Kerke bid en skarrel oor koronavirus

  • 0

Die koronavirus het kerke en geloofsgemeenskappe aan die skarrel. Daar heers ’n Babelse verwarring of die grootste kerk in die land, die Zion Christian Church (ZCC), die voorbeeld van die meeste ander kerke gaan volg en gehoor gaan gee aan die noodmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die virus te help verminder.

Die plaaslike koerant Bosveld Review het Dinsdag berig dat die ZCC in ’n persverklaring aangekondig het dat hulle alle byeenkomste opskort. Die ZCC lok jaarliks elke Paasnaweek sowat drie miljoen mense na hulle hoofkwartier by Moria buite Polokwane.

Kort nadat die koerant aangekondig het dat die ZCC sy massabyeenkoms oor die Paasnaweek en ook alle kooroefeninge en ander samekomste kanselleer, het hulle die berig teruggetrek, omdat hulle na etlike pogings om die betroubaarheid van die persverklaring vas te stel, niks kon uitrig nie. Die vraag of daar voortgegaan word met byeenkomste van die ZCC bly dus volgens die koerant grootliks onbeantwoord.

Alle pogings om kommentaar by die ZCC se woordvoerder, Emmanuel Motolla, te kry was volgens die koerant vrugteloos gewees.

Vroeër die week het die provinsie se premier, Stan Mathabatha, gesê sy regering sal een miljoen pamflette onder die kerk se lidmate versprei om hulle bewus te maak van die virus. Na verneem word sal die presidensie Donderdag weer met kerkleiers vergader oor die pad vorentoe.

Limpopo se gesondheidsdepartement het gewaarsku dat die ZCC se jaarlikse pelgrimstog na Moria oor die Paasnaweek ’n grootskaalse gesondheidsrisiko sou inhou vir diegene wat dit bywoon, asook vir die miljoene mense met wie hulle na die tyd in aanraking sal kom.

Daar is vroeër op die Facebookgroep Polokwane news24 berig dat dit wil voorkom of die Paasbyeenkoms in Moria soos gewoonlik sou voortgaan.

Daar was ’n hewige debat op die blad tussen diegene wat wil hê die byeenkoms moet voortgaan en diegene wat sê dit moet soos alle ander massabyeenkomste gekanselleer word ingevolge die noodregulasies wat Sondag deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is.

Jake Boikanyo sê as godsdiensleiers toegelaat word om onder die huidige omstandighede voort te gaan met groot byeenkomste, sal hulle binne ’n paar maande niemand oorhê om te lei nie. “Die begrafnisondernemers sal hulle hande vol hê om by te hou met al die begrafnisse.” Hy sê ten minste sal hulle beursies vol wees.

Baie ander mense stem nie met hom saam nie en sien geen bedreiging as die massabyeenkoms voortgaan nie. Sommige glo selfs die kerk het reeds ’n geheime teenmiddel teen die virus en steek dit iewers op ’n geheime plek weg. Iemand anders sê weer daar gaan baie waaiers in die stadion wees waar die saamtrek gehou word en dat dit al die kieme sal wegblaas.

Kerkleiers in onder andere die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het vroeër reeds dringende samesprekings met Limpopo se provinsiale regering gevoer om die komende Paasfees-saamtrekke te bespreek in die lig van die virus.

Die meeste kerke in die land tref voorsorg om die verspreiding van die virus te bekamp. Die NG Kerk sê in ’n pastorale brief aan sy lidmate met die realiteit van die koronavirus en maatreëls wat nasionaal aangekondig is, is dit ’n tyd om met groot verantwoordelikheid op te tree. “Alle ontkenning van die omvang en die erns van die virus is onverskillig en ons roep gemeentes op om die realiteit in die oë te kyk.”

Die meeste ander hoofstroomkerke moedig ook hulle lidmate op verskillende maniere aan om maatreëls in te stel wat hulle teen die virus sal beveilig. Dit sluit kerke en geloofsgroepe in soos die Nederduitsch Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke, die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Anglikaanse Kerk en die Rooms-Katolieke Kerk, asook Moslem- en Joodse geloofsgemeenskappe.

Sommige gelowiges meen die virus is deel van God se raadsplan en dat dit dui op die naderende einde van die wêreld. Ander vra weer vir ’n wêreldwye biddag.

Die oproepe tot gebed word met groot skeptisisme begroet deur diegene wat nie glo nie. Stefan Coetzer skryf op die Nuwe Hervorming Netwerk se Facebookblad dat wat hom interesseer, is dat nie eens die getrouste gelowige sal bid vir iets wat hy wéét onmoontlik is nie. Hy sê gebede vra altyd van God dit wat almal weet op ’n natuurlike manier met óf sonder gebed moontlik is, soos reën as dit droog is. “Maar g’n dominee sal ooit bid dat die man wat ’n ledemaat in ’n motorongeluk verloor het se arm weer moet uitgroei nie. En daarom rep geen één van die woordvoerders iets van landswye gebedskettings of bemoedigings dat die teïstiese God uitkoms sal gee nie. Want hierdie ding se omvang is eenvoudig net té groot en die gevolge daarvan net té seker.”

Lees ook

Covid-19 ruk Suid-Afrika ook tot stilstand

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top