...........
“Suid-Afrika se misdaadkrisis is soortgelyk aan ’n lae-intensiteit burgeroorlog.” – SA Instituut vir Rasseverhoudinge
...........
Suid-Afrika is besig om ’n land te word waarin moord, verkragting en ander geweldsmisdade besig is om handuit te ruk. Die land word al hoe meer gewelddadig en onveilig om in te woon.
Dit is die somber gevolgtrekking waartoe verskeie organisasies en instansies kom na aanleiding van die jongste misdaadsyfers wat Donderdag bekendgemaak is.
Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) sê Suid-Afrika se misdaadkrisis is soortgelyk aan ’n lae-intensiteit burgeroorlog.
Foto: Pixabay.com
Die Minister van Polisie, Bheki Cele, het toegegee die jongste misdaadsyfers skep ’n donker prentjie van die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Cele het ’n polisie-afvaardiging gelei wat Donderdag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie verskyn het voordat die jongste syfers bekend gemaak is.
Die getal moorde en seksmisdade het aansienlik toegeneem van April verlede jaar tot Maart vanjaar teenoor die ooreenstemmende tydperk in die vorige jaar. Die getal moorde het met 700 tot meer as 21 000 toegeneem en seksmisdade met meer as 2 000 toegeneem tot 52 420. Dit beteken dat sowat 58 mense daagliks in Suid-Afrika vermoor word en 144 seksverwante misdade gepleeg word. Cele sê die syfers is kommerwekkend.
#CrimeStats The Police Ministry is currently briefing the Portfolio Committee on Police on the annual crime stats pic.twitter.com/ppxWBwPP6j
— SA Gov News (@SAgovnews) September 12, 2019
Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus (VF+), sê die polisie se misdaadstatistiek vir die 2018/19 boekjaar dien as bewys dat Suid-Afrika al hoe meer gewelddadig en onveilig word vir sy inwoners.
Hy sê misdadigers is nie meer bang vir die polisie of om ’n misdryf in Suid-Afrika te pleeg nie. “Die burgers van die land het die volste reg om te sê hulle voel onveilig. Die staat het ’n grondwetlike verantwoordelikheid om die mense van die land te beskerm.”
...........
“Sowat 58 mense daagliks in Suid-Afrika vermoor word en 144 seksverwante misdade gepleeg word.”
...........
Dit is die eerste keer dat al sewe die kategorieë kontak-misdrywe wat teen ’n persoon gepleeg word, ’n toename getoon het. Moord het ook vir die sewende agtereenvolgende jaar toegeneem, hierdie keer met 3,4%.
Altesame 21 022 mense is vermoor. Dit is meer as vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde. Die wêreldgemiddelde vir moord is sewe per 100 000 van die bevolking. In Suid-Afrika is dit nou meer as 36 per 100 000.
#CrimeStats Major General Sekhukhune says over the three year period, sexual offenses went up by 4.6%. In the current year under review, there were 52 420 cases of sexual offenses reported. pic.twitter.com/c9mWCaE6Nm
— SA Gov News (@SAgovnews) September 12, 2019
Wat seksuele misdrywe aanbetref, het al vier kategorieë ’n toename getoon. Verkragting het met 3,9% toegeneem tot 41 583 gevalle. Die hoogste styging was by seksuele aanranding wat met 9,6% toegeneem het. In totaal het seksuele misdrywe met 4,6% toegeneem tot ’n totaal van 52 420.
Rooftogte by woonhuise, die misdryf wat meeste deur Suid-Afrikaners gevrees word, het met 0,8% toegeneem tot 22 431.
#CrimeStats 2019
Murder: 21022.
Total Sexual Offenses: 52420
Rape: 41583
Sexual Assault: 7437
Attempted Murder: 18980
Total contact crime: 617210— Lester Kiewit (@lesterkk) September 12, 2019
Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook met groot kommer kennis geneem van Suid-Afrika se misdaadstatistieke vir die 2018/2019-finansiële jaar.
AfriForum sê die toename in geweldsmisdaad en veral moord behoort niemand te verras nie nadat die weermag in die Wes-Kaap ontplooi moes word om die SAPD dáár te ondersteun, asook ná die SAPD se skokkende terugval voor ontstoke oproeriges in die Johannesburgse middestad net meer as ’n maand gelede.
“Asof dít nie erg genoeg is nie, is die media deurtrek met negatiewe artikels oor die swak toestand waarin die SAPD sigself bevind. Hulle het meer as 9,5 miljoen rondtes ammunisie en 4 357 vuurwapens oor die afgelope ses finansiële jare verloor. Hulle is ook deur die nasionale tesourie beveel om hul begroting oor die volgende drie finansiële jare met onderskeidelik 5% (R5 miljard), 6% (R6,5 miljard) en 7% (R7,8 miljard) te verminder. Boonop het hulle vyf verskillende nasionale kommissarisse oor die afgelope tien jaar gehad.”
...........
“Dit is die eerste keer dat al sewe die kategorieë kontak-misdrywe wat teen ’n persoon gepleeg word, ’n toename getoon het.”
...........
Khehla Sithole, die huidige nasionale kommissaris, het selfs in die parlement erken dat die SAPD se mandaat oorbelas is en dat dit onmoontlik is om daaraan te voldoen, sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.
Hy sê gewone polisiebeamptes is daagliks slagoffers van ’n mislukkende regering en polisiediensbestuur. ’n Tekort aan ammunisie om hul vuurwapengeskiktheidsopleiding te voltooi, asook ’n tekort aan post-verkragtingpakkies by polisiestasies is maar twee onlangse voorbeelde van hoe hul belangrike werk deur ’n onbesorgde, onbevoegde top- en departementele bestuur gekelder word.
“Dit behoort daarom geen verrassing te wees nie dat die aantal polisiereserviste – mense wat hul persoonlike tyd opoffer om die polisie te help – sedert 2010 van 63 592 tot 8 908 vandag afgeneem het.”
Kamfer sê met dít in gedagte het gemeenskappe geen ander keuse as om hulself in buurtwagte te organiseer om hulself te beskerm nie.
Daar was 47 plaasmoorde en 41 voorvalle daarvan, maar die VF+ bevraagteken die plaasmoordsyfer wat in die statistiek weergegee word en is van mening dit is nie korrek nie. Landbou-unies se statistiek toon ’n veel hoër moordsyfer.
Die meeste kommentators stem saam misdadigers is nie meer bang vir die polisie of om ’n misdryf in Suid-Afrika te pleeg nie.
The #CrimeStats show that Crime is out of control. We need cops to have less admin and more action. Also a rotation of cops between stations so that corrupt cops don't get used to an area. Things must change and fast as communities ar living in fear daily.
— Real Steven Taylor (@StevenTaylorSA) September 12, 2019
Lees ook
Lees op LitNet
Buro: MvH