Krotoa neem haar volwaardige plek op US-kampus in

  • 0

Die erkenning van die grond is deur ’n groep tradisionele leiers en genesers gedoen.

Die sypaadjie voor die Krotoa-gebou, Ryneveldstraat, Stellenbosch, was Saterdag die agtergrond vir ’n geskiedkundige seremonie en met die rook van veldmedisyne en krete deur genesers en Khoi-leiers is die ou Wilcocks-gebou amptelik herdoop en die reis na transformasie ’n ent verder gestap, skryf Maryke Roberts.

Die bekende skrywer en joernalis, Sylvia Vollenhoven (projekbestuurder in die US se afdeling Sosiale Impak en Transformasie), was die dag se gasvrou. By haar staan Pearl King, die weduwee van wyle leier, hoofman Karel King.

Die bekende skrywer en joernalis, Sylvia Vollenhoven (projekbestuurder in die US se afdeling Sosiale Impak en Transformasie), was die dag se gasvrou. Die RW Wilcocks-gebou is in 2021 herdoop na die Krotoa-gebou. Dit huisves die departemente van Geskiedenis en Sielkunde, die afdeling Navorsingsontwikkeling, US Internasionaal, die US Argief en die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie.

Marlene le Roux, die uitvoerende hoof van Kunstekaap, en Thembalethu Seyisi, skrywer van die boek, 21 Life Lessons @ 21, waarin hy 21 suksesvolle Suid-Afrikaners se lewenswaarhede vasgepen het vir sy 21ste verjaardag, ’n paar jaar gelede.

Die hernoeming van geboue vorm deel van ’n langtermyn visuele regstellingsproses op die US se kampusse in ’n poging om nie net sekere simbole te verwyder nie, maar ook om nuwe visuele simbole bekend te stel wat dui op ’n gedeelde geskiedenis, die diverse stories van Suid-Afrikaners, en openbare ruimtes wat vir almal verwelkomend is.

Die gevierde Khoekhoe-dansers van Namakwaland – die Garage-dansgeselskap van O’Kiep – en inboorling-kunstenaars van Australië, die Wulgurukaba Walkabouts-dansers, het saam met die digter en Eerste Nasies-aktivis, Diana Ferrus, sowel as musikant en bekroonde skrywer, Jolyn Phillips, gewerk.

Saterdag se program het ingesluit ’n seremonie deur tradisionele leiers, ’n dansvertoning getiteld A !Nau for Now: Crossing Oceans Inside, ’n samewerkingsprojek tussen Khoi-San-dansers van Namakwaland – die Garage-dansgeselskap van O’Kiep – en inboorling-kunstenaars van Australië, die Wulgurukaba Walkabouts-dansers, asook ’n uitstalling getiteld !Nau for Now: Crossing Oceans Inside, wat die US Museumruimte herverbeel as ’n plek van rituele. Die uitvoering van digkuns en musiek deur Diana Ferrus en Jolyn Phillips het Basil Appollis as regisseur gehad. Hy het ook ’n paar jaar gelede die toneelstuk, Krotoa – Eva van De Kaap, wat deur Sylvia Vollenhoven geskryf is, geregisseer.

Jolyn Phillips in die middel.

Die projek is in samewerking met Kunstekaap, die universiteite van Johannesburg en die Vrystaat en die Australiese hoë kommissaris gedoen.

Uit Australië

Sylvia het verduidelik die “!Nau” is die deurgang vir ’n vrou en ook ’n kulturele ritueel wat uitgevoer word, wanneer ’n mens, gemeenskap of nasie deur ’n tydperk van groot oorgang gaan. “Ons is so bevoorreg dat 350 jaar nadat Krotoa alleen en in groot pyn op Robbeneiland dood is, ons vandeesweek met ’n sterk groep vroue die !Nau vir Krotoa kon doen. Ons vier in 2024 350 jaar sedert haar dood.”

Ouma Lena Adolf van Vanrhynsdorp, ’n groot siener en leier, het die gebed gedoen. Sy was die voorafgaande week in konstante gebed en gesprek met Krotoa en het die gebed in Nama en gedeeltelik in Afrikaans gedoen. Sy het gesê Krotoa sluit nie een kind uit in haar seëninge nie. “Almal wat lewe in Suid-Afrika, is haar kinders.”

