Kruis en dwars in Kruisrivier

  • 0

Daar is ’n vallei en hoefystergrondpad buite Calitzdorp in die Klein Karoo waar jy wens die wêreld wil van jou vergeet en jy vir ewig kan vertoef. ’n Besoek aan die mooites om Red Mountain Ridge plaasverblyf-sal jou ook aangryp.

Die herfssonnetjie vul die motor se kajuit so saam met die meditatiewe musiek wat deur die foon oor die luidsprekers kom. Weerskante van die motor flits die ongewoon-groen-vir-hierdie-tyd-van-die-jaar Karoo verby. Dit sal sekerlik enige kunstenaar na sy kwas en palet laat gryp, want die skaduwees wat klein bossies gooi, die interessante rotsformasies en verskillende kleure klip smeek om op skilderdoek vasgevang te word.

Daar is ’n vallei en hoefystergrondpad buite Calitzdorp in die Klein Karoo waar jy wens die wêreld wil van jou vergeet en jy vir ewig kan vertoef. ’n Besoek aan die mooites om Red Mountain Ridge plaasverblyf-sal jou ook aangryp.

Tussen Oudtshoorn en Calitzdorp staan die eerste bordjie vir Kruisrivier. Ampie Rossouw, bestuurder van Red Mountain Ridge Karoo Oasis & Guest Farm, se aanwysings lees dat ons die eerste teken moet verbyry en by die tweede een regs moet afdraai. “Dis nie meer as 4,5 km grondpad nie, dan sit Red Mountain aan die linkerkant van die pad.”

Maar wat hy nie in die nota tik nie, is dat jy ’n hele paar keer op dié kort stukkie grondpad gaan aftrek vir foto’s, want niks kan jou voorberei vir die natuurskouspel wat op jou wag as jy op die kruin van die heuweltjie staan nie. Dit lyk waarlik of ’n kunstenaar – of ’n hele groep – hier ingevaar het en die rantjies geverf het. Die kliprante wat in ronde, bonkige, onnet hopies oor die landskap gestrooi lê, is skakerings van rooi, amper neongroen, grys, bruin, donkergroen en geel. My geliefde het opgelees voor ons gekom het: Dis die Enon-formasies wat eie aan die Wes- en Oos-Kaap is en deur die erosie van die Gondwana-opbreek van die vasteland voorgekom het.

.....
Dis ’n landskap wat beleef wil word, want sodra die enjin stil is, voel jy die ligte briesie in jou hare, hoor jy die voëltjies in die bome, en dan kom die lieflike reuk van die Karoo in jou neusgate nesskop.
Dit voel soos ’n tuiskoms van een of ander aard, of jy nou ’n kind van hierdie wêreld is of nie.
.....

Die vaal grondpad wat mooi in die toneel inkronkel, laat ons inderdaad ’n paar maal stop vir foto’s, maar dis een van daardie tonele wat hom net nie op ’n kameralens laat vasvang nie. Dis ’n landskap wat beleef wil word, want sodra die enjin stil is, voel jy die ligte briesie in jou hare, hoor jy die voëltjies in die bome, en dan kom die lieflike reuk van die Karoo in jou neusgate nesskop.

Dit voel soos ’n tuiskoms van een of ander aard, of jy nou ’n kind van hierdie wêreld is of nie.

Die plaasakkommodasie is alles so gebou dat jy ongerepte uitsigte oor daardie selfde rantjies het. 

Aan die voete van die heuweltjies loop ’n smal riviertjie, en dan is dit ’n klein blokkie wingerd, ’n ry bome en ’n laventelveld voor jou deur.

Dis egter die reusegrasperk wat my vandat ons begin afpak, koggel. Ek kyk die sagte grasheuwel voor ons kamer van alle kante en besluit om stadig teen die skuinste af te rol. Soos toe ek ‘n kind was. Daardie geen-haas-want-jy-gaan-uitmis-tipe rol. Jy verpoos met elke halfrondte van jou lyf. Die gras is dik en sag en ek bly lê met die reuk van gekneuste gras en klam grond in my neus. Ek kyk na die wolkies wat bo verby dryf en oortuig my geliefde om saam in die sonnetjie te kom lê en te droom en te wees.

Red Mountain Ridge Karoo Oasis & Guest Farm is pure plaasbederf met verskeie groot kamers met hul eie kaggel en klein kombuisie en ’n gemeenskaplike swembad en braaigedeelte. Jy kan fietsry, swem, stap of net voor jou huisie ontspan.

Die lang sit hierheen het ons al twee lus gemaak vir stap en ons gaan verken die eiendom. Daar is sitrusbome in een plek, op pad na ’n dam waar ek aanhoudend my foon wil uithaal en foto’s neem, maar myself tot kalmte maan om in die oomblik te wees.

