Jou stres bly duskant die Du Toitskloof-tonnel agter as jy deur die Slanghoek- en Waaihoekberge omring word op pad na Bosjes. En wanneer die Bosjes-hek agter jou toeskuif en die wit kurwes van die glasmuur-kapeldak jou tot stilte dwing, voel jy ’n ander mens, skryf Maryke Roberts.
Die kapel wat lyk asof dit op ’n reflektiewe dammetjie dryf, is deur Psalm 94:1 geïnspireer en omring deur meditatiewe bybelse tuine. Dis die ideale plek om net te kom stap en rus dat die geraas in jou kop stil word. As jy na die geboë dak kyk, kan ’n mens maklik ’n voël in vlug voorstel – ’n subtiele verwysing na die vlerk wat in die Psalmvers genoem word.
Die kapel is prentjiemooi in enige lig, enige tyd van die dag of aand.
Eintlik is dit hoe die hele plaas jou laat voel. Bosjes (“klein bossies” in Nederlands) produseer proteas, olywe, perskes en roosmaryn, maar word al meer bekend vir uitstekende plattelandse cuisine, gasvryheid en ongelooflike uitsigte oor die vallei.
Naas die kapel is die indrukwekkende herehuis aan die voet van die berg sekerlik die mooiste gebou op die plaas. Die oorspronklike Kaaps-Hollandse herehuis dateer uit 1790 en is sedert 1831 in dieselfde familie, die Botha’s/Stofbergs.
Met hierdie uitsig van die herehuis se kant droom ek ook van my eie plaas hê ...
Dis pas vir die publiek geopen as luukse gastehuis en die moderne baadjie is so keurig deur die binnenshuise versierder, Liam Mooney, hanteer, dat die ou herehuis se statige erfenis sterk deurskemer.
Die statige herehuis is nou ’n deftige gastehuis.
Ons kamer in die nuut-gerestoureerde gastehuis, met sy eie sitkamertjie, kaggel en uitsigte oor die berge.
As jy voor die herehuis staan, pryk twee dekoratiewe pynappels op die gewel. In die Victoriaanse tye was die pynappel ’n simbool vir warmte en gasvryheid. Mense sou dit in die voorportaal van hul huis sit om gaste te verwelkom en as hulle jou regtig wou vereer, sou hulle ’n skyf gesny het om te probeer. Slegs die rykes kon hierdie lekkerny bekostig, wat met skepe vanaf die trope in Europa aangekom het. Gou het die gewoonte onder die minderbevoorregtes posgevat om die ingang van hul huise, en dikwels die gewels, met pynappels te versier.
Die gastehuis se restaurant-gedeelte is ’n pragtige moderne gebou wat langs die statige herehuis gebou is.
Die herehuis se voorportaal is nou ’n verwelkomende ontvangs waar jy met ’n yskoue glas vonkelwyn kan ontspan, voor jy na jou kamer gaan.
“Toe Bosjes besluit om sy prag met besoekers te deel, het die verwelkomende pynappel herleef en ons logo geword,” vertel Carlen Vorster, hoofuitvoerende beampte vir gasvryheid en bemarking.
Wat egter een van my hoogtepunte is, is ’n laatmiddagrit saam met Carlen se man, Wouter, uitvoerende hoof van landbou op die plaas.
Met die byvoeging van die nuwe Bosjes Spens en Bosjes Winkel is daar ook iets lekkers vir dagbesoekers, wat ook by die meer kontemporêre Bosjes Kombuis langs die herehuis rus.
Die pragtige herehuis is weer tot haar vorige glorie herstel.
Die ou stalle langsaan die herehuis is omskep in die Stalle Spa. Vandag bied dit verskeie ontspannende behandelings en hidroterapiekamers, maar ná WO2 was dit ’n tydelike skuiling vir die Italiaanse krygsgevangenes.
Die plaas is ’n ware kinderparadys. Nie net is daar gesinspieknieks in een van die verskuilde hoekies wat ontgin moet word nie, die klimraam, boombrug, woud en reusetuine wat oor drie vlakke uitgelê is, sal die jongspan vir ure besighou.
