......
“Tradisies verskil, maar die essensie van liefde bly dieselfde. En dis mooi, so eindeloos mooi om te aanskou.”
......
Skielik bevind ek myself in ’n taxi in die middel van Moembai. Hordes en hordes karre, motorfietse, tuk-tuks, mense en ook die onbesonne heilige koei wat almal laat wag. Toeters wat klink soos ’n blaasorkes. So baie mense het my daarvan vertel en hier is dit nou ‒ Indië, ’n oorweldigende aanval op die sintuie.
Die bruid en haar aanstaande het ons maande voor die troue al begin voorberei. Daar was spreadsheets met vlugroetes, skakels na die aanlyn visumaansoeke. Later ook foto’s van sarees wat gekoop moet word, deeglike verduidelikings van die string seremonies, en nuus van haar aanstaande familie. Daar was selfs ’n trouprogram met ’n kleredraggids: Ons gaan Holi vier (wit klere wat kan vuil word); Woensdagaand is Sangeet (uitspattig en blink; daar is danspassies wat ons moet leer). Vrydag is die groot dag (die perfekte geleentheid vir Indiese tradisionele drag).
Maar niks kan mens werklik voorberei vir reis na ’n land soos Indië nie, en veral nie vir die ryk kulturele ervaring van ’n Indiese troue nie. Dit duur veel langer as ’n middag en ’n aand soos in Suid-Afrika. Dit is feestelik, groots, seremonieel en kleurvol – soos Indië self. In die 19de eeu kon ’n tradisionele troue tot 16 dae aanhou. Gelukkig (of ongelukkig?) is dit nou 2020 en as alles volgens plan verloop, sal Helené en Rahul teen Vrydagaand getroud wees.
......
“Maandagmiddag kom die afgevaardigdes van heinde en verre by die hotel byeen; ons groet met gille en drukke – soos net Suid-Afrikaners kan. Die vriendelike ontvangsdame by die hotel hou ons dop, mense op die straat stop om te kyk. Wat op aarde gaan aan? Helené trou, wil mens verduidelik, sy trou met Rahul en hier in julle land gaan sy haar vestig.”
......
Maandagmiddag kom die afgevaardigdes van heinde en verre by die hotel byeen; ons groet met gille en drukke – soos net Suid-Afrikaners kan. Die vriendelike ontvangsdame by die hotel hou ons dop, mense op die straat stop om te kyk. Wat op aarde gaan aan? Helené trou, wil mens verduidelik, sy trou met Rahul en hier in julle land gaan sy haar vestig. Indië is ’n Suid-Afrikaanse juweel ryker. Sy is ’n vriendin vir wie mens ver heen sal reis om by te wees die dag wanneer sy trou.
Om landsgrense en kultuurgrense oor te steek om teenwoordig te wees as twee vriende trou gebeur, dalk net een maal in mens se lewe. Om ’n week lange trouseremonie te aanskou wat diep gesetel is in die kultuur en ook geloof van ’n ander land. Juis dít maak dat dit niks minder as ’n lewensveranderende ervaring is nie.
Dinsdagoggend, Holi-vieringe
Holi, die Fees van Kleure en Liefde. Dit gebeur net een maal ’n jaar as lente aanbreek en ons is baie gelukkig om dit as deel van die troue te beleef. Dis ook die eerste geleentheid vir ons om Rahul se familie te leer ken.
Dit bly een van my gunstelingoomblikke: Ons groet met eerste oogopslag asof ons familie is en mekaar al jare ken. Interessant, daar word gereeld verwys na niggies en nefies as “cousin-brother” en “cousin-sister” wat ’n goeie aanduiding is van hoe naby familielede aan mekaar is. Rahul se oom en tannie, Siva en Rani, en hulle kinders, Madhuri (Rahul se cousin-sister), Aditja (sy cousin-brother), en hulle lewensmaats Akriti en Raj is ons wonderlike genote en vertalers. Hulle is volkome Engels magtig; om die waarheid te sê, oom Siva kan tot vlot Russies praat. Hy was ’n duikbootingenieur, wat hom vroeër in sy lewe die wêreld oor geneem het. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag ...
