Tannie Maria
Ná die sukses van die eerste seisoen van Recipes for love and murder is die fiktiewe dorpie Eden weer aan die gons vir ’n tweede seisoen met Maria Doyle Kennedy as die geliefde tannie Maria.
Regardt en Jessie
Recipes for love and murder is gebaseer op die skrywer Sally Andrew se uiters gewilde tannie Maria-reeks. Dié karakter is ’n kosskrywer en troostante wat in ’n moordondersoek gewikkel raak saam met haar beste vriendin en kollega, die joernalis Jessie.
Seisoen twee, besoek twee
“Om ’n seisoen twee van ’n program te doen is altyd spesiaal. Dit beteken mense hou daarvan en dat hulle meer wil sien,” sê die aktrise en sangeres Maria Doyle Kennedy, wat die rol van tannie Maria vir ’n tweede keer vertolk.
Kennedy sê die filmspan en akteurs het haar vriende geword en om terug te kon keer vir die verfilming van ’n tweede seisoen het die verhouding tussen hulle “agter en voor die kamera verdiep”.
Vir Kennedy was die ervaring veel anders as gedurende die verfilming van die eerste seisoen, wat gedurende die pandemie plaasgevind het. “Dié keer kon ons saam met mede-akteurs en vriende bymekaarkom. Die kuns- en kultuurplekke was oop. Ons kon rondloop, gaan uiteet en tyd saam spandeer.”
Sally Andrew se boeke wakker ’n waaghalsigheid in die kombuis aan
Kennedy was nie voorheen bekend met Sally Andrew se werk nie, maar nadat sy die draaiboek gelees het, wou sy graag deel wees van die reeks en het onmiddellik die boeke ook gelees.
Die skrywer Sally Andrew het ’n spesiale gasverskyning as ’n ekstra gemaak gedurende die eerste seisoen en het gereeld op die stel kom kuier tydens die verfilming van die tweede seisoen.
Tannie Maria kook
Kook Doyle soos haar karakter tannie Maria?
“Nee, ek kook glad nie soos tannie Maria nie, ek wens ek kon! Ek hou wel van kook en om haar te vertolk het my meer eksperimenteel gemaak met wat ek saamgooi.”
Sy voeg vinnig by dat sy glad nie kan bak nie en vertel laggend dat “daardie ongelooflike veganistiese koek van die eerste seisoen het ek nie gemaak nie”. Sy het dit wel probeer maak, “maar dit was ’n ramp”.
Luister en probleme takel
Dié talentvolle aktrise kom uit ’n groot uitgebreide familie met sterk vrouens. Dieselfde geld vir haar vriendekring.
Sy hou daarvan om raad te gee en na ander se raad te luister. Daarom vind sy dit nie “ongewoon om aan ander mense se probleme, en maniere om dit op te los, te dink nie”.
Doyle het vier kinders. Hulle eet gewoonlik saans as ’n gesin saam. Sy toer selde sonder haar gesin en sê dat dit nie vir hulle goed is om vir lang tye weg van mekaar te wees nie. Hulle probeer dus eerder “dinge so uitwerk dat dit moontlik is vir die kinders om saam te kom, maar ook by te bly met hul skoolopleiding”.
Doyle se eggenoot is ’n musikant. Hy neem sy werk saam met hom waar hy ook al mag gaan.
Suid-Afrika is kompleks en fassinerend
Tydens die verfilming van die tweede seisoen het Kennedy en haar gesin soveel moontlik van die Kaapprovinsie te gesiene gekry. Hulle het dus “kort reise na plekke soos Hermanus en Paternoster” onderneem en het “ook plekke noord en suid van Prins Albert, waar van die verfilming plaasgevind het, besoek”.
Kennedy vertel dat sy ’n lang lys plekke in Suid-Afrika het wat sy graag sou wou besoek. Durban sou sy graag wou sien en dan die land ook “dieper” verken.
“Suid-Afrika is ingewikkeld, maar fassinerend. Ek voel asof ek net begin om die oppervlak te krap. Dit is geografies verstommend en vol verassings.”
Sy sien ons land as ’n ruimte vol “dig verweefde kulture met soveel tale, etnisiteit en koskulture. Ek sal baie graag meer in Suid-Afrika wil reis. Volgende keer gaan ek ’n bietjie ekstra tyd inbou, hetsy aan die begin of die einde.”
Sy kon gereeld teaters en galerye besoek en sê dat Kaapstad ’n “ongelooflike teaterkultuur en groep akteurs” het. “Die skilder Esther Mahlangu se retrospektiewe uitstalling en die Iziko-museums was vir my ’n groot hoogtepunt.”
Wat om te verwag
Kennedy verklap dat ons in die tweede seisoen van Recipes for love and murder ’n verdieping van die karakters se reeds gevestigde verhoudings kan verwag, “soos die verhouding tussen tannie Maria en Jessie, tannie Maria en die speurder Khaya, ook Jennifer Steyn se karakter Hattie”.
Khaya en Piet
Sy vertel ook dat ons te siene sal kry hoe die fiktiewe dorp Eden funksioneer. In die eerste seisoen het kykers flitse van die karakters en hulle verlede gekry. Sy dink dat “hierdie mallerige odd balls” in seisoen twee tot hul reg sal kom. “Ek wil saam met hierdie mense kuier en na hierdie dorp toe gaan. Ek weet nie van die oplos van hulle moorde nie, maar ek sal beslis vir hulle gaan kos kook.”
Ten slotte
Maria Doyle Kennedy se Ierse aksent skemer sterk deur wanneer sy praat oor haar mede-akteurs en die res van die rolverdeling, die uitspraak van die akteurs se name rol egter maklik op haar tong.
Het Doyle ’n spesiale boodskap aan die LitNet-lesers? Sy het: “Die wêreld lyk op die oomblik baie oorweldigend, ons ervaar politieke onrus en staar die voortdurende klimaatkrisis in die gesig. Ons kan maar probeer en ons bes doen. Miskien sal ons dan voel dat ons werklik met eer leef.”
Seisoen twee van Recipes for love and murder
Recipes for love and murder se regie word behartig deur Jozua Malherbe en Karen Jeynes. Dit word vervaardig deur Thierry Cassuto in ’n vennootskap tussen AMC Networks se Acorn TV, MultiChoice en Both Worlds Pictures, in samewerking met Global Screen.
Recipes for love and murder word Donderdae om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.
Sally Andrew se boeke
As jy nog nie Sally Andrew se boeke ontdek het nie, is die tyd reg!
- Recipes for love and murder (2015)
- The satanic mechanic (2016)
- Death on the Limpopo (2019)
- The milk tart murders (2022)
Die boeke word uitgegee deur Umuzi, ’n druknaam van Penguin Random House SA. Hulle is by enige deeglike boekwinkel te koop, ook aanlyn.
- Foto’s verskaf