Marius Krediet, huidige leier van die Cochoqua-stam in Stellenbosch en Karel King se opvolger.

Marius Krediet, huidige leier van die Cochoqua-stam in Stellenbosch en Karel King se opvolger, wou hulde bring aan hoofman Timo !Ngonnēma, die vise-voorsitter van die Stellenbosch Cochoqua-stamraad, omdat hy en leier Karel King voor sy dood “baie jare aangekom het met die hernoemingsproses – nie net vir die RW Wilcocks-gebou nie, maar ook vir een van die vrouekoshuise”. Sada Ohms (Ons Huis) is vir laasgenoemde gekies.

Hoofman Timo !Ngonnēma, die vise-voorsitter van die Stellenbosch Cochoqua-stamraad, het saam met leier Karel King voor sy dood “baie jare aangekom [...] met die hernoemingsproses – nie net vir die RW Wilcocks-gebou nie, maar ook vir een van die vrouekoshuise”. Sada Ohms (Ons Huis) is vir laasgenoemde gekies.

Leier Timo het vir een minuut stilte vir wyle Karel King gevra, wat die fondament gelê het vir die dag se vieringe. Hy het almal verwelkom op hul tuisgrond en ’n handeklap gevra vir wyle Karel King se vrou, Pearl.

“Ek is deur die Khoi-Khoi-leiers van Stellenbosch gevra om nie vandag enigiemand in die skande te steek nie, maar ek kan nie stilbly nie. Ek het die naam van !Ngonnēma – een van die vroeër leiers – se naam aangeneem en hy sou nie stilbly nie. Karel King is nie behoorlik gekonsulteer oor vandag se programvieringe nie. Ons voel beledig. Die universiteit en organiseerders het ’n enorme fout gemaak met die reël van hierdie geleentheid. Ons het rondetafelbesprekings nodig om hierdie kwessies op te los. Dis so maklik om polities-korrek te wees, en kultureel-beledigend. Ons hoop dit gebeur nie in die toekoms weer nie.

“Ek vertrou dat ons voortaan ’n jaarlikse Karel King-lesing in hierdie gebou sal hê.”

Leier Katherine Arendse van die Cochoqua-stamraad in Mamre het die stamleier, kroonprins Charl Damon, verteenwoordig en ook in Afrikaans gepraat, want “dis my oorlewingstaal – omdat my eie kultuur weggeneem is – en dis die taal van Krotoa. Baie mense noem Krotoa die hoof van Afrikaans, wat dan ook beteken sy is nie net ons nasiemoeder nie, maar ook die nasiemoeder vir die sogenaamde Afrikaners.”

Wyle hoofman Karel King, wat die baanbrekerswerk vir vandag se vieringe gedoen het, moes dikwels in die reën uit Eersterivier stap vir vergaderings met die universiteit, want daar was nie geld nie; daar is nooit geld wanneer dit kom by Khoi-kulturele sake nie. Maar hy het dit uit die liefde vir sy voorvaders gedoen; min mense weet dit. Ek is egter bly dat ons vandag bou op sy erfenis.

Katherine het gesê: Stellenbosch en die universiteit val in die geografiese gebied van die Klapmuts Koninkryk en daarom moet erkenning gegee word aan die outentieke, behoorlik-aangestelde leiers van daardie oeroue stam. In dié verband het die universiteit dalk politieke protokol gevolg, maar beslis nie kulturele protokol nie.

“Baie van die protokol is – wetend of onwetend – vandag ook nie gevolg nie, maar dis ’n leerproses vir almal.”

Katherine het gesê Krotoa is in ’n manswêreld ingedwing, asook in ’n huwelik met ’n wit man veel ouer as sy. “Vandag word die wêreld steeds deur mans gedomineer en die jong vroue wat wel die merk maak in die korporatiewe wêreld, sal altyd minagting, geïntimideerd en gemarginaliseer bly. Dis ook hartseer en kommerwekkend om te sien hoeveel ouer vroue in die vermaaklikheid en baie ander bane van die samelewing, wat reeds op hoë vlak uitstyg, nie die hande neem van die jonger Krotoas nie. Dis ons nasiemoeders en hulle kyk nie altyd na die jonger geslag nie. In hierdie gehoor is daar vandag sulke vroue wat nie na die jonger vroue kyk nie, julle jaag net die materiële na en kyk nie na die kinders van môre nie.”

