Klimaatskrisis – siektes, brande, vloede, hitte – reeds hier

  • 0

Verskeie kenners verwys nie meer na klimaatsverandering nie, maar na die klimaatskrisis. Die aarde met al sy lewende wesens en sisteme leef nie in isolasie nie; dit vorm ’n netwerk wat aan mekaar verbind is. Byna soos ’n komplekse toringhuis gevorm uit miljoene ou blokkies. As jy een uitruk, tuimel ander ineen en jy moet weer stadig begin herbou.

Die verandering in klimaat is reeds sigbaar en tasbaar vir ons. Aansienlike hoër temperature in verskeie wêrelddele, oorstromings, droogtes, storms en brande bedreig mense en ander lewe.

Bosbrande in Tasmanië. Foto: Matt Palmer, Unsplash, CC0

In ’n studie wat onlangs gepubliseer is in Nature Climate Change het kenners ondersoek ingestel na die effek van klimaatsverandering op oordraagbare patogene. Deur na 77 000 navorsingsartikels te kyk waarvan 90% ná 2000 gepubliseer is, is daar ’n onthutsende gevolgtrekking gemaak.

Klimaatsverandering het 218 oordraagbare siektes (58%) van dié wat gelys is op die Global Infectious Diseases and Epidemiology, vererger. Dié totaal vermeerder tot 277 indien nie-oordraagbare toestande, onder meer asma en insekbyte, bygetel word, wat ook vererger het.

Die oordraagbare siektes wat vererger het en mense meer kwesbaar maak, staan nie in isolasie nie, en die gebeure is nie eenmalig nie. Dit skep ’n kettingreaksie en is deel van wat in die omgewing plaasvind.

Byvoorbeeld, wanvoeding – weens ’n droogte – affekteer ’n mens se immuniteitstelsel se vermoë om ’n siekte te beveg. Tydens droogtes is die verminderde konsentrasie van voedingstowwe in gewasse problematies en andersins is gewasse wat blootgestel word aan te veel koolstofdioksied, nie optimaal nie. Dit lei weer tot wanvoeding en kwesbaarheid vir vele siektes.

Indien daar nie skoon water is tydens ’n droogte nie, ná ’n brand, ’n vloed of ’n orkaan, kan mense etlike aansteeklike siektes opdoen. Die mens se immuniteitstelsel kan nie aanpas by vinnige en groot veranderings in die temperatuur nie, hetsy koud of warm. Daarby is die gevolge van stres en die afskei van kortisol ’n afwaartse reguleerder van die inflammatoriese respons, wat jou nog meer vatbaar maak vir siekte.

Verlede jaar is 220 mense in Duitsland en België dood weens vloede. Modellering en historiese data het gewys mensgemaakte klimaatsverandering het die reënval se intensiteit met tussen 3% en 19% verhoog, relatief tot die pre-industriële klimaat wat 1,2°C laer as vandag s’n was.

In 2020 is een van die ergste Noord-Atlantiese orkaanseisoene beleef. Mensgemaakte klimaatsverandering het die uurlikse reënval met 10% verhoog, vergeleke met die pre-industriële-vlakke, volgens navorsing in Nature Communications. Die effek op die storms wat veroorsaak is deur menslike aktiwiteite, was tussen 8% en 11%.

Of dit te nat is of te droog is – soos groot dele van Europa vanjaar ervaar het – enige landbouer sal jou vertel dat dit ’n impak op voedselproduksie en uiteindelik die pryse het. Voedselsekuriteit is reeds in die weegskaal, veral in Afrika (en dit sluit Suid-Afrika in).

Die uitbreiding van ’n hoëdrukstelsel oor die Atlantiese Oseaan – die Hoë Azores – veroorsaak die droogste kondisies oor die Iberiese Skiereiland in die afgelope 1000 jaar, volgens navorsing gepubliseer in Nature Geoscience. In die tipiese natter wintermaande is ’n verskuiwing van die posisie van die Hoë Azores verantwoordelik vir westewinde aan sy suidekant. Dit vervoer die nattigheid na die Iberiese Skiereiland in die winter, maar dit het die afgelope dekades toenemend verminder.

Kenners weet dit het plaasgevind, omdat hulle die geochemiese veranderings kon sien in stalagmiete wat so ver terugstrek as die jaar 850. Die Hoë Azores het ’n al hoe groter area begin dek sedert 200 jaar gelede, die tyd toe kweekhuisgasse wat deur mense veroorsaak is, begin styg het.

Die ysgrond in Antarktika ontdooi. Dit is nou so warm daar, in plekke soos Siberië styg die temperatuur teen ’n fenomenale 1°C per dekade. Dié area stoor 1 700 miljard metrieke ton koolstof. Mensgemaakte verhitting sal ’n onbekende hoeveelheid van die koolstof in die atmosfeer vrylaat, wat die klimaat nog meer sal raak. Die metaan wat in die grond gestoor word, is selfs meer skadelik.

Buiten die feit dat die ontdooiing die infrastruktuur, soos geboue en treinspore, oor groot dele beïnvloed, is die plantegroei besig om te verander, veral meer struike en hoër bome kom al hoe verder Noord voor. Want die grond verander en daarmee saam alle lewe daarin en -op. Daar is ’n ommeswaai van die ekologie, en dit laat die deur oop vir indringerspesies.

