Marieke Lucas Rijneveld se The discomfort of evening: wenner van die 2020 International Booker Prize

  • 0

.......

“Die res van die roman – wat eintlik ook as streeks- of plaasroman gelees kan word, maar dan as ’n debunking van die plattelandse nostalgie wat hierdie genre dikwels tipeer – is ’n fassinerende ontplooiing van ’n verhaal oor rou, maar ook oor die soektog van ’n pubermeisie na identiteit. So verkry die boek ’n psigologiese dimensie, maar ook die karakter van ’n coming-of-age-roman."

.......

Die invloedryke International Booker Prize – een van die belangrikste pryse vir Engelstalige literatuur – word jaarliks toegeken aan ’n boek wat in Engelse vertaling in die Verenigde Koninkryk of Ierland gepubliseer is. Dit is ’n gesogte prys wat ’n skrywer in sig van die internasionale boekwêreld bring en ’n skrywersloopbaan ’n mooi hupstootjie kan gee. En deurdat die prysgeld (ongeveer R1,1 miljoen) tussen skrywer en vertaler verdeel word, word ook die vertaler (wat dikwels ontereg op die agtergrond bly) in die kollig geplaas.

Op Woensdag 26 Augustus is Marieke Lucas Rijneveld (gebore op 20 April 1991 op Nieuwendijk, Nederland) as die 2020-wenner aangewys vir haar roman The discomfort of evening, vertaal deur Michele Hutchison en uitgegee deur Faber & Faber. Met hierdie toekenning is Rijneveld – ’n skrywer wat ook twee dae per week op ’n plaas werk – nie net die jongste wenner ooit van hierdie prys nie, maar is dit ook die eerste keer dat dié prys vir ’n debuutroman toegeken word, asook die eerste keer dat hierdie eer ’n Nederlandse skrywer te beurt val. As wenner van die International Booker Prize volg Rijneveld in die voetspore van Jokha Alharthi, die 2019-wenner, vir Celestial bodies (vertaal deur Marilyn Booth) en Olga Tokarczuk, die 2018-wenner, vir Flight (vertaal deur Jennifer Croft).

Marieke Lucas Rijneveld (Foto via Wikimedia Commons [CC BY-SA 4.0])

The discomfort of evening het oorspronklik in Januarie 2018 in Nederlands as De avond is ongemak by die uitgewer Atlas Contact verskyn. Voor dit was Rijneveld veral bekend as digter van die bundel Kalfsvlies (2015, Atlas Contact), wat bekroon is met die C Buddingh-prys vir beste poësiebundel. Haar debuutroman, wat drie jaar later verskyn, trek onmiddellik aandag: Minder as ’n maand na publikasie word dit op die invloedryke Nederlandse TV-program De wereld draait door aangewys as boek van die maand, verskyn daarna in alle topverkoperlyste, en word die besverkoopte literêre roman van die Nederlandse Boekenweek. Intussen is die roman in 20 tale vertaal, en het daar ook ’n tweede bundel poësie, Fantoommerrie, van Rijneveld verskyn, vanjaar bekroon met die Ida Gerhardt-poësieprys.

Jas Mulder, die 10-jarige hoofkarakter van The discomfort of evening, is woedend omdat haar broer Matthies haar nie wil saamneem as hy vir sy ma Kerskaarte aan die anderkant van die meer gaan besorg nie. Dit is winter, die meer is bevrore en hy gaan op sy ysskaatse. Volgens Matthies is Jas nog te jonk daarvoor en mag sy as sy ouer is met hom saamgaan.

