Lorraine Immelman stig Suid-Afrika se grootste internasionale wynkompetisie

  • 0

Lorraine Immelman, uitvoerende hoof en stigter van die gevierde Michelangelo Wyn- en Spiritualieë-toekennings.

Die Michelangelo Wyn- en Spiritualieë-toekennings het verlede jaar Suid-Afrika se grootste internasionale wynkompetisie geword, met 2 244 inskrywings van 16 lande.

En agter hierdie suksesstorie staan een vrou, Lorraine Immelman, wat dit 23 jaar gelede uit niks nie opgebou het, vertel Maryke Roberts.

Dit is vroue soos sy wat Suid-Afrikaners elke jaar in nasionale vrouemaand in Augustus huldig.

Wat die prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat sy nie uit ’n wynagtergrond kom nie. Hierdie voormalige joernalis is ’n boorling van Namibië en haar pa die skrywer Doc Immelman, wat in 2013 oorlede is.

Lorraine is vandag die uitvoerende hoofbeampte van die kompetisie. Sy is baie trots op wat die kompetisie geword het sedert daardie begindae. “Dis my persoonlike Everest, my tour de force. Maar ek mag nooit vergeet van die mense en geleenthede wat bygedra het tot die groei en die sukses van Michelangelo nie – daardie spreekwoordelike wind onder jou vlerke.”

Sy het na afloop van verlede jaar se kompetisie met sy rekordgetal inskrywings – 611 meer as die vorige jaar – gesê die diversiteit van die proepaneel bly die groot aantrekkingskrag van dié kompetisie. “Produsente wil al meer internasionale proeërs se mening oor hul wyne hê. Verlede jaar se beoordelaars het onder meer joernaliste, sommeliers en wynkenners ingesluit, en met hul ondervinding van alle uithoeke van die wêreld is hulle ’n bron van onskatbare waarde.”

Lorraine vertel verder: “Die Michelangelo Internasionale Wyn- en Spiritualieë-toekennings is destyds hoofsaaklik gestig is om Suid-Afrikaanse produsente die geleentheid te bied om hul wyne plaaslik deur hoogs ervare en gerespekteerde wynkenners van regoor die wêreld te laat proe.

...........

“Dit is vroue soos sy wat Suid-Afrikaners elke jaar in nasionale vrouemaand in Augustus huldig.”

...........

“Die hoofdoel was destyds – en is tot ’n groot mate steeds – om plaaslike wyn- en spiritualieë-produsente te ondersteun wat internasionale markte vir uitvoere ontgin. Deur internasionale beoordelaars te gebruik, kan produsente bepaal of hul produkte gunstig in die mark ontvang sal word.”

Haar pad met wyn het baie jare gelede, as kind, in Windhoek, begin. Sy vertel: “My vroegste wynherinnering is van my pa voor sy tikmasjien, met ’n Tupperware-glas witwyn wat hy 50/50 met water verdun het. Sondae is goeie wyn oopgemaak vir middagete met die familie, en van hoërskool is ons kinders toegelaat om ’n sjerrieglasievol saam te drink.

“Dit was toe nooit vir my baie lekker nie, maar ek het gemeen dis maar wat ’n mens moet doen as jy goeie maniere het!” vertel sy met ’n groot glimlag.

Foto: Pixabay.com

En toe, ’n hele paar jaar later, bevind sy haar in in 1996 in Johannesburg, waar sy as ’n konsultant skakel- en mediawerk vir die konstruksiebedryf gedoen het. Sy beland eendag by ’n funksie in ’n gesprek met die destydse handelskommissaris van Chili – ’n groot aanhanger van Suid-Afrikaanse wyn.

“Hy het daarop gewys dat dit nodig is vir enige land se wyn om deur onafhanklike, neutrale kenners geproe en bekroon te word, eerder as deur mense uit die plaaslike wynbedryf, wat dikwels self die wyn gemaak het. Destyds was daar slegs enkele klein wynkompetisies. Veritas was maar twee of drie jaar op die been en daar was nie ’n magdom kompetisies soos vandag nie.

“Ons het begin beplan en die Michelangelo Hotel in Sandton het ingestem om die kompetisie daar te hou, mits hulle die naamregte kon kry. Die eerste kompetisie is in 1997 gehou, met 146 inskrywings. Ek het ’n kantoor in Northcliff gehad van waar ek my mediabesigheid bestuur en toe ook die kompetisie gereël het, maar die inskrywings (kiste wyn) is by die Michelangelo Hotel gestoor, waar die wyn beoordeel is.

