Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084105
Prys: R270
Geruime tyd nou al skryf ek daaraan: ’n Opstel-in-wording oor die stille (bruin) meerderheid in die Afrikaanse leef- en denkwêreld – ’n wêreld, soos wyle Jakes Gerwel dit in ’n e-pos aan my gestel het, wat “nie altyd geestelik die ruimste [is] waarin jy jou kan bevind nie”. Die werkstitel van die opstel: ’n Onderdeel van ’n geheel. Dit bevat besprekings oor aspekte soos die letterkunde, media en diskoers.
Onder letterkunde haal ek aan uit die hoofstuk oor Suid-Afrika se oorgangsjare in Elsa Joubert se Reisiger, die tweede aflewering van haar outobiografie: “En bo ons verwagting, wat ons eintlik behoort te verwag het,” skryf sy, “kom daar nuwe opwindende groeipunte vir Afrikaans: nuwe stemme.”
Joubert verwys hier na onder andere Abraham Phillips, skrywer van onder meer Die Verdwaalde Land, deur André P Brink as die “klein boekie met die groot hart” gedoop. Ook Karel Benjamin se Staan uit die water uit! en die letterkundige kanonskoot Vatmaar van AHM Scholtz, wat op 72 sy debuut gemaak het. En in die Sentrum vir die Boek in Koningin Victoriastraat in Kaapstad is Matthews Phosa se debuut-digbundel, Deur die oog van ’n naald, ook destyds bekend gestel.
Oor hierdie vierstuks skryf Joubert: “Hierdie is die stemme wat die land wil hoor.”
Ander prominente swart Afrikaanse skrywersname uit die jare vóór dit waarna in Reisiger verwys word: Patrick Petersen, Melvin Whitebooi, Vincent Oliphant, Frank Anthony en Hein Willemse. Daarna: Elias P Nel, EKM Dido, Kirby van der Merwe, Diana Ferrus, Willem Fransman en Loit Sôls. Heelwat vroeër: SV Petersen, PJ Philander en Adam Small. En heelwat later, of mees onlangs: Bettina Wyngaard, Ronelda Kamfer, Nathan Trantaal, Shirmoney Rhode, Valda Jansen, Hemelbesem en Jolyn Phillips.
’n Stelling wat Joubert in haar boek oor die ná-1994-opbloei in “nuwe [Swart Afrikaanse] stemme” maak, ten spyte van die afplatting in publikasiegeleenthede wat ook tussendeur ervaar is, is op die ganse bogenoemde skrywersgalery van toepassing: “Watter verryking vir ons letterkunde,” skryf sy in Reisiger, “watter belangrike taak om die prent van ons hele gemeenskap te kan skrywe.”
Salueer nou die toetrede van generaal-majoor Jeremy Vearey, skrywer van Jeremy vannie Elsies, tot hierdie “belangrike taak om die prent van ons hele gemeenskap te kan skrywe”.
Awêh my ma se kind.
*****
’n Aanhaling uit dié memoir: “Ek is Jeremy vannie Elsies, selfgedefinieer en selfgeïdentifiseer, want die dialektiek van my lewensloop stry deurgaans teen die tirannie van homogeniteit. Ek bly ’n onvoltooide tapisserie waarin die goed, die sleg en die grys ewewigtig in my wording saamgevleg is.”
*****
’n Terugblik: Vearey maak homself gemaklik op ’n rusbank vir . Weg van die koerantopskrifte oor Jeremy Vearey, die speurhoof, wie is “Jeremy vannie Elsies?” vra die onderhoudvoerder. Die skrywer antwoord: “Gebore innie Elsies. Oud-UWK-student in die tagtigs, oud-onnie, oud-Robbeneilander, oud-MK-lid, oud-intelligensie-operateur van die ANC, oudspeurder, oud-oud ...”