Uit woede verwens Jas hom: God kan maar liewer haar broer neem as haar lieflingskonyn, waarvan sy vermoed dat dit vir die Kersete bestem is. Dieselfde aand nog word haar wens bewaarheid as die nuus oor Matthies se dood die gesin bereik. Die res van die roman – wat eintlik ook as streeks- of plaasroman gelees kan word, maar dan as ’n debunking van die plattelandse nostalgie wat hierdie genre dikwels tipeer – is ’n fassinerende ontplooiing van ’n verhaal oor rou, maar ook oor die soektog van ’n pubermeisie na identiteit. So verkry die boek ’n psigologiese dimensie, maar ook die karakter van ’n coming-of-age-roman. Met sy gereformeerde agtergrond word die boek gesien as opvolger van Nederlandse romans van skrywers soos Jan Wolkers, Maarten ’t Hart, Jan Siebelink, Robert Haasnoot en Franca Treur, terwyl die tema van die gestorwe broer weer aansluit by boeke soos Jan Wolkers se Terug naar Oegsgeest (1965), Noë Frank se Het gemaal (2000) en Gerbrand Bakker se Boven is het stil (2006).

Rijneveld se roman is deurdrenk van onrus en ongemak, en deurweek met die behoefte om te ontsnap uit hierdie toestand van beklemming, waarvan die plaas waarop Jas binne ’n streng godsdienstige omgewing grootword ’n fisiese parallel is. Aan die plaas grens ’n dam, en aan die oorkant van die dam is ’n stad waaroor Jas en haar jonger sus Hanna hunkerend fantaseer – dáár lê hul bevryding, wil hulle glo. Die motto van die roman, ontleen aan die werk van Maurice Gilliams, sluit hierby aan: “De onrust schenkt vleugels aan de verbeelding.” So ook die motto van die eerste deel (daar is drie dele) geneem uit Jan Wolkers (2008) se Verzamelde gedichten:

          Er staat geschreven, “ik maak alle dingen nieuw!”
          Maar de akkoorden zijn een waslijn van verdriet,
          Messcherpe vlagen knakken het geloof
          Van hem die weg wil vluchten uit dit wreed begin.
          De ijzelregen gesels bloei tot glazig moes,
          Een hondsvot schudt zijn pels kurkdroog in het geweld.

Uit ’n onderhoud met Arjan Visser is dit duidelik dat The discomfort of evening deels gebaseer is op outobiografiese gegewens. Net soos haar hoofkarakter Jas, het ook Marieke grootgeword in ’n gereformeerde boeregesin. Soos Jas, het ook sy haar broer verloor, maar, anders as die 10-jarige Jas, was Rijneveld net drie toe haar 12-jarige broer in ’n verkeersongeluk gesterf het. Na die dood van haar broer het Marieke verantwoordelik begin voel vir haar ouers; net soos Jas wou sy ten alle koste vergoed vir die ellende waarbinne die gesin gedompel was en daarvoor sorg dat hulle nie nog dieper in die put van droefenis versink nie. Marieke word ’n angstige kind met dwangmatige gedrag: So wil sy, net soos Jas – uit vrees dat sy sou siek word en haar ouers nog ’n kind sou verloor – nie meer haar jas uittrek nie. Vir Marieke se rou was daar weinig belangstelling. Inteendeel. Dit was sy wat haarself al hoe meer moes plooi aan die behoeftes van haar omgewing en haar ouers, met die gevolg dat sy later nie meer seker was wie sy nou eintlik self is nie. In ’n onderhoud in De Volkskrant vertel Marieke hoe sy al van jongs af ’n seun wou wees en daarom die fantasievriend Lucas geskep het. Omdat sy op hoërskool geboelie is oor haar seunsagtige gedrag, het sy haarself aangepas by die sosiale verwagtinge van haar omgewing, maar op haar 19 besluit om tog nie meer toe te gee aan die druk nie en haarself vervolgens die naam Lucas as tweede voornaam gegee. In die Volkskrant-onderhoud sê sy: “Ik voel me zowel jongen als meisje, een tussenmens.”

