lympne en Howletts is onder die beskerming van die Aspinall-stigting. Hul betrokkenheid by “die eerste jagluiperd wat in Brittanje gebore is om terug te keer na hul Afrika-wortels” het opslae oor internasionale grense en vir alle betrokkenes gemaak.

Hul nuwe tuiste in die Oos-Kaap is nie vreemd vir die spesie nie, want jagluiperds was eens volop in die streek.

Ons soek nie na die welpies nie, want hulle word vir eers uit die wildritte uitgesluit. Tish vertel van Thandi en haar dogter, Nimba, en Ava, ’n ander ouer wyfie wat ’n jaar of langer in die wildernisprojek is.

Dit bring ons met ’n baie lang ompad by die welpies wat op 12 November gebore is. Ava en Nairo is die ouers van dié vier nuwe aankomelinge.  

Damian Aspinall, voorsitter van die Aspinall-stigting, vertel: “Dit is sulke ongelooflike nuus om hierdie welpies uit ons jagluiperdprojek te sien.

“Een van die primêre doelwitte van ons hervestigingsprojekte is om broodnodige genetiese diversiteit in die jagluiperdbevolking te verhoog, dus is hierdie geboortes ’n groot oorwinning.”

Met ons terugkeer na die opstal pak ons vir die tweede opwindende deel van ons kuier: ’n nag in die houtkokon in die veld. Ons verras ’n vlakvark op ons grasperk en sy spore in die modder is amper komieklik en ek wil dit net afneem!

Terug in die voertuig verpoos ons om te kyk hoe ’n gemsbok sy kop teen ’n bos skuur en sien kameelperde só naby jy kan sien hoe bol hul wange van die kougoed.

Die halfuurrit teen die steiltes op kan jou nie voorberei op die gesig wat op die klein plato wag nie: Die warm swembadjie se rokie draai, die effense briesie sus die hangmat uitnodigend. Tish pak high tea uit, terwyl ons buite om oe en aa en foto’s neem.

Wanneer sy groet en die voertuig later nie meer hoorbaar is nie, smul ons aan die kougoed en sit dan in die swembadjie.

Die son skuif bossie vir bossie oor die heuwel, tot dit amper lyk of die heuwels die ronding insluk en klein vlieswolkies teen die hemel verskyn en verkleur. Toe die son behoorlik sak, brul ’n leeu en ’n jakkalsie blaf. Agter ons huisie stap koedoes geruisloos soos skimme in die sterk skemer verby.

Ons steek lanterns op en pak dit in rytjies tot by die huis en anderkant verby tot by die warmbadjie. Ons maak vuur onder die sterre en blaas later al die lanterns tussen ons houthuisie en die vuurmaakplek dood.

Ek dink aan Zirk van den Bergh se boek Die vertes in wat in 1905 afspeel, waarin hy skryf van Mordegai Guruseb wat as kind in die voormalige Duits-Suidwes-Afrika, “gedink het die tjirpgeluide wat hy snags hoor, word deur flonkerende sterre gemaak. Hy het sedertdien die waarheid oor krieke uitgevind, maar hou steeds daarvan om hom te verbeel dat hul geluide uit die hemele kom.”

Dis dié gedagte wat deur my kop flits toe ons om die vuurtjie sit en kyk hoe die sterre een vir een aan die donker hemel kom hang.

Vroegoggend sit ons buite op die stoepie met ons koffie. Die uitsig oor die vallei voor ons, die berge en heuwels, die perfekte olieverfskildery. Jy hoor voëltjies in die verte, maar sien niks, want dis so stil. Op ’n aalwyn voor ons deur kom sit ’n voëltjie en fluit en die klank weergalm oor die ooptes.

“Wat vlieg daar of wat fluit so?” word my geliefde se mantra, met die verkyker en voëlboek al om die huis. Hy laat dink my aan ’n seuntjie met ’n skoenlappernet. Ons voel waarlik alleen op die aarde. Groter saligheid kan ek my nie voorstel nie.

Teen 09:00 is selfs die voëltjies stil en die veldstilte suis in jou ore.

Ons eet ontbyt uit ons yskassie, maak weer koffie voor ons stort en deur die venster die 15 gemsbokke sien wat net anderkant die draad omraam is met die goue oggendlig. Teen die trappies van ons huisie wei ’n haas en sy ore gloei goudpienk in die son toe hy hulle spits.

Tish kom haal ons 11:00, skaars 20 uur nadat sy ons afgelaai het, maar dit voel soos 20 dae.

Ons is terug by ons motor. Dit is silwerskoon gewas, asof die stofpad tot hier net in ons verbeelding was.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top