My sirkelgange deur Amsterdam

  • 0
Ek is nie van hier nie
Die hele wêreld is my package-reis.
Uit “Bomskok Babalaas” (Niemandsland and beyond)

Ek kan glad nie onthou in watter jaar ek die eerste keer in Amsterdam aangekom het nie.

Ek kan ook nie onthou hoe lank ek gebly het nie.

Maande? Weke? Jare? Ure?

Ek het daar aangeland saam met ’n meisie wat weggekom het uit die polisieselle in Oos-Londen waar sy aangehou is op aanklagte van Satanisme. Sy het swart klere gedra en net na Metallica geluister. Ons het by die Krakers gebly in die hartjie van die stad in ’n gebou sonder elektrisiteit of lopende water.

“Krakers” is die term vir Nederlanders wat ongebruikte persele oorgeneem het en daar geplak het.

Wikipedia beskryf hulle so:

Krakersrellen hebben zich in Nederland vanaf het midden van de jaren zeventig voorgedaan in het centrum van Amsterdam en een aantal andere Nederlandse steden.

Aanvankelijk beperkten de conflicten zich tot incidentele vechtpartijen tussen krakers enerzijds en slopers of knokploegen van eigenaren van de gekraakte panden anderzijds.

De overheid raakte door haar plicht om ontruimingen uit te voeren steeds meer bij de conflicten betrokken en werd uiteindelijk de belangrijkste opponent van de militanten binnen de kraakbeweging.

Dit was ’n donker, chaotiese tyd. Ons het speelgoedrewolwers gehad om die heroïenverslaafdes uit ons gebou weg te hou. Ons was slegs aan sagte dwelmmiddels verslaaf. Die heroïenverslaafdes was so out of it dat hulle nie besef het dis nie regte rewolwers nie.

Daar was baie dinge om te ontdek in Amsterdam.

Daar was baie dinge wat ek graag wou sien, maar ek kon nie by alles uitkom nie.

Koos op die verhoog in ’n show buite Amsterdam (so ewe met ’n bottel Suid-Afrikaanse rooiwyn wat hy saamgevat het!)

Ek wou baie graag die Van Gogh-museum besoek, en het op die kaart gekyk waar dit is, maar kon dit nie kry nie. Elke oggend as ek besluit het: “Vandag gaan ek na die Van Gogh-museum toe!”, het ek eers ontbyt genuttig in een van die berugte “coffee-shops”.

My gunstelingontbyt was ’n gereg wat hulle genoem het space cake. Na ’n ontbyt van space cake het ek sonder uitsondering verdwaal.

Die probleem was, die strate en gragte in Amsterdam lyk almal dieselfde. En die strate loop nie reguit van oos na wes of suid na noord nie. Hulle loop al in die rondte. Of so het dit gevoel.

Ek kon nie die Van Gogh-museum kry nie. Ek kon nie eens die Rooi Lig-distrik kry nie.

Een aand het ek en die meisie wat vir Satanisme aangehou is, rondgevra en toe ontmoet ons in een van die coffee-shops ’n ou wat aanbied om ons op ’n toer van die Rooi Lig-distrik te neem.

Dit was ’n reus van ’n swart man, en (soos ons later sou uitvind) baie fiks.

“Walletjies, leuk, leuk,” het hy gesê. En ons beveel om hom te volg. Maar eers moes ons ’n stukkie LSD onder ons tonge sit. Blykbaar sou mens die Rooi Lig-distrik meer waardeer onder die invloed van LSD.

Goed geolie op die LSD het hy teen ’n verbysterende spoed begin stap. Ons het gesukkel om by te bly by ons gids. Ons het vir ure agter hom aangeloop in sirkels, tot in die vroeë oggendure.

As Amsterdam self ’n beswymende stad was, was Walletjies nog beter. Dit was ongetwyfeld die mooiste deel van die stad. Ek het my verkyk aan die winkels en restaurante, die mense, die vroue wat in vensters staan en hul ware verkoop, die liggies wat weerkaats in die water van die gragte, en die ganse flikkerende towerlandskap om my.

