Op 23 April het Richard Cock en die Oos-Kaapse Filharmonie-orkes ’n groot gehoor met Night with the classics bekoor; die volgende middag het hulle dit herhaal, en meer as 2 500 mense het die middagvertoning, herdoop na An afternoon with the classics, bygewoon.
Die konserte is op die sportterrein van Grey Hoërskool in Gqeberha gehou.
Richard Cock
Richard Cock is een van Suid-Afrika se bekendste musici, veral wanneer koor- en orkesmusiek ter sprake is.
Cock is in Gqeberha gebore. Ná sy studie aan die Universiteit van Kaapstad wen hy ’n beurs van die Royal School of Church Music en bring omtrent 18 jaar in die Verenigde Koninkryk deur.
In 1980 keer hy na Suid-Afrika terug.
Hy neem uiteindelik beheer van die Nasionale Simfonie-orkes oor.
Cock het besef dat dit nodig sou wees om klassieke musiek te populariseer en die orkes in die buitelug te laat optree om meer mense die geleentheid te gee om goeie klassieke musiek te hoor.
In 1999 het hy uit sy voltydse pos bedank en is sedertdien ’n vryskutdirigent en musiekkonsultant wat hom daarop toespits om klassieke musiek onder die grootste moontlike aantal mense se aandag te bring en om ’n liefde daarvoor te kweek en te koester.
Cock is ook betrokke by verskeie liefdadigheidsaksies. Talle van sy konserte word gebruik om fondse vir ’n groot aantal projekte in te samel.
Die konserte op 23 en 24 April is op Grey Kollege se sportterrein gehou onder die wakende oog van die Grey-stigting, maar talle ander skole het by hierdie projek gebaat. ’n Groot deel van elke kaartjie se opbrengs is geskenk aan enige skool in die Baai van die kaartjiekoper se eie keuse. Meer as R600 000 is uiteindelik ingesamel vir ’n groot aantal skole in Gqeberha.
Hoewel Cock ook ’n uitstekende vertolker van ernstige musiek is, sal hy waarskynlik uiteindelik onthou word vir die tipe konsert wat hy in die Baai aangebied het: uitstekende musiek met ’n ligte aanslag en talle bekende kunstenaars wat meedoen.
Dit is presies wat hierdie naweek gebeur het.
Die naweek se konserte
Die konserte het afgeskop met die temamusiek van Back to the future – deels omdat hierdie opelugkonsert sonder maskers weer kon plaasvind, terug na ’n toekoms wat weer normaal sal voel.
Net daarna het Zolani Maholi onder haar nuwe verhoognaam, The One Who Sings, “Waka waka” gesing – die temalied van die Wêreldsokkerbekertoernooi wat in 2010 in Suid-Afrika aangebied is.
Marcus Wyatt het toe sy fantastiese stuk “Prayer for Nkosi” gespeel. Nkosi Johnson is op 12-jarige ouderdom oorlede aan Vigs en het voor sy dood wêreldbekend geword vir sy dapper bewusmakingsveldtogte – veral vir die noodsaak van antiretrovirale middels (iets wat vandag algemeen in Suid-Afrika is, maar toe nog nie beskikbaar was nie).
Craig Hinds, die voorsanger van die groep Watershed, het daarna sy treffer “Indigo girl” uitgevoer.
Loyiso Bala het “You raise me up” gesing.
Selfs die seremoniemeester het saamgesing. Darren Green is ’n mediese dokter en radioaanbieder wat ’n baie goeie stem het.
Elkeen van die soliste kom uit die Oos-Kaap, Wyatt was 12 jaar lank ’n leerder van Grey Hoërskool.
Een na die ander het die musiekstukke gevloei – ’n kombinasie van simfonieklanke en ligte musiek waarop daar selfs gedans kon word. Elkeen van hierdie bekende, populêre liedere is verwerk om die klank van die filharmoniese orkes ten volle te benut.
Uitstekende musiek dus, maar sonder fieterjasies. Cock het in rooi seilskoene gedirigeer, soveel anders as sy manelbeeld in ernstige konserte.
Die vertoning is afgesluit met ’n townshipkeurspel wat onder andere die bekende “Pata pata” ingesluit het.
Besoekers aan Suid-Afrika kan gerus enige konsert van Richard Cock bywoon. Dit is wêreldklas.
Iets oor Grey Hoërskool en musiek
Grey Hoërskool is ’n skool met ’n baie ou en lang tradisie. In 1839 het John Paterson ’n klein skooltjie in Port Elizabeth opgerig, maar het daarna die goewerneur van die Kaap, sir George Grey, genader om ’n groter skool tot stand te bring.
In 1855 is die grond geskenk waarop die skool toe gebou is.
Tot vandag is Grey ’n staatskool, maar die tradisies, sportgronde, fasiliteite en etos is veel nader aan dié van bekende Engelse privaatskole.
Met ’n oorlog wat nou weer in Europa woed, is dit versoberend om te sien hoeveel lewens uit slegs een skool se oudskoliere verloor is tydens die eerste twee wêreldoorloë, soos die gedenkteken in die skool se vierkant toon.
’n Vreemde opmerking is ter sake: In 1892 is Chubb Meredith aangewys as rektor van Grey. Hy het kadette ingestel – ’n bisarre militêre tradisie wat steeds by Grey voortleef, dekades na die res van die land skoolkadette laat vaar het.
Sport is ’n enorme deel van so ’n skool se identiteit, maar gelukkig word musiek ewe hoog geag by Grey.
Musiek word as vak aangebied. Die skool het ’n uitstekende orkes, ’n baie bekende blaasorkes, ’n militêre orkes en ’n jazzorkes.
Die huidige rektor, Chris Erasmus, is baie trots op die skool se ryk musiektradisie. Hy was ook by die konsert en het ewe om verskoning gevra dat hy informeel geklee was toe ek hom nader vir ’n foto.
Grey Hoërskool droom nou daarvan om ’n behoorlike ouditorium op hulle gronde te skep. Vir baie dekades is die pragtige Veremarksaal in die middestad van Gqeberha vir musiek gebruik. Ongelukkig is hierdie wonderlike bate deesdae vervalle, want die plaaslike owerhede het gewoon nie meer die geld of die kapasiteit om dit in stand te hou nie.
Grey Hoërskool het ’n ruk lank die Veremarksaal uit hulle fondse probeer opknap, maar dit het te duur geword.
Sou hulle die nodige fondse vir ’n ouditorium kry, sal dit ’n bate wees wat weer die hele gemeenskap van Gqeberha sal dien.