Carlen beduie dat gesinstyd vir almal op die plaas belangrik is en daarom die besluit om die plaas so kindervriendelik moontlik te maak, maar sonder om styl en elegansie in te boet.
Sy vertel dat water ’n belangrike aspek van al die ontwerpe en projekte op die plaas is en dat die oulike kanaaltjies wat deur die tuin vloei, hulde bring aan die boere wat dié barre landskap getem het.
As kindergelag jou nie geval nie, stap na die onderste hoek van die plaas na die kapeltuine, waar verskeie bybelse plante die basis van die tuin vorm. Jy kan selfs die klein heuweltjie – amper soos die bybelse Berg Ararat – uitklim of deur die Rooi See stap, wat met vernuftige landskapuitleg die illusie skep dat jy deur ’n verdeelde see stap.
As jy al die lekker eet en drink wil afstap of per fiets wil afwerk, is daar ’n 5 km- of 12 km-roete in die berge. Jy kan verskeie boksoorte op jou stap raakloop, van die majestueuse eland tot die ratse springbok – wat in alle genetiese variasies voorkom: wit, koper en swart.
Die bedreigde Kaapse bontebok – waarvan slegs sowat 3 500 in Suid-Afrika oor is – kom ook hier voor. Ag jouself gelukkig as jy die skaam koedoes, rooihartebees en reebok kan raaksien. Die hoogtepunt van jou stap sal sekerlik die drie kameelperde, Tina, Judy en Cobus wees, maar moenie die geleentheid mis om jou aan die bergfynbos te verwonder nie.
Wat egter een van my hoogtepunte is, is ’n laatmiddagrit saam met Carlen se man, Wouter, uitvoerende hoof van landbou, op die plaas. Die hele plaas is 1000 ha groot en die wildkamp sowat 700 ha.
Die hele plaas is 1000 ha groot en die wildkamp sowat 700 ha. Die uitsigte van hoog teen die berg is onverbeterlik.
“Kaapse fynbos bedek net ongeveer 6% van Suid-Afrika, maar het die grootste aantal plantspesies van enige bioom in die land. By Bosjes het ons ’n wye verskeidenheid fynbos, omdat ons grond tussen klip, kalk, klei en sand wissel. In 2020 is ’n nuwe moraea-spesie in ons Bergkamp ontdek en dit het ’n entoesiastiese golf onder botaniste veroorsaak,” vertel hy trots.
As jy tussen die fynbos gaan stap, wag sulke klein wonderwerke soos ’n erica op jou.
Boegoe is nie net medisinaal baie belangrik nie, dis ook pragtig in die natuur.
En o, die vreugde as jy ’n baardsuikerbos in die ondergaande son kan afneem!
Sulke klein goedjies soos ’n takkie fynbos waardeur jou handewas-water vloei, is kenmerkend aan jou kuier op die plaas.
’n Magdom voëlspesies kan by Bosjes gesien word. Die plaas speel gasheer vir verskeie spesies in verskeie habitatte: van die blomryke tuine tot die klipperige berge en alles, van saad- en nektarliefhebbers tot die majestueuse verreaux-arend, word hier aangetref.
Die berge wink van elke uitsig en venster.
“Die Kaapse kliplyster spring vrolik van klip tot klip naby die lapa – in dieselfde omgewing waar die grondspeg nes maak.
“Die jangroentjies het die Boombrug as hul tuiste gekies – anders as hul geveerde neefs, die oranjeborssuikerbekkie en die Kaapse suikervoël, wat die hoër grond in ons Bergkamp verkies.”
Dit lyk of die fynbos bo teen die hange geplant is. Verskeie voëlskuilings is onlangs opgerig waar jy voëls of wild kan kyk. Die een naaste aan die berg is veral bekend vir suikervoëls.
Hy voeg by: “Hier is die fynbos op sy digste en mooiste. Hierbo lyk dit soos ’n blomtuin en elke keer as jy hier kom, blom iets anders.”
Toe ons om die dam ry, sien ons ’n pasgebore bruin springbokkie wat in ’n skeurtjie in die damwal wegkruip. Hy smelt mooi saam met die grond en geen roofdier sal hom oornag lastig val nie.