“Ek het die kompetisie ses jaar later Kaap toe geskuif en alle bande met die Michelangelo verbreek, maar die naam het gebly, aangesien dit reeds ’n sterk handelsmerk was.”

Sy erken dat haar sterk punt is dat sy goed onder druk kan werk en nooit opgee nie, en handig is met die vestiging én daaglikse bestuur van die kompetisie, maar voeg by dat haar swak punt is dat sy maklik emosioneel word as sy voel sy verloor beheer, “en ek het ’n baie kort humeur van my skrywerspa geërf”.

Ravi Nadesen, bedryfshoof van die Tsogo Sun-groep, Gerrie Heyneke, mede-eienaar van Hermanuspietersfontein Wyne en Lorraine Immelman by een van die spogtoekenningsgeleenthede.

Ek moet natuurlik vra of sy al sommige dae gedink het sy wil handdoek ingooi. “O ja, net gister weer …” Dis heeltemal te verstane, want meer inskrywings en veranderende tendense bring ekstra druk mee.

Hoewel die span nou uit vyf direkteure bestaan, is Michelangelo nou ’n heeljaarbesigheid. Lorraine sê daar is baie besige tye, soos die beoordeling en die opbou na die toekennings, maar hulle hou nooit regtig meer heeltemal op nie. Daar is bemarking en media, opvolgfunksies met borge en produsente en vele ander aspekte wat hulle besighou.

Lorraine vertel hulle het ’n klein kern gereelde beoordelaars wat die kompetisie al goed ken en ook bekend is met Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë. “Ek kies beoordelaars op grond van hul ondervinding op buitelandse proepanele by gerespekteerde wêreldkompetisies soos Concours Mondial in Brussels, die IWSC in Londen en ander.

“Daar is geen beperking op hoeveel keer dieselfde beoordelaar kan deel wees van die paneel nie. Ek kies beoordelaars vir wat hulle na die kompetisie bring: hul kennis, ondervinding, geloofwaardigheid en status. Van ons beoordelaars wat al van die eerste jaar met ons saam is, is Sergio Correa van Chili (vanjaar die sewende keer), Chris Alblas van Nederland (vanjaar die agtste keer) en Maria Katsouli van Griekeland en Marin Berovic van Slowenië (beide vanjaar die vyfde keer hier).

Foto: Pixabay.com

“Na 23 jaar is die verhouding steeds vier internasionale beoordelaars vir elke een plaaslike kenner. Die plaaslike beoordelaars moet ook internasionale beoordelaars wees, met proe-ondervinding van groot Europese kompetisies.”

En dan skud sy haar kop as sy terugdink aan die kwessie van logistiek sonder internet, e-pos en Facebook jare gelede. “Sonder vandag se tegnologie was dit ’n uitdaging, voorwaar. Ons beste opsie was fakse, en ek moes soms 02:00 opstaan om ’n faks na die anderkant van die wêreld te stuur, wanneer hulle kantore beman was. Maar ons het nie van beter geweet nie, en ons het gewerk met wat ons gehad het!

“Vandag is ons uitdagings om voor te bly met die massa inligting wat die internet elke dag voor ons gooi – om te weet wat tendense in die wynbedryf en ander kompetisies wêreldwyd is, en daarmee rekening te hou; soos die toenemende bewuswording van ’n gesonder leefstyl, wat organiese, lae-swael-, lae-alkohol- en nie-alkoholiese produkte se gewildheid en ontwikkeling teweegbring. Ons het vanjaar ’n spesiale klas geskep vir hierdie produkte.”

...........

“Die Michelangelo Internasionale Wyn- en Spiritualieë-toekennings is destyds hoofsaaklik gestig is om Suid-Afrikaanse produsente die geleentheid te bied om hul wyne plaaslik deur hoogs ervare en gerespekteerde wynkenners van regoor die wêreld te laat proe.”

...........

Sy lag so half vir haarself wanneer sy erken dat sy nie in haar wildste drome sou geglo het dat die kompetisie so sou groei nie. “Ek het dit 23 jaar gelede gesien as ’n lekker en interessante nuwe projek en groot uitdaging. Vandag vergelyk ons onsself met ander internasionale kompetisies in Europa van dieselfde omvang en met dieselfde internasionale riglyne en reëls.”

Natuurlik is die berging van duisende bottels wyn geen grap nie. Sy sê hulle het met die jare hul stelsel ontwikkel en aangepas tot waar hulle vandag ’n volledig gerekenariseerde stelsel vir die inskrywings het. Soos die wyne ontvang word, word dit in nommervolgorde op netjiese rakke in ’n termperatuurbeheerde stoor gepak. Soos die wyne geproe word, word elke dag se wyne uit die stoor getrek.

