Lynelle Kenned: "Die stem is ’n 'oral' representation van stories wat jy dra"

  • 0

Min mense het al iemand anders se stembande gesien. Wanneer Lynelle Kenned sing, is dit bykans onmoontlik om nie te wonder wat in daai keel van haar aangaan nie. Daar is natuurlik ’n diafragma en ’n reeks ander faktore wat bydra tot die uiteindelike klank, maar argumentsonthalwe sal dit tog interessant wees om agter die kap van haar ... wel, stembande te kom. Sy beaam my nuuskierigheid deur te sê dat ander mense ook sukkel om die verband te trek tussen haar liggaamsgrootte en tamaai stem. Dit help effens dat ek nie alleen is in my verwondering nie.

Lynelle is ’n aktrise, sanger, TV-aanbieder en, volgens ’n onlangse artikel, gamer van formaat. Assassin’s Creed en God of War is blykbaar haar gunsteling games. Dit klink bloeddorstig. Jou deursnit-operasanger praat heeltyd oor hulself en dra serpe, selfs in die somer, om die stem te beskerm teen die kieme van sterflikes sonder talent.

O ja, en sy het ’n paar jaar gelede 725 km in 25 dae gestap as deel van die Camino-roete.

Hoekom sal mens vrywillig jou knieë en longe so wil straf? wou ek weet.

Sy het destyds deur ’n donker fase in haar lewe geworstel en ontsnapping uit die daaglikse roetine in die stad was genoodsaak.

"Ek wou ontsnap uit die lewe en dis actually ’n vriendin wat my laat besef het dat daar iets fout is. Sing is deel van my alledaagse lewe, maar sy sê toe daar is iets fout met my want ek sing nie meer nie."

En was daar ’n keerpunt, of gewaarwording tydens die pelgrimstog?

"Twee weke in die ding moes ek oor ’n berg stap. Ek het opgehardloop, en toe ek heel bo kom was ek so happy en free. As jy nie jou donker ken nie, is jy nie bewus van jou lig nie."

Het sy op die berspits gesing? Ek wou met my hele hart so graag hê sy moes sê "The hills are alive". Maar helaas het sy nie gesing nie. Ek het my verskoning tydens die onderhoud aangebied oor my onsensitiwiteit. Dis ’n ernstige saak en ek sal nie eers verby die eerste klip kom nie weens my dun bene en sondes wat swaarder weeg as jou gemiddelde hyskraan .

Sy lag. "Ek het so verlig gevoel."

Tell met about it!

Terug by haar stem en wat sy alles daarmee aanvang en vermag. Opera was haar overture tot die vermaaklikheidsbedryf. Die befaamde sangeres Virginia Davids was haar leermeester tydens haar musiekstudies aan die Universiteit van Kaapstad. Sedert sy ’n koker en handdruk van die rektor ontvang het, het sy rolle losgeslaan in vele operas, onder andere Le Nozze di Figarro, Die Entfuhring aus dem Serail, Il Viaggio a Reims en La Boheme. Daar is ook talle musiekspele op haar kerfstok: Calling us home, West Side Story, The Sound of Music, Orpheus in Africa, Blood Brothers en Showboat. Dan is daar nog ’n reeks toekennings wat sy ontvang het vir haar verhoogwerk. Die bekronings sluit in ’n Fleur du Cap-teatertoekenning in 2016, ’n Fiësta-toekenning in 2017, ’n Naledi in 2018; en sy is ook die ontvanger van die Kunste Onbeperk Young Voice in 2019.

Indrukwekkend, nè? Maar dit stop nie hier nie. Sy is ook te sien in drie onlangse Suid-Afrikaanse films: Playboyz, Wonderlus en Twee grade van moord. Sy was naaswenner in die Top Billing Presenter Search-kompetisie en aanbieder van onder andere Pasella, 123Fixit en JýGeld. Dan is daar nog ander toneelstukke en belangrike dinge wat sy al gedoen het wat nie hier genoem gaan word nie vir die onthalwe van mense (myself inkluis) wat worstel met selfbeeld issues en hulself met ander vergelyk. Dankie, Lynelle.

Selfs vir sekerlik een van die veelsydigste sangers in Suid-Afrika is ’n suksesvolle uitvoering (as individu) nie altyd ’n gegewe nie. So, wat is nodig om daardie magiese oomblik te bewerkstellig?

"Daai oomblik wat dit gebeur, dit kom van binne af. Dis ’n heightened presence, jy channel iets. En daai oomblik becomes greater than the sum of iets parts. Dis ’n ripple effect, dis iets wat die gehoor kan voel."

Gepraat van religieuse ervarings. Martinus Basson het onlangs by die KKNK se openingsprogram ’n commendatio gelewer ter viering van Anna-Mart van der Merwe. Hy het óf iemand aangehaal óf dit was ’n oomblik van onverdunde insig in die wêreld van uitvoerende kunste. Hy het gesê: "Al wat belangrik is, is die waarheid en vertikale tyd."

Die waarheid is dat ’n sangstem ook jou emosionele status op ’n gegewe stadium as't ware aanvoel, en dit kan maak of breek beteken vir jou loopbaan. Dit is juis waarom Lynelle die Camino aangepak het.

"Singing is all about breath. Dit is ’n expression van wie jy is en daai emotions kan jy hoor. Die kleur van my stem het verander. My klassieke stem het voller geraak en hoe meer contemporary ek gesing het, hoe dieper raak my stem – ’n ouer tipe lounge whiskey klank."

Om hoog te kan sing is indrukwekkend en ’n nuttige party trick, maar om dit te doen voor duisende mense in ’n konsertsaal is ’n ander storie. En, om dit so te doen dat die gehoor iets kan voel, is skaars. Ek het een aand West Side Story gaan kyk met Lynelle in die rol van Maria. Iewers op ’n balkon of op ’n stellasie waar ’n spotlight op haar skyn, het sy die ekwivalent van ’n musikale Everest bereik, in toonhoogte, nootlengte en volume. Dis koud en alleen daar bo, want as jy begin wankel, tuimel jy in statuur en moet dan die res van die konsert maar met nederigheid deur die gesmelte ys sukkel.

In ieder geval, tydens hierdie noot wat bo die orkes uitstyg, het ek die konsep van vertikale tyd begin verstaan mbt ’n magiese ervaring op ’n verhoog. Ek het agter in die goedkoop sitplekke gesit en begin dink ek is dalk op pad hemel toe, want ek sweer my liggaam het ’n paar sentimeter bo die stoel gesweef.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top