Mijn beste vriendin, Anne Frank
Ook beskikbaar met ’n Engelse klankbaan as My best friend Anne Frank.
Ben Sombogaart is die regisseur.
’n Film gebaseer op die ware verhaal van Hannah Goslar.
Draaiboek geskryf deur Marian Batavier en Paul Ruven, in samewerking met Alison Leslie Gold, skrywer van Memories of Anne Frank: reflections of a childhood (Scholastic Paperbacks, 1999)
...
Anne Frank word hoegenaamd nie as ’n engeltjie uitgebeeld nie.
...
Mijn beste vriendin, Anne Frank gaan oor hormone, drome en vriendskap. Die film is op Netflix te sien. Beide die Nederlandse en die Engelse weergawes word vertoon.
Seks en die ingroep
Anne Frank het aktiewe hormone gehad en was baie geïnteresseerd in seks.
Dit het dalk nie so geblyk uit die eerste weergawe van haar gepubliseerde dagboek nie, want alle seksuele verwysings is gesensureer en van die oorspronklike uitgawes verwyder. Dit is gedoen op die instruksie van Otto Frank, Anne se pa.
Veel later is die volle manuskrip aan uitgewers en vertalers beskikbaar gestel en Protea Boekhuis was een van die heel eerste uitgewers ter wêreld wat hierdie, meer volledige, weergawe gepubliseer het. Lina Spies was die vertaler. (Lees Spies se eie aantekeninge oor Frank op LitNet: "’n Ongedoofde lamp: Die dagboek van Anne Frank" en ’n akademiese verslag oor die vertaling, op LitNet Akademies.)
Op IMDB word gesuggereer dat Ben Sombogaart, die regisseur, aanvanklik hierdie meer seksueel gelade weergawe van die dagboek wou verfilm, maar hy kon nie die regte daarvoor kry nie. Die storie van Hannah Goslar, wat wel die vervolging oorleef het, kon egter ’n interessante alternatief, en eiesoortige blik, bied.
Goslar is in Duitsland gebore en haar moedertaal was Duits. Sy was veel minder geïnteresseerd in seks as die voortvarende Anne. In die film word dit selfs gesuggereer dat Goslar vies geword het vir Frank se voortdurende soeke na en belangstelling in alles wat lyflik was.
Anne Frank word hoegenaamd nie as ’n engeltjie uitgebeeld nie. Ten spyte van die groot geel ster op haar klere was sy vasberade om slegs as deel van die in groep gesien te word. Goslar was die getroue volgeling, soms Frank se heel beste vriendin en ander kere gewoon verstoot deur die wispelturige Frank.
...
Meer nog, al is ons lewens ná 1990 aansienlik beter, is wantroue, selfs haat, steeds te bespeur in ons land, nie net tussen Suid-Afrikaners nie, maar ook tussen Suid-Afrikaners en buitelandse vlugtelinge.
...
Haat en die ander
Ek moes my, voor ek die film gekyk het, afvra: Waarom?
Die geweld van die Tweede Wêreldoorlog is deel van my eie komvandaan. My eie ma en ouma was daar, in Amsterdam. Hulle het die Duitse besetting en die hongerwinter beleef. My gesin was gelukkig. Hulle was nie Jode nie.
Ek weet egter wat met Anne Frank gebeur het. Waarom dan nog ’n film oor haar kyk?
Die antwoord is ongelukkig maklik: Hierdie film is steeds relevant en daar is talle mense in Suid-Afrika wat soortgelyke ervarings deurgemaak het. Ons moet hulle erken. Ons moet bewus wees. Suid-Afrika het nie eksterminasiekampe gehad nie, maar ons het tot in die jare sewentig nog goedsmoeds mense op totaal arbitrêre gronde uit hul huise gegooi.
Ek het onlangs Siona O’Connell se Impossible return gelees. Dit gaan oor die gedwonge verskuiwings uit die gebied in Kaapstad wat nou as Harfield Village bekend staan. Dié geskiedenis is glad nie so bekend soos Distrik 6 s’n nie, maar is ewe traumaties. Saam met die mense se stories is historiese foto’s van David Brown, wat later met Pippa Skotness sou trou, in die boek gepubliseer.
Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, daardie twee liewe anties van Amoré Bekker se radioprogram en die boeke Kook saam Kaaps en Soettand, is albei as kinders uit hul huise gegooi; hulle is mense wat na aan my was.
Ongelukkig is daar is talle ander voorbeelde.
Meer nog, al is ons lewens ná 1990 aansienlik beter, is wantroue, selfs haat, steeds te bespeur in ons land, nie net tussen Suid-Afrikaners nie, maar ook tussen Suid-Afrikaners en buitelandse vlugtelinge.