Ons vertrek per bus na ’n familieplaas buite Vizag vroegerig die Dinsdagoggend. Die gesprekke in die bus is ’n mengelmoes van Afrikaans, Engels, Hindi en Telugu. Helené sit agter in die bus en probeer ons hordes vrae beantwoord – hoe is haar aanpassing in Delhi, hoe vind sy die kos, hoe vorder die taallesse? Sy vertel hoe effektief sekere dienste in Indië gelewer word en hoe baie dit haar help dat baie van Rahul se familie ook in Delhi woon.
Om dit in Afrikaans te probeer verduidelik: Rahul is Telugu – ’n kultuurgroep van die Andhra Pradesh-staat. Hy is ook Hindoe – ’n Brahmin om presies te wees.
Die trouseremonies is dus in ooreenstemming met die kultuur en tradisies van die area, maar óók die spesifieke godsdienstige subgroep. Telugu is dus ook die etniese taal wat ons die meeste hoor. Mens sien egter baie woorde in Romeinse letters geskryf, natuurlik ’n gevolg van die Britse koloniale periode. Maar dit klink soveel anders, selfs onherkenbaar, as dit in Telugu of Hindi uitgespreek word. Ek besef weer: Hoe geweldig is die mensdom se klankregister nie?
Daar aangekom laat die familie nie op hulle wag nie. Die veelkleurige holipoeiers staan gereed in die koelte van ’n boom. Madhuri besmeer my wange, nek en skouers met rooi strepe – “Happy holi!” En daarna trek dit soos reënboë deur die lug. Helder kleure het heilige simboliek – rooi (liefde en fertiliteit), geel (gesondheid en geluk), groen (nuwe begin, oes en lewe) en blou (vir die Hindu-god, Krishna). Almal se wit uitrustings word ’n kaleidoskoop van kleure soos ons mekaar gooi sodat geen wit meer sigbaar is nie.
Die tyd staan vir ’n paar uur stil, dalk soos ’n tyd- of dalk ’n kultuurkapsule. Ons neem foto’s, gooi waterballonne, eet toebroodjies en drink kokosneutwater uit die dop. Alles onder dié yslike tamarindboom, wat ook van Afrika af kom.
Die res van die dag, en soos ons kans kry deur die week, rits ons rond op tuk-tuks, kyk straatkrieket en soek vir trou-uitrustings in plaaslike klerewinkels, ’n wonderlike saamkomplek vir vroue van alle ouderdomme. Met gebroke Engels, Google translate en danspassies toets met ons nuwe sarees word lag weer ’n welkome voertaal tussen mense. Die liewe mens wat my help in een spesifieke winkel vertel dat sy op 14 getroud is en ’n kind het van 19. Sy’s net twee jaar ouer as ek. Dit maak die gesprek onder ons los: Sou jy jou ouers vertrou om vir jou ’n man/vrou te soek? Hoeveel keer sal jy iemand moet sien voor jy met hulle kan trou?
Woensdagoggend, Pellikoduku en Pellikoturu
Ons leer vinnig dat Indië en Afrika een ding gemeen het: Afrika-tyd – 10h00 beteken byna nooit 10h00 nie. Dit kan beteken 10h10 of selfs 10h30. Niemand is haastig nie, en mens is nie altyd seker hoekom jy wag nie.
Woensdagoggend is egter ’n uitsondering en ons moet betyds wees vir Pellikoduku en Pellikoturu, of soos Helené dit noem: borriesmeer. Soos in ander kulture in Sjina, Skotland, die Katolieke in Ierland, word spesifieke gelukkige datums en tye as gunstig aangewys. Op die Hindu-kalender is Akshaya Tritiya die belangrike lentefeestyd van die jaar wat die voorste en beste tyd is om te trou, groot besluite te neem, selfs geld te belê. Die priester kyk onderskeidelik na die bruidegom en bruid se astrologiese posisie in verhouding tot die maan en die son. Dit bepaal dan die spesifieke dag en tyd waarop sekere rituele moet geskied, soos op Woensdagoggend om 08h00. “Auspicious” is die woord wat ons deurentyd hoor by die familie. Dis ongewoon dog mooi – die bewustheid van die tyd en hoe dinge gebeur soos en wanneer dit moet.