In sy reaksie op die vraag is die raamwerk opgesluit van sy lewensloop tot nou. Hierin vind jy ook ’n kriptiese beskrywing – die skrywer se duikweg – van wat in die boek opgeteken is.
Jeremy vannie Elsies het gestalte gekry deur gereelde inskrywings op Facebook, almal met ’n goeie dosis filosofiese mymerings daarin verweef, oor Vearey se ervarings as kind en volwassene. Die “grootloop”, kaalvoet en met skoene, begin in Tiervlei, Elsiesrivier en ander plekke waar die familie gewoon het, waaronder plaaslewe in die Overberg; padlangs, in taal eie aan elkeen van sy wêrelde, onthou hy onder meer sy kennismaking met apartheid (“Hotnot, jy hoort nie hier nie!”); drank- en ander maatskaplike misbruike (“my pa se gewingerde Vrydagaand-stryery met Ma”); en die leerstellings van die Jehovas se getuies en die Morawiese kerk (teenoor vryheidsteologie).
Ook sy eerste kennismaking met seks (“Die meer ervare Markie het blykbaar meer geweet van stoot as ek.”); alomteenwoordige geweld rondom die huis, in die straat, by die skool en ’n pa wat hom daarvoor voorberei (“Pa het my leer vuisslaan, messteek en bylkap”); ’n leergier wat eers in graad nege begin prikkel; blootstelling aan bevrydingsliteratuur (soos Lenin se What Is to Be Done?, Fanon se Wretched of the Earth en Marx en Engels se The Communist Manifesto) en werwing as ’n vryheidsvegter. (“Ek is deur Dawid Fortuin vir MK gewerf ná ’n Morawiese jeugkamp op Clarkson in die Oos-Kaap.”)
Die spanning tussen Vearey se werkersklas-agtergrond en ’n vriendin se “middelklasmaniere” word ook te berde gebring: “Wiet djy waa ôs bly?” vra hy haar. “En djy praat van Mothers Day en ’n fokken voetspa vir jou ma!”
En verder meer lees jy oor sy rol as studente-aktivis op UWK en die invloed van akademici soos Gerwel; oor die stryd met Afrikaans se plek in die samelewing toe en nou; oor aanhouding as gevangene G13/87 op Robbeneiland saam met onder andere Tokyo Sexwale, Trevor Manuel, Anwa Dramat, Peter Jacobs en Cecyl Esau; oor sy tydperk as lyfwag vir Madiba ná dié se vrylating; oor kollegiale bande bou met voormalige politieke vyande as deel van die nuwe polisiemag. Einde ten laas ook oor sy werk as speurder wat spesifiek moes help om die bendemisdaad op die Kaapse Vlakte hok te slaan.
Oor Gerwel sê Vearey in die genoemde TV-onderhoud: “Hy was ’n baie groot invloed op my as ’n persoon wat die progressiewe waarde van die taal verstaan as die taal van die werkersklas en die taal van die gewone mense. (...) Hy het baie ag geslaan daarop dat in enige bestel waar die taal van die arm mense – mense wat andersins nie ’n stem het in ’n ander taal nie – waar sulke mense se taal in gedrang kom, dat daar dan nou ’n taak vir elkeen van ons op UWK is as taalstudente om die fakkeldraers te wees in daai taal.”
Oor Madiba skryf hy eervol in Jeremy vannie Elsies: “Om buite tronkgrond hand te skud met ’n ikoniese leier wie jou naam en herkoms ken sonder dat hy aan jou voorgestel word, was nie net ’n besondere eer nie, maar ook ’n belangrike lewensles in empatiese leierskap en eenvoudige menslikheid wat so beïndruk het.”