Leslie van Rooi (senior direkteur: Sosiale Impak en Transformasie) het in sy verwelkoming aan gaste vertel die naamsveranderinge kom al vir jare aan.

“Leier hoofman Karel King, van die Cochoqua-stamraad in Stellenbosch, het met sy gemeenskap gesels om te besluit of dit wys is om ’n gebou of ruimte by hierdie instelling na Krotoa te vernoem – veral ’n gebou wat RW Wilcocks genoem is en ’n gebou met ’n spesifieke geskiedenis. Krotoa was een van die naamvoorstelle deur die plaaslike stamme. Hulle het ingestem dat Krotoa inderdaad gepas is, maar hulle het ’n verdere versoek gehad: Die hernoemingseremonie moet deur die tradisionele leiers bepaal word. Covid en die sterfte van die leier het ongelukkig dié proses vertraag.

“Verdere vereistes was dat die storie van Krotoa gedeel moet word en haar storie is nou in die voorportaal uitgestal en die verskeie tradisionele plante is ook om die geboue geplant. En dit wat ons eet vandag, sal ook verbind wees aan die tradisionele kosse.

“Vandag se seremonie is nie ’n universiteitseremonie nie, dis om Krotoa te eer.”

Erkenning van die grond

Die erkenning van die grond is deur ’n groep tradisionele leiers en genesers gedoen. Danab Bradley van Sitters, tradisionele leier en Khoekhoe-taalaktivis, met die ritmiese klop van tromme, rook, handeklap, sing en die klank van kalbas en tradisionele horings het die seremonie voltrek.

“Ons begin die verkeerde goed van die verlede reg te stel, om te heel wat siek was, ons begin ’n simboliese nuwe reis. Ons seën hierdie plek met die heilige kruie wat ons vir julle gaan pluk het op die berg, Tafelberg, maar ons noem dit Hoerikwaggo – die berg wat uit die see opgestaan het. In die Khoekhoe-taal is daar baie woorde wat julle ken – julle gebruik dit elke dag, daar is so baie op jul tonge, in Afrikaans of Xhosa, daar is Khoekhoe oral, want die eerste mense se woorde is in julle tale. Niemand kan dit misken nie. Woorde soos ‘aitsa’, ‘eina’, ‘hoeka’, ‘abba’ is maar enkeles, maar dis oral.

’n Stille getuie van die dag se gebeure.

“Ons doen die oggendgebed nou hier. Ons voormense is almal hier by ons. Ons het ’n groot leier – Karel King – verloor. Sê die woorde in Nama saam met my.

“Skepper, ons sê dankie vir die bewaring deur die nag en ons vra asseblief tog (‘toxoba’ in die Khoi-Khoi) vir die beskerming gedurende die dag.

“Die kruie is heilig, dit maak gesond. Die rook maak julle gesond,” het hy gesê.

Vroue in die omstanders – waarvan ouma Lena eerste – kon toe van die kruietee drink voor dit vir enigeen beskikbaar was.

Daarna het almal na die US Kunsmuseum verder in die straat gestap.

Die Australiese hoë kommissaris, Tegan Brink, saam met Leslie van Rooi (senior direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die US).

Die Australiese hoë kommissaris, Tegan Brink, se familie aan haar ma se kant kom van Suid-Afrika. Haar ma het in die laat sestigs aan die US gestudeer in ’n tyd toe vroue nie langbroeke kon dra nie en sekere boeke verban is. Sy het in die sewentigs na Australië verhuis. Tegan het haar toespraak gedeeltelik in Afrikaans gelewer.

“Die Eerste Nasies se storie maak vir ons saak. Die Australiese regering is verbind tot die erkenning en konsultasiegesprekke met die Eerste Nasies Australië en ek is opgewonde dat hierdie samewerking tussen ons twee lande ons reeds noue bande net verder sal versterk, wat berus op verskeie gedeelde bates en belangstellings van mynwese en sport, tot wyn en braai.