So ook weet Jas, wat in haar puberteit is, nie hoe om haarself te ontwikkel nie. Sy word vasgeklem deur die familiesituasie en die inperkings van haar omgewing. Ook weet sy nie hoe om met haar ontwakende seksualiteit om te gaan nie, hoe om dit te kanaliseer nie. In plaas daarvan om te ontwikkel, verstar sy. Sy wil die verlede bewaar en alles om haar vashou. Verwoed begin sy dinge versamel. Selfs haar ontlasting wil sy nie meer loslaat nie. Mettertyd voel sy of sy nie meer ’n kern het nie, maar slegs ’n omhulsel is – sy word as’t ware haar jas waaraan sy verbete begin vasklou. Die enigste uitlaatklep wat sy het, is haar verbeelding, en deur middel van haar fantasie ontsnap sy na “die oorkant”. Dáár, aan die anderkant van die meer, sal sy haarself kan wees. Die scenario wat ontplooi is verontrustend en ongemaklik. Dus begryplik dat “Wees onverbiddelik” die woorde is wat Rijneveld tydens die skryf van hierdie roman bo haar lessenaar opgesit het.

Soos Ted Hodgkinson, die voorsitter van die komitee van beoordelaars sê, is The discomfort of evening ’n “tender and visceral evocation of a childhood caught between shame and salvation, and a deeply deserving winner”. Dit is ook die stilisties krag en beeldende kwaliteit van die roman wat opval. Kees ’t Hart skryf in De Groene Amsterdammer: “[H]aar roman barst uit zijn voegen van de altijd rake, scherpe, gruwelijke, soms gewoonweg geestige beelden. Ze maakt alles zichtbaar …” Rijneveld slaag daarin om die sinistere en duistere (ruimtelik asook psigies) atmosfeer waarbinne haar hoofkarakter worstel – tonele van bloedskande, mishandeling van diere, eensaamheid en angs – beeldend en gevoelsmatig oor te dra en, soos die beoordelaars tereg sê, haar lesers mee te voer in ’n roman van betowerende skoonheid, onmiskenbare krag en met ’n onverbiddelike blik. 

Die ander vyf boeke van die 2020-kortlys 
  • The enlightenment of the greengage tree deur Shokoofeh Azar (Farsi – Iran), vertaal deur Anonymous, gepubliseer deur Europa Editions.
  • The adventures of China Iron deur Gabriela Cabezón Cámara (Spaans – Argentinië), vertaal deur Iona Macintyre en Fiona Mackintosh, gepubliseer deur Charco Press.
  • Tyll deur Daniel Kehlmann (Duits – Duitsland), vertaal deur Ross Benjamin, gepubliseer deur Quercus.

  • Hurricane season deur Fernanda Melchor (Spaans – Meksiko), vertaal deur Sophie Hughes, gepubliseer deur Fitzcarraldo Editions.
  • The memory police deur Yoko Ogawa (Japannees – Japan), vertaal deur Stephen Snyder, gepubliseer deur Harvill Secker.

Die beoordelaars 

Ted Hodgkinson, hoof van Literature and Spoken Word by die Southbank Centre, was voorsitter van die 2020-paneel van beoordelaars wat ingesluit het: skrywer Jeet Thayil; skrywer en digter Valeria Luiselli; vertaler (ontvanger van die Man Booker International Prize) en skrywer Jennifer Croft; en Lucie Campos, direkteur van Villa Gillet, Frankryk se Sentrum vir Internasionale Literatuur.

Verwysings
  • Berkeljon, Sara. 2018. “Me alleen Lucas noemen zou ik een te grote stap vinden, maar ik word nooit meer alleen Marieke.” De Volkskrant, 3 Februarie.
  • ’t Hart, Kees. 2018. Internse puber. De Groene Amsterdammer, 22 Februarie.
  • Van Laar, Nora. 2019. Marieke Lucas Rijneveld. De avond is ongemak. Lexicon van Literaire Werken. Vol 117, Maart.
  • Visser, Arjan. 2018. “Ik kan niet niet schrijven.” Trouw, 27 Januarie (onderhoud).
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top