Miljoene liter bier byna drein af weens inperking

  • 0

......

“Indien al die bier weggegooi moes word, sou dit volgens SAB letterlik die staat se belastinginkomste wees wat in die drein afgegooi moet word. Die voorraad wat die SAB sou moes vernietig se aksyns sou R500 miljoen beloop het, omdat die belasting betaal word eers wanneer dit verpak is.”

......

Terwyl duisende Suid-Afrikaners se kele smag na ’n glas koue bier, is meer as 130 miljoen liter bier byna in die drein afgespoel as gevolg van die COVID-19-pandemie.

Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) sit met ongeveer 132 miljoen liter se voorraad bier, rofweg die ekwivalent van 400 miljoen bottels, in hulle tenks wat as gevolg van die inperkingsregulasies nie gebottel mag word nie.

Foto: Pixabay.com

Die verbod op drankverkope gedurende grendeltyd het tot gevolg gehad dat daar nie meer genoeg pakplek was vir die al die bier by SAB nie en dit het in die tenks opgehoop.

SAB het verlede week gesê as hy nie die bier vinnig kan bottel en vervoer nie, sal dit weggegooi moet word. Daar is selfs foto’s op Twitter geplaas van bier wat reeds by een van die brouerye in Pretoria in die drein afgespoel moes word. SAB het glo begin om 25 000 liter bier in die drein af te spoel weens die verbod om drank te verkoop of die huidige voorraad te skuif.

......

“Die verbod op drankhandel beteken verder dat die SAB verplig mag word om 2 000 werksgeleenthede af te skaf. Dit is ongeveer die helfte van die arbeidsmag op die vloer.”

......

Duisende liter bier kan egter nou gered word nadat SAB ’n ooreenkoms met die regering bereik het om verpakte voorraad bier veilig van sy brouerye na sy stoorplekke te vervoer.

SAB het in ’n verklaring gesê die voorraad bier wat vernietig sou moes word beloop R150 miljoen. Die verbod op drankhandel beteken verder dat die SAB verplig mag word om 2 000 werksgeleenthede af te skaf. Dit is ongeveer die helfte van die arbeidsmag op die vloer.

Volgens Business Insider was dit te laat om al die bier wat reeds gebrou is te red en is daar verlede week begin om van die bier in die drein af te gooi. ’n Foto daarvan is op Twitter gedeel en bierdrinkers is aangeraai om liewer anderpad te kyk. Die twiet met foto’s is deur die multimediajoernalis Vumani Mkhize op Twitter geplaas.

Netwerk24 berig dat ’n woordvoerder van SAB bevestig het die foto’s op Twitter nie vals is nie, omdat daar wel van die bier weggegooi is, maar dit is nou gestop omdat die vervoer daarvan kan plaasvind.

Indien al die bier weggegooi moes word, sou dit volgens SAB letterlik die staat se belastinginkomste wees wat in die drein afgegooi moet word. Die voorraad wat die SAB sou moes vernietig se aksyns sou R500 miljoen beloop het, omdat die belasting betaal word eers wanneer dit verpak is. SAB sê dit sou beteken die geld word in die drein afgegooi terwyl die regering en die land se mense ’n dringende behoefte aan daardie geld het.

Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) het reeds verlede maand gevra dat die handel in bier hervat moet word. Hulle sê die verlenging van die inperking plaas hulle lewensbestaan in die weegskaal. SAB, Heineken en die Vereniging van Mikrobrouerye word deur Basa verteenwoordig.

Volgens die huidige regulasies mag drank eers vanaf vlak 3 verkoop word, en ook slegs drie dae ’n week tussen 09h00 en 12h00. Daar is nog geen aanduiding wanneer vlak 4 opgehef sal word nie.

In Duitsland was bierdrinkers heelwat gelukkiger. ’n Brouery het 2 600 liter bier gratis aan die publiek uitgedeel omdat hulle dit weens die koronavirus nie aan hotelle of restaurante kon lewer nie. In plaas daarvan om die bier weg te gooi het Willinger-brouery in die weste van die staat Hesse besluit om die bier gratis uit te deel.

Die eienaar, Franz Mast, het volgens Reuters gesê hy moes die tenks so gou as moontlik leegmaak om dit met vars bier te vul sodat dit gereed kan wees wanneer die kroeë weer toegelaat word om oop te maak en handel te dryf.

Lees ook 

Dit gons oor verbod op tabak- en drankverkope tydens inperking

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top