“Maar dit sluit ook diepgaande historiese foute, verlies van grond, ’n ontkoppeling van kultuur, maar ook oorlewing en veerkragtigheid en rentmeesterskap van ’n natuurlike omgewing in. My werk as hoë kommissaris is om te vertel en te verken wie ons is, wat ons in die wêreld wil bereik en daarom is dit dus noodsaaklik dat Australië se volle identiteit verstaan word. Ons is ’n moderne, multi-kulturele land met ’n ryk geskiedenis van ons Eerste Nasies-mense.

“Hierdie samewerking tussen ons lande en optrede van die Wulgurukaba Walkabouts-dansers en die Garage-dansgeselskap van O’Kiep is waarlik spesiaal.”

Marlene le Roux, die uitvoerende hoof van Kunstekaap, het gesê dis ’n heilige dag op soveel vlakke, jy kan die gees in jou eie lyf voel roer. “Dit is ons Krotoa, 35 jaar, eeue oor, wat ons vandag hier vier en sê sy is mens. Die verlede kan nie uitgewis word nie, maar dankie aan elkeen wat deel is van hierdie reis. Dankie aan die US vir die gebou, wat nie net ’n gebou gaan wees nie, maar deel van ’n gesprek gaan wees, want dis nie net wat ons sê nie, maar ook wat ons doen. Vandag is die begin van ’n nuwe reis, nog ’n reis. Die pad van grond moet geloop word, ’n pad van geregtigheid en identiteit vir alle stamme.”

Sy het gesê sy voel vandag vir Krotoa in haar lyf – hoe baie sy moes verander het, bloot om aan te pas. Sy haal Pumla Gobodo-Madikizela aan wat gesê het: “‘Vergifnis’ is die verkeerde woord vir dit wat ontvou wanneer ’n slagoffer teenoor haar oortreder staan. Wanneer ons mekaar se pyn aanskou en erken, dra ons ’n verantwoordelikheid wat omgee en sorg insluit. Die proses is empatiese herstel wat na al die fasette van die helingsprosesse wys.”

Wim de Villiers, US-rektor en vise-kanselier – die Krotoa-reis en visuele regstelling by die US – aan die woord.

Wim de Villiers, US-rektor en vise-kanselier – die Krotoa-reis en visuele regstelling by die US – het gesê hierdie seremonie is nie sy seremonie nie, dis jul seremonie. Dis ’n wonderlike voorreg dat ons mag deel wees van hierdie diep-ontroerende seremonie. As gebore Stellenbosser is ek vandag gekonfronteer met dinge waarvan ek nie geweet het nie en wat ek so bly is ek wel van kan leer. En dis wat ’n universiteit is: ’n Plek waar ons kan leer.

“En met hierdie herbenoeming is daar foute gemaak, want dit is ook ’n leerproses, maar dis ’n opregte poging van die universiteit se kant af. Met ons eeufeesvieringe in 2018 het die universiteit ’n restitusieverklaring aanvaar wat sy onlosmaaklike verbintenis met generasies verlede, hede en toekoms erken, asook sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede. Hieroor het ons diep spyt. Ons vra onvoorwaardelik om verskoning aan die gemeenskappe en individue wat uitgesluit is van die historiese voorregte wat die US geniet het, en ons eer die kritiese Matie-stemme van daardie tyd wat nie stilgemaak sou word nie. In verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte verbind die US hom onvoorwaardelik tot die ideaal van ’n inklusiewe wêreldklas-universiteit in en vir Afrika.

“Ons vra sonder voorbehoud om verskoning vir gemeenskappe en individue wat uitgesluit was van die historiese voorregte wat die US geniet het, en ons is in verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte.

“Ons is op ’n voortdurende transformasiereis. Die naam Krotoa is nie net verbind tot een vrou nie, maar van ’n hele onderverteenwoordigde groep mense inheems aan Suid-Afrika en erken die erfenis van die Eerste Nasie. Dankie dat julle vandag ons lewe met hierdie seremonie verryk het.