Ek wonder: Behalwe dat deelnemers ’n idee kry van die aanvraag of gesogtheid van hul produkte oorsee, watter ander waarde voeg die kompetisie vir die plaaslike mark toe?

Lorraine verduidelik: “Die Michelangelo-wennersplakkers wat op die bottels aangebring word, dra ’n QR-kode - elke produk se QR-kode is uniek en dra die inligting oor daardie spesifieke produk en produsent, asook proenotas, waar die wyn verkrygbaar is, en meer. Dié plakkers is dus baie gesog en slegs een derde van alle inskrywings kry so ’n plakker.

“Ons vind ook dan dat invoerders in Europa en Asië vra vir wyn met Michelangelo-plakkers, juis omdat die medalje toegeken is deur ’n internasionale paneel.”

Van ’n verbruikersperspektief gee dit die versekering dat hierdie ’n besonderse wyn is, om al die redes wat reeds genoem is.

...........

“Dis my persoonlike Everest, my tour de force. Maar ek mag nooit vergeet van die mense en geleenthede wat bygedra het tot die groei en die sukses van Michelangelo nie – daardie spreekwoordelike wind onder jou vlerke.”

...........

Dit lei my na die vraag hoekom daar soveel belangstelling in hierdie kompetisie is – daar is dan duisende regoor die wynwêreld.

“Om ’n Michelangelo-toekenning te kry, moet jou produk meer as 86 punte uit 100 kry – en dis vir ’n silwermedalje. Ons kriteria is uiters streng – ons gee onder meer slegs vir een derde van inskrywings toekennings, wat riglyne is van die internasionale OIV in Brussels. Dus is ’n Michelangelo-medalje baie gesog, en dis deur neutrale, objektiewe professionele proeërs bepaal, wat vir die produsente baie aantreklik is.

“Ek sien Michelangelo as ’n internasionale kompetisie wat in Suid-Afrika aangebied word. Dit was ook die eerste kompetisie wat ’n toekenning vir brandewyn ingestel het (in 2009), en wat in 2014 gedistilleerde produkte aanvaar het. Michelangelo bly gereed vir ’n uitdaging en vernuwende, nuwe idees,” vertel sy trots.

Grawe jy ‘n bietjie dieper en vra haar waaraan sy haar sukses toeskryf, is sy effens skugter. Maar antwoord dan: “O, genade, ek kan nie ’n uitdaging weerstaan nie! Toe mense vir my begin sê ek maak ‘n groot fout en ek gaan my vingers verbrand en ek gaan baie geld verloor, kon ek net nie wegstap nie. Laasgenoemde was waar – dit het lank gevat om die kompetisie ekonomies lewensvatbaar te maak as gevolg van die groot uitgawes soos ’n klomp internasionale vliegkaartjies vir die beoordelaars en so meer.

“Maar daardie eerste 146 inskrywings het vir my gewys dat daar ’n paar mense is wat glo in die konsep van internasionale beoordelaars en baie streng, internasionale kriteria wat Michelangelo van die begin af ’n unieke wenresep gemaak het. En dit was wonderlik om in die wynwêreld te begin rondbeweeg – dis steeds, na meer as twee dekades, vir my ’n fassinerende bedryf met kleurvolle, passievolle mense.”

En ek wonder: Terugskouend, wat sou sy anders gedoen het met die kennis en ervaring wat sy nou oor die duur van die kompetisie opgebou het?

...........

“Ek kies beoordelaars op grond van hul ondervinding op buitelandse proepanele by gerespekteerde wêreldkompetisies soos Concours Mondial in Brussels, die IWSC in Londen en ander.”

...........

“Ek sou my geld slimmer belê het, mense nie so maklik vertrou het nie, en baie meer gereis het toe ek jonger was.”   

En voor ons moet groet sodat sy die laaste van die laat inskrywings vir vanjaar kan registreer, moet ek darem hoor hoe groot die kompetsie kan groei voor dit buite beheer raak.

“Ek dink ons is die afgelope drie jaar baie na aan die plafon. Daar is net sóveel produsente en produkte in die plaaslike mark en die internasionale mark is geweldig kompeterend (produsente van Europa en ander kontinente). Die afgelope twee jaar het ons baie waarde toegevoeg vir ons wenners, en dit het vir ons meer as 10% groei per jaar gebring. Die kompetisie is seker maar soos enige ander besigheid: jy vergroot jou kapasiteit soos die behoefte groei, maar jy moet besluit wat die risiko’s is. In hierdie bedryf kan ’n mens nie fokus verloor nie - daarin lê die heel grootste gevaar.”

