
Die hotel staan soos ’n welkome baken in die Swartland.
Maak toe jou oë. Verbeel jou wuiwende koringlande waarin die windjie patroontjies dans. Verbeel jou ’n teerpad wat in die verte teen persblou berge doodloop. Draai af, by ’n padstal verby. Deur ’n klein laagtetjie ... en daar staan ’n ligpienk hotelletjie soos ’n wafferse Bagdad Cafe uit Percy Adlon se 1987-film.
Hoor die temalied “Can you hear me calling you ...” soos die groot stoep langs die peperboom beloftes van afsaal fluister. Die blou swembadjie se twee lilos dryf styf teen mekaar oor die oppervlak. Jazz speel oor die sonstoele, dartel by die bloekomboom verby tot by die grasperk, waar ’n paartjie laggend croquet speel met glase Cap Classique in hul hande.

Skaars 120 km uit die Kaap
Engeland? Skotland, of dalk selfs Ierland? Nee, Koringberg in die hartjie van die Swartland; skaars 120 km uit die Kaap.
In die verte wink Piketberg en skuins agter lê Piekenierskloof lepel met Citrusdal, wat jou kromvinger verder binneland toe lok. As jy oor die berg ry, is jy in rooibostee-wêreld en die tuiste van ons land se oudste wingerde, wat in Piekenierskloof Wyne skitter. By die proelokaal en restaurant in die nek van die pas kan jy rooibos- én wynproe.
Maar hokaai nou, ons is nog by die koelte op die groot stoep en die windjie wat patrone dans in die wuiwende koring.
Koringberg was voorheen Warren’s Camp – blykbaar een of ander hoofingenieur van die spoorweë. Die gemeenskap het in 1923 weggebreek van die NG Kerke op Moorreesburg en Hopefield en hul eie kerk kom stig op die plaas Brakwater. Die naam is na Koringberg verander, die dorp opgemeet en die eerste plotte in 1924 vir een pond elk verkoop.

’n Ligtepienk boetiekhotelletjie
Draai die horlosie nou 103 jaar aan vir die prentjie soos hy nou daar uitsien: ’n ligtepienk boetiekhotelletjie, Marrian George Lifestyle Hotel & Restaurant – ingerig in die voormalige Wildehurst-wynkelder – ontvang nou gul besoekers. Dis die hartsprojek van Joanne Hurst (née Marrian), wat hier saam met haar oorlede man, Chris, wyn gemaak het. Hul wingerde was naby hul huis. Joanne is al 22 jaar op Koringberg en het ’n leeftyd as binnenshuise ontwerper agter haar. Geen wonder die mooie hotelletjie het elke dekortydskrif onder die son nie!

Wildehurst se wyne
Haar regterhand, Hope Oosthuisen, wag ons in met yskoue glase Wildehurst Methodé Cap Classique 2017, ’n versnit van Chenin Blanc en Chardonnay. Sy vertel dat ons sekerlik een of ander tyd vir Joanne en George, ’n Engelse Pointer en tweede deel van die hotel se naam, sal raakloop. Die mooie hond is net so legendaries soos sy baas.

Keurige kamers
Ons tasse wag in ons kamer, maar ek vra of ons die ander kamers ook mag bekyk voor die ander gaste arriveer.
Die mure is met kuns behang en die hele hotel se kleure is oordadig, helder en vrolik, maar getuig van ’n kundige oog. Herwonne Oregon-vensters en -deure met swartleiklipvloere vorm die struktuur. Antieke meubels, persiese matte en gestyfde linne omvou jou in ’n luukse uit ’n ander era.
Elke kamer is anders en bring hulde aan ’n hoofstuk in Joanne se lewe, van die Marrian wat haar Engelse en Skotse erfenis vier, tot die muurpapier van Botanical wat sorgelose ure uit haar kinderdae in Durban se botaniese tuine weergee, tot die mooie flora van Natal wat die groenigheid van haar geboorteprovinsie oproep. Die drie kamers bo vier Joanne se vroeë lewe.
Die twee kamers op die grondvloer is na spesiale oomblikke vernoem: Avon na die hoekie van Engeland waar sy en Chris baie gelukkige jare deurgebring het. Dit is ook die hotel se enigste suite, met ’n privaat sitkamer met uitsigte oor die swembaddek en verafgeleë koringlande.
Langsaan bied die muurpapier en stoffering van George ’n speelse huldeblyk aan Joanne se vierbeenvriend.
Ek skop my skoene uit en die leiklipteëls in die leefvertrekke is koel onder my voete.

Ontbyt is in die informele ontbytkamer en middagete in die keurige eetkamer met erfporsie-eetgerei en Apostel-lepeltjies wat my na my ma laat verlang. Alles enkele treë van ons kamer af.
Smiddae sit ons op die boonste dek met ons G&T’s en kyk hoe die son pienk en blou strepe maak teen ’n uitspansel wat jou verstand te bowe gaan. Op daardie selfde rusbank kyk ons laataand sterre. Die enigste geluid, die enkele ysblok in jou whisky.
Saans as die hortjies toegetrek word, kom die keramiekhondjies op die pilare by die stoep ook in om binne te slaap. Bedags kyk hulle oor die vlaktes. Ek vra vir Hope wat die rede is.