“Die enigste manier vorentoe, is saam.”

Almal is getuies van die geskiedkundige gebeurtenis.

Die dag is afgesluit met veldkos en ’n inheemse spyskaart deur Shihaam Domingo.

Wie was Krotoa

Krotoa !Goa /Gõas “Eva” van Meerhof van die ||Ammaqua- en Goringhaiqua-mense.

Benewens die hernoeming van die gebou, was die vereistes dat die storie van Krotoa gedeel moet word en haar storie is nou in die voorportaal van die Krotoa-gebou uitgestal.

Uit die programboekie vir die dag kom dié agtergrond oor Krotoa !Goa /Gõas “Eva” van Meerhof, met addisionele navorsing deur Patric Mellet.

Sy was van die ||Ammaqua en Goringhaiqua en het gewoon in ’n tyd toe die sprankelende waters van die Camissa-rivier vrylik uitgevloei het van Hoerikwaggo na die baai van ||Hui !Gaeb… Van Tafelberg tot by die see. Sy is omstreeks 1642 gebore. Haar oom Autshumao was ’n Goab of leier van die ||Ammaqua. Hy het ’n dinamiese besigheid bedryf wat verbygaande skepe van kos en drank voorsien het.

Die omstandighede waaronder Krotoa haar oom op 10-jarige ouderdom verlaat het en by die huishouding van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie se VOC-koloniale bevelvoerder, Jan van Riebeeck, as kinderbediende aangesluit het, word sterk betwis.

Maar dit is duidelik uit die oorvloedige verwysings na haar in die joernale en briewe van dié bevelvoerder (vir sommige berug en vir ander ’n volksheld), sowel as sy opvolger, Zacharias Wagenaer, dat sy in die 17de eeu ’n sleutelfiguur aan die Kaap was. Ons weet uit die argiewe dat sy benewens haar eie verskeie tale gepraat het, waaronder Nederlands, Afrikaans, Portugees en selfs ’n bietjie Frans, en as tolk tussen haar mense en die Nederlandse setlaars opgetree het.

Krotoa het op ’n beskermende strategie besluit om in die vreemde kerk gedoop te word en met die chirurg, Pieter van Meerhof (ook bekend as die Deen, Peter Havgardt), te trou. Die Nederlanders het haar naam verander na Eva. Sy het die eerste plaaslike persoon geword wat met ’n besetter getrou het en hul geloof aangeneem het. Ten spyte van haar bekering en huwelik is sy deur die Nederlandse setlaars verstoot nadat Van Riebeeck vertrek het en haar man vermoor is.

Byna 350 jaar nadat sy oorlede is, pryk Krotoa se naam nou op universiteitsborde.

Krotoa sterf alleen op 29 Julie in 1674 op 32-jarige ouderdom op Robbeneiland – vyf jaar nadat sy daarheen verban is, as ’n alkoholis gebrandmerk. Haar nageslag kan opgespoor word deur drie van haar kinders Jacobus, Pieternella en Salomon van Meerhof. Sy het ook twee ander kinders, Jeronimus en Anthonij, gehad. Daar is nie veel bekend oor Jeronimus nie en die enigste rekords oor Anthonij toon dat hy alleen, ongetroud en kinderloos was toe hy in 1713 tydens die pokke-epidemie gesterf het.

Die beeld wat ons vandag van Krotoa ken, is die kunstenaar Dieuwke-Jean Linee se herverbeelding van Krotoa, want daar is geen akkurate beeld van haar nie.

Meer oor die dansers

Kunstenaars van Australië het 12 000 km gevlieg om harte met hul eweknieë in Suid-Afrika te verbind. In die proses het hulle ’n reis aangepak wat hul gemeenskappe verbonde aan die Eerste Nasies se geskiedenis teenwoordig.

Die gevierde Khoekhoe-dansers van Namakwaland – die Garage-dansgeselskap van O’Kiep – en inboorling-kunstenaars van Australië, die Wulgurukaba Walkabouts-dansers, het saam met die digter en Eerste Nasies-aktivis, Diana Ferrus, sowel as musikant en bekroonde skrywer, Jolyn Phillips, gewerk.