Die verrigtinge gebeur aan huis by ’n tannie van Rahul. Dis ’n mooi oggend en ons stap ’n kronkelende pad die woonbuurt in wat besig is om te ontwaak. Iewers uit ’n venster speel fluitmusiek, jy ruik wierook brand, kinders ry op fietse, tannies in sarees loer vanaf balkonne na die entourage. Werklik onwerklik.
By die voordeur trek ons ons skoene uit en Rahul se familie nooi ons vriendelik binne. Daar heers ’n spesiale gemoed in die kamer. Rahul se niggies herinner ons dat dit nie kerk is nie en dat ons mag foto’s neem, lag en gesels. Wat besig is om te gebeur is ’n belangrike ritueel wat die man tot bruidegom (Pellikoduku) en vrou tot bruid (Pellikoturu) verklaar. Helené, haar ouers, ’n vriendin (wat instaan as suster) en ook die volgende vrou in die familie wat gaan trou, is deel van dié wat deelneem. Daar is ook ’n ensemble wat musiek maak tussendeur, iets wat ons gereeld hoor dié week. Daar is ’n spesifieke dubbelrietinstrument, nadaswarm, wat ’n harde, baie tipies Indiese klank maak.
Aangesien ons nie kan verstaan nie, verduidelik Madhuri en Akriti gereeld wat besig is om te gebeur, hoe alles ineenvleg en wat die simboliek is. Ons neem ook om die beurt deel aan die ritueel deur met ’n stamper en ’n stok kruie te meng wat op Helené se voete gesmeer word. Borrie, in die Hindu-geloof, simboliseer reinheid, trots en welvaart. Dié wat ouer is as Helené mag haar seën deur ’n bietjie rys op haar kop te strooi. Rys, piesangs en kruie het ’n sentrale plek in al die rituele. Dit spruit vanuit die stam se landboubelange.
Met tye is dit stil en ons, saam met Helené se pa, tranerig. Helené verskyn later, nadat sy moes was, met haar eerste trourok van vier – ’n blink lehenga choli in pienk en oranje en goue juwele. Van wat ons verstaan, is sy nou as bruid verklaar.
Ons eet na die verrigtinge ontbyt saam met die familie. En soos elke ete dié week is die mees fantastiese Telugu-kos op die spyskaart: idli (gestoomde ryskoek) en dosa (souterige pannekoek) met kokosneutblatjang, heerlike biryani met hoender en vis, paneer (romerige, kaserige kerrie), appelkoospoeding, suikerrietsap, geurige chai-tee. Die reuk van kardemom is byna altyd in die lug.
Woendagaand, Sangeet
Groot dele van die week word gewy aan voorbereiding vir die sangeet. Sangeet vertaal letterlik as “musiek en danse” of “om saam te sing en dans”. Dit is ’n joligheid waar die vereniging van twee families gevier word, ook net bekend as die groot partytjie van die troue waar daar gekuier en gedans word.
Die grootste opwinding van die geleentheid sluit verskeie danse in wat deur vriende, familie en Rahul en Helene spesifiek uitgevoer word. Ons verteenwoordig haar familie en moes ’n dans of drie leer (met die hulp van twee bekwame Indiese koreograwe) en uitvoer met een doel voor oë: om Rahul se familie baie te beïndruk!
Dis ook die eerste geleentheid vir ons om tradisionele Indiese uitrustings aan te trek. ’n Drapeerder kom na ons in die hotel om die meisies te help om ons nuwe sarees aan te kry voor ons vertrek. Ek kry dadelik nuwe respek vir die etniese drag van die land. Elke vrou op straat dra elke liewe dag ’n saree; hoe lank trek hulle aan in die oggende?
