Lewenslesse van Rome, met liefde

  • 0
..........
“Die eerste les wat ons geleer is, nie almal praat jou taal nie – maar almal verstaan ’n glimlag.”

..........

Hulle sê alle paaie lei na Rome en ek dink hulle is reg, wie die “hulle” ook al is. In ons geval was dit gelukkig die waarheid en dit is ’n pad wat ek beslis weer sal vat. Tog is dit nie die pragtige geboue en ryk geskiedenis van die Italianers wat drie maande na ons reis soms nog my asem wegslaan nie, maar die belangrike lewenslesse wat ons op die reis geleer het wat ons steeds op die alledaagse lewe kan toepas.

Links bo: Nutella gelato; ek en Maarten voor die Colosseum en die Colosseum in al sy glorie. Links onder: Altar of the Fatherland in die agtergrond; regs onder: perdekar voor die Spanish Steps

Die eerste les wat ons geleer is, nie almal praat jou taal nie – maar almal verstaan ’n glimlag. Kom ek maak net eers twee baie belangrike stellings: In Rome praat almal nie noodwendig Engels nie en die tolktoep op jou slimfoon werk net as jy WiFi het …

Tog leer jy baie vinnig om te kommunikeer en watter planne om te maak. In Rome het twee bejaarde mans ons gehelp om ons hotel te kry deur saam met ons te stap, en voor dit het die dame in die koffiewinkel met handgebare verduidelik ...

Maar is dit nie eintlik hoe die lewe ook werk nie?

..........
“Dit was elke keer so dat net wanneer ons dink dat ons nou verdwaal het en ons nie meer kan nie, die volgende besienswaardigheid voor ons was.”
..........

Ons dink almal praat ons taal, of verstaan wat ons probeer sê, maar dit is nie die geval nie. Die strategieë wat ons meestal in plek het, waarborg ook nie dat kommunikasie foutloos en sonder steuring gaan geskied nie, maar op een of ander manier oorbrug ons tog die gaping op die mees onwaarskynlike maniere.

Die tweede les het my man my eintlik geleer … gewapen met ’n padkaart en ’n bottel water het ons besluit om van die Colosseum te stap na die volgende besienswaardigheid. Ons het geen idee gehad hoe ver dit is nie en die padkaart was nie baie akkuraat nie; dit sou seker baie meer sin gemaak het om op ’n bus of die Metro te klim, maar te voet het ons soveel meer gesien en ontdek.

Ons het die oulikste lekkergoedwinkel raakgeloop, Rome se eie Rodeo Drive gesien en die heerlikste gelato in die hele Italië geëet. Ons sou nie hierdie dinge ontdek het as ons die bus gevat het nie. Boonop het ek (tot my verbasing) gesien watter goeie sin vir rigting my man het. Dit was elke keer so dat net wanneer ons dink dat ons nou verdwaal het en ons nie meer kan nie, die volgende besienswaardigheid voor ons was.

Terug in Suid-Afrika het ek besef dit is hoe dit in ons daaglikse bestaan ook is. Daar is altyd ’n makliker manier om iets te doen, maar jy mis dan soveel bakens langs die pad wat jou lewe kon verryk. Jy moet soms net vertrou dat jou lewensmaat of reisgenoot weet waarheen julle op pad is en jy moet onthou dat as jy kan uithou, die uitsig beslis die moeite werd sal wees.

Die laaste les was moeiliker om in te sien, maar drie maande later, verstaan ek dit so mooi.

Links bo: Reg vir kilometers se stap op ou paaie en regs bo: reën in Capri; links onder: by die Trevi-fontein en regs onder: tempel in die Romeinse Forum

Omdat dit dan lente in Europa is, het ons besluit om in Meimaand oor te gaan. Dit is ook toevallig die maand waarin ek en my man verjaar. Ek het vir lank uitgesien daarna om my somersklere aan te trek en behoorlik “vakansie” te hou. Die weer het egter nie saamgespeel nie en die dag voor ons vertrek, moes ek vir my en my man elkeen ’n donsbaadjie en ’n sambreel koop. Die weer was perfek vir stap en verdwaal en ontdek, maar dit was nie eilandweer nie.

Voor my ma se dood, het sy versoek dat ek, as ek ooit sou kon, Capri moet sien. Ons het ons reis so beplan dat ek op my verjaarsdag daar is. Nou moet ek byvoeg, dat ek ná my ma se dood, maar net moes aangaan. Daar was nie tyd om die merkwaardige vrou se afsterwe behoorlik te rou nie …

Dit het die hele naweek wat ons op Capri was, gereën en die Sondagaand van my verjaarsdag, toe ek staan en kyk na die reën oor die grysblou water, het ek na my kinders en my mense verlang. Daar op die mooiste plek in die wêreld het ek vir die eerste keer werklik oor die groot verlies in my lewe gehuil.

Ek het nie verstaan hoekom dit juis op my verjaarsdag, juis in Capri moes reën nie, maar vandag besef ek dit was ’n Hoër Hand. Die reën op Capri het my gedwing om te voel wat ek moes voel – en dit is soms baie belangriker as sonskyn.

Voor ons weg is, het ’n vriendin gesê dat ek sal sien, die reis sal verander hoe ek na die lewe kyk en dit is beslis so. Ek het darem my muntstuk in die Trevi-fontein gegooi so ek vertrou dat ek sal terugkeer na Rome sodat ek nog belangrike lewenslesse kan leer … en weer die beste gelato eet.

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top