Garage word gelei deur die legendariese John Linden en Alfred Hinkel. Wulgurukaba (Kano-mense met hul heilige simbool van die Gabul-matslang) word gelei deur Ashley Saltner Jnr en is die wenners van die 2022-nasionale Performing Arts Connections Australia Impact Award vir ’n kruis-kulturele samewerkende prestasieprojek.

Gurambilbarra in die noorde van Australië (tradisionele lande van die Bindal- en Wulgurukaba-mense) is bekend as die tuiste van die groot inheemse leier, Eddie Koiki Mabo. Mabo is bekend daarvoor dat hy hom vir grondregte beywer en die koloniale reg omverwerp. In die besluit (in die volksmond bekend as “Mabo”) het die Australiese hooggeregshof ten gunste van Mabo geskik, wat amptelik die regte van Aboriginal- en Torres Strait Islander-mense erken om die grond te gebruik en te besit waarop hulle families vir millennia geleef het.

Een van Eddie Mabo se kleinkinders, William Koiki Mabo, dans nou saam met die Wulgurukaba Walkabouts-dansers.

Meer oor die uitstalling in die US Museum:

Epistemiese foute laat dieper letsels as fisiese besering. Ons gaan ons daaglikse gang onbewus van die wonde wat deur eeue se valse getuienis en vermiste geskiedenis veroorsaak is.

’n Uitstalling getiteld !Nau for Now: Crossing Oceans Inside, wat die US Museumruimte herverbeel as ’n plek van rituele, word tans vertoon.

Die Eerste Nasies en dié ná hulle is getraumatiseerd deur kennisstelsels wat verdwyn het. Die reuse-gaping wat die fisiese slagtings gelaat het, word gevolg deur die pynlike stilte van intellektuele uitwissing vir Suid-Afrika se Eerste Nasies. Die !Nau for Now: Crossing Oceans Inside-uitstalling is ’n daad van terugeis.

Carine Zaayman – ’n direkte afstammeling van Krotoa – en ’n bekende kunstenaar en Lukretia Booysen, stigter van die Khoena Kunsinstituut, is die kurators.

Die uitstalling is ’n versameling van ’n wye reeks bydraers wat onder meer opvoerings, installasies, teks, kunswerke en oudiovisuele bydraes insluit, om ’n kollektiewe !Nau aan te pak. Hieronder is Diana Ferrus, ’n digter, Dieuwke-Jean Linee, ’n beeldende kunstenaar, Jolyn Phillips, ’n musikant en skrywer, Jimi Matthews, ’n fotograaf, Sylvia Vollenhoven, ’n skrywer en filmmaker en ’n groep jong mense wat aan kreatiewe werkswinkels deelgeneem het nadat hulle die toneelstuk, Krotoa – Eva van De Kaap, gesien het. Die toneelstuk is deur Sylvia geskryf, regie deur Basil Appollis, en het vir Bianca Flanders en Geon Nel in die rolverdeling en musiek deur Frazer Barry, Jef Hofmeister en Riku Lätti.

Ons voorouers het deur die !Gam≠ui of volksmoord geleef. Die gruwels is nou amper vergete. Maar die pyn van !Gam≠ui leef voort in 21ste eeuse gemeenskappe wat uitmekaargeskeur is deur misdaad, korrupsie, geweld, dwelmverslawing en misbruik. Dit is ’n trauma wat epistemiese regstelling verg. Die werk in hierdie uitstalling is ’n stap in dié rigting.

Dis heel gepas dat die universiteit – gegewe sy geskiedenis – die primêre plek vir hierdie uitstalling is.

Die uitstalling is ’n meesleurende ervaring. Jy word aangemoedig om iets van jouself in die ruimte agter te laat as ’n simboliese erkenning van hierdie eer van Krotoa en almal wat van hul geskiedenis, kultuur en identiteit beroof is. Veral vroue wat die geleentheid geweier is om rigting te vind in die moderne maalstroom van die lewe, met antieke gebruike nog in plek, sal hier ’n sielvolle ervaring hê.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

The renaming of the Krotoa Building at the University of Stellenbosch and “A !Nau for now: crossing oceans inside”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top