KI hou spieël vir die mensdom op in kragtige Woordtrofee-bekroonde FaustX

  • 0

FaustX (Foto: Clifford Roberts)

Die oorwoë wenner van vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees se Woordtrofees-toekennings is FaustX, wat as beste drama en Brett Bailey as beste regisseur vir hierdie stuk aangewys is.

Dit was ook ons persoonlike feesgunsteling. Protesteater soos ons in die tagtigs en negentigs laas gesien het. En met kostuums, visuele beelde en aardskuddende luidsprekers en musiek wat die eindtye kon aankondig, ’n toneelstuk wat mens deesdae selde op jou plaaslike verhoog kan meemaak.

Maar hier is die kinkel: In die feesgids word kunsmatige intelligensie (KI) as dramaturg aangedui.

’n Maand voor die fees lees ek in die bylaag in Die Burger raak: “In ’n tyd waar almal bekommerd is of kunsmatige intelligensie hul werk gaan vat, gebruik Brett Bailey juis KI in hierdie toneelstuk om ’n punt te maak.”

Hy is die regisseur, skrywer en ontwerper van FaustX.

Die titel FaustX verwys na Elon Musk se SpaceX en sy sosialemediaplatform X (Twitter), en die karakter van Faust is ’n verwysing na Musk self,” verduidelik Brett sy invalshoek met hierdie hervertelling van die Duitse dramaturg Goethe se klassieke verhaal. Dis vir mense wat belangstel in ’n diepgaande en veelvlakkige ondersoek van die kompleksiteite van die era waarin ons leef.

Brett se pad met hierdie produksie het in 2025 begin, toe die stad Weimar in Duitsland hom genader het om ’n verwerking van Faust Deel 2 te maak. 2025 was die 250ste herdenking van Goethe se aankoms in dié stad, waar hy tot sy dood gewoon het. Faust Deel 2 is ’n baie lang en komplekse stuk en dit het hom maande gekos om die stuk te verkort.

Die feesgids verklap so ’n ietsie van wat op teatergangers wag:

’n Ontstellende, surrealistiese drama oor menslike strewe, versoeking en onbeheerste ambisie. Hierdie 21ste-eeuse dr Faustus, gedryf deur ’n onversadigbare honger om ’n innerlike leegte met betekenis te vul, sluit ’n ooreenkoms met Mefistofeles en bevind hom op ’n pad van uitbreiding, innovasie en beheer: Hy karring in die ekonomieë van die Globale Suide, orkestreer oorlogspeletjies en droom daaroor om baas te speel oor die natuur, die samelewing en selfs verre planete. Die produksie is gegrond op die tweede deel van Goethe se meesterwerk en is weer in Suid-Afrika op die planke ná ’n baie suksesvolle wêreldtoer.

Die akteurs Darion Adams, Liezl de Kock, Iman Isaacs, Sophie Joans, Siphenathi Mayekiso en Toni Morkel is agter reusemaskers verskuil. Dis duidelik dat die boodskap hier oor een ego gaan en daar nie plek is vir ander “rolspelers” nie.

By die prysuitdeling van die Woordtrofees vroeër vandeesmaand sê Mareli Pretorius, sameroeper van die Woordtrofees-paneel en voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement:

Die uitvoerende kunste is van die oudste maniere waarop ons sin maak van die wêreld om ons. Dit is hoe ons stories met mekaar deel: ander se stories en ons eie stories; die klein, intieme oomblikke en eenvoudige ervarings, die grootste oomblikke wat hulle juis in die alledaagse afspeel. Dan is daar ook die groot stories, dié wat die hele wêreld se gesamentlike storie word. FaustX is so ’n groot storie wat op onrusbarende wyse ons menswees aan ons blootlê deur iets dringends oor ons tyd en onsself te sê.

Inderdaad.

Ons lees byna weekliks hoe die skeppers van kunsmatige intelligensie waarsku dat die wêreld nie die omvang van die intelligensie-ontploffing besef nie en dus nie voorbereid is daarop en nodige stappe ingestel het nie, wat menslike beheer oor KI-stelsels bedreig, lees hierdie interessante artikel.

Die nuutste storm woed oor skole in Amerika toe Google aankondig dat KI – insluitend Gemini, Gemini Notebook en Gemini in Classroom – outomaties vir K-12-leerderrekeninge gedeaktiveer sal word, tensy skooladministrateurs dit uitdruklik aktiveer. Volgens Google gee dit skole volle beheer oor hul studente se KI-toegang. As ’n skool egter kies om KI te verbied, sal leerders ook geen toegang tot Google se soekfasiliteit hê nie.

Hierdie beleid het hewige kritiek ontlok. Kritici beskuldig Google van monopolie-magsgebruik om skole te dwing om hul KI-produkte te aanvaar, winste bo opvoeding te stel en leerders tot handelsmerklojaliteit te dwing. Voorts voer kritici aan dat Google besig is om noodsaaklike dienste as hefboom te gebruik om hul tegnologie in klaskamers af te dwing (meer daaroor hier).