Die sangeet is ’n groot sukses toe ons later die aand dans op Annelie van Rooyen se “Neem my op vlerke”, voete stamp op “Special Star” en “Pata pata” saam met Miriam Makeba. En met Indiese pop, waarop ek sedertdien verlief geraak het, leer ons ’n hele nuwe losheup-manier van dans. Ons gee ons oor aan die ritme van die land; dis ’n warm lente-aand en ons is in Bollywood.
Donderdagmiddag, Mehendi (మేహేందిని)
Mehendi gebeur een dag voor die troue en is nog ’n onmisbare deel van enige Indiese troue. Dit is wanneer die vroue van die trougeselskap se hande versier word met henna. Mehendi is afgelei van die Sankskrit-woord mendhika, vir die plant waarvan die hennapoeier gemaak is.
Dis ’n heerlike geleentheid vir die vroue om vir oulaas gesellig saam met die bruid te verkeer. Twee mehendikunstenaars neem ons onder hande. Helené het haar eie kunstenaar, want haar hande, voorarms, enkels en voete word met tradisionele motiewe verf, soos die pou, olifant of lotusblom. Die letters van die bruidegom se naam verskyn ook in die ontwerp, elke letter op ’n versteekte plek. Dit word dan ’n speletjie vir die pasgetroude paartjie op hulle huweliksnag: Die bruidegom moet sy naam op die bruid se liggaam vind.
Die kunstenaars benader dit baie strategies en sy sit vir ure op ’n bank hande en voete in die lug om seker te maak die henna bly onaangeraak na die aanwending. Hoe langer jy dit los, hoe donkerder die kleur en hoe langer hou dit. Die kleur intensiveer ook na gelang van jou liggaamshitte, so dié aan die binnekant van jou hand sal byvoorbeeld veel donkerder vertoon.
Die res van ons kry ons voorkeurontwerp aan ons hande en voorarms en moet ook vir ure sit en aan niks vat nie. Wat op aarde is ’n beter verskoning vir sit en klets, handjies gevou? Self ’n G&T met ’n strooitjie was aan die orde van die dag.
Vrydag, Snātakaṃ (స్నాతకం) en Kāśī Yātra (కాశీ యాత్ర)
Die amptelike troudag. Helené het haar eerste van drie uitrustings van die dag aan – ’n pragtige wit rok met verskeie lae en juwele as geskenk van Rahul se ma. Teen dié tyd is ons almal dit eens: Suid-Afrikaanse troues sal die Indiërs eindeloos moet verveel. Dink jou in: een middag, een ete en een uitrusting?
Van 10:00 tot 14:00 word Rahul voorberei om in die huwelik te tree – hy “gradueer” as’t ware as enkellopende man en is nou reg vir die groter verantwoordelikhede van familieman wees. Die priester se verhoog is bedek met silwer skinkborde wat alles bevat wat hy in die seremonie gebruik – kruie, sandelhout, rys, piesangs, kokosneute, en wierook wat brand.
Soos Helené ons voorberei het, verloop die oggend nie tot ’n tasbare hoogtepunt nie. Die rituele sluit lang tye van priesterlike singspraak in, afgewissel deur die klein trou-orkes wat liedjies speel. Ons kuier onderlangs, sit aan vir kos by lang tafels en loer gereeld in by die verhoog om te sien hoe die troupriester en verskillende lede van Rahul se familie deelneem aan die rituele. Dis nie gewyd soos ons trouseremonies nie, dis luid en lewendig, spontaan. Tog ook heilig.
Snakatam word gevolg deur Kasi Yatra. Letterlik beteken dit “reis”, en dis ’n ritueel waar die bruidegom besluit om op reis te gaan na Kashi om verder te gaan studeer, eerder as om te trou. Spreekwoordelike koue voete. Helené se broers moet hom dan oorreed om te bly en sy verantwoordelikheid as bruidegom op te neem, ten aanskoue van ons almal. Nodeloos om te sê, biltong, die Afrika-son en kuiers langs die kus was deel van die pakket om vir Rahul te laat instem.