Ons is steeds geneig om redes te vind om mense as die “ander” te sien.
Sombogaart, die regisseur van Mijn beste vriendin, Anne Frank, het self daarop gewys dat hy die hantering van vlugtelinge in Europa sien as ’n parallel waarna opgelet moet word.
Die fasciste se fakkels brand tans weer hoog in Europa. Trump, wat genadiglik nie meer lugtyd kry nie, was ’n enorme katalisator vir verdere haat in Suid-Afrika en Europa. Hier in Suid-Afrika en in Europa loop daar nog talle mense rond wat sy fascisme klakkeloos napraat.
Let ook op hoe regses in Suid-Afrika deesdae die mantel swaai en agter Poetin aanloop. Die Grensoorlog is tydelik vergete. Poetin is nou skielik die regses se droom, want sy propagandamasjien steun fasciste in Oekraïne. Selfs Poetin se steun vir Sirië se Bashar al-Assad word deesdae in die regse eggokamers verwelkom.
Films soos hierdie moet ons daaraan herinner hoe gevaarlik fascisme is.
Mijn beste vriendin, Anne Frank help ons onthou wat haat aan ander, en aan onsself, doen. Ons kan nie toelaat dat regse haat verder versprei en nog ’n groter deel word van ons samelewing nie.
...
Hannah Goslar was so Duits soos enige een van die Nazi’s.
...
In of uit?
Hannah Goslar was so Duits soos enige een van die Nazi’s. Soos reeds genoem, is sy in Duitsland gebore en was hulle huistaal Duits. Selfs in die konsentrasiekamp het sy met haar sussie Duits gepraat.
Anne Frank se Duits was uitstekend, deels weens die tyd wat sy in die Goslar-huis spandeer het.
Dit maak Hannah Goslar se storie des te meer hartseer. Was sy Katoliek of Protestant, sou sy gemakliker geleef het. Was Anne Frank se ouers ateïste, sou sy nie gesterf het in ’n verhongeringskamp nie.
Goslar se pa het, vergeefs, sy Duitse agtergrond probeer gebruik om paspoorte te kry om uit Nederland weg te kom. Tot die einde het hy bly glo dat sy uitstekende Duits hom en sy gesin gaan red.
’n Mens kan die parallelle in Suid-Afrika sien. Die Nasionale Party (NP) het in 1948 bruin mense gebruik om die bewind oor te neem deur vrees vir swart mense as wortel te gebruik. Kort daarna is daardie einste mense wat NP gestem het, wreed in die rug gesteek.
Haat ken geen grense nie.
...
’n Mens sou wonder wat sy nou dink van wat Israeli’s – Jode soos sy – aan die Palestyne doen.
...
Palestina
Daar is ’n wrang ironie in Hannah Goslar se lewe. Vandat sy en Anne Frank maatjies was, wou sy al ’n verpleegster in Palestina word.
Sy het.
’n Mens sou wonder wat sy nou dink van wat Israeli’s – Jode soos sy – aan die Palestyne doen.
Soos reeds genoem: Haat ken geen grens nie.
Ek het geen idee wat Goslar van die Joodse behandeling van Palestyne dink nie, maar dit is bekend dat sy ’n aktiewe en ondersteunende rol gespeel het in die maak van Mijn beste vriendin, Anne Frank. Na bewering het sy selfs vir Sombogaart aangejaag, want op byna 90 was sy bang dat sy sou sterf voor sy die film kon sien.
Tale
Netflix het dadelik aangeneem ek wil die Engelse film kyk. Dit is so goed oorgeklank dat dit my ’n hele aantal minute geneem het om te besef niemand praat Nederlands nie. Ek het toe gestop, oorgeskakel na die oorspronklike klankbaan, en van vooraf begin kyk.
Die Engels is regtig knap, maar dit was lekker om die ware Jakob te ervaar.
Die oorspronklike klankbaan is in Nederlands, Duits en Jiddisj. Ek het sonder onderskrifte gekyk en kon beide die Nederlands en die Duits volg.
Jiddisj is moeiliker, want al is dit ’n Germaanse taal, is dit veel verder verwyder van ons eie as wat Duits is. Die regisseur het ’n slim oplossing gevind. Hannah verstaan in die film nie Jiddisj nie, en vra dus gereeld wat iets beteken, dan word ’n Duitse verduideliking aan haar gegee, wat die kyker laat verstaan.
’n Goeie film om te kyk
Ek beveel Mijn beste vriendin, Anne Frank beslis aan, maar nie vir klein kindertjies nie. Dit is ontstellend.
Tieners kan dit egter gerus kyk. Hulle ouers ook.