Dit is, soos menige ander dag in Februarie, besonder warm in Stellenbosch. Rankplante in die binnehof van ’n bekende hotel bied darem lafenis, as't ware ’n wegkruipplek van die hitte.
Jannie du Toit kom skielik inderhaas om die hoek. Die verkeer van die jaarlikse Woordfees en die tekort aan parkering in Stellenbosch het hom ook, soos talle ander, onder gekry, verduidelik hy voor hy gaan sit.
Hy is duidelik ’n besige man, te oordeel aan die aantal kere wat sy foon lui. Hy kan ook nie “nee” sê nie, blyk dit, aangesien hy hoflik vir almal ’n plekkie in sy reeds besige skedule probeer pas.
Behalwe Jannie se vertoning by die Woordfees, Eggo van jou oë, het hy ook onlangs ’n nuwe album bekendgestel, Oesjaar 2018, ’n samevoeging van verskillende liedjies van sy loopbaan wat oor byna vyf dekades strek.
Vriendelik en gemaklik gesels die “omie”, soos hy in ’n ligte luim na homself verwys.
“Oesjaar 2018 is ’n samevatting en viering van my loopbaan, hoewel die liedjies nuutgeskrewe is. Die liedjies vang elkeen ietsie van ’n verskillende dekade van my loopbaan vas.”
’n Musikant wat die toets van die tyd kon deurstaan, dié is die sanger Jannie du Toit beslis.
Hoewel hy oor die afgelope jare liedjies van sy gunstelingmusikante gesing het, soos Koos du Plessis en Lucas Maree, sê hy dit was tyd om weer ’n slag sy eie liedjies te skep.
Daar is tien oorspronklike snitte op die album. Die eerste enkelsnit van die album, “Jy kyk sag”, is ’n liefdesliedjie wat vir sy vrou Therina geskryf is.
Nog ’n liedjie op die album wat hom na aan die hart lê, is “Ons soek ’n Tata”, met verwysing na oudpresident wyle Nelson Mandela.
“Ek is groot ’n bewonderaar van Madiba. Ek glo as ons net weer daai tipe van ’n tata kan hê soos wat hy was, sal dit ’n verskil in ons land maak.
“Ek glo ook ons kan die land red as almal glimlag, as mense bereid is om te glimlag vir mekaar. Dit gaan egter nie gebeur as mense nie besluit om vriendeliker te raak met mekaar nie.”
Sy album bevat ook ’n bonusliedjie, ’n rockverwerking van “’n Liedjie vir jou”; saam met Karen Zoid. Dié weergawe het hulle oorspronklik op Karen se televisie-geselsprogram Die Republiek van Zoid Afrika gesing.
Die album sluit ook ’n roerende ode, “Sy genade is genoeg”, aan die ontslape pianis en komponis Christa Steyn in, met wie Jannie 25 jaar lank saam gewerk het. Saam het hulle wêreldwyd getoer.
“In die 1990's het ek en Christa begin saamwerk. Ek het die woorde geskryf en sy die musiek.”
Hulle het nie net in Afrikaans gesing nie, maar ook met Nederlandse musiek eksperimenteer.
“In 1979, met my eerste besoek wat ek aan Europa afgelê het, het ek kennis gemaak met Nederlandse musiek en daarna begin luister. Latere jare, in 1994, het ek en Christa die eerste keer ’n volledige Nederlandse program saamgestel en opgevoer, De kleine man.”
Hy het beslis ’n liefde vir Nederlandse musiek, vertel hy.
“Ek het een groot Nederlandse held. Kyk, daar is wonderlike ouens wat wonderlike goed vermag het, maar een van die persone wat vir my uitstaan, is die sanger Jules de Corte.
“En dan natuurlik die Belgiese sanglegende Jacques Brel – ek is ’n groot aanhanger van hom ook,” las Jannie by.