Green dog
Hulle is beeldhouwerke, genaamd Green dog, ’n kunswerk van oorlede Nicolene Swanepoel, ’n bekroonde keramiekkunstenaar. Hulle is baie geld werd en kan nie sommer snags net so buite gelos word nie!
Stap jy bedags in die dorpie rond, is dit oortrek met lappies groentetuine en stertswaaiende honde. Piet Kokkewiet roep sy mater op die volgende hoek; koppie agteroor, die fluit rollend in sy keeltjie. Vier van die geveerdes speel wegkruipertjie in die bougainvillea.
Jy het tyd om te verpoos.
’n Geskenk soos ’n oopgebreekte, stroopsoet granaat wat in jou hand gelê word.

Hallo!
Op ’n oop stukkie veld wei skape. Die buurman se welige struikeheining lok grasgroen bo ’n draad uit. Twee skape staan soos wafferse boerbokke op hul agterpote vir die groen blaartjies heelbo. Die gras is inderdaad groener ...

Dis nie elke kerk wat ’n koringgerf as “weerhaan” het nie!
Ons talm voor die kerk, waar alles begin het: die “weerhaan” is ’n koringgerf. Teen die buitewyke op die heuweltjie onder die langboompies lê dié wat voor ons gekom het.
Daar is bordjies wat verkondig “Oom Koos herstel van naaimasjiene” en “Koringberg Kos Kas”, maar ons sien heel naweek omtrent geen siel buiten die hotelgaste nie. Behalwe saans as die locals ’n glas wyn of G&T kom drink, stories uitruil en nuwe vriende met mense met vreemde nommerplate maak.

Carien Hugo-Waring
Vanuit die swembad sien jy teen laatmiddag hoe die son goue lyne om die sjef teken, terwyl hy kruie en spinasie uit die groentetuin oes. Die brood op ons borde is van Carien Hugo-Waring se Moorrees, ’n bakkery op Moorreesburg. Al die varsgebak by Marrian George kom van Carien af. Die bakkery was self ’n pelgrimstog na rustigheid vir hierdie voormalige sakevrou uit die stad. ’n Tyd vir makeer-die-pas, introspeksie.
Sy doen ook bakwerkswinkels en ek maak ’n knoop in my sakdoek.
“As jy gluten-intolerant is, gaan jy bars,” lag my geliefde toe hy die stomende rolletjie vol gesoute plaasbotter smeer. Die swaar lapservet met sy mooi geborduurde MG-monogramme lê koesterend op jou skoot; die swaar silwer eetgerei gerusstellend in jou hand – beide ’n kopknik aan tye toe dinge eenvoudiger was, terwyl al die moderne luukses daarby ingemeng is.
Jy kan jou maklik verbeel dis weer daardie tye van namiddagslapies en grammofoonmusiek en mooi honde en ydele geselsies oor yskoue wyn, terwyl Moeder Natuur skilder speel oor die koringlande. Maar geen oud en koud hier nie. Elegant en luuks en ooparm-verwelkomend.

Jy kan gaan stap en fietsry; dis mooi in enige rigting.
Ons vra uit oor wat daar te doen is in die omgewing – effe skuldig van die rondlê, slaap, lees en swem. Weer mensword nadat die lewe jou ’n paar haastige klappe toegedien het die afgelope paar maande.

Die Koringbedryfmuseum
Ons hoor van die Koringbedryfmuseum. Nog ’n knoop in ons sakdoeke vir ’n volgende kuier. Nieuwedrift-wynplaas aan die anderkant van die N7 is waar mense graag oor naweke gaan pizza eet en as jy hou van watersport, is die Misverstanddam nie ver nie.
Piekenierskloof se De Tol is ’n heerlike boerebasaar met roosterkoek en Afrikaanse musiek, maar jy kan by Carmién Tea gin, tee en wyn van Piekenierskloof Wyne ook proe. En iets eet as jy lus is. ’n Dag saam met vriende en familie in die ooptes van die Swartland.

Die swembad
Ons is egter heel tevrede met die wonderlike geregte uit die kombuis, die verskeidenheid Wildehurst-wyne en die luukse wat ons hier omvou. En ons drink sommer ons gins langs die swembad, dankie!
Te gou is ons tydjie hier in ’n verlore era verby. Maar ek kan hoor Koringberg roep al weer – ek sal moet luister!
Kitsfeite:
- Koringberg lê sowat 118 km noord van Kaapstad op die N7, tussen Moorreesburg en Piketberg. Benewens die heerlikhede van die Marrian George Hotel en sy restaurant, MG, is daar nie ander plekke om te eet of drink nie. Dis die goeie nuus!
- Bespreek jou verblyf of etes by Marrian George Lifestyle Hotel & Restaurant by stay@marriangeorge.co.za, of etes by MG Canteen by dine@marriangeorge.co.za, of loer in vir ’n drankie. Meer inligting by https://www.marriangeorge.co.za/.
- Die Koringbedryfmuseum is in Hoofstraat, Moorreesburg. Loer gerus hier vir meer inligting.
- As jy in Koringberg kuier, is jy in die hart van die Swartland Wyn- en Olyfroete. Daar is soveel te sien, proe en ervaar op wynplase, tussen die olyfboorde, in historiese ou dorpies en in die vlaktes van die Swartland. Loer gerus hier.
Foto’s: Clifford Roberts en Willem Coetzee
Lees ook:
Thula thu, thula nana, thula sana ... stil word jy by Thuúla Hidden Haven