Meer oor die kompetisie:

2003 was ’n skeidingsjaar vir die kompetisie, met al meer oorsese inskrywings en die Michelangelo International Wine Awards se skuif na Stellenbosch, Suid-Afrika se bekendste wynstreek. Daardie jaar is ’n hele gros trofeë ook ingestel, waaronder die Grand Prix-trofee vir die wyn met die meeste punte, die Pinotage-trofee en ’n trofee vir die beste Garagiste- (boetiek-) wyn.

Die kompetisie word vanjaar vir die 23ste keer aangebied en bly uniek, omdat al die beoordelaars uitgesoekte wynkenners van al sewe kontinente is. Sedert die kompetisie in 1997 van stapel gestuur is, het meer as 173 verskillende beoordelaars van 47 lande – waaronder die mees onlangse Rusland, Roemenië en China – al op die paneel gedien. Alle inskrywings word blind deur vyf of ses beoordelaars geproe en met die internasionaal-erkende Organisation Internationale de la Vigne et du Vin (OIV) se 100-punt-stelsel beoordeel.

...........

“Na 23 jaar is die verhouding steeds vier internasionale beoordelaars vir elke een plaaslike kenner. Die plaaslike beoordelaars moet ook internasionale beoordelaars wees, met proe-ondervinding van groot Europese kompetisies.”

...........

Vanjaar se 30 beoordelaars kom van so ver as Israel en Turkye, tot Mauritius, Zimbabwe en Uruguay.

Twee van hulle kom uit Nederland: Chris Alblas en René van Hoven. Chris woon en werk in Amsterdam en is sedert 2008 ’n amptelike proeër vir die Concours Mondial de Bruxelles en die stigter van SVBE Wijnprofessionals. Chris is ’n gekwalifiseerde wynkundige en eienaar en redakteur van www.wijnjournaal.nl. Hy doseer by die Dutch Academy en is lid van die International Federation of Wine and Spirits Journalists and Writers. Chris proe gereeld wyne vir internasionale kompetisies, soos IWSC, Concours des Vins du Val de Loire (Ligers) en die Dubrovnik FestiWine Trophy.

René van Hoven is ’n spiritualieë-kenner, met rum sy hoofbelangstelling. Hy het sy loopbaan as gekwalifiseerde sjef begin en later ook grade in onderwys en wynkunde. Dié liefde lei hom na spiritualieë en hy verwerf in 2000 die hoogste graad in Nederland, ’n Liquorist-graad. Hy proe sedert 2000 vir internasionale kompetisies, waaronder Rum Renaissance, IWSC, Rumfest Berlin en Concours Mondial de Bruxelles.

...........

Die res van die paneel is:

Alicia Eckert van Colombia 
Ben Glover van Nieu-Seeland 
Bernhard Schaefer van Duitsland 
Charlie Arturaola van Uruguay 
Eric Zwiebel van Frankryk/VK 
Gerard Devos van België 
Germain Lehody van Suid-Afrika 
Gregory Mutambe van Suid-Afrika/Zimbabwe 
Karina Sogoyan van Rusland
Leonardo Erazo Lynch van Chili 
Maria Katsouli van Griekeland 
Marin Berovic van Slowenië 
Michel Blanc van Frankryk 
Miguel Angel Enocata Martin van Spanje 
Miguel Chan van Suid-Afrika/Mauritius 
Miroslav (Mirek) Majer van die Tsjeggiese Republiek 
Nuno Jorge van Portugal 
Roderic Proniewski van Frankryk/Singapoer 
Rodrigo Bravo van Spanje 
Sandy Harper van Suid-Afrika 
Sergio Correa van Chili 
Simon Cassina van Italië 
Stephen Beal van die VSA 
Thomas Ling van Maleisië 
Tinashe Nyamoduko van Zimbabwe 
Tuğba Altınöz van Turkye 
Winnie Bowman van Suid-Afrika 
Yair Kornblum Koren van Israel 
...........

Die 30 beoordelaars – vanjaar van 22 lande – het ses dae om te proe. Hulle gaan deur so 60–70 wyne per dag.

  • Vanjaar se toekennings vind op 4 Oktober in Kaapstad plaas en meer as 2 100 inskrywings is ontvang.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top