’n Pad na Oekraïne: Die hoekom is die kruks van hierdie kykNET-film

  • 0

...
As ons feite kry deur ’n ingeligte verteller, sal die kyker nie anders kan as om Oldenburg se werk te bewonder nie.
...

Regisseur en skrywer: Charlene Brouwer
Vervaardiger: Martelize Brink
Medevervaardiger: Leon van Nierop
Redigering: Nico Welgemoed
Divan de Villiers: Kamera en klank in Nederland
Melt van der Spuy: Kamera en klank in Nederland
Finale meng, ook van oorklankings: Helmut Meijer
Addisionele beeldmateriaal: Dmytro Radiev, Andy Hlusdhchenko, Vitalii Pohorelov, Iryna Trosyuk

So ongeveer sewe minute in die film in, sit die tegniese span en gesels oor die film. Dan sê Melt van der Spuy vir hom is die “hoekom” altyd die grootste dryfveer agter die maak van ’n film.

Johan Oldenburg maak dan ’n interessante opmerking: “Ek gaan Oekraïne toe,” sê hy. “Dis julle keuse of julle wil saamgaan, al dan nie.”

Die lokprente wat kykNET uitgesaai het, maak dit egter reeds duidelik dat die oorspronklike plan – om ’n groep met kameras agter Johan aan te stuur – nie so uitgewerk het nie. Dus? Op ’n vreemde manier het hierdie terugslag die “hoekom” verander; die fokus word dus nou hegter gevestig op die nood van die mense van Oekraïne.

Dit het wel probleme vir die span besorg, maar die film word toe veel minder ’n poging om ’n enkele heroïese sending af te neem; dit gaan toe uiteindelik veel meer oor Oldenburg se volgehoue steun aan die oorloggeteisterde land.

Hoe fokus ’n mens op ménse in ’n oorlog?

Ons lewe in ’n tyd waar beeldmateriaal skrikwekkend maklik is om in die hande te kry en te versprei. Ek kan in die Oos-Kaap agter my rekenaar sit en sien hoe iemand ’n video deel van ’n Oekraïense gebou wat pas deur ’n Russiese missiel getref is, dan kom ’n video van die orkaan in die VSA verby, waarna ’n sexy meisie iets vreemds met haar ooghare probeer doen, wat ek glad nie verstaan nie, gevolg deur ’n video van proteste in Iran, dan twee katte wat speel en skielik is daar ’n brand in Johannesburg. Beelde. Gevolg deur meer beelde. En nog beelde. Ongekureer, ongeorden.

Beelde is daar genoeg, ook van die oorlog. Hoe maak ’n mens ’n film uit al die beelde?

’n Pad na Oekraïne plaas wel enkele van die skrikbeelde in die mengsel, maar die fokus bly op die hulp wat verleen word en diegene wat hulp kry.

In Nederland en Suid-Afrika hanteer professionele persone die kamera. In Oekraïne is dit skynbaar hulppersoneel wat die kameras en die klank hanteer. ’n Mens kan dit verstaan, maar dit skep ’n dilemma vir die vervaardigers. Die beelde is nie die probleem nie. Die dilemma is wat die mense op kamera sê. Jy hoor byvoorbeeld hoe die kinderhuispersoneel vreemde goed vir die kamera sê wanneer kinders lekkers kry. Dit word dan klakkeloos oorgeklank en van onderskrifte ook voorsien. (Mense wat “mooi praat” vir ’n kamera is ’n enorme probleem wat alle filmspanne het, veral as hulle by plekke soos kinderhuise werk; ek weet, ek was al deel van sulke produksies.) Ander mense in Oekraïne vertel gereeld en voortdurend hoe dankbaar hulle vir Johan is. Laasgenoemde is wel goed, maar dit word ’n dreuning.

Die eindproduk voel uiteindelik soos ’n Frankenstein-skepping.

Sou daardie unieke beeldmateriaal as ’n “b-rol” kon speel oor die “sprekende koppe”, sou die eindproduk veel beter gewees het. Nie al die klankgrepe was swak nie, maar ’n mens moet baie fyn kies en die skêr inlê in sulke gevalle.

Sny meer.

Maak alles korter.

Hou die fokus.

Ek sou ook veel meer van Martelize Brink se stem gebruik gemaak het as ’n verteller. Oldenburg gaan nie oor homself praat nie, dit weet ons. Brink het ’n geloofwaardige stem; sy ken die feite. Wys dan die beeldmateriaal wat ingewin is, terwyl Brink en die ander gesels.

Oldenburg, of?

Hoekom is hierdie film gemaak?

Hier in Suid-Afrika is dit lekker om Oldenburg se komvandaan na te speur. Hy het immers hier grootgeword. Nou is hy ’n Nederlandse filantroop en ’n ongelooflike mens. Kort ná die uitbreek van die Russiese oorlog in Oekraïne het hy bekend geword as “Nederland se Schindler” omdat hy met sy eie geld ’n bus vol mense uit Oekraïne vervoer het.

