In Oktober kom die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Luna Paige Lae Lande toe met Korreltjie Kantel, ’n oorspronklike en gevarieerde vertoning oor die liefde tussen André P Brink en Ingrid Jonker.
Om hierdie toer moontlik te maak, is ’n skarebefondsingsveldtog begin. Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars het kunswerke vervaardig wat geïnspireer is met die storie van Jonker en Brink. Afdrukke van hierdie kunswerke is nog tot 5 Augustus te koop.
Die vertoning, Korreltjie Kantel
Luna, jy kom binnekort Lae Lande toe met die vertoning Korreltjie Kantel. Wat kan die besoeker verwag?
Ons is baie opgewonde om in Nederland en Vlaandere te kom optree. Besoekers kan uitsien na ’n musiekteaterproduksie waarin drie musikante oorspronklike werke asook toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte uitvoer. Die oorspronklike werke is geïnspireer deur beide Jonker en André P Brink se werke, sowel as die liefdesbriewe wat tussen hulle gewissel het.
In breë trekke kan ons die musiek as wêreldmusiek beskryf, met reggae, Kaapse musiek, folk en kontemporêre invloede. Die musiek het ’n unieke klank wat dui op die musikante se Suid-Afrikaanse herkoms.
Die twee uitmuntende akteurs Wessel Pretorius en Christine Truter vertolk die rolle van Brink en Jonker. Die teks omvat uittreksels uit Jonker gedigte, asook die liefdesbriewe.
Tien bekende visuele kunstenaars van Suid-Afrika is genader en gevra om ’n kunswerk te skep. Elke kunstenaar het een liedjie en voorafgaande teks as inspirasiemateriaal ontvang. Die opdrag was om die lied en die teks te interpreteer, hul eie te maak en weer te gee in visuele vorm – net soos die musikante die literatuur en briewe geïnterpreteer en in musiekformaat weergegee het. Dit is belangrik om te verstaan dat die werke reaktiewe interpretasies van en tot die liefdesverhaal is – en daarom nie akkurate uitbeeldings van die verhouding as sodanig is nie. Die werk raak universeel – dit raak iets waarin ons almal onsself kan raaksien.
Van links: Nick Turner, Christine Truter, Wessel Pretorius, Jamie Jupiter en Luna Paige
Wat is die betekenis van die woord “Kantel” in die titel?
Jonker het dikwels na “kanteling” in haar gedigte verwys. Dié dinge wat gekantel het in haar gedigte, was meestal rond en kan nie werklik kantel nie. Ons speel met die idee dat dinge dikwels anders lyk, as mens dit van ’n ander kant af beskou. Ons slaag ook daarin om haar werk anders te bekyk en te verpak.
Die vertoning het ’n hele ontwikkeling deurgemaak…
Korreltjie Kantel het as radioproduksie begin in 2015. Dit was ’n opdragprojek vir RSG.
Na groot sukses op die lug, het dit sin gemaak om die musiekproduksie vir die verhoog te ontwikkel. Drie uit die vyf musiekgroepe wat deelgeneem het in die RSG-opname het ingestem om deel te vorm van die eerste verhoogproduksie. Ons het dit opgevoer by Woordfees en KKNK in 2016.
Die reaksie was positief en ons het besluit om ’n CD op te neem. RSG het ons projek ondersteun en befonds. In 2017 het ons die CD vrygestel en landwyd getoer met die musiek.
Hoe meer ons opgetree het, hoe duideliker het dit geword dat daar ’n nodigheid was vir ’n sterker narratief om die musiek te bind. Iluminar Productions het twee akteurs genader om die rolle van Jonker en Brink te vertolk en die reeds bestaande bindingsteks op ’n meer dinamiese wyse op te voer. Mareli Pretorius (Stellenbosch Universiteit, Drama Departement) het die regie hanteer.
Die nuwe teaterelement was duidelik ’n wyse besluit. Skielik was die vertoning ’n fusion van literatuur, musiek en teater. Ons het daarna nuwe speelvlakke by Woordfees, Kalfiefees, Vrystaat Kunstefees, Aardklop en veel ander geleenthede geniet.
