Lesersindruk: Twee overzijden. Gesprekken op de literaire brug van Afrikaans en Nederlands geredigeer deur Yves T’Sjoen

  • 0

Titel: Twee overzijden. Gesprekken op de literaire brug van Afrikaans en Nederlands
Redakteur: Yves T’Sjoen
Uitgewer: Academia
ISBN: 97890599614150

Yves T'Sjoen is die redakteur van Twee overzijden. Gesprekken op de literaire brug van Afrikaans en Nederlands (Academia, 2026). Die boek word ingelei deur ’n verhelderende beskouing oor ’n sogenaamde transsistemiese en interlinguistiese kontakgeskiedenis waarin besin word oor die raaklyne tussen die Afrikaanse en Nederlandse literatuur. T’Sjoen beklemtoon die belang van dialoë in so ’n inter- of transsistemiese literatuurgeskiedenis, waarin die rol van kulturele tussengangers sentraal staan, anders as in tradisionele literatuurgeskiedenisse waarin die fokus hoofsaaklik op skrywers, die genres waarin hulle skryf en hul werk self val:

Er is nood aan een narratief over literaire gesprekken, vanuit het oogpunt van brugfiguren, doorgaans opererend als poortwachters, agenten die een faciliterende rol hebben in het literaire grensverkeer en in die institutionele functies van cultuurbemiddelaar naar voren treden. (18)

Lees mens eenvoudig deur die inhoudsopgawe, kom jy op ’n indrukwekkende verskeidenheid name af: bekroonde skrywers (romansiers en digters), vertalers, akademici, webmeesters van literêre webwerwe en uitgewers, almal wat op een of ander wyse transsistemies en interlinguisties te werk gaan. Ek sou graag al 33 name hier wou lys. Dit sou op sigself genoeg wees om die belangstelling te prikkel van enigiemand wat meer wil weet oor hoe hierdie prosesse vir individue binne die literêre stelsel daar uitsien, want geen twee volg dieselfde paadjie nie.

Die titels van enkele tweesprake gee reeds ’n aanduiding van die uiteenlopende temas wat aan bod kom: Antjie Krog oor die Nederlandstalige literêre kanon in Suid-Afrika; Fanie Olivier oor vertaling en nuwe perspektiewe op Nederlands, Nederland en Vlaandere; Robert Dorsman oor Gerrit Komrij se beeldvorming van Krog se poësie; SJ Naudé oor selfvertaling en die Lage Landen; Alfred Schaffer oor die klowe tussen tale; Ingrid Winterbach oor die opwindende ontwikkelinge in Kaaps; Tom Lanoye oor die uitdagings van vertaling; en Breyten Breytenbach oor die literêre adresse wat hy namens Jan Rabie in Nederland moes gaan opsoek. Etienne van Heerden se bondige uitspraak “Vertalers is baie dapper mense” is eweneens ’n gepaste herinnering aan die rol wat vertalers in hierdie verkeer speel. Hierdie is maar enkele voorbeelde uit ’n veel ryker versameling.

Dié dialoë is voorwerk vir ’n groter, alternatiewe soort bestekopname waarin die stemme van kultuurbemiddelaars vooropstaan. Uit die dialoë leer ons die individue agter die produkte ken; leer ons meelewing toon in ’n sisteem wat baie maklik gesigloos en vyandig kan word. T’Sjoen se bydrae tot die uitkartering van die kulturele verkeer tussen meerdere tale en literêre sisteme is onteenseglik, en die tweesprake maak deel uit van ’n onderbou wat veel betekenis sal dra in literatuurgeskiedenisse wat weldra geskryf sal word. Twee overzijden is daarom nie net ’n tydsdokument nie, maar ook ’n uitnodiging om deel te neem aan die skryf van ’n kontakgeskiedenis waarin nog veel meer ontdekkings gemaak kan word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top