Tog... Reeds met die kyk van die eerste film, ’n Bus uit Oekraïne, was dit duidelik dat die etiket baie sexy is, maar dalk nie die volle prentjie skets nie. Oldenburg se volgehoue betrokkenheid by die vlugtelinge, die langdurige saamwerk om hulle te help om hul trauma te hanteer, die enorme steun aan mense wat steeds in Oekraïne is, dit alles doen hy. En meer. Vir hom gaan dit nie oor een bus wat mense na Nederland vervoer het nie.

Die tweede film wys reeds hoe wyd Oldenburg se betrokkenheid strek. Hy help nou al meer as 300 vlugtelinge in Nederland en bly aktief betrokke by noodleniging in Oekraïne self. Sy hulp sluit enorme skenkings aan hospitale en kinderhuise in, sodat dié instansies die nodige steun aan diegene in Oekraïne kan gee.

Hierdie stukkies inligting gee Martelize Brink aan die kyker, maar sy doen dit deur gelade vrae te vra wat Oldenburg dan systap om nie oor homself te praat nie. Dit is hoekom ’n beter struktuur, met Martelize Brink wat gewoon feite gee, die hele film beter sou kon maak.

Meer nog, hier teen die einde wanneer die krediete rol, sing Jack Parow “Wit vlag” wat hy saam met Loki Rothman opgeneem het. Hoekom word dit eers dan gebruik? Dit sou ’n baie interessante storie in eie reg kon maak: Hoekom het die twee besluit om die “Wit vlag” op te neem?

Dit is tog goed om te sien

Ek is baie krities, want ek wil nog films soos hierdie een sien; ek wil meer weet oor Oldenburg se werk.

Ek herken reeds in die tweede film van die gesigte uit die eerste film. Dit is lekker om te hoor wat nou van hulle geword het, ’n jaar ná hulle moes vlug. Dit is ook hartseer om te hoor hoe dinge agteruitgaan in die gebiede wat deur Rusland beset word, hoe die weeshuise voller word, hoe werk skaarser word.

Die impak op gesinne en die aanpassings van die vlugtelinge in Nederland is erg. Dit skep ook interessante vrae. Jong kinders is soos sponse, hulle leer Nederlands praat, so wat gaan hierdie kinders doen wanneer hulle eendag kan terugkeer na hul eie land? Hoe lank gaan die oorlog duur? Gaan hulle teen die einde van die oorlog soos Nederlanders in Oekraïne voel?

Dit is verblydend om te sien hoe skole vir die Oekraïense kinders gestig word, maar meer nog om te hoor dat die kinders begin maats maak, dat van hulle oorskuif na internasionale skole. Vir die kinders se menswees is dit wonderlik, maar wat beteken dit vir hul Oekraïense identiteit? Dit sal ’n mens moet sien.

Dit sou fantasties wees as die filmspanne hierdie kinders oor ’n lang tyd kan volg.

Die hoekom is die mense, nie Oldenburg nie

Kerstyd het Johan Oldenburg vir elke kind ’n eie present gegee volgens hulle behoeftes, nie ’n generiese gelukspakkie nie. Die grootmense het ook iets gekry wat vir hulle persoonlik sou betekenis hê.

Oud en jonk word na kunsmuseums geneem, ook op ander uitstappies...

Jinne, hoe doen Oldenburg dit? Hy sê nie, en sal ook nie.

Tussen al hierdie mooi deur vertel die vroue oor hulself, hul vrese. Moord en verkragting is nie bloot iets wat doer anderkant gebeur nie. Hierdie vlugtelinge weet waarvan hulle praat... Die kyker hoor ook hoe een vrou se huis wat deur die Russe beset is, verwoes is. Sy, haar man en twee honde moes gewoon padgee.

Dan koop Oldenburg vir hulle ’n ander huis.

Die hoekom van hierdie film is juis die mense van Oekraïne. Dit moet nog meer so wees in films wat hopelik sal volg.

As ons feite kry deur ’n ingeligte verteller, sal die kyker nie anders kan as om Oldenburg se werk te bewonder nie.

Oldenburg is (dalk) nie Rambo nie

Oldenburg speel nie Rambo nie; hy kaats die lig terug na wat mense nodig het.

Ja, hy help. Maar daar is nog meer nodig, meer as wat hy kan bied.

Soos in die vorige film raak die mense jou, die mooi van ’n vrou wat weer haar honde sien, die hartseer dat sy en haar man nie kan werk kry nie.

Oldenburg self lyk ongemaklik in formele situasies voor die kamera. My advies is moenie hom op kamera laat praat oor sy werk nie. Oor homself mag hy praat, natuurlik. Dit is wanneer jy Oldenburg sien ontspan, wanneer hy saam met die mense is vir wie hy omgee, dat hy skitter. Dit is waar Oldenburg gemaklik is. Dit is ook wanneer die hoekom duidelik word; want vir Oldenburg is dít nog belangriker as vir die filmmakers.

Lees ook:

’n Bus uit Oekraïne onthul die menslike kant van oorlog

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top