Dit is dus interessant dat ’n stuk waar KI ingespan is as wenner op ’n podium staan.

Ek gesels met Brett self hieroor en kry interessante insig oor die ander kant van die munt.

Brett Bailey (Foto: Victor Guassero)

MR: FaustX word gekrediteer met ChatGPT as dramaturg. In watter mate was KI werklik betrokke by die totstandkoming van die teks en hoe slaag hierdie tegnologie daarin om die hedendaagse kwessies van globale mag, kapitalisme en tegnopolitiek te problematiseer sonder om in oppervlakkige strikke te verval?

BB: Ek het Chat as ’n klankbord gebruik om idees teen te toets, as ’n navorsingshulpmiddel en as ’n instrument om te probeer sin maak van Goethe se omvangryke, uitgestrekte, gelaagde en dikwels esoteriese teks. Hoewel ek dit nie gebruik het om die werklike gesproke of geskrewe teks van die opvoering te genereer nie, het ek dit ingespan om die vorm van die werk te help slyp, die karakters te definieer en verbande te lê tussen die wêreld wat Goethe geskep het en die wêreld wat vir my van belang is.

Faust se onbeteuelde drang is om alle grense te oorskry, alle moontlikhede te ervaar en die wêreld – teen enige prys – aan sy ambisie te onderwerp. In Goethe se koorsdroom bemoei Faust hom met die ekonomie van ’n Middeleeuse koninkryk; hy besoek die ryke van die Griekse mitologie en Romeinse geskiedenis en vernietig ’n heilige woud en sy inwoners om sodoende beheer oor land en see te verkry. My soektog was daarop gerig om vas te stel hoe hierdie drang in die 21ste eeu resoneer. Elon Musk; tegnologiese oorheersing; neokolonialisme in Afrika; oorlog en grondgrype in die Midde-Ooste, asook die kolonisasie van die ruimte is enkele van die hedendaagse manifestasies wat ek gekies het om te ondersoek. Dit spruit voort uit my poging om vandag dieselfde Faustiese impuls na te spoor: die oortuiging dat alles bemeester, ontgin of oorkom kan word in die strewe na ’n ambisie wat al hoe verder uitdy – en dit alles in die naam van ’n verafgode “vooruitgang”.

MR: Hoe het jy dit reggekry om die omvangryke, filosofiese tweede deel van Faust, wat meer as 200 jaar gelede geskryf is, se temas van onbeheerbare ambisie en menslike strewe naatloos te laat vloei na die hedendaagse wêreld van tegnologiemagnate en klimaatchaos?

BB: Het ek dit reggekry om dit naatloos te doen? Die vreemde ding van Goethe se teks is dat dit voortdurend van die een werklikheid na die ander spring: oor tyd, afstand en metafisiese grense heen. Die enigste konstantes in die drama is Mephisto en Faust; laasgenoemde is op ’n avontuurlike, epiese reis om die uiterstes van alles wat die lewe kan bied, te ervaar.

FaustX (Foto: Clifford Roberts)

Ek het die oorspronklike werk gestroop tot dit wat vir my noodsaaklik was, dit geredigeer en hele bedrywe, sowel as dosyne karakters geskrap. Op die oorblywende geraamte het ek vervolgens, stuk vir stuk, ’n werk opgebou uit elemente wat vandag met radioaktiewe intensiteit vibreer. Terwyl Goethe se Faust sterf terwyl hy droom van ’n wêreld vol mense wat hul daagliks toewy aan arbeid om hulself bo die blote natuur te verhef – en daarna opvaar na die “Ewige Vroulike” – sterf my Faust op ’n brandende Aarde, terwyl robotte desperate skares van sy ruimtehawe af wegdryf. Sy siel klim in ’n vuurpyl en vertrek deur die hemelruim, op pad na ’n Nuwe Planeet ...

MR: Terwyl die toneelstuk op visuele en skerp wyse die euwels, manipulasie en vernietigende ritmes van moderne wêreldmagte en tegnologiese tirannie uitbeeld, span jy self KI in. Wat is die sterk en swak punte van hierdie benadering, en watter groter ironie of boodskap wil jy oordra deur gebruik te maak van presies daardie tegnologie wat die hedendaagse eksistensiële krisis voed?

BB: My lewe en kreatiewe werk is onlosmaaklik verweef met verskeie tegnologieë wat sulke krisisse aanvuur: die landbou-industriële stelsel wat baie van die kos wat ek verbruik, genereer; die olie wat my motor en die vlugte wat ek neem, aandryf; die farmaseutiese industrie wat die chroniese medikasie produseer wat my aan die lewe hou; die verpakking wat ek weekliks weggooi; die komponente van die tegnologie wat ek gebruik om my draaiboeke te skryf; toegang tot inligting te verkry en te kommunikeer met ... Selfs die sosiale media wat ek gebruik om my programme te bemark en die toepassing wat ek gebruik om my rekeninge te betaal, is self ten volle geïntegreer met KI.

