Die rooi trem – ’n liefdesreis ná 40 jaar hervat
Stephanie en Henk Rappard
Naledi
ISBN: 978-1-928426-31-8
Die rooi trem – ’n liefdesreis ná 40 jaar hervat is, soos die subtitel aandui, die verhaal van ’n verbreekte liefdesverhouding wat na 40 jaar hervat is.
Die rooi trem is dan ook ’n metafoor vir Stephanie en Henk Rappard se reise (op meer as een vlak) en die avonture wat hulle hernude samesyn vir hulle gebring het.
Die paartjie ontmoet in die sewentigs toe die Nederlandse Henk vir ’n tyd in Suid-Afrika skoolgaan. Hulle verhouding bevat al die elemente van hartstogtelike tienerliefde in ’n tyd toe daar nog nie selfone, internet of sosiale media was nie – met al die voor- en nadele wat dit meebring.
Na matriek moet Henk egter teruggaan Nederland toe en oorleef die twee op briewe per slakkepos en die droom dat Stephanie aan die einde van die jaar vir hom sal gaan kuier. Die redes waarom die verhouding op die ou end tot niet gaan, word onderspeel en was vir my as leser ’n frustrasie.
Veertig jaar later word Stephanie deur herinneringe aan haar jeugliefde oorval – en dieselfde aand ontvang sy ’n e-pos van Henk. Sy ervaar dit as die dag toe ’n engel in haar oor gefluister het en besef haar lewe gaan onherroeplik verander as sy op daardie e-pos reageer.
Dit is die begin van die bonatuurlike element wat hulle van toe af gereeld op hulle pad waarneem. Vir iemand soos Stephanie wat van jongs af geïnteresseerd was in die bonatuurlike, is dit nie vreemd om dinge waar te neem wat vir die leser dalk vergesog kan voorkom nie. Hierdie element gee ’n verdere dimensie aan ’n verhaal wat andersins ongelukkig dikwels in sentimentaliteit verval.
Net neëntig dae op ’n slag
Die weersiens vind uiteindelik in Nederland plaas, waar Stephanie volgens haar visum vir 90 dae mag bly. Dit word dan ook die patroon van hulle lewe – samesyn van drie maande in Nederland, Suid-Afrika en enkele ander plekke, met die onvermydelike skeiding daarna.
Die grootste deel van die boek word afgestaan aan die reise wat hulle in hierdie tyd onderneem, wat ’n parallel vorm met die innerlike reis terug na mekaar toe. Die leser verneem in groot besonderhede van talle interessante ervarings, en hulle reise word ingekleur met wetenswaardighede en agtergrond oor die plekke wat hulle besoek. Die feitelike gegewens verdring egter ongelukkig die dieper belewing van die paartjie en sal die leser frustreer wat meer van hulle innerlike groeiproses sou wou beleef het.
Telkens word ligtelik gegaan oor die prosesse wat hulle op emosionele vlak moet deurgaan om vrede te maak met die vier verlore dekades en die bagasie, foute en vreugde van hulle onderskeie lewens. Die innige verhaal word hierdeur vervlak, maar vir die leser wat die boek hoofsaaklik as reisverhaal wil geniet, sal dit waarskynlik nie ’n faktor wees nie.
Afrikaans én Nederlands
Die verhaal word afwisselend deur Henk en Stephanie vertel, met dele van Henk s’n in die oorspronklike Nederlands. Die bykomende taal dra daartoe by om die boek uniek te maak, en die slaggat van té veel Nederlands vir die Afrikaanse leser word vermy deur die vertaling van sommige van sy vertellings. Die resepte wat hier en daar gegee word, verskaf ook interessante variasie.
’n Klompie foto’s agter in die boek belig hulle reise. Groter kleurfoto’s sou bepaald ’n groter impak gehad het, maar dit sou natuurlik die koste van die boek drasties opgestoot het. Die klein swart-en-wit sketse wat yl deur die boek versprei is, bring die ouwêreldse atmosfeer van Europa baie effektief na vore.
Van die interessantste elemente van die boek is die verskillende plekke waar hulle op elk van die 90-dae-verblywe woon. Die eerste is byvoorbeeld die huis van ’n skilder van lank gelede wat nou as ’n lewende museum onderhou word.
Hier bring die verhaal van die trempassasier met die rooi jas en pluiskeil die eerste keer die element van die bonatuurlike in die verhaal in en staan die leser saam met die paartjie verstom oor die gebeure.
Die ooreenkomste en verskille tussen die Nederlandse taal en kultuur en dié van Suid-Afrika vorm een van die interessantste aspekte van die boek. Daar word ook heelwat gepraat en besin oor apartheid, en die feit dat jongmense in die sewentigs werklik nie geleer is om selfstandig te dink en dinge te bevraagteken nie.
Vorige huwelike en volwasse kinders bring onvermydelik komplikasies in die verhouding. Hoewel dit onderspeel word (om verstaanbare redes) word die leser wel bewus van heelwat probleme wat oorkom moes word, en ook dat dit nie altyd die geval kon wees nie.
Die rooi trem word aanbeveel vir almal wat in reis en in die weë van die liefde belangstel.
Buro: IG