Laaste oomblikke op Nederlandse rampvliegtuig

  • 0

Dramatiese videomateriaal is op die internet bekend gestel van die laaste oomblikke aan boord van die 64-jaar oue Convair 340 vliegtuig wat vir Nederland bestem was en verlede week buite Pretoria neergestort het.

Die selfoonvideo wat deur een van die passasiers geneem is terwyl die vliegtuig besig is om neer te stort, is deur verskeie mediahuise op hul webwerwe gedeel.

Die vliegtuig was bestem vir die Aviodrome-lugvaartmuseum in Lelystad, Nederland. Dit het verlede week met 19 mense aan boord buite Pretoria neergestort kort voordat dit na die Nederlandse lugvaartmuseum sou vertrek. Die meeste van die passasiers het ’n aandeel aan die vliegtuig se restourasie gehad. Kort nadat die vliegtuig by die Wonderboom-lughawe in Pretoria vir ’n toetsvlug opgestyg het, het omstanders gesien hoe daar rook by die linkerkantse enjin uitborrel.

Voertaal het verlede week berig oor die agtergrond van die historiese vliegtuig wat in 1954 gebou is en binnekort sy laaste rusplek in Nederland sou vind as ’n toerisme-aantreklikheid vir mense wat die museum besoek. 

In die video wat op YouTube verskyn en onder andere deur nuusagentskappe soos Multimedia LIVE en Netwerk24 op hulle webwerwe vertoon is, kan duidelik gehoor word hoe die passasiers angsbevange besef die vliegtuig is besig om neer te stort.

In die video wat deur news.com.au bekom is, kan gesien word hoe die passasiers benoud  toekyk hoe een van die vliegtuig se enjins brand terwyl hulle besef die vliegtuig is besig om neer te stort.

“Dit raak erger. Hierdie is baie sleg,” sê een van die passasiers aan die res terwyl die drie-minuut-video van die vallende vliegtuig deur die passasier met sy selfoon geneem word. “Hy beter mik vir die aanloopbaan. Hulle moet hierdie enjin cut. As ons die runway net maak,” sê die passasier terwyl hulle deur die kajuit sien hoe die vliegtuig se een enjin al hoe erger brand.

“Jis dit gaan bad wees,” sê een van die passasiers dan in Afrikaans voordat alles op die video swart word terwyl die selfoon steeds die gesprekke in die kajuit opneem nadat die vliegtuig neergestort het. Een van die passasiers maan die ander passasiers om kop te hou terwyl daar op die video gehoor kan word hoe die oorlewendes in die vliegtuigwrak rondskarrel.

Die video is geneem deur ’n passasier wat langs die vliegtuig se linkerkantse vlerk gesit het. “Hoekom skud ons so?” vra ’n ander passasier voordat hulle skynbaar besef hoe ernstig die situasie is.

Wanneer die vliegtuig die grond tref klink dit byna soos ’n ontploffing wat gevolg word deur ’n oomblik van doodse stilte voordat die passasiers verward probeer om uit die wrak te kom.

Die vlieënier het probeer om ’n noodlanding te doen maar enkele oomblikke later het die vliegtuig op ’n melkery se perseel neergestort. Twee mense het in die vliegramp omgekom en albei die vlieëniers is ernstig beseer toe die vliegtuig geval het. Agt van die melkery se werkers is ook in die ongeluk beseer en in die hospitaal opgeneem.

Lees ook

In Zuid-Afrika neergestort vliegtuig was monument voor Nederlandse luchtvaartgeschiedenis

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top