Dit is dieselfde “empatiese leierskap en eenvoudige menslikheid” wat ’n mens raaklees in Vearey se vertellings oor sy werk as bende-speurder, beïnvloed deur onder andere Adam Blaau, destydse adjunk-polisiehoof in die Kaap. Oplossingsyfers, of die daling van misdaad persentasiegewys, was alleen nie voldoende vir Blaau (of vir Vearey) nie: as die kinders nie na ’n voorval plaasgevind het “sorgeloos in die gebied kon speel nie, dan het jy as polisiebeskermheer hulle gefaal”. Hierdie Kaapse Vlakte-werklikheid op bl 60: “Hier is kinders banger vir die bendes as vir die polisie.”
*****
Die “menslikheid” van die skrywer, hierdie “geharde klip van Elsiesrivier” word ook aan die leser blootgestel in Vearey se mededelings oor sy loopbaan as laer- en hoërskoolonderwyser, oor die liefde (verlore en gevind) en oor sy naaste familie, in die besonder sy ma Annette (“my lewensaar”) en ouma Galant (“bronaar van my geestesoog”). Wanneer hy ná bevryding op ’n dag deur ’n skoolkind gevra word hoe hy voel oor wat hy tussen 1980 en 1994 moes deurmaak, sukkel hy egter om sy gevoelens te verwoord. (“Ons huil net na binne waar ons trane onverstoord kan gis,” skryf hy elders in die boek.)
Miskien het die leerder se vraag onwillekeurig die volgende ervaring in ’n folterkamer van die destydse Veiligheidspolisie deur sy gedagtes laat flits: “Eendag, ná omtrent ’n uur van staar na die kaal mure met my hande agter my rug om ’n houtstoel vasgeboei, verbreek ’n vrou se geween die gespanne stilte. Dit begin eers met sagte snikke en ’n verslae refrein: ’no, no, no ...’” Dán: “‘Fuck you, fuck you, fuck you!’ skree sy in crescendo en word skielik stil.”
Die digter Eugene Marais het Vearey se ervaring op dié dag so ver terug as 1923 vooruit geloop toe hy geskryf het oor “die lewe [as] ’n mosaïek van herinneringe” en hoedat dit “vir my ongelukkig meestal pynvol [is] as ek my bewustheid ooit toelaat om in die donker stroom in te duik”.
En die wyse waarop Vearey sy storie uit hierdie “donker stroom” vertel, herinner dié resensent aan James Baldwin se beskrywing van The World of Earl Hines deur Stanley Dance. “It certainly demands something extraordinary in the way of generosity to describe the endless humiliation and the omnipresent danger as vividly as Hines does,” skryf Baldwin in Oktober 1977 in The New York Times Books Review, “and yet so laconically and so without bitterness.”
***
’n Slotgedagte: Wat ’n mens verder tref van Jeremy vannie Elsies is hoedat dit geskryf is in die Afrikaans van arm mense, na die voorbeeld van Adam Small en die revolusionêre verpligting wat Gerwel op die skouers van die skrywer geplaas het, naamlik om ’n fakkeldraer te wees vir die mense wat andersins nie ’n stem in ’n ander taal het nie.
Jy lees oor “ghellieblik” (vuur in ’n blik), “daggaslowboat” (’n dagga-twakpil), “bandiet” (in aanhouding wees, ’n gevangene), “kaantie” (al die tyd), “mamok” (opgooi, moeilikheid maak), “vedala” (verniel) en “witbene” (dood, ’n geraamte).
Dit is op een vlak ’n manier om die “benependheid, ’n op-sigself-ingekeerdheid, ’n neiging tot kleinlike eksklusiwiteit” (Gerwel se woorde) in die Afrikaanse leef- en denkwêreld teen te werk. Straks dui dit ook, op ’n ander vlak, ’n núwe “opwindende groeipunt” vir Afrikaanse letterkunde aan (om Elsa Joubert by te haal) en maak dít van fakkeldraer Vearey – hierdie selfgedefinieerde en selfgeïdentifiseerde onvoltooide tapisserie – ’n belangrike bydraer tot die taak “om die prent van ons hele gemeenskap te kan skrywe”.
Lees ook
Buro: MvHDu Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey