Op 11 Desember 2019 het Marlie van Rooyen, lektor: Linguïstiek en Taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat, ’n belangrike mylpaal in haar akademiese loopbaan bereik, naamlik die suksesvolle verdediging van haar PhD-verhandeling by die Katholieke Universiteit Leuven se Campus Sint-Andries in Antwerpen, België.
In haar verhandeling getiteld Tracing the translation of community radio news in South Africa: An actor-network approach, het Marlie nie alleen daarin geslaag om gemeenskapsradio binne die Suid-Afrikaanse konteks te ondersoek aan die hand van ’n Europese sosiologiese model nie, maar ook om ’n stuk Afrikafilosofie met Europa te deel.
Die geleentheid, wat deur die lede van die akademiese jurie in volle akademiese drag (swart fluweeltogas met bypassende musse) bygewoon word, is geopen deur Elke Brems, koördineerder van die KU Leuven se Onderzoekseenheid Vertaalwetenschap, waarna Marlie haar navorsing en resultate kortliks aan die jurie en gehoor voorhou.
Hierna volg die “verdediging” waartydens die kandidaat moet antwoord op vrae van die paneel. Die lede van die jurie benut hierdie geleentheid om die belang en kwaliteit van Marlie se werk te benadruk. Almal is dit eens dat die navorsing ’n belangrike bydrae tot die vertaalwetenskap lewer danksy die innoverende en prikkelende manier waarop dit uitgevoer en aangebied is. Nadat Marlie al die vrae bevredigend beantwoord het, verlaat die jurie die lokaal om finaal oor haar doktorale lot te beslis.
Die gehoor, waaronder Marlie se eggenoot, Van Dyk van Rooyen, wat hierdie hoofstuk saam met haar kom afsluit het, rek bene en neem die voorafgaande uur in ligter luim in heroënskou. Ook personeel en mede-doctorandi van die KU Leuven is teenwoordig, en selfs een van die baanbrekers van die vertaalwetenskap, Christiane Nord – wat sedert 2007 as buitengewone professor aan die Universtiteit van die Vrystaat verbonde is – het al die pad uit Heidelberg, Duitsland, gereis om in Marlie se vreugde te deel. Die uitslag van die jurie se beraadslaging is geen verrassing nie, en Marlie word amptelik ’n doktor in die vertaalwetenskap.
Marlie van Rooyen gee ’n kort uiteensetting van haar navorsing en resultate.
Haar studieleier, Luc van Doorslaer – professor in Vertaalwetenskap verbonde aan die KU Leuven en die Universiteit van Tartu (Estland), en ook navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch – kyk terug op die uitdagende pad wat Marlie as doctorandus afgelê het. Hy prys haar vasberadenheid en deursettingsvermoë in die uitvoer en verwerking van haar veldwerk, en die manier waarop sy die veeltalige en vertalende Suid-Afrikaanse gemeenskap kon belig.
............
“Die hoofdoel van Marlie se navorsing was om die rol en posisie van vertaling by Suid-Afrikaanse gemeenskapsradiostasies te ondersoek.”
............
Hy beskou haar doktorale verdediging in ANTwerpen as betekenisvol: in navorsing gegrond op die Franse sosioloog Bruno Latour se Akteur-Netwerk-Teorie (oftewel ANT), word die navorser immers vergelyk met ’n klein miertjie (“little ant”) wat op die grond rondskarrel, omdat hulle in nabye kontak met hulle navorsingsubjekte kom om al die inligting in te samel.
Volgens Van Doorslaer kan Marlie nou, soos Silvius Brabo, die Romeinse soldaat wat volgens oorlewering die reus Druon Antigoon oorwin, sy hand afgekap en in die water van die Schelderivier gewerp het (vandaar die naam Antwerpen, afgelei van “handwerpen”), haar “ant-like crawling” van haar afgooi en vlieg soos ’n voël.
Wanneer Marlie (wat trouens al van haar studentedae af die bynaam Marlie Mier dra) weer haar plek agter die kateder inneem om die bedankings te doen, kan ’n mens aanvoel dat sy ’n persoonlike Rubicon oorgesteek het. Sy gee erkenning aan almal wat die pad saam met haar gestap het, en die middag word gesellig by die dakterras van Campus Sint-Andries met ’n borrel afgesluit.
Gemeenskapsradio, nuusberigte en die rol van vertaling
Die hoofdoel van Marlie se navorsing was om die rol en posisie van vertaling by Suid-Afrikaanse gemeenskapsradiostasies te ondersoek. Gemeenskapsradio is ’n belangrike kommunikasiemedium omdat dit dikwels voorkeur bo ander media geniet.