Ek dink nie daar is enige ironie of skynheiligheid in die gebruik van ’n KI-kletsbot as ’n kreatiewe instrument nie. Die ironie of provokasie – gegewe die angs rondom die vervanging van menslike beroepe deur KI-agente en die feit dat my Faust net so ’n utopie in die vooruitsig stel – lê daarin om ChatGPT as die dramaturg te erken.

MR: As ’n visuele, fantastiese moraalspel wat ’n swak skildery van ’n donker wêreld skilder – met aanhalings soos: “We’d paint a darker picture, but we can’t afford the paint”, en: “Why must we concern ourselves with state affairs when we want to have fun?” – watter elemente van hierdie produksie slaag daarin om die gehoor se medepligtigheid aan die hedendaagse eindtydskouspel effektief bloot te lê, en waar skiet die produksie of die integrasie van KI moontlik tekort?

BB: Ek is nie seker hoe om hierdie vraag te antwoord nie. Ek voel die gehore moet hierop reageer.

MR: Met ’n plaaslike ensemble van gemaskerde akteurs, hoe dien FaustX as ’n spieël vir sowel die kontemporêre globale kondisie as spesifiek die Suid-Afrikaanse realiteit van magsmisbruik en ongelykheid, en watter laaste indruk wil jy by die gehoor laat?

BB: Ek het reeds oor die wêreldwye toestand gepraat. Die verwysings wat ek na die Afrika-streeksrealiteit maak, kom hoofsaaklik voor in ’n vroeë toneel waarin Faust en Mephisto die senaat van ’n swak bestuurde staat in ’n finansiële krisis besoek – ’n staat waar die regering ondoeltreffend, selfsugtig en korrup is, en die bevolking op die rand van ’n opstand staan. Deur middel van ’n soort obskure kriptogeldeenheid-skema spin ons helde ’n web van illusie en ontneem hulle die staat van die laaste bietjie rykdom wat nog oor is. Dit is ’n scenario wat net so relevant is vir die Europa van die vroeë 19de eeu, as wat dit vandag vir die “ontwikkelende wêreld” is.

Wanneer ek ’n werk skep, probeer ek nie doelbewus om ’n spesifieke finale indruk op die gehoor te laat nie. Ek stel kwessies aan die orde vir verkenning en belig dit vanuit verskillende hoeke. Elke werk bied – afhangend van die vensters wat dit oopmaak – ’n blik op die kompleksiteit van die wêreld waarin ons leef; ’n wêreld wat verstrengel is met soveel geskiedenisse, mitologieë en tegnologieë, en met soveel skoonheid, broosheid en geweld. My werk is toespelend, nie didakties nie.

Na ’n opvoering by die Woordfees het ’n vrou in trane na my toe gekom. Sy het vertel dat sy wel vriende het wat haar hartseer oor die toestand van ons gedeelde werklikheid deel, maar dat sy vir die eerste keer volkome solidariteit ervaar het – asof die werk haar eie hart verwoord het. Dit is ’n indruk wat ek sal onthou.

***

Vir my as een van daardie gehoorlede wat self moet reageer op waarvan Brett praat, was KI se grootste oorwinning as “dramaturg” in hierdie toneelstuk dat dit die wanhopige stand van die wêreld – deur die mens se eie toedoen, deur die slaafse navolging van KI en deur magsugtigheid – in een enkele toneelstuk vir ons as spieëlbeeld kon ophou. Dis in ’n paar heilige teaterure saamgestel in iets wat selfs die leek kan verstaan.

Want soms voel dit vir my ons het nie meer die vermoë om vir onsself te oordeel hoe ver heen ons eintlik is nie.

Brett se bekwame teaterhand is swaar te sien en dis hoekom dit een van my gunstelingstukke van alle tye is.

  • FaustX is ’n ko-produksie met Théâtres de la Ville de Luxembourg, Théâtre Nanterre-Amandiers, Kleist Forum Frankfurt (Oder), geskep met ondersteuning van Spier Galery.

A summer dream (Foto: Nardus Engelbrecht)

  • As jy nog van Brett se werk wil meemaak, is sy volgende produksie A summer dreamby Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch vir net een naweek – 11 tot 13 Desember – by die Spier Amfiteater. Die opvoering, wat deur Bailey geregisseer is en begelei word deur oorspronklike musiek van die Kaapstadse musikant Jak Tomas, skep ’n droomagtige, byna hallusinogene wêreld onder die sterre. Gehore kan uitsien na ’n optog van gemaskerde kunstenaars, dansers, narre en mitiese wesens wat deur temas soos lig, hoop en humor die verbeelding van oud en jonk aanvuur. Vanaf 18:00 kan besoekers op die Werf smul aan vars plaasprodukte, pizzas en piekniekmaaltye, voordat die opvoering om 19:45 begin. Kaartjies tussen R80 en R500 is beskikbaar deur Webtickets.
Lees ook:

The baggage we carry: SboNdaba Dance transforms exile and displacement into art

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top