...
“Ek is opgewonde dat die ATM nou kan voortgaan om Afrikaans onbeskaamd saam met ander inheemse tale as inheemse taal te vier, want dit is waaroor dit vir my gaan,” het Van Wyk gesê.
...
Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het die handdoek ingegooi om die woord “Afrikaanse” uit die naam van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) te probeer verwyder.
Na heftige druk vanuit die Afrikaanse taalgemeenskap het Mthetwa Woensdag in antwoord op ’n vraag van die DA in die parlement bes gegee. Hy het gesê geen sodanige beleid is deur sy departement of die ministerie gemaak nie.
Die DA, DAK Netwerk en die Afrikaanse Taalraad was van die eerste organisasies om dit te verwelkom.
Mthetwa het op 10 Maart 2022 in Pretoria gesê dat die ATM se naam moet verander en dit is ononderhandelbaar. Woensdag het hy ’n 180-grade-U-draai gemaak.
Die DA het die jongste besluite deur ANC-ministers om Afrikaans as inheemse taal te erken en nie die ATM se naam te verander nie, as DA-oorwinnings oor Nzimande en Mthethwa se “haatlike aanvalle op Afrikaans” opgeëis. Die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, sê in ’n verklaring dit is onder volgehoue DA-druk dat kulturele regte wat in artikel 30 van die Grondwet vervat word, nie deur die ANC ondermyn kon word nie.
Schreiber sê in sy verklaring “hierdie opeenvolgende oorwinnings” bevestig ook dat die DA die harde werk doen eerder as om bloot leë woorde aan te bied. “Ons is die enigste politieke party wat in staat is om die ANC in sy spore te stuit wanneer hy ’n aanslag op ons Grondwet loods.”
Die uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, Danie van Wyk, het dit ook verwelkom dat die monument se naam nie meer in die gedrang is nie. Hy het sy dank uitgespreek teenoor alle organisasies en individue wat hulle stemme dik gemaak het om die minister in sy spore te stuit om die ATM se naam te probeer verander.
Van Wyk sê dit was van die begin af ’n absurde gedagte gewees. Hy glo nie dat daar nooit planne was om die naam te verander nie, en sê waar daar ’n rokie trek, is daar altyd ook ’n vuurtjie. “Ek is opgewonde dat die ATM nou kan voortgaan om Afrikaans onbeskaamd saam met ander inheemse tale as inheemse taal te vier, want dit is waaroor dit vir my gaan,” het Van Wyk gesê.
Hy sê die DA moenie die fout maak om dit as ’n DA-oorwinning op te eis nie, want dit is alle Afrikaanse mense wat lief is vir Afrikaans se oorwinning.
Van Wyk sê die DA het self heelwat te verduidelik oor hulle eie taalbeleid. Hy sê hy is dankbaar vir almal se rol om Afrikaans tot sy reg tel laat kom, maar die DA sal ook moet verduidelik waarom daar nie ’n woord Afrikaans op die munisipaliteite se webwerwe onder DA-bewind is waar tot 75% van die inwoners Afrikaans is nie.
“Die DA sien hulself as die groot stryders vir Afrikaans in die Wes-Kaap terwyl die Wes-Kaap se Departement van Onderwys uitsluitlik in Engels kommunikeer.” Van Wyk sê dit is ironies dat die DA voorgee hulle veg vir Afrikaans maar dat alle munisipaliteite onder DA-beheer eentalig Engels is op hulle webwerwe en daar nie ’n woord Afrikaans verskyn nie.
Die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, Conrad Steenkamp, sê hy is bly die kwessie oor die ATM se naam is nou uitgestryk. “Die Taalraad sal die situasie fyn dophou wanneer daar in die toekoms besluite geneem word oor die monumenterade en die moontlike samesmeltings daarvan.”
Steenkamp sê hy verstaan nie wat die minister bedoel wanneer hy sê hulle wou net seker maak dat daar een inheemse taal by al sy departement se entiteite aan boord geneem word nie. “Die ATM neem lankal veel meer as net een inheemse taal aan boord en Afrikaans is in elk geval ’n inheemse taal.”
Steenkamp sê dit was die ANC wat die hele kwessie verpolitiseer het. Hy is bly vir die rol wat die DA gespeel het in belang van Afrikaans maar gee nie om wie dit gedoen het nie. Hy stem egter saam met Van Wyk dat die DA ook antwoorde verskuldig is oor hulle eie interne taalbeleid in veral die Wes-Kaap. “Die Afrikaanse Taalraad het volgende week ’n afspraak met die DA daaroor en wil weet wat die DA se posisie ten opsigte van Afrikaans is waar hulle aan bewind is.”
Volgens Steenkamp moet die DA ook sê of die Wes-Kaapse provinsiale regering bereid is om finansieel by te dra tot die ATM se bedryfskostes, want dit is onwaarskynlik dat die ANC-regering sy beheer oor die Afrikaanse Taalmonument aan die DA-beheerde Wes-Kaap sal oorhandig soos wat die DA versoek het.