Gemeenskapsradiogehore neem dikwels ook deel aan die daaglikse funksionering van die radiostasie en dan ook in hulle eie plaaslike tale. Tegnologiese vooruitgang het radionuuspraktyke getransformeer – veral die gebruik van selfone.
Marlie van Rooyen gee ’n kort uiteensetting van haar navorsing en resultate.
Bruno Latour se Akteur-Netwerk-Teorie het as nuttige raamwerk gedien waarbinne sowel menslike as nie-menslike akteurs wat ’n rol speel in die vervaardiging en verspreiding van nuusmedia, geïdentifiseer en ontleed kon word.
Veldwerk is uitgevoer by 12 gemeenskapsradiostasies wat regoor die Vrystaat versprei is, en het deelnemers uit verskeie taalgroepe ingesluit, ook die radiostasies se bestuurslede en individue wat tot nuusproduksie bydra. Hulpbronne vir en beperkings op die produksie en verspreiding van nuus is ook geïdentifiseer.
Een gevallestudie fokus op beriggewing oor ’n belangrike munisipale vergadering: om die nuusberig betyds by die stasie te kry, is dit op die radiostasie se Whatsapp-groep gedeel. Dit was egter in Sesotho geskryf, wat die nuusskrywer nie magtig was nie.
............
“Gemeenskapsradio is, veral onder sekere taalgemeenskappe, ’n belangrike kommunikasiemedium omdat dit dikwels voorkeur bo ander media geniet.”
............
’n Kollega het dus agter die nuusskrywer gaan staan en die storie uit Sesotho in Engels vertaal, terwyl die skrywer dit weer uit Engels in isiXhosa vertaal het vir die nuusberig. In ’n ander gevallestudie kan die totale ineenstorting van kommunikasie waargeneem word: beurtkrag het ingeskop net toe die nuusbulletin moes begin, iemand het uitgehardloop om die kragopwekker aan die gang te kry, maar die petrol was op – die nuusberig is gevolglik nooit uitgesaai nie.
Hierdie situasie is ’n sprekende voorbeeld van wat Latour omskryf as ’n tussenganger (“intermediary”) wat ’n bemiddelaar (“mediator”) word: in plaas daarvan om slegs ’n skakel in nuusproduksie te bly, word die (gebrek aan) elektrisiteitsvoorsiening ’n aktiewe agent wat die beriggewing kelder.
Gemeenskap een van die boublokke van die samelewing
Van die belangrikste bevindings van die studie is onder andere dat vertaling by gemeenskapsradiostasies nie slegs ’n rol speel in die vervaardiging van nuus nie, maar ’n prominente posisie beklee. Intratalige én intertalige vertaalhandelinge tussen die agente is waargeneem, wat die veeltalige nuusvloei by gemeenskapsradiostasies duidelik maak.
Eksamineringskomitee (v.l.n.r.): Peter Flynn (KU Leuven), Luc van Doorslaer (studieleier, KU Leuven/Universiteit van Tartu, Estland), Marlie van Rooyen, Piet van Poucke (Universiteit Gent), Roberto Valdeón (Universidad de Oviedo, Spanje), Leen d'Haenens (KU Leuven) en Elke Brems (KU Leuven).
Die nuusskrywers beskou vertaling vervolgens as deel van hulle pligstaat, maar erken ook ’n groot behoefte aan vertaalopleiding by gemeenskapsradio. Met behulp van ANT kon Marlie van Rooyen die onsigbare menslike én nie-menslike agente onthul, terwyl die kompleksiteit, onstabiliteit en onsekerheid van hierdie sosiale omgewing benadruk is.
............
“Beurtkrag het ingeskop net toe die nuusbulletin moes begin.”
............
Die gedetailleerde verslae wat sy volgens die ANT-metode opgestel het, illustreer die werklike, daaglikse aktiwiteite in die nuusruimte van gemeenskapsradio in ’n (Suid-) Afrika-konteks – iets wat nog nie voorheen of op hierdie manier gedoen is nie. Marlie het ook gevind dat Latour se “reisplan” haar gemotiveer én gedwing het om haar navorsing rustiger aan te pak, minder aannames te maak, uit die konteks te leer en ’n groter verskeidenheid entiteite in te sluit.
En hierdeur kon sy op Europese bodem wys wat ubuntu beteken en hoe dit in die praktyk werk: die idee van gemeenskap as een van die boublokke van die samelewing, oftewel “ek is omdat ons is”1.
............
Van Rooyen, Marlie. 2019. Tracing the translation of community radio news in South Africa: An actor-network approach. Unpublished doctoral dissertation, KU Leuven, Belgium.
............
1 John S. Mbiti in African Religions and Philosophy (1975): ‘I am because we are, and since we are, therefore I am.’
Buro: IG