Kaapstad kraai weer koning in die wêreld

  • 0

Suid-Afrika se toerismehoofstad Kaapstad is vir die sewende agtereenvolgende jaar aangewys as die beste stad in die wêreld om te besoek.

Meer as 39 000 lesers van die Britse koerant The Telegraph het die Moederstad in The Telegraph Travel Awards-navorsing aangewys as die beste stad in die wêreld om te besoek ondanks die stad se waterprobleme en hoë misdaadsyfer in sekere gebiede.

Foto: Pixabay.com

Die koerant sê die plesier om wakker te word omring deur Kaapstad se natuurlike skoonheid vergoed skynbaar vir die ander onverkwiklikheid wat daar mag wees.

Tweede op die lys was Vancouver in Kanada.

Van die dinge wat deur The Telegraph uitgesonder word wat van Kaapstad so ’n besondere stad maak om te besoek, is die Afrika-pikkewyne op Boulder-strand naby Kaapstad, ’n toer deur die wynlande, ’n besoek aan die V&A Waterfront, die ikoniese Kaappunt, Kirstenbosch, die kleurvolle huise van die Bo-Kaap en natuurlik Tafelberg.

Volgens The Telegraph is die beste stad in die wêreld “’n juweel aan die kus en staan in die skadu van ’n berg wat met ’n wolkkombers bedek is.”

The Telegraph sê mens kan in enige rigting reis as jy in Kaapstad is en sal beloon word met asemrowende bergtoppe, hellings versier met die rykste verskeidenheid blomme ter wêreld, vrugbare valleie waardeur stroompies vloei en vlaktes met kulinêre juwele.

Met sy natuurlike skoonheid en die ongelooflike ervarings wat die stad aan besoekers bied, is dit volgens The Telegraph geen verrassing dat Kaapstad daarin kon slaag om steeds die eerste plek op die lys te beklee nie.

“Die oorspronklike Khoi-inwoners het die ikoniese plat berg wat bokant die stad uittroon “Hoerikwaggo” (berg van die see) genoem en dit is presies hierdie unieke geografiese verskynsel wat bokant die stad in die blou lug uittroon wat Kaapstad so verleidelik maak, aldus The Telegraph.

“Toekennings soos hierdie val nie sommer uit die lug nie. Die feit dat duisende reisigers vir Kaapstad gestem het as die beste stad in die wêreld om te besoek is die resultaat van die harde werk deur die stad se bemarkingspan en Kaapstad se toerisme-afdeling,” sê James Vos, lid van Kaapstad se burgermeesterkomitee vir ekonomiese geleenthede.

“Die stad het so baie om aan almal te bied. Ons het ’n diverse kulturele erfenis-ervaring wat ’n nuwe meevoerende benadering voorsien ten opsigte van kultuurtoerisme en sodoende meer aan toeriste bied.”

Vos sê sy span het hard gewerk aan ’n nuwe toerisme-ontwikkelingsraamwerk wat onlangs deur die stadsraad aanvaar is. Die hoogste prioriteit is om toe te sien dat dit geïmplementeer word sodat die diverse kultuur-ervarings verder uitgebou kan word om die stad se uiteenlopende toerismeprodukte beter te bemark.

Dit sal volgens Vos bydra tot die groter betrokkenheid van spesifieke gemeenskappe wat baat sal vind by die miljoene toeriste wat die Moederstad elke jaar besoek.

Die top 20 stede in die wêreld is volgens The Telegraph in volgorde:

  1. Kaapstad
  2. Vancouver
  3. Kyoto
  4. Sydney
  5. St Petersburg
  6. Singapoer
  7. Venesië
  8. Luang Prabang
  9. Seville
  10. New Orleans
  11. Havana
  12. New York
  13. Bagan
  14. Florence
  15. Istanbul
  16. Rome
  17. Dubrovnik
  18. Tokio
  19. Krakow
  20. Buenos Aires

Lees ook 

Kaapstad jou sexy ding!

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top