In die Noordelike poolstreke het die dikste en oudste see-ys met 95% oor die afgelope 30 jaar verminder.

Wêreldwyd is die vrylating van koolstofdioksied deur veldbrande sowat 22% van al die fossielbrandstofvrylating. In die meeste gevalle kompenseer dit weer daarvoor nadat nuwe plantegroei voorkom. Dit is egter nie die geval indien daar brande voorkom in ontbossingsones of in moerasturf nie.

In 2019 en 2020 het die brande in Australië oor ’n area van sowat 74,000 km² versprei; dit is sowat 2,5 keer so groot soos België. Navorsing wys dat ’n groot deel van die koolstofdioksied wat vrygestel is, nie weer opgeëis kan word deur nuwe plantegroei nie. Die gevolg is dat dit sal bydra tot nog meer koolstofdioksied in die atmosfeer en op sy beurt promoveer dit weer brande. Dit is soos ’n bose sirkel.

Antarktika is ’n vasteland wat ’n reuse-invloed op die res van die aarde het. Dit is min of meer in die vorm van ’n skyf, buiten waar die Westelike Antarktiese Skiereiland uitstulp, en dit is hier waar dramatiese veranderings weens klimaatsveranderings waargeneem kan word.

Ysbanke is dagsome van die Antarktiese ysplaat, wat voorkom waar die ys oorhang vanaf die land en waar dit bo-op die oseaan dryf. Die ysbanke is honderde meters dik en tree op as beskermende buffers vir die vastelande, deur te keer dat die hele ysplaat die see in dryf. As dit gebeur, sal die seevlakke wêreldwyd dramaties styg.

Die atmosfeer wat warmer word, saam met die verhitting van die oseaan weens die klimaatskrisis, veroorsaak egter dat die ysbanke smelt. Dit kan nie meer voldoende die ysplate terughou nie. Die ys smelt van onder af soos dit deur strome om die vasteland gedra word.

Die twee grootste gletsers, Thwaites en die een op Pine-eiland, is besig om die afgelope 30 jaar vinniger te smelt as wat dit in die afgelope 5 000 jaar het. Die bewyse hiervan lê in die paleontologie.

Navorsers se tente op die Thwaites-gletser in Antarktika, besig om die afgelope 30 jaar vinniger te smelt as wat dit in die afgelope 5 000 jaar het. Foto: Kiya Riverman

Thwaites is ’n reus van 120 km in deursnee. Die afsnypunt waar ’n gletser nie meer op land is nie, maar eerder op die ysplaat drywend op die see, is die grondslaglyn. In die geval van Thwaites is die ys bo dié lyn 800 tot 1 200 m diep.

Die gletser is teen ’n berg wat onderwater is, sowat 50 km vanaf die kus. Die greep help om die ganse gletser in plek te hou en help dat dit nie gouer in die see ingly nie. Tog is die ysplaat besig om in stukke te breek en in die see in te gly.

Alles op aarde is wedersyds aan mekaar verbind. Selfs seewier en kelp wat onbenullig mag lyk, is die habitat en voedsel vir duisende organismes. Diere wat mense dalk nie geweet het onder druk verkeer nie, is kameelperde waarvan daar net 68 000 oor is, die papegaai, die koala, salms, seeskilpaaie, die papegaaiduiker (Puffins), die Afrika-pikkewyn waarvan daar minder as 15 000 broeipare oor is, walrusse. Daar is vele. Die klimaatskrisis affekteer reeds byna 11 000 spesies op die rooilys van bedreigde spesies.

Ons is nie verhewe bo die ekosisteem of aan die bo-punt van ’n piramide nie, ons is intrinsiek deel daarvan. Ons was nog altyd. Daardie prentjies in die ou biologieboeke wat ons bo-op die “voedingsleer” geplaas het soos ’n juweel, met die boodskap dat ons “heers oor die skepping”, sal nog ons einde beteken.

Ons is ten beste rentmeesters wat ons taak versaak. Dit moet ons erken. Al die bewyse is daar. Die klimaatskrisis is nie ’n probleem vir die volgende generasie in 2100 nie, kinders wat nou gebore word, sal dan leef. Wil ons ’n onleefbare woesterny aan hulle nalaat?

Ja, die aarde en sy sisteme kan herstel, net soos die miljoene jare wat dit geneem het om te ontwikkel danksy evolusie – sonder mense. Só lank kan dit duur om weer aan te pas.

Lees ook op LitNet Akademies:

Menseregte, die omgewing en omgewingskonstitusionalisme

Aantekening: Om globale omgewingsreg en -regulering in die antroposeen te herbedink

Oorgrens-biodiversiteitsregulering in die Antroposeen

Onderwys in die skaduwee van die Antroposeen. Kritiese posthumanistiese eksperimentering

LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing

’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse regsraamwerk met betrekking tot die omgewingsaspekte van breking in die Karoo

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Co-creating solutions at the Sustainability Institute

Adriaan van Dis schrijft een heuse klimaatroman

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top