Nadat ons besluit het om die produksie Nederland toe te bring, was dit duidelik dat ons kreatief sou moes dink en werk om fondse vir die toer in te samel. Dit het sin gemaak om dit te doen deur die implementering van ’n vierde kunselement – die visuele kunste. Die oorspronklike kuns is opgeveil, en die afdrukke van die oorspronklike kuns word te koop aangebied op ons crowdfunding-webwerf. Die kuns word by meeste van ons vertonings (waar infrastruktuur dit toelaat) op die verhoog geprojekteer terwyl die musikante en akteurs optree. Dit skep dus ’n addisionele ervaringselement tot die vertoning.
Korreltjie Kantel is ’n kreatiewe interpretasie van Brink en Jonker se liefdesverhouding. Die materiale wat as inspirasie gebruik is, is die liefdesbriewe uit Vlam in die Sneeu, Brink se hoofstuk oor Ingrid Jonker in sy outobiografie Vurk in die pad, Brink se roman Die Ambassadeur, en Jonker se gedigte.
Omdat hul verhaal hul eie is, poog ons nie om ’n kronologies en geskiedkundig korrekte uitbeelding van hul verhouding weer te gee nie. Ons erken hul talent, ons erken hul bydrae tot ons Afrikaanse letterkundige landskap, ons erken hul passie, hul konneksie – en ons sien ook onsself in hul verhaal raak.
Passie en ’n konneksie met iemand spesiaal is iets waarna ons almal smag, wat ons wil ervaar of al ervaar het. Belangrikste is dat ons deur middel van Korreltjie Kantel die ontsterflikheid van liefde en kuns wil vier.
Van die kunstenaars wat aan die oorspronklike vertoning meegeskryf het, staan bekend as Engelstalig. Wat was vir hulle die aantrekkingskrag van hierdie Afrikaanse skrywers? En hoekom wou jý die vertoning doen?
Beide Nick Turner en Jamie Jupiter is Engels. Tog het albei van Jonker en haar werk geweet. Haar roem in Suid-Afrika strek verder as net Afrikaanssprekendes. Haar werk was ook voorgeskryf in skoolliteratuur in die jare toe Turner, Jupiter en ekself op skool was. Brink se werke is verskeie kere vertaal na Engels. Sy werk is dus bekend aan Engelse lesers.
Beide Jamie en Nick het uitgesien na die uitdaging om musiek in Afrikaans te skryf en toonset. Hul vars aanslag tot die taal sorg vir ’n unieke klank en speelsheid – wat groot waarde tot die projek lewer. Hulle klink nie soos almal anders nie.
Is dit moeilik om die volledige produksie oorsee te neem? Het jy oorweeg om dit kleiner te maak? Waarom wil jy hê dat Nederland die volle pakket kry?
Ja, dit is moeilik. Niks wat die moeite werd is, is maklik nie. Ek wil hê Nederlanders moet die volle pakket kry, omdat dit die beste pakket is. Dit is vir my belangrik om ook vir die produksiespan die geleentheid te gun om buite Suid-Afrika op te tree en die vrugte van hul harde werk te pluk. Dit is goed om te weet jou werk het vlerke buite die grense van jou eie land.
Hoe lyk julle toerskema? Het julle ook nog andere planne terwyl julle hier is? Wat sien jy en die groep die meeste na uit?
Ons toerskema is redelik druk. Ons begin die 17de Oktober in België, waarna ons toer in Nederland op die 19de Oktober begin. Ons tree as volg op:
17 Oktober: Tinnenpot, Gent
19 Oktober: Sijthoff Cultuur, Leiden
22 Oktober: Rietveld Theater, Delft
24 Oktober: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam (akoestiese uittreksel uit Korreltjie Kantel)
25 Oktober: Theaterkerk, Bemmel
26 Oktober: De Nieuwe Liefde, Amsterdam
27 Oktober: Theater Kikker, Utrecht
Inligting oor die toer sal binnekort ook op www.iluminarproductions.co.za wees.
Ons sien daarna uit om Nederlanders se reaksie op die vertoning te ervaar, om Suid-Afrikaners by ons vertonings te verwelkom, en om die strate van Nederland en Vlaandere se pragtige dorpe te bewandel, heerlike bier te drink en in straatkafees te “borrel”.
♦ Foto’s: verskaf
Buro: IG