Die groot oomblik
Helené is in uitrusting twee en ons ook nou almal in tradisionele drag. As jy oor die trougaste heen kyk is dit ’n see van kleure. Die uitrusting is deur Rahul se tannies en niggies vir Helené gekies, gekoop en gestuur as ’n geskenk lank voor die troue. Helené vertel hoe Rahul op ’n stadium (moontlik ingedagte) genoem het dat hy dink dit sal gepas wees as haar trourok “Suid-Afrika-groen” is. Die gekose rok is pragtig, maar werklik baie groen en staan voortaan bekend as Helené se trotse Springbokrugbytrui.
Om dit nog ’n bietjie snaakser te maak, alhoewel ook mooi en simbolies, is dat Helené sit gemaak word in ’n mandjie langs die priester. Vir die tyd wat sy daar sit, moet ons gereeld ook oor haar waak en mag sy nie alleen gelaat word nie. Sy word dan deur die mans in haar familie na die verhoog gedra waar sy uiteindelik haar bruidegom gaan ontmoet. Hulle sit teenoor mekaar met ’n betooisel wat tussen hulle opgehou word. Dit word laat sak op die heel gelukkigste (auspicious) moment tot op dié minuut. Jare gelede sou dit die groot geleentheid wees waar ’n bruid en bruidegom mekaar vir die eerste keer sien.
Ons hou tydens die seremonie ons horlosies dop: 19h03 is die tyd. Vir ons is dit gelykstaande aan die oomblik wat die predikant sou sê: “Ewige vrede, amen.” Of: “Julle is nou tot man en vrou verklaar. Jy mag jou bruid soen!” Wanneer dit laat sak word, mag hulle egter nie soen nie, maar het hulle ’n spesiale kruiemengsel in die regterhand wat hulle dan op mekaar se koppe plaas en vir ’n hele ruk daar hou. Wierook en kerse brand rondom die priester soos hy langsaam Sanskrit-seëninge, wat sweerlik duisende jare oud is, oor hulle lewens en liefde uitspreek.
Helené se ouers en Rahul se ma bly deurentyd naby; sommige het sekere rolle te speel. Ouer familielede word gereeld opgeroep om weer en weer die paartjie te seën met die sprinkel van rys oor hulle koppe. Helené en Rahul strooi mekaar ook met hande vol rys. (Sy vertel na die troue dat hulle vir dae nog rys uit hulle hare was.)
Vir die laaste paar rituele verklee hulle albei in die laaste uitrustings vir die troue. Sy in ’n wit saree met ’n tradisionele rooi buitelyn. Rahul in ’n bypassende wit dhoti. Om die twee kleure saam te bring simboliseer sterkte en reinheid. Hulle spandeer lang tye saam met die priester en word ook aan mekaar vasgebind tot Rahul vir Helené oor die drumpel van hulle kamer dra – dit ná ’n string van ons, haar suster en vriendinne, eers met Rahul kan onderhandel. Belowe hy dat hulle gaan kom kuier? En dat daar ook ’n troue in Suid-Afrika sal wees? Hy belowe.
Die troue is vir my ’n onvermydelike inwaartse reis. Tussen die etniese drag wat almal so trots dra, die ritmiese dans, ikoniese musiek, sterk en geurige kos, is die werklike warmte en liefde van Rahul se familie aanvoelbaar. Tradisies verskil, maar die essensie van liefde bly dieselfde. En dis mooi, so eindeloos mooi om te aanskou.
Op die vliegtuig terug na Suid-Afrika lees ek dié raak in ’n boek van Brené Brown:
Buro: MvHShow up for collective moments of joy and pain so we can actually bear witness to inextricable human connection ... collective joy and pain are sacred experiences. They are so deeply human that they cut through our differences and tap into our hardwired nature. These experiences tell us what is true and possible about the human spirit.