Musiek en siekte: Hoe het die 1918 Spaanse griep "geklink"?

  • 0

………

Wat wel opvallend is, is die aard van die musiek. Daar is g’n hartseer of verdriet te hore nie en dis eerder gepas vir ’n skuurdans in die 1920’s.”

………

’n Paar maande gelede begin ek my tonne bladmusiek sorteer wat ek al vir die afgelope 20 jaar opgaar. Die inventaris is ’n vreemde kombinasie van oa orkespartiture, getranskribeerde heavy-metal-kitaarsolo’s, Mozart-vioolsonates en my ouma se geliefde klavierstukke. Die meeste van haar bladmusiek is al bruingevat, met sellotape gedokter en motgevreet. My oog vang een van die terminale gevalle. A3-grootte, halfverskeurd en op sy einde. Die titel heet: “Swart Oktober (1918)”, verwysend na die Spaanse-griep-pandemie wat nagenoeg 300 000 lewens op eie bodem geëis het. Die “Oktober”-deel verwys weer na die bykans 120 000 sterftes wat in hierdie maand opgeteken is.

Daar is geen publikasiedatum, uitgewersnaam of ander inligting nie. Slegs die komponis word vermeld, ene Maria H Marais. Ek bel my pa wat die stapel musiek jare gelede vir my gegee het, treiter ’n paar pianiste en akademici en vra of hulle enige kennis dra van die stuk. Niemand weet niks. WhatsApp-emoji’s met kenvrywe pieng in gelid soos my leidrade kwyn. My vriend Winand Grundling (bekroonde orrelis van Stellenbosch) stem in om vir my ’n video te maak. Sover ek weet, na maande se soeke op die internet, is hierdie die eerste opname. Dit klink soos gesofistikeerde Die Briels en verg seekatarms om al die note op die regte tyd te vang. Winand (ek skuld jou kis bier vir die moeite – net sodat dit op skrif is!) sê dat die persoon wat dit geskryf het, tamaai hande moes gehad het. Wat wel opvallend is, is die aard van die musiek. Daar is g’n hartseer of verdriet te hore nie en dis eerder gepas vir ’n skuurdans in die 1920’s.

Nou ja, daar is niks meer om hieroor te sê nie. Sou iemand dalk meer inligting hê, sal ek graag wil hoor.

Tydens die navorsing het die tema van musiek wat tydens siekte-epidemies ontstaan het, my talle kere gelei na die bewerings dat “Ring a ring o’ rosies” sy ontstaan het in die Groot Griep van 1665–1666. Die algemene konsensus is dat terwyl dit die simptome en onafwendbare “we all fall down” van die griep besonder akkuraat verduidelik, dit helaas ’n ander oorsprong het. My versoek aan Winand vir hierdie deel van die rubriek was: (voicenote) “Ahoi, brother. Gooi vir my ’n paar variasies van ‘Ring a ring o’ rosies’, ’seblief. Net so twee. Dis vir Voertaal, soos ek jou gister gesê het. Neem dit net portrait af. Shot!”

En hier kry ek die volgende: ’n huil, lag, dans en melankoliese tema-en-variasies op die eenvoudigste liedjie denkbaar.

Soos die soektog na Maria H Marais se ode aan die Spaanse griep in die hek geduik het, kom ek af op nog ’n Suid-Afrikaanse komposisie wat geïnspireer is deur die 1918-epidemie. Die Suid-Afrikaanse komponis Reuben Tholakele Caluza het in 1930 ’n opname gemaak van sy Zoeloe-lied genaamd “Influenza” (1918), wat die swaarkry en vervlietendheid van die lewe tydens die pandemie verwoord.

Daar is twee interessante brokkies inligting oor Caluza en sy musiek. Hy is in 1895 in Natal gebore, matrikuleer aan John Dube’s Ohlange High School en studeer aan beide Hampton- en Cambridge-universiteite. Na sy studies keer hy terug na sy geboorteland waar hy ’n prominente komponis, onderwyser en koordirigent word. Die genoemde lied is in Londen opgeneem deur die Zonophone-platemaatskappy, ’n filiaal van His Master’s Voice (HMV), wat ’n uitgebreide katalogus van Afrika-musiek tot stand gebring het. Caluza en sy Double Quartet het ook tientalle ander werke opgeneem en was maar een van ’n groot aantal Suid-Afrikaanse komponiste wat opnames by hierdie maatskappy gemaak het.