Eindelik – jare, ure of maande later – moes ek ’n besluit neem. Ek moes teruggaan Suid-Afrika toe, of onwettig in Nederland bly. Iemand het my ’n vals paspoort aangebied. Ek wou daaroor dink. Maar ek het stilte nodig gehad om te dink.

Ek en die meisie wat van Satanisme aangekla is, het geryloop tot in Den Haag. Ons geld was op, ons kon nie nog ’n nag in ’n jeugherberg bekostig nie. Ons het ons slaapsakke oopgerol en aan die slaap geraak op ’n verlate sandduin agter die muur van ’n strandkroeg. Die sand was grof. Ons was honger en dors.

Toe ons wakker word die volgende oggend, was ons omring deur poedelkaal mense. Dit was toe blykbaar ’n nudistestrand.

Ons het nog ’n week of wat gebly.

Eindelik het ons gaan aanklop om hulp by die Suid-Afrikaanse ambassade. Hulle kon nie help nie. Ons is deur die Nederlandse owerhede beveel om hul land te verlaat. Ek is in effek gedeporteer. Toe ek terug kom in Suid-Afrika, met snaakse klere en ’n vreemde patchwork-haarstyl, het ek so aan skok gely dat ek vir dae lank nie ’n woord kon uitkry nie.

My volgende besoek, dit kan ek met blydskap berig, was baie anders.

Ek was toe al verlief op Kannetjie. Ons wou trou. Ons was nie ryk nie, maar ons kon darem bekostig om in goedkoop hotelkamertjies te oornag. En ek het geld gespaar gehad.

In Amsterdam het ek vir haar ’n diamantring gekoop. ’n Kleintjie. Maar baie mooi!

Sy het vir my ’n hologramportret gekoop met ’n prentjie in van iemand wat veronderstel was om Shakespeare te wees. Ek het dit nou nog. As ’n mens na die prentjie kyk, en jy beweeg die hoek waarteen jy daarna kyk, lyk dit of Shakespeare vir jou glimlag en sy een vinger oplig.

Koos se hologram van Shakespeare

O ja, ons het nog iets gekoop. ’n Nederlandse Bybel (die moderne vertaling, nie die ou Hoog-Hollandse Bybel van ons Afrikaanse voorsate nie). Dit was ’n wit Bybel, met afgedrukte skilderye in van Marc Chagall.

Detail uit Koos se Chagall-Bybel

Koos se Chagall-Bybel

In die jare daarna sou ek hierdie Bybel voos lees. (Dit sou, terloops, ’n groot rol speel in my eie geestelike “herlewing” sedert 2010.)

Tydens hierdie tweede kuier het ek ander fasette van Amsterdam ontdek. Die ongerookte, dwelmvrye Amsterdam.

Die twee ervarings was egter tot ’n verbasende mate dieselfde. Of jy gerook is of nie, of jy jou dag begin met ’n stuk space cake of ’n kaas-en-ham-croissant langs die grag, Amsterdam bly eenvoudig maar ’n chaotiese, wonderlike plek vol verrassings en betowerings.

Niks gebeur ooit soos jy dit beplan nie. Jy ontmoet mense wat jy nie kan glo werklik bestaan nie. Jy sien dinge wat in ander dele van die wêreld eenvoudig onmoontlik is.

En ons kon nog steeds nie die Van Gogh-museum opspoor nie. Dis useless om ’n kaart te raadpleeg. Die strate loop toe regtig in sirkels. Dit was nie net die space cakes se skuld nie.

Koos se Amsterdam-klompe

Amsterdam is meer as bloot ’n toeristebestemming. Dis ’n ander dimensie. Dis ’n fluktuasie in die kwantum-heelal. Dis ’n paradys van lig en donker, klip en water, wanhoop en liefde aan die ander kant van die aardbol.

Dis die plek waar ek byna myself en my ganse “sanity” verloor het. En waarin ek eindelik myself, en my sanity teruggevind het.

Dankie, dankie vir hierdie ervarings, Amsterdam.

Op ’n vreemde manier besef ek nou eers dat ek albei hierdie reise ewe nodig gehad het ... elkeen op sy tyd!

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top