“Iedere geval, ek het soveel bewondering vir wat De Corte vermag het. Hy is ’n briljante liedjieskrywer. Hy was ongelooflik begaafd en het baie hard gewerk. Ten spyte van die feit dat hy blind was, het hy soveel vermag.
“Sy aanvoeling vir musiek was ongelooflik. Hy het ’n briljante klassieke en jazz-aanslag gehad. En nie net was hy musikaal nie, De Corte was ook ’n lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde – hy was ’n uitgelese ou in die letterkundewêreld,” vertel Jannie byna in vervoering.
Hy vertel in Januarie 1996 was hy bevoorreg genoeg om De Corte kort voor sy dood in sy huis in Nederland te ontmoet, ’n ontmoeting wat hy as ’n reuse-eer beskryf.
“Ek het twee helde en dit is Nelson Mandela en Jules de Corte, en ek was gelukkig genoeg om een van hulle te ontmoet.”
Hy sit agteroor in sy stoel. Dis nog stil by die Oude Werf Hotel dié tyd van die oggend. Stellenbosch se hitte is reeds ongenaakbaar. ’n Kelner verskyn skielik in die binnehof en dek langsteelglase van ’n tafel af. Die glase klingel onverwags en onderbreek Jannie se gedagtes ’n oomblik.
“Dis soos musiek!” merk hy op voor hy verder gesels.
Hy vertel hy en Christa is vyf jaar na De Corte se dood Nederland toe genooi om by ’n gedenkoptrede vir De Corte op te tree by die hospitaal in Eindhoven waar hy oorlede is. Hy vertel ook hoe hy een jaar op ’n geleentheid in België ’n man, Bert van der Brink, ontmoet het wat ’n leerling van De Corte was.
“Hy is toevallig ook blind. ’n Dosent in jazz-improvisasie by Utrecht se universiteit. Net soos sy leermeester De Corte, ook ’n briljante aanvoeling vir musiek.”
Dié ontmoeting het uiteindelik na ’n musiekvertoning gelei wat een van Jannie se hoogtepunte van sy loopbaan is.
“Ek en Bert het ’n program saamgestel waar ons liedjies van De Corte opvoer en die program Grenzeloos Nederlands genoem. En wat ’n voorreg was dit nie om saam met Bert in Nederland te toer, met die musiek van De Corte, en liedjies van ons held te sing nie.”
As hy terugkyk na sy loopbaan tot nou, beskou hy homself as bevoorreg om te kan doen wat hy doen. Tale en musiek is van Jannie se grootste passies, en hy is ’n voorstander van veeltaligheid.
“Weet jy, ek is regtig lief vir tale. Ek dink dit word maar in ’n mens ingeskape deur die liewe Here. Dis hoe ek dit verstaan,” lag hy.
“Net soos musiek, is ’n liefde vir tale ’n goddelike gawe.”
Afrikaans bly natuurlik sy geliefkoosde taal, verseker hy my.
“Om ’n liedjie in Afrikaans te skryf … Die liedjie kom uit my hart uit.
“Toe ek jonk was, het ek in Engels geskryf, maar later het ek besef jy kan beter in jou moedertaal praat en skryf. As jy ’n liedjie uit jou hart uit skryf, dan gaan jy beter skryf as jy in jou moedertaal skryf.”
Voor hy groet om inderhaas betyds by sy volgende afspraak te kom, vertel hy spottend: “Weet jy as mense vir my vra oor die toekoms, en of ek besig is, dan antwoord ek gewoonlik ‘ja’. Ja, ek is besig om werk te soek!” lag hy.
“Dis my job, ek is ’n vryskut. Jy rus nie, jy bly aan die gang.”
En op daai noot, wat hou die toekoms vir hom in?
“Musiek, musiek, musiek!” antwoord hy vas oortuig.
Lees ook op LitNet
Resensie: Jannie du Toit se Bonjour, Monsieur Brel by die Vrystaat Kunstefees
Jannie du Toit: Een kunstenaar (en sy vriende) = een kunstefees
Buro: NM