Konstitusionele Hof beslis in AfriForum en Solidariteit se guns

  • 0

Die Konstitusionele Hof het die Suid-Afrikaanse regering ’n harde hou toegedien in die regering se pogings om diskriminasie op grond van ras te probeer regverdig.

Dit is hoe die AfriForum en Solidariteit Woensdag se uitspraak van die Konstitusionele Hof vertolk waartydens die wettigheid bevraagteken is om Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-SEB) as kriterium te gebruik toe daar tydens die Covid-tyd geld deur die regering bewillig is om die toerismebedryf te help.

Die organisasies sê dit is ’n belangrike oorwinning, aangesien die regering se voortslepende obsessie met ras en verteenwoordigendheid steeds een van die grootste hindernisse vir ’n florerende ekonomie is.

Solidariteit en AfriForum sê in ’n verklaring hulle het met die uitspraak daarin geslaag om die Departement van Toerisme se diskriminerende toerismefonds die finale nekslag toe te dien. Dit volg nadat dié departement geappelleer het teen die 2021-uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in Solidariteit en AfriForum se guns dat die gebruik van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) as kriterium vir hulpverlening uit die toerisme-ekwiteitsfonds onwettig is.

Die Konstitusionele Hof het Woensdag sy uitspraak gelewer in ’n aansoek om verlof tot appèl wat deur die Minister van Toerisme, die Departement van Toerisme en die direkteur-generaal van daardie departement teen AfriForum gebring is.

Die aansoek hou verband met ’n dispuut tussen die partye oor die minister en die departement se gebruik van B-SEB-seleksiekriteria in die keuse van klein, mikro- en mediumgrootte-ondernemings (KMMO's) wat by die toerismeverligting sou baat.

Die Konstitusionele Hof sê in ’n verduidelikende media-opsomming wat Woensdag op hulle webwerf geplaas is, AfriForum en Solidariteit het afsonderlik aansoeke in die Hooggeregshof gebring om die wettigheid en die grondwetlikheid van die gebruik van B-SEB-kriteria in die keuse van KMMO's om by die fonds te baat te betwis.

Kort na die verklaring van die ramptoestand na die uitbreek van COVID-19 in die land, wat besighede erg geraak het, het die minister ’n fonds gestig om KMMO's te help om die gevolge van die grendelstaat die hoof te bied. Die fonds is die Toerismehulpfonds genoem. Onder die kriteria wat die minister en die departement besluit het om te gebruik om besighede te kies wat by hierdie fonds sal baat, was B-SEB-kriteria.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die destydse minister van toerisme, het die ekwiteitsfonds in 2020 as ’n instelling bekendgestel wat lenings en toelae slegs aan ondernemings met swart eienaarskap van minstens 51% sou toestaan. Volgens Solidariteit en AfriForum is die toekenning van hulpverlening op grond van ras onredelik.

Die Konstitusionele Hof het dít beaam en het hierdie optrede van die departement onwettig verklaar.

“Die kriteria vir die fonds was doodeenvoudig rassisties. Die regering kan dit as transformasie probeer verbloem, maar hy het lankal sy ware kleure gewys. Dit is uiters laag om die skade wat die regering met sy onredelike COVID-19-inperkingsregulasies aan die toerismesektor aangerig het, uit te buit om boonop teen mense te diskrimineer. Suid-Afrikaanse burgers is moeg daarvoor om toe te kyk hoe die regering se rasse-ideologie die land se ekonomie lamlê. Hierdie uitspraak stuur ʼn belangrike boodskap aan die regering dat ras nie meer as ’n troefkaart bo alle ander belange kan dien nie,” verduidelik Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die uitspraak is ’n harde hou vir die Suid-Afrikaanse regering in sy stryd om sy “reg” om op grond van ras te kan diskrimineer te probeer beskerm. Volgens Solidariteit en AfriForum is dit ’n belangrike oorwinning, aangesien die regering se “voortslepende obsessie met ras” en verteenwoordigendheid na dié instellings se mening steeds een van die grootste hindernisse vir ’n florerende ekonomie is.

“Die uitspraak is ’n reuseoorwinning, maar die nalatenskap van die regering se verknogtheid aan ras bo alles anders is steeds sigbaar by tallose staatsinstellings, soos Eskom, en dit dra tot ’n groot mate by tot die huidige krisis in die land. Die uitspraak lê egter ’n sterk fondasie vir verdere gevegte en litigasie,” het Van der Bijl gesê.

“Ná meer as 100 jaar van rassediskriminerende beleid, wat tot in die 21ste eeu voortduur, is dit hoog tyd dat hierdie afskuwelike praktyk afgeskaf word en die gryp na strooihalms gestaak word om die voortsetting daarvan in die hede te probeer regverdig soos wat die regering in hierdie geval gepoog het,” het Van Zyl gesê.

Lees ook:

Openbare verontwaardiging oor sokkerborgskap

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top