Kunstenaar omskep minibustaxi in kunswerk

  • 0

Een van Suid-Afrika se mees omstrede vervoermiddels, die veelbesproke minibustaxi, is deur ’n Kaapse kunstenaar in ’n kunswerk omskep wat behoorlik die tonge longe los het in die Moederstad.

Thania Petersen, wie se kunswerke reeds geruime tyd internasionale aandag trek, van Nederland tot in die VSA en Brasilië, het met haar jongste skepping een van die dikwels gehate minibustaxi’s in ’n kunswerk omskep wat mense se asems wegslaan. Petersen is tans ’n inwonende kunstenaar van die Zeitz-museum van kontemporêre kuns in Afrika (MOCAA), volgens Netwerk24.

Petersen se minibuskunswerk het die afgelope week in verskeie Suid-Afrikaanse koerante gepronk. Die nuusagentskap IOL berig sy het saamgespan met die taxi-eienaars Ziyaad en Fatima Dyason om die algemene negatiewe persepsie van minibustaxi’s te verander en hulle openbare vervoermiddel te omskep in ’n bewegende kunswerk op wiele. 

Die inisiatief is deel van Infecting the City se openbare kunsfees wat tans in Kaapstad plaasvind. Die taxiprojek is volgens Petersen ’n openbare kunsinisiatief om kuns toeganklik te maak vir mense wat nie die voorreg het om veel daarvan in hulle leeftyd te ervaar nie, indien enigsins.

Petersen sê op Instagram sy loop oor van opgewondenheid om haar projek met haar volgelinge te deel. “Nie almal het die voorreg om ’n dag af te neem, galerye te besoek, teater toe te gaan, filmfeeste by te woon of sommer net kuns in die algemeen te geniet nie.”

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Thania (@thaniapetersen)

Sy sê die meeste mense in Suid-Afrika van kleur kan nie bekostig om hulle families vir ’n dag na ’n museum te neem vir ’n uitstappie of om uitstallings of kunsoptredes te geniet nie.

Die ruimtes waar kuns uitgestal word, is volgens haar dikwels ook intimiderend. “Ek is ontsettend gelukkig om my werk in van die wêreld se beste en belangrikste ruimtes te kan uitstal. Maar wat beteken dit regtig as my eie mense nie toegang het tot die werk wat ek skep nie?”

Sy sê sy het besluit om haar werk terug te neem na die Kaapse Vlakte deur ’n taxi in ’n meesleurende kunservaring te omskep. Petersen sê sy hoop die openbare kunsinisiatief wat sy hiermee begin het, sal na elke taxi in die stad en elders in die land versprei sodat pendelaars die voorreg het om kuns enige gegewe oomblik verskeie kere ’n dag en op enige plek te kan geniet en ervaar.

Haar droom is egter veel groter as om net haar geskilderde taxi se sien rondry. “Ek droom daarvan om digters, musikante, visuele kunstenaars, filmmakers toneelkunstenaars ens van oral te nooi om deel te word van die projek om kuns terug te neem na die mense toe in die townships.”

Dit is ook nie net die taxi se buitekant wat kuns uitstraal nie. In die binnekant is daar ook ’n skerm en klanksisteem geïnstalleer wat een van Petersen se kunsfilms, Kassaram, vertoon terwyl die passasiers vervoer word. Sy hoop om in die komende maande op dié manier ’n minifilmfees in die taxi aan te bied.

Dit is Kaapstad se eerste mobiele kunsgalery, berig Netwerk24.

“Ons openbare vervoerstelsel word hoofsaaklik gebruik deur mense van kleur om van die townships na die stad en omgewing te reis vir werk. Die townships is waarheen ons families deur die apartheidswetgewing verskuif is. Maar ons kan daardie narratief verander,” sê Petersen op Instagram.

Sy sê hulle sal eenvoudig alles wat goed is van die stad, soos kuns, teater, films en feeste, terugneem townships toe. “Ons openbare vervoerstelsel ontbloot die gebrek aan omgee wat daar in die land bestaan vir arm swart en bruin gemeenskappe.” Sy sê dit ontbloot ook die mislukte sosiale konstrukte waar daar selfs nie voorsien word in die mees basiese behoeftes nie.

Petersen sê daar kan nie op die regering staatgemaak word om te voorsien in die basiese behoeftes van die land se mense nie. Daarom moet die mense dit self doen, soos onder meer met hierdie taxi die geval is.

Volgens haar biografie op Infecting the City se webwerf is Petersen ’n multidissiplinêre kunstenaar wat onder andere fotografie en ander metodes gebruik om die verwikkeldhede en kompleksiteit van haar identiteit uit te beeld.

Petersen se werk is al op verskeie plekke wêreldwyd uitgestal in openbare sowel as private uitstallings in onder andere die Wêreldkultuurmuseum in Rotterdam, Nederland, Smithsonian-museum in Washington, DC, Oscar Niemeyer-museum in Curitiba (Brasilië), die Durbanse kunsgalery, die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, Zeitz-museum van kontemporêre kuns in Afrika (MOCAA), die  Kilbourn-versameling, die Jochen Zeitz-versameling in Suid-Afrika en die Yeojoo-stadsversameling in Suid-Korea.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top