Hier volg ’n uittreksel van die lirieke (vertaal deur Howard Philips, emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad).

 In the year 1918 
we were killed by the disease 
called influenza 
which finished our beloved relatives 
mothers, fathers, sisters and brothers 
In other households no one was left 
It took young men and women 
It chose the best people 
It came for the young maidens, 
it came for the grooms. 
It burned out the elders and finished the youth.

Die verwantskap met die huidige pandemie is voor die hand liggend. Juis om hierdie rede, besluit die komponis Phillip Miller vroeër vanjaar om Caluza se werk te herbesoek en om fondse te werf vir kunstenaars wat tans sonder inkomste gestrand is. Sedertdien is reeds R100 000 vir dié doel ingesamel. Miller spoor toe die oorspronklike opname op, transkribeer die musiek en verwerk dit vir blaasorkes en ’n aantal operasangers. Weens die grendeltyd se reëls kon die betrokke sangers nie saam in ’n ateljee sing nie. Miller het dadelik ’n backtrack gemaak van die lied en sangers gevra om hulle onderskeie parte via voicenote terug te stuur. Van die deelnemers het ook selfoonvideo’s gemaak tydens hul opnamesessies en dit vorm die beeldmateriaal wat gesien kan word by die bostaande skakel. Miller verduidelik verder dat die lied nie net handel oor sterftes en tragedie nie, maar dit is ook ’n lament vir die tydsgees waarin swart Suid-Afrikaners hulle toe bevind het. Die Swart Grond Wet 27 van 1913 was pas ingestel en die skrapnel van die Eerste Wêreldoorlog was nog vlak in die vlees.

Die Spaanse griep het in 1919 groot skade in Amerika aangerig met ’n geraamde 600 000 sterfgevalle. Soos dit bluesmusiek betaam, het die swaarkry en uitwissing sy pad gevind na ’n paar verroeste kitaarsnare in Memphis, Tennessee. Die komponis van “The 1919 influenza blues” is onbekend, maar is al deur vele kunstenaars opgeneem.

It was nineteen hundred and nineteen 
Men and women were dying 
With the stuff that the doctor called the flu 
People were dying everywhere 
Death was creepin’ all through the air 
And the groans of the rich sure was sad

Down in Memphis, Tennessee, 
The doctor said it soon would be, 
In a few days influenza would be controlled. 
Doctor sure man he got had, 
Sent the doctors all home to bed, 
And the nurses all broke out with the same.

As die bostaande lirieke vergelyk word met dié van Caluza, is daar ’n verwantskap in die openingsinne wat net te veel ooreenstem vir toevalligheid. Hierdie is nie ’n ondersoek na plagiaat of kopiereg nie, maar die tematiek en verwysings na wie almal in die slag bly, is noemenswaardig. Wat die geval ook al mag wees, Shalom Goldman sê in die artikel “Blues in the time of pandemic, 1919 – In a few days influenza would be controlled” dat die geskiedenis homself in ’n polities-pandemiese konteks herhaal: “For many of us today, official reassurances that ‘in a few days influenza will be controlled’ – assurances that we heard a few weeks ago from the President and his advisors – ring as hollow as they did for the composer of this song, and for the many victims he or she laments.”

Die COVID-ding is heavy. Ons almal trek swaar, maar om een of ander rede hou Suid-Afrikaners se goeie gees nog kop bo water. David Kramer gooi ’n spin op sy tune “Cape Town welcomes you” in hierdie video saam met ’n paar groot kokkedore in die musiekbedryf. Ek stem saam met Kramer: “Welcome to Cape Town in isolation. Here’s what we think of you: Corona-flu se MOEEEEEEEEER!”

Bronne:

https://www.nytimes.com/2020/05/06/arts/music/1918-flu-pandemic-coronavirus-classical-music.html

https://www.juancole.com/2020/03/pandemic-influenza-controlled.html

https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-06-03-how-influenza-1918-is-helping-covid-19-in-2020/#gsc.tab=0

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top