Ek begin die voorbereidings vir ons braai, sit soetpatats in foelie, maak braaibroodjies en ’n slaai en ons sit op ons stoepie met ’n gin en tonic.

Teen sononder gaan stap ek in die laventelveld en laat die reuk met ’n streling van my hand oor die honderde blommetjies vry. Ek pluk twee klein bossies om voor ons bed te sit, vir goeie slaap, hoewel ek vermoed Moeder Karoo sal sommer op haar eie daarvoor sorg.

Drie dae van hierdie afskakel maak mens weer mens. Jy wens net jy kon vir altyd vertoef.

Die doodse stilte van die plaas word amper tasbaar, toe beurtkrag die plaas in donkerte hul. Ons pak die vuur, skink wyn van Karusa buite Oudtshoorn en gee ons oor aan die geluide van die nag; die sterre wat een vir een teen die gitswart hemel verskyn en die lig van die vuur op ons gesigte.

Toe ons later na ons huisie terugstap met ons Karootjops en volstruiswors om daar op ons stoepie by kerslig te gaan eet, vang ’n beweging op die reusegrasperk my oog. Dis ’n uil wat in die maanlig op die grasperk goggas jag. Hy bons op die sagte gras asof hy ‘n klein trampolien- of matrasvere onder sy pote het. Hy herinner aan ’n effe lomp peuter wie se aandag maklik afgetrek word as hy iets gewaar.

.....
Teen sononder gaan stap ek in die laventelveld en laat die reuk met ’n streling van my hand oor die honderde blommetjies vry. Ek pluk twee klein bossies om voor ons bed te sit, vir goeie slaap, hoewel ek vermoed Moeder Karoo sal sommer op haar eie daarvoor sorg.
.....

Met daardie vredigheid in ons harte klim ons in die bed.

Vroegoggend speel die Natuur kunstenaar teen die hemele nog lank voor die son opkom, en my geliefde gaan verken die omgewing te fiets terwyl ek in die bed sit en lees. ’n Lekker vinnige stap en warm stort later en ons is saam-saam in die gemeenskaplike kombuis vir moerkoffie en beskuit. Ons sit kruisbeen op die grasperk en kyk hoe die plaas ontwaak. In die verte is daar kindergelag en ons besluit om die grondpad wat al die pad van die teerpad waarop ons die vorige dag gekom het, tot in Calitzdorp te ry.

Die grondpad loop in ’n hoefystervorm en spoeg jou duskant Calitzdorp uit.

Soos ons ry, kry ons ’n kykie in wat voel soos ’n verlore tyd, toe dinge rustiger en minder gekompliseerd was. Net soos jy dink jy is nou alleen in die klowe, doem ’n tabakstoor langs die enkelbaangrondpad op.

Van ons “uitkykpunt” op die grondpad wat soms hoog bo die vallei loop, sien ons tabakblare wat op ’n sleepwa gepak word, en skape en bokke wat langsaam aangejaag word deur ’n skaapwagter wat geen haas het nie. Daar is veldblomme langs die pad, vetplante en spekbome wat hoog teen kranse uitklim, en teen die blou lug draai daar af en toe ’n roofvoël.

Ons kry beeste in die pad. ’n Man met ’n rooi vlag loop vooruit. Hy roep “Kom, kom, kom” sonder drif of haas. Die loomte in sy kuite sit ook in hul lui swaaiboude. Twee mans dek die agterhoede en oral lê vars hope beesmis in die pad.

My pa, nou al verby 93, het altyd vertel hoe hulle as kinders in die Depressiejare in die winter op pad skool toe van vars hoop beesmis tot vars hoop beesmis geloop het, omdat dit warmer as hul verkluimde voete was. Ek sien al die prentjie!

As jy stop en ruik en luister, is jy eers onseker of dit ’n kabbelende rivier is of die windjie wat in die plataanbome se blare dans. Op ’n dam neffens die pad gly geelbekeendjies geruisloos oor die spieëlgladde water, en die groot V-patrone is al teken van hul kom en gaan. Om die volgende draai ruik jy die uie voor jy die netjiese rye sien. ’n Bont lappieskombers wapper in die verte in die ligte briesie. 

En dan, uit die niet, verskyn ’n tabakstoor of verwerk daar mense tabakblare.

’n Karoospekvretertjie sit op die droë blom van ’n aalwyn wat meer as twee meter hoog teen die blou hemeltroon. Sy vlerkies gaan oop en toe en laat dit lyk of hy homself soos 'n kinderspeelding opwen om op te styg.

In ’n ou boek wat ons iewers langs die pad op ons reise opgegrawe het, het ek eenmaal gelees die Olifantsrivier, wat hier in die vallei loop, het sy oorsprong in die Traka- en Kalkwalriviere, noord van die Swartberg, en word die Olifantsrivier nadat dit deur die Toorwaterpoort vloei en dan deur Oudtshoorn om by die Gamkarivier aan te sluit om die Gouritsrivier te vorm, wat by Gouritsmond in die see verdwyn. Baie name, baie dinge, mor my geliefde so onderlangs.

