As jy nie lus het vir die geroesemoes van Amsterdam nie, maar steeds op soek is na eg Nederlandse besienswaardighede, is die Marken en Volendam goeie keuses. Hoewel die eiland Marken sedert die 13de eeu van die vasteland geskei is vanweë ’n storm, word dit sedert 1957 met ’n dyk aan die vasteland verbind. Dit beteken egter dat die inwoners eeue lank in isolasie van vissery geleef het. Hoewel Marken deesdae maklik bereikbaar is per motor of bus, het die dorp nog steeds daardie ongekunstelde karakter waarop die Markenaars baie trots is.
Besonderse houthuise
Voor die koms van die Afsluitdyk was Marken oorgelewer aan die nukke van die natuur en het hulle gereeld met oorstromings te kampe gehad. Om die probleem die hoof te bied is die meeste van die oorspronklike huise op kunsmatige heuwels, of terpen, en later ook op pale gebou. Die tipiese houthuise van die eiland het egter behoue gebly en nuwe huise is ook in hierdie styl gebou.
Wat om te doen
Begin jou besoek by die Klompenmakerij wat net langs die parkeerarea en naby die bushalte geleë is. Hier kan jy sien hoe klompe met ’n masjien en met die hand gemaak word. Die masjien is ’n stoommasjien uit 1913 en die enigste in sy soort in die wêreld. In die museumgedeelte van die Klompenmakerij kan jy meer leer oor die geskiedenis van klompe en waarom hulle steeds gedra word. As jy klaar is, kan jy rustig in die sonnetjie ’n koppie koffie en ’n stroopwafel geniet.
’n Entjie verder kan jy die Marken Museum besoek. In dié museum kan jy meer van die tradisies van Marken leer, soos die tradisionele kleredrag, gebruiksvoorwerpe en kunswerke van die eilandbewoners. Verken die interessante brûe. Daar is die Wilhelminabrug, Julianabrug, Beatrixbrug en die Maximabrug – almal vernoem na koninginne van Nederland. Terwyl jy oor die brûe loop, verken die pragtige houthuise in die buurt, waarvan sommige op heuwels en ander op pale gebou is.
Moet ook nie vergeet om by die bekende vuurtoring Paard van Marken langs te gaan nie. Die vuurtoring is in 1839 op die mees oostelike punt van die eiland opgerig en is 16 m hoog. Dit word vandag nog bewoon en is dus nie oop vir die publiek nie, behalwe op spesiale afspraak. Jy mag egter van die hek af ’n foto neem. Die eiland het ’n omtrek van sowat 9 km, wat beteken dat jy dit maklik te voet kan verken. In die hawe van Marken is daar verskeie plekke waar ’n mens lekker kan eet en drink.
Volendam Marken Express
Nadat jy jou aan die houthuise, klompe en kleredrag verwonder het, kan jy die boot Volendam Marken Express na ons volgende bestemming, Volendam, neem.
Dié interessante dorp is veral bekend vir sy mooi hawe, vis, tradisionele kleredrag en outentieke Nederlandse karakter en is ’n geliefde bestemming onder toeriste. Volendam verskil in ’n paar opsigte van die res van die provinsie Noord-Holland. Anders as die meeste ander plekke in die provinsie het Volendam nog ’n sterk Katolieke karakter. Daarbenewens het Volendammers ook hul eie dialek en tradisionele kleredrag. Mense kom van heinde en verre om hulle in die tradisionele Volendamse kleredrag te laat afneem, soos hier gesien kan word.
Wat om te doen
Besoek die Palingsoundmuseum en leer meer van die unieke klank van Volendamse popmusiek. Op dieselfde perseel kan jy gaan inloer by die Smit Bokkum-palingstokery. Hier kan besoekers tydens ’n rondleiding sien hoe word paling volgens ’n eeue oue tradisie gerook. En as jou maag begin grom na die heerlike geure van gerookte paling, kan jy aan ’n paar heerlike palinggeregte in die restaurant om die draai gaan smul.
Nederland is natuurlik kaasland, en as jy net so lief is vir hierdie southappie, moet jy Cheese Factory Volendam besoek. Hier kan jy meer leer van tradisionele kaasmakery en natuurlik ook van die kaas koop om vriende en familie in Suid-Afrika te laat proe (dis nou as jy dit nie voor die tyd klaar opgeëet het nie).
Op die hawe van waar die boot vertrek, is daar talle winkeltjies waar jy aandenkings kan koop of iets lekker kan eet en drink.
Klaar gekoop en geëet, kan jy weer die boot terugneem na Marken en van daar na jou eindbestemming vertrek. Volendam is ook maklik met die bus te bereik vanaf Centraal Station in Amsterdam. As die tyd dit toelaat, kan jy ook soos ’n regte Nederlander die fiets neem. Die roete neem jou al langs ’n pragtige polderlandskap en is vir seker iets om te oorweeg.
Marken kan ook met die fiets bereik word. Jy kan ook die bus 315 na Marken vanaf Centraal Station neem. As jy met die motor kom, moet jy €5 (ongeveer R90,00) vir parkeerplek vir die dag