“If you love anything about the flamboyance of rock & roll, you have Little Richard to thank. And where would rock & roll be without flamboyance? He was the first. To be able to be that uninhibited back then, you had to have a lot of not-give-a-fuck.” – Dan Auerbach (Black Keys)
Richard Wayne Penniman, die sg Father of Rock and Roll, het op 9 Mei 2020 die stryd teen kanker verloor. Little Richard, soos hy bekend is aan die wêreld, het sy bynaam te danke aan sy een been wat korter was as die ander een. Maar waar hy tekort geskiet het in fisieke hoedanigheid het hy voor vergoed in volume en houding. Die kombinasie van hierdie eienskappe, plus sy gawe om catchy melodieë op die klavier uit te hamer, is wat hom uiteindelik gestempel het as die eerste vonk van die rock-genre. Treffers wat jy dalk nie geweet het uit sy pen gekom het nie, sluit in: “Good golly Miss Molly”, “Long tall Sally”, “Lucille” en “Rip it up”. Daar is egter ’n niemandsland tussen rockmusiek wat die cool kids deesdae na luister en Penniman se boogie-woogie-vingerhop op die klawers. Musiekgeskiedenisboeke is dit eens dat “Tutti frutti” die weg gebaan het na die onbekende vlaktes waar seks, drugs en rock ’n roll die sweep klap.
As Paul McCartney, Elvis Presley, Mick Jagger, Dave Grohl, Michael Jackson, Angus Young, Lou Reed, Patti Smith, Elton John en nog ’n magdom ander kunstenaars jou as hul musikale held beskryf, kan jy met ’n glimlag die hiernamaals inwals. Little Richard is bekroon met elke moontlike kroon wat die musiekbedryf bied vir uitnemendheid. Daar is selfs ’n ster met sy naam op vasgemessel op die Hollywood Walk of Fame – tussen die alombekendes en legendes.
Hy is gebore op 5 Desember 1932 in Macon, Georgia. Hy was een van 12 kinders en sy grootwordjare was ’n stryd teen armoede. Sy pa moes sorg vir sy kroos en het daarom ’n paar uitleenlopende “poste” beklee: messelaar bedags, brandewynstoker snags, diaken op Sondae; en eienaar van ’n nagklub met die bedenklike naam Tip In Inn. Sy pa wou gehad het Richard moet ’n pastoor word, maar die verhoog het harder geroep as die kansel. Net na Richard se 13de verjaardag skop sy pa hom uit die huis weens sy voorliefde vir “musiek van die duiwel” en omdat hy “gay-gedrag” getoon het. ’n Jaar later sterf sy pa en moes hy noodgedwonge ’n werk kry. Dit is tydens sy skottelgoedwassery by ’n Greyhound-busstasie dat “Tutti frutti” by hom begin spook het. Hy neem weldra ’n demoweergawe van sy song op en stuur dit vir die platemaatskappy Specialty Records. Weke later word daar bladgeskud tussen Richard en die maatskappyhoof en die res is musiekgeskiedenis.
Waarvoor hy sekerlik die bekendste is, is die volgende: “And, a-one, two, three, four ... Wop-bop-a-loo-mop alop-bom-bom! Tutti frutti ...”
Wat dit ook al mag beteken, is irrelevant. Wat wel van belang is, is die feit dat jy kwalik iemand gaan sien stilsit as hierdie klanke by ’n partytjie oor die hi-fi gehoor word. “Tutti frutti”, wat so geliefd en bekend is vir daai niksseggende intro, het oor die afgelope 65 jaar baie vermag. Sedert dit vir die eerste keer op radio gehoor is, het dit ’n paar dinge laat ontspoor vanweë die wulpse tematiek wat ogies gemaak het vir die middelklasjeug in Amerika. Wit en swart Amerikaanse tieners het alle “norme en waardes” van die tydsgees verontagsaam en meegemaak aan die totstandkoming van iemand wat sy tyd vooruit was.
Richard verduidelik so: “‘Tutti frutti’ really started the races being together. From the git-go, my music was accepted by whites.”