Ons gaan by ou plaashuise verby en een hiervan is die opstal van Kruisrivier Gasteplaas. Op hul webtuiste lees ek: “De Kruys Rivier voor aan de Cango, geleegen over de Oliphantsrivier” is in Januarie 1759 in die naam van Johannes Strydom geregistreer. “Dit was die eerste maal wat die bekende ‘Cango’ in enige geskrewe dokumente gebruik is, aldus Hopkins HC, Nederduits Gereformeerde Kerk, Calitzdorp, 1873–1973.” As jy op die kaart kyk, is die Kangogrotte met die agterpad langs ’n rapsie meer as 40 km weg.

Weer daardie rivierkruisery wat die omgewing sy naam besorg het, dink ek hardop.

.....
By Die Grothuis is ’n bordjie dat jy versigtig moet wees vir katte wat die pad kruis.
.....

By Die Grothuis is ’n bordjie dat jy versigtig moet wees vir katte wat die pad kruis.

Daar is verskeie kunsateljees, soos Kraaldoring Gallery Studio en Kruisrivier Gallery, Roger Young se handgemaakte meubels, houtkerfwerk en fotografie onderweg, vriendelike hoedjie-lig-groete van locals en hier en daar ’n hond wat verwoed blaf, maar as jy nader stap om sy kop te vryf, tog stertswaaiend die aandag verwelkom. Oral op draaie in die pad is daar peperbome met tekens van ’n klein vuurtjie en ek het iewers gehoor dis mense wat soggens in die vroegkoue wag vir geleenthede wat ’n paar vlammetjies het om hul verkluimde hande en voete warm te maak voor hul verder reis.

Daar is verskeie kunsgalerye onderweg.

Hier in hierdie mooie klowe maak Lizel von Wielligh (@the_lizels op Instagram) tekstielkunswerke wat jou asem wegslaan. ’n Entjie verder is ’n reuseskuur neffens die pad. Dis die potblou krokodil met die woorde “Art” en “Gallery” voor en agter sy pote wat ons laat briek aanslaan.

Hier sien ons verskeie plaaslike kunstenaars se werke, waaronder Lizel se indrukwekkende materiaalproteas en aalwyne in donkerblou lap.

By ’n ander gebou op nog ’n draai word daar gewoel en gewerskaf en ons hoor by Erika Calitz sy maak binnekort ’n restaurant, AloeAloe, daar oop. Ons beloof om terug te kom.

Nie ver daarvandaan nie pluk twee werkers swart vet olywe so groot soos druiwekorrels en sit dit in gevlegte mandjies.

Ons bestemming vir die dag is wynproe by Peter en Yvonne Bayly van Peter Bayly Wines. Sy een-hektaar Touriga Nacional, Souzao en Tinta Barroca is sekerlik een van die skilderagtigste wingerde in die wêreld. Die Swartberge is soos reuse-arms wat die groenigheid koester en teen die klimaat se aanslae beskerm. Hy maak net drie wyne: Peter Bayly 111, ’n versnit van die drie kultivars op sy plaas; Peter Bayly Cape White Port N/V van chenin blanc-druiwe, en die Peter Bayly Cape Vintage Port 2014, ook van die drie Portugese kultivars op sy plaas.

Vanaand drink ons sy rooiwyn met lekkertes uit die omgewing wat oor die kole sing.

Drie dae van hierdie afskakel maak mens weer mens. Jy wens net jy kon vir altyd vertoef.

Die Swartberge is soos reuse-arms wat die groenigheid koester en teen die klimaat se aanslae beskerm.

Doendinge in die omgewing:

  • Besoek die Kangogrotte buite Oudtshoorn, waar die Erfenistoer R170 (R120 vir kinders) kos en elke uur op die uur vertrek en 60 minute duur. Dis ’n maklike stap deur die eerste ses groot sale en ’n paar trappies na die Afrikadrom-saal. Meer inligting oor die grotte en wat jy alles kan sien en doen, by www.cango-caves.co.za.  
  • Calitzdorp en Oudtshoorn is katspoegies weg van Kruisrivier en hulle lê midde-in die langste wynroete in die wêreld, die Klein Karoo Wynroete. Die omgewing is bekend vir sy lekker portstyl- en Portugese tafelwyne en die meeste wynkelders het lekker eetplekkies waar mens kan aandoen. Besoek www.kleinkaroowines.co.za vir al die wynplase se besonderhede.
  • Bespreek jou verblyf by Red Mountain Ridge by Ampie Rossouw by 083 448 5305.

Foto’s: Clifford Roberts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top