Moderne Suid-Afrikaanse musiek in Gqeberha

  • 0

...
Ons hoor so dikwels snedige opmerkings oor dekolonisering. Dinsdagaand se optrede het gewys dat ’n oop en vernuwende manier van dink oor musiek ontsettend positief kan wees.
...

Dinsdagaand 24 Januarie 2023 is ’n gehoor in Gqeberha getrakteer op uitvoerings van moderne Suid-Afrikaanse musiek. Die aand is aangebied deur NewMusicSA, ’n groep wat hulself beywer vir die skep van vernuwende Suid-Afrikaanse musiek, die South African String Foundation en die Departement van Musiek en Uitvoerende Kunste aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die optrede was in die hoofouditorium van die universiteit.

Op die verhoog was Thandeka Mfinyongo, David Bester, Jan-Hendrik Harley, Mariechen Meyer en Lucretia Sikwebu. Werke van Arthur Feder, Rudi Bower, Lise Morrison, Thandeka Mfinyongo, Allan Stephenson, Jan-Hendrik Harley en Latozi Madosini Mpahleni is opgevoer.

Al die optredes het om snaarinstrumente gehandel, en die musiek was kontemporêr.

Thandeka Mfinyongo se optrede op die kalbasboog (uhadi in Xhosa) was besonders. Sy hou die warm Afrikaklanke vas in haar werk.

In die video wat ek deel, is daar meer mense saam met haar. Dinsdagaand was sy alleen op die verhoog. Sy het dieselfde lied, “Ndizengela”, opgevoer. Ndizengela beteken ek doen dit self, so ’n solo-optrede was dalk nogal gepas.

Ná sy haar meestersgraad in Londen voltooi het, is Mfinyongo tans besig met haar D in musiek aan die Rhodes-Universiteit.

Morrison se “Mamela, Mamela, Mamela” is redelik serebraal. Mamela beteken luister en die klanke kom in stukkies na ’n mens toe. David Bester, wat ook in hierdie video die stuk speel, het Dinsdagaand ook in Gqeberha opgetree en het hierdie stuk gespeel.

Rudi Bower se toonsettings van Vincent Oliphant se gedigte is tipies van die kunslied.

Die sopraan Lucretia Sikwebu het opgetree saam met Bower. Ons besit die CD waarop Sikwebu al die toonsettings van Bower sing. Hierdie een wat ek hier deel, is een van my gunstelinge. Sikwebu en Bower het nie Dinsdagaand hierdie lied opgevoer nie, maar wel vier ander uit die siklus.

Bower het ’n D in musiek en is ’n dosent aan die Nelson Mandela-Universiteit.

Ander werke was kombinasies van jazz, kerkmusiek en Afrikaritmes. Albert de Vos, die sanger, het ná die tyd opgemerk dat hy ook verwysings na Ierse musiek opgetel het. Daar was dus iets van alles.

Ons hoor so dikwels snedige opmerkings oor dekolonisering. Sommige mense vrees blykbaar enige voorstel dat Afrika ook skoonheid en kwaliteit kan hê. Ek self is uiters skepties oor sulke gonswoorde wat lukraak rondgestrooi word sonder om aksies daaraan te koppel, maar Dinsdagaand se optrede het gewys dat ’n oop en vernuwende manier van dink oor musiek ontsettend positief kan wees. Daar is nie slagspreuke rondgestrooi nie, daar was bloot uitstekende musikante van Suid-Afrika wat die bekende van Europa gemeng het met klanke, ritmes en tegnieke uit Afrika.

Die konsert is opgeneem. As dit ooit vrygestel word, doen gerus die moeite om dit te kyk. Studente van die universiteit het die klank behartig; dit was puik.

NewMusicSA het ’n webwerf met vele musiekvideo’s: https://www.newmusicsa.org.za/

Hulle is ook @NewMusicSA op Facebook en Twitter.

Lank lewe ons diversiteit!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top