Dit mag dalk die geval gewees het op radio, maar dit was steeds ’n waagstuk om op te tree voor gemengde gehore ten tye van die Civil Rights Movement in die 1960’s. Radiostasies wat grotendeels musiek van swart musici gespeel het, het laergetrek en geweier om van sy grootste treffers te speel. Met die vrystelling van “Tutti Frutti” in 1955 het sy destydse platemaatskappy, Specialty Records, sy potensiaal as musiekster en liedjieskrywer begryp, maar besluit om twee weergawes gelyktydig die wêreld in te stuur. Pat Boone is ingeroep om ’n verwerkte weergawe op te neem, aangesien wit huishoudings eerder ’n wit sanger op hul kinders se plate sou wou sien as dié van Little Richard.
So gebeur dit dat Boone se weergawe in Februarie 1956 die 12de plek haal op die All US Top40-lys. Die oorspronklike weergawe van Little Richard moes tevrede wees met 21ste plek op dieselfde ranglys in dieselfde week. In ’n artikel in die Washington Post van 1984 stort Richard sy hart uit juis oor hierdie situasie van 20 jaar vroeër: “When ‘Tutti frutti’ came out, they needed a rock star to block me out of white homes because I was a hero to white kids. The white kids would have Pat Boone up on the dresser and me in the drawer ’cause they liked my version better, but the families didn’t want me because of the image that I was projecting.”
Hierdie “image” is juis waarvoor hy onthou word. Prince en David Bowie het hul vryheid om transgender as deel van hul beeld te kan maak, te danke aan Richard.
Aan die publiek was hy bekend as die eerste rockster wat ’n verdeelde samelewing help verenig het, een konsert op ’n slag. Op persoonlike front kon hy nie sy verdeelde wik-en-weeg tussen goed en sleg balanseer of verenig in ’n funksionele en draagbare geheelbeeld nie. Soos die geval is met ’n groot aantal suksesvolle kunstenaars, hap-hap die dwelms aan jou enkels totdat dit jou gryp en gelykmaak met die grond. Heroïen, kokaïen, dagga en alles waaraan mens kan dink om jou van realiteit te laat vergeet, was op sy kerfstok van verbode middels. Drank was nie ver agter nie. Om als te kroon is hy ’n paar keer gearresteer vir sy seksmanewales. Hy sou glo die strate invaar op soek na mans en vrouens wat teen betaling voor hom seks sou hê.
Little Richard was ’n belhamel. Hy het die gelowiges en niegelowiges ewe veel ontstel oor sy rondvallery tussen Christenskap en die rock ’n roll-leefstyl. Na sy aanvanklike sukses met “Tutti frutti” en “Long tall Sally” in 1957 het hy die bedryf vaarwel geroep en ’n pastoor geword. Vyf jaar later, met ’n mislukte gospelalbum en ’n smagting na die verhoog, keer hy terug met verskeie toere, oa na Duitsland. Hy het ’n reeks konserte gedoen by die Star Club in Hamburg en die eienaar het dit goedgedink om ’n paar laaities van Engeland wat ook ’n band het, die verhoog en skares ’n bietjie te laat opwarm vir Richard.
Paul McCartney, een van die roemrykste liedjieskrywers in menseheugenis, het saans saam met die ander drie lede van die Beatles van agter die verhoog geloer na hoe rock ’n roll gedoen moet word. En hulle het toe wel baie mooi geluister.
Paul McCartney sê onlangs op Twitter: “In the early days of The Beatles we played with Richard in Hamburg and got to know him. He came screaming into my life when I was a teenager. I owe a lot of what I do to Little Richard and his style; and he knew it. He would say, ‘I taught Paul everything he knows.’”
Bronne
https://www.newsday.com/entertainment/music/paul-mccartney-little-richard-1.44561205
https://www.metrolyrics.com/tutti-frutti-lyrics-little-richard.html
https://www.rollingstone.com/music/music-news/little-richard-dead-48505
Buro: MvH