En net so is die son agter die rante en dis yskoud. Terug in ons kamer is die warm reling vir jou handdoek maar net een van die blink gedagtes wat die plaas- en ontwerpspan gehad het om jou verblyf so lekker moontlik te maak.
Aandete geniet ons in die gastehuis se mooi eetkamer, en dis lekker om net die paar treë om die swembad terug te stap na ons kamer toe.
Die pragtige sonkamer neffens die swembad waar jy drankies kan geniet en peuselhappies kan verorber.
Net voor slaaptyd kan jy die verhitte swembad gaan uittoets, voor ’n lekker glas wyn en ’n boek op die rusbanke jou finaal droomland toe voer.
Ontspan by die swembad as die hitte jou opkeil, of geniet sy verhitte luukse saans voor jy gaan inkruip.
Wie wil nou nie hier in die keurige biblioteek sit en lees en die wêreld gadeslaan nie?
Ontspan by die swembad.
Ná ’n reuse-ontbyt gaan stap ek vir oulaas deur die tuin na die winkel toe vir ’n bos proteas van die plaas en ingelegte konfyte vir die buurvrou wat so mooi na ons huis gekyk het.
Een nag in hierdie mooie paradys bring dae se heling.
Loer ook in by:
- Du Toitskloof Kelder het ’n nuwe kunsruimte en proelokaal. Ed Beukes, bemarkingsbestuurder, vertel: “In pas met DTK se diversiteit is die nuwe moderne proelokaal só ontwerp dat die tydlose spasie elke tweede maand ’n nuwe jas aantrek. Die laaste Vrydagmiddag van elke tweede maand is die openingsaand van ’n spinternuwe kunsuitstalling. Groot mure skep geleentheid vir indrukwekkende werke en die natuurlike lig wat binneval, laat kleure op skilderdoeke behoorlik uitstaan teen die wit en steenkoolkleurige mure.”
Sonika Hanekom, die gastehuisbestuurder, ontvang ons by die lae voordeur met yskoue vonkelwyn van die nabygeleë kelder in Du Toitskloof, DTK.
Die nuwe proelokaal by Du Toitskloof Kelder is keurig en modern.
Die eerste kunsuitstalling in Oktober 2022 was deur MIES. Die aande is gratis, sluit ’n komplimentêre glas wyn in en sentreer rondom ’n vraag en antwoordsessie, wat diepte en betekenis gee tot die kunswerke. Die huidige uitstalling (27/1–26/3) deur Madeleine du Toit hang tot 26 Maart en die volgende twee kunstenaars wat uitstal, is MAINKA (openingsaand: 31 Maart) en Luhanri Bekker (openingsaand: 26 Mei). Kontak info@dtkwines.com vir meer inligting.
Een van die werke van Mainka, die volgende kunsuitstalling wat op 31 Maart by Du Toitskloof Kelder open.
Die openingsaand van MIES se werke het 120 gaste getrek.
- Adene’s Farm Flowers: Hier leef Adene Nieuwoudt haar passie vir snyblomme uit. Die plaas is Saterdae en Sondae van middel-Desember tot die eerste week in April vir die publiek oop. Stap op die 5 ha-plaas met 50 000 blommende Dahlias, 4000 Hydrangeas en vele ander blomme rond. https://www.adeneflowers.co.za/
- Rietdakkie Padstal en Restaurant: Daar is altyd iets vars uit die kontrei wat jy kan saamneem huis toe, van waterblomme tot suurlemoene of amandels uit die vallei, maar ontspan ook daar met koffie en ’n plaasvars roosterkoek of middagete. Dis die beste plek om te stop vir inheemse heuningbostee in lapsakkies, allerhande konfyte en ingelegte heerlike en gedroogte vrugte. https://www.rietdakkiepadstal.co.za/
- Monks Gin op Tierkopplaas net voor die Mitchellspas: Die distilleerdery met reuseruite wat oor die vallei uitkyk, en die kabbelende rivier in jou ore, dans die polka met die reuk van jenewerbessie en sitrus. Tans is daar drie gins in hul reeks, met oorspronklike name soos Mary Jane (hemp, slangbos en renosterbos), Mysterium (skeutjies fynbosgeure) en Medella (met vars plaasbloubessies